Vraag 1.4 het ten doel om die betrokkenheid van die forensiese maatskaplike werker by die forensiese ondersoeke van voorskoolse kinders te bepaal. Die resultate word in tabel 4.5 uiteengesit.
Tabel 4.5: Betrokkenheid van die forensiese maatskaplike werker by die forensiese ondersoeke van voorskoolse kinders
Tema 2: Betrokkenheid van die forensiese maatskaplike werker by die forensiese ondersoeke van voorskoolse kinders
Sub-temas Kategorie Narratiewe van deelnemers
Verantwoordelikhede van forensiese maatskaplike werkers
Assessering “… forensiese maatskaplike assesserings …” “… doen assesseringsonderhoude wanneer nodig …”
Verslagskrywing “… lewer verslae aan die hof …” “… skryf verslag wanneer al die inligting bekom is …”
Getuienislewering “… getuig in hof wanneer versoek …”
“getuig in hof wanneer daar onduidelikhede is
…”
Verklarings “… is behulpsaam met die neem van
verklarings by die jong kind …”
“… neem van verklarings by die kind …”
4.5.1 Sub-tema: Verantwoordelikhede van die forensiese maatskaplike werker
Volgens tabel 4.5 bestaan die deelnemers se betrokkenheid by forensiese ondersoeke uit
assessering, verslagskrywing en getuienislewering. Die bevindinge stem ooreen met die
verantwoordelikhede wat in die SAPS Forensic Social Work Procedure Manual (2011), uiteengesit is. Daarbenewens het meer as die helfte van die deelnemers ook aangetoon dat hulle verantwoordelik is om die ondersoekbeampte met die neem van verklarings van voorskoolse kinders te help. Die betrokkenheid van forensiese maatskaplike werkers by die neem van verklarings kan moontlik daaraan toegeskryf word dat ander faktore soos byvoorbeeld die trauma wat die kind ervaar, die kundigheid van die forensiese maatskaplike werker vereis. Van Zyl en Sinclair (2006:6) bevestig dit dat verskeie faktore ‘n negatiewe impak op die kind het en derhalwe die neem van ‘n verklaring beïnvloed.
4.6 TEMA 3: DIE ONTWIKKELINGSTADIUM VAN DIE VOORSKOOLSE KIND
Volgens Fouché (2006:111) moet die ontwikkelingstadium waarin die kind haar/hom tydens die ondersoekproses bevind, in gedagte gehou word, aangesien dit die kind se vermoë om inligting te verskaf, kan beïnvloed.
Vraag 2.1.1 van die data-insamelingsinstrument wou bepaal hoe die ontwikkelingstadium van die voorskoolse kind die assessering tydens die forensiese ondersoek kan beïnvloed. Drie sub-temas, naamlik kognitiewe ontwikkeling, taalontwikkeling en morele ontwikkeling is geïdentifiseer.
Tabel 4.6: Die ontwikkelingstadium van die voorskoolse kind
Tema 3: Die ontwikkelingstadium van die voorskoolse kind Sub-temas Narratiewe van deelnemers
Kognitiewe ontwikkeling
“… kan nie sê wanneer ‘n insident gebeur het nie of watter tyd die insident gebeur het nie …”
“… hulle kan nie inligting in kronologiese volgorde gee nie …” Taalontwikkeling “… kind se woordeskat is beperk en gee beperkte inligting …”
“… hulle druk hulself moeilik uit en beskik nog nie oor die taalgebruik om dit wat gebeur het te verwoord nie …”
Morele ontwikkeling
“… die voorskoolse kind is baie beïnvloedbaar en kan gemanipuleer word om deel te neem aan seksuele aktiwiteite …”
“… hul kan dikwels nie onderskei tussen waarheid en leuen nie …”
Die bevindinge word vervolgens bespreek.
4.6.1 Sub-tema 1: Kognitiewe ontwikkeling
Die meeste deelnemers is van mening dat voorskoolse kinders nie in staat is om aan te dui
wanneer (datum) of watter tyd (hoe laat) ‘n insident plaasgevind het nie.
Volgens die helfte van die deelnemers is die ander uitdaging dat voorskoolse kinders nie die inligting oor die seksuele misbruik in kronologiese volgorde kan weergee nie. Hierdie uitdaging is ook deur Hewitt (1999:35) uitgewys, wat bevestig het dat die voorskoolse kind nog nie oor die vaardigheid beskik om inligting in die volgorde van begin, middel en einde te kan verskaf nie.
Hierdie gebrek aan vaardighede by die voorskoolse kind kan aanleiding gee tot teenstrydighede in die kind se weergawe van die seksuele misbruik. Dit is daarom volgens Songca en Le Roux (2004:322) noodsaaklik om kennis te neem van die invloed van ‘n kind se kognitiewe ontwikkeling wanneer data oor ‘n insident ingesamel word, aangesien dit die moontlike teenstrydighede in die kind se weergawe van die seksuele misbruik kan verklaar.
4.6.2 Sub-tema 2: Taalontwikkeling
Genoegsame kennis van ‘n kind se taalontwikkeling kan daartoe bydra dat die optimale inligting van die kind verkry kan word. Dit is volgens Walker (2002:165) ook belangrik om daarop te let dat die vrae wat aan die kind tydens assessering gestel word, ouderdomtoepaslik moet wees, andersins kan dit daartoe aanleiding gee dat onakkurate inligting deur die kind verskaf word.
Nie net het drie-kwart van die deelnemers in tabel 4.6 na die beperkte woordeskat van die kind verwys nie, maar is sommige ook van mening dat die voorskoolse kind nie oor die vermoë
beskik om te verwoord wat met hul gebeur het nie.
Die gebrek aan hierdie spesifieke vaardighede gee derhalwe daartoe aanleiding dat die voorskoolse kind beperkte inligting oor die seksuele misbruik verskaf.
4.6.3 Sub-tema 3: Morele ontwikkeling
Sommige deelnemers identifiseer manipulasie as ‘n rede waarom voorskoolse kinders by seksuele aktiwiteite betrek kan word. In die verband meld Ernberg, Tidefors en Ladström (2016:22) dat die oortreder vir die kind kan vertel dat die seksuele misbruik ‘n geheime speletjie is, waaraan slegs die oortreder en die kind mag deelneem.
Die meeste deelnemers het gemeld dat kinders dikwels nie tussen waarheid en leuens kan
onderskei nie. Hierdie bevinding stem ooreen met Louw (1999) se mening dat nie alle
voorskoolse kinders oor die vaardighede beskik om tussen waarheid en leuen te onderskei nie. As gevolg van hierdie gebrek aan onderskeidingsvermoë by die kind, kan dit tot gevolg hê dat die kind as ongeloofwaardig beskou word.