• No results found

HOOFSTUK 4: RAPPORTERING EN BESPREKING VAN RESULTATE

4.3 ONDERWYSERS SE ERVARING VAN DIE OORGANG

4.3.2 Die oordrag van programmeringsbeginsels en begrippe

Scratch na Delphi

Wat die oordrag van programmeringsbeginsels en -begrippe betref, is daar positiewe terugvoer gelewer, naamlik dat oordrag wel plaasgevind het, maar die onderwysers het ook ervaar dat sommige programmeringsbeginsels en -begrippe nie na Delphi oorgedra is nie. Kodes wat in hierdie kategorie voorkom, is programmerings- beginsels en -begrippe wat wel oorgedra is, die leemtes wat opgemerk is, programmeringsbegrippe wat nie oorgedra is nie, en die redes wat daarvoor aangevoer is.

4.3.2.1 Oordra van programmeringsbeginsels en -begrippe

Dit was onderwysers se ervaring dat Scratch wel leerders gehelp het om Delphi vinniger te verstaan, aangesien logiese denke en probleemoplossing, sowel as sommige programmeringsbeginsels en –begrippe aan hulle bekend was.

Scratch het leerders gehelp om Delphi vinniger te verstaan (P1).

Vorige jare toe ek Delphi aan graad 10’s onderrig het, moes ek alles onderrig. Noudat ek begin het met Delphi-onderrig, kom ek agter dat hulle reeds van sommige aspekte weet (P5).

Aangesien hierdie opmerking van deelnemer P5 dalk teenstrydig mag klink met vorige bevindings (sien 4.2.3.6), moet hier genoem word dat deelnemers P1 en P5 geïdentifiseer is as onderwysers wat positief is rakende die oordrag van begrippe vanaf Scratch na Delphi en wat gepoog het om programmeringsbeginsels reeds in Scratch te onderrig, soos wat later in die bespreking na vore sal kom.

Vervolgens word die spesifieke programmeringsbeginsels en -begrippe wat na Delphi oorgedra is, bespreek.

Logiese denke en probleemoplossing

Die meeste onderwysers was dit eens dat Scratch leerders se logiese denke en probleemoplossingsvermoë bevorder het en dat hulle hierdie vaardighede na Delphi kon oordra.

Hulle kan dit wat hulle van probleemoplossing geleer het, toepas (P5).

Hierdie bevinding, naamlik dat die programmeringsbeginsel van logiese denke na Delphi oorgedra is, word daaraan toegeskryf dat die deelnemers in die algemeen baie klem gelê het op die onderrig van probleemoplossing en algoritme-ontwerp in Scratch-onderrig (sien 4.2.2). Deelnemer P8 was die enigste onderwyser wat nie in 2012 algoritme-ontwerp onderrig het nie, en was ook die enigste deelnemer wat die opmerking gemaak het dat algoritme-ontwerp vir graad 11-leerders problematies was.

Besluitneming- en herhalingstrukture

Die meeste oordrag is met betrekking tot besluitneming- en herhalingstrukture gerapporteer. Volgens onderwysers het leerders ʼn basiese begrip van bogenoemde programmeringsbeginsels in Delphi getoon, maar ʼn diepe begrip daarvan het ontbreek.

Die IF-stelling het hulle baie maklik verstaan (P3).

Ek dink as ’n mens die FOR-lus of die REPEAT verduidelik het, was dit vir my of hulle dadelik gesnap het (P1).

Die leerders het dit reggekry om hul kennis van Scratch effektief te herroep, om saamgestelde Boole-uitdrukkings te skep (P5).

Wat besluitneming betref, het sommige onderwysers aangedui dat sodra die geneste-IF, die CASE-stelling en meer komplekse Boole-uitdrukkings behandel is, leerders daarmee gesukkel het.

Met die uitbreiding van die IF, waar ons AND en OR inbring en met die geneste IF het hulle bietjie gesukkel maar die konsep was dieselfde, hulle het dit gesnap. Ek weet hulle het baie met AND- en NOT-operators gesukkel (P3).

Net so, met herhaling, het leerders gesukkel met meer ingewikkelde begrippe soos die werking van lusbeheerveranderlikes en die toepassing van verskillende soorte lusstrukture, alhoewel hulle die begrip van herhaling verstaan het,

Hulle verstaan herhaling, maar die lusbeheerveranderlike van die FOR-lus, is byvoorbeeld vir hulle ’n krisis (P6).

Al wat hulle regtig onthou is REPEAT. Hulle wil amper altyd na REPEAT toe gaan in Delphi (P3).

Veranderlikes en datatipes

Alhoewel leerders reeds in Scratch met veranderlikes kennis gemaak het, was dit duidelik dat hulle dit nie goed begryp het nie en gesukkel het om datatipes wat aan veranderlikes toegeken word, die omskakeling van datatipes en begrippe met betrekking tot reikwydte van veranderlikes te begryp. Leerders het ook die terminologie met betrekking tot die gebruik van veranderlikes en datatipes as vreemd ervaar.

Hulle het die begrip makliker begryp, maar hulle het nog steeds nie verstaan hoekom ons veranderlikes gebruik nie (P3).

Die konsepte van Integer, Boolean en String het ’n rukkie geneem om mooi te verduidelik (P7).

Veral die omskakeling tussen die verskillende datatipes, soos byvoorbeeld IntToStr, is nog steeds vir hulle moeilik; ek weet hulle sukkel daarmee (P3). Daar is dele waar jy kan sê: “Hier is ’n tendens”. Soos om veranderlikes op verkeerde plekke te verklaar (P6).

Integer is dalk vir 'n Afrikaanse kind ’n moeilike [woord], dis ’n nuwe woord (P4).

Uit die eerste onderhoude het dit duidelik geblyk dat onderwysers nie genoegsaam aandag geskenk het aan die vaslê van begrippe rondom veranderlikes en datatipes nie. Die gevolg daarvan was dat leerders hierdie begrippe nie kon oordra na Delphi nie en hulle gevolglik hierdie basiese beginsels van programmering eers in graad 11 moes aanleer.

Slegs P6 het aangedui dat die gebruik van veranderlikes in Scratch dit vir leerders in Delphi makliker gemaak het.

Die gebruik van veranderlikes in Scratch het dit definitief vir kinders makliker gemaak [in Delphi] (P6).

Samevattend kan gesê word dat, alhoewel die begrippe besluitneming en herhaling in die literatuur geïdentifiseer is (sien 2.4.4.5) as programmeringsbeginsels wat leerders in Scratch op hulle eie kan ontdek en gevolglik maklik kan verstaan, dieselfde nie vir veranderlikes en datatipes geld nie (sien 2.4.4.4 en 2.8.1). Meeste

van die deelnemers het ook die bevindings bevestig. ʼn Diepere begrip van programmeringsbegrippe het by leerders ontbreek. Leerders het gesukkel met die geneste IF-stelling, die CASE-stelling, komplekse Boole-uitdrukkings waarin die operators AND, OR en NOT gebruik word, die onderskeid van soorte herhaling, lusbeheerveranderlikes, datatipes en reikwydte van veranderlikes.

Soos met die eerste onderhoude (sien 4.2.3.1 en 4.2.3.2), het die tweede onderhoude bevestig dat programmeringsbeginsels en -begrippe rakende keusestrukture en herhaling nie altyd op ʼn behoorlike wyse aan graad 10-leerders onderrig is nie. Daar was wel uitsonderings waar deelnemers gerapporteer het dat programmeringsbeginsels oorgedra is, maar dit het plaasgevind omdat die onderwyser tydens Scratch-onderrig meer klem daarop geplaas het.

Hulle verstaan die begrip [besluitneming], omdat ek klem daarop gelê het in Scratch (P7).

Objekgeoriënteerde programmeringsbeginsels

Deelnemer P3 het in die eerste onderhoud genoem dat basiese begrippe oor objekte reeds in Scratch aan leerders onderrig word. Tydens die tweede onderhoud was dit dieselfde deelnemer se ervaring dat graad 11-leerders wat in Scratch onderrig is, ʼn beter begrip van objekte en die eienskappe daarvan gehad het, as leerders wat nie voorheen in Scratch onderrig is nie. Geen ander deelnemer het melding gemaak van objekte nie.

Normaalweg het die kinders altyd daarmee [met objekte] gesukkel en nou het ek vir hulle gewys en hulle kon dit daarna op hulle eie ook regkry. So daardie afdeling dink ek, is heeltemal ’n maklike oorskakeling vanaf Scratch na Delphi toe. Dis maar hulle geaardheid en instelling teenoor objekte, want hulle kan nou die eienskappe verander en hulle kan toepas wat hulle in Scratch ook kon doen (P3).

Hier het dus ʼn positiewe oordrag van die begrippe van objekte en eienskappe na Delphi plaasgevind, ten spyte daarvan dat dit vir die graad 10-leerders aanvanklik ʼn baie vreemde begrip in Scratch was.

Tekslêers en skikkings

Leerders kon volgens onderwysers se mening die begrip tekslêers na Delphi oordra. Dit was egter steeds moeilik om die begrip in Delphi toe te pas.

Hulle het dadelik, maklik oorskakeling gedoen, veral met tekslêers, maar hoe ons dit gedoen het [in Delphi] was vir hulle ook maar weer ’n skok (P3).

Deelnemer P1 se leerders was in staat om self assosiasies te maak en hulle begrip van lyste in Scratch na skikkings in Delphi oor te dra.

Maar wat ek wel gesien het toe ek skikkings begin verduidelik het, ek het nie eers gedink om vir hulle te sê onthou dis nou lyste in Scratch nie, en toe ek dit begin verduidelik, toe sê ’n kind: “O, dis soos lyste”. So my kop is nog nie eers heeltemal daar om Scratch en Delphi bymekaar te bring nie. Ek begin net met skikkings en hier kom die kind en hy sê: “O, dis soos lyste” (P1).

Leerders kon dus in hierdie geval die begrip lyste in Scratch na skikkings in Delphi oordra terwyl die onderwyser self nie daaraan gedink het om onderrig op hierdie oordrag te rig nie. Net so was daar ander programmeringsbeginsels en -begrippe wat nie in Scratch onderrig is met die oog op die oorgang na Delphi nie. Dit word vervolgens bespreek.

4.3.2.2 Programmeringsbeginsels- en begrippe wat nie oorgedra is nie en redes daarvoor

Onderwysers het verwys na enkele begrippe wat nie na Delphi oorgedra is nie, soos byvoorbeeld die bewerkingsoperator, MOD. Onderwysers het bepaalde redes daarvoor verskaf, naamlik dat hulle Scratch-onderrig nie spesifiek daarop gerig was nie en dat hulle nie hulle Scratch-onderrig beplan het met die oog op oordrag na Delphi nie.

Ek dink dit is vir hulle ’n heeltemal vreemde begrip. Ja, maar tog dink ek, ek het dit te min bespreek in Scratch. Hulle het MOD [ʼn bewerkingsoperator] in Scratch gehad, maar ek het nie soveel klem daarop gelê nie (P4).

Nie al die onderwysers het in hulle onderrig beplan vir die oordrag vanaf Scratch na Delphi nie.

Deelnemers P3 en P5 was bekommerd oor die hoeveelheid werk wat in graad 11 afgehandel moet word, maar het leerders ʼn voorsprong gegee in die sin dat hulle pertinent probeer het om aan te sluit by programmeringsbegrippe wat in graad 10 onderrig is en aan leerders die oordrag daarvan na Delphi aan te toon.

Ons trek by skikkings en tekslêers, dis waar ons moes wees vir hierdie eksamenvraestel, en dis baie werk om in 6 maande se tyd in te druk (P3).

So, jy herinner hulle net vinnig daaraan, dit is nie dat jy dit weer vir hulle moet leer nie. Ek sien die waarde van Scratch. (P5).

Die gevolgtrekking word gemaak dat begrippe wel vanaf Scratch na Delphi oorgedra kan word en dat die oordrag verhoog kan word indien begrippe pertinent in Scratch onderrig word. Die onmiddellike voordeel van sodanige oordrag is ʼn besparing in onderrigtyd – wat die deelnemers se groot dilemma ten opsigte van Delphi-onderrig was. Aangesien Scratch nie altyd pertinent onderrig is met die oog op die oordrag van programmeringsbegrippe na Delphi nie, was die implikasie dat onderwysers, wat reeds onder druk was met onderrigtyd (sien 4.3.1.3) onder nog groter druk verkeer het omdat programmeringsbeginsels weer van voor af onderrig moes word.

Behalwe dat onderrig nie volledig deur al die onderwysers op die oorgang na Delphi gerig was nie, het onderwysers ook verskeie ander redes aangevoer vir probleme wat hulle tydens Delphi-onderrig ervaar het, soos wat vervolgens bespreek word.