• No results found

Die impak van seksuele misbruik op voorskoolse kinders kan daartoe aanleiding gee dat die kind verskeie gevoelens en gedragspatrone kan openbaar. Deel van die ondersoek van die forensiese maatskaplike werker is om vas te stel wat die impak van die seksuele misbruik op die kind is. Hierdie inligting word ook in verslagvorm aan die hof deurgegee. Dit is derhalwe noodsaaklik dat die forensiese maatskaplike werker bewus moet wees van hierdie gevoelens en gedragspatrone wat die kind kan openbaar.

Gevoelens en gedragspatrone van die voorskoolse kind wat aan seksuele misbruik blootgestel is, sluit in:

2.8.1 Skuldgevoelens

Kuehnle (1996:64) is van mening dat die persepsie van voorskoolse kinders ten opsigte van outoritêre persone, asook hulle gehoorsame gedrag hulle teen skuldgevoelens beskerm. Jong kinders word derhalwe teen die impak van die misbruik beskerm, aangesien hulle nog nie die betekenis van die situasie, asook die motiewe en intensies van die oortreder, verstaan nie. Dit is die ervaring van die navorser dat voorskoolse kinders meestal nie skuldgevoelens ervaar nie, maar dat die reaksie van die versorgers tydens of na die onthulling van die misbruik wel skuldgevoelens kan ontlok, juis omdat hierdie kinders dan glo dat hul vir die misbruik verantwoordelik is.

2.8.2 Verlies en magteloosheid

Die kind wat blootgestel is aan seksuele misbruik, kan om verskeie redes gevoelens van verlies en magteloosheid ervaar. Hieroor maak Hunter (1990:218) die volgende stelling: “A victim of

sexual abuse is also a victim of tremendous losses: loss of childhood, loss of innocence, loss of control and choice, sometimes loss of virginity, and often loss of an important person.”

2.8.3 Woede

Die kind kan woede ervaar as ‘n gevolg van ‘n verlies aan beheer, magteloosheid en pyn vanweë die misbruik. Die woede wat die kind teenoor die oortreder ervaar, kan tot uiting kom in die kind se optrede teenoor diegene wat die naaste aan die kind is. Daarbenewens kan die kind ook kwaad wees vir die versorgers wat hulle nie teen die trauma beskerm het nie, ongeag of dit onregverdig is (Lewis, 1999:62).

Volgens Lewis (1999:62) kan sommige kinders indirek uitdrukking kan gee aan hul woede deur passiewe-aggressiewe gedrag. Die kind mag instruksies ignoreer, stadig verklee, artikels verloor of breek, in gedagte word en nie luister wanneer hul versorgers hul aanspreek nie. As gevolg van hierdie gedrag van die kind, word volwassenes gewoonlik verskriklik gefrustreerd en kwaad.

2.8.3.1 Kroniese klagtes, moegheid en lusteloosheid

Kinders wat aan seksuele misbruik onderworpe is, kan kla van fisiese siektes soos hoofpyne, maagpyne rug en of skouerpyne waarvoor daar geen mediese oorsake is nie (Kuehnle & Connell, 2009:117). Verlies aan energie kan ook voorkom. Dit kan gebeur dat kinders ophou om aktiwiteite wat hulle voorheen baie geniet het, verder te beoefen (Lewis, 1999:27).

2.8.4 Regressie in ontwikkeling

Lewis (1999:61) meld dat kinders as gevolg van stres regressiewe gedrag begin toon ten opsigte van sommige ontwikkelingstake wat hul reeds bemeester het, soos hulle toiletgewoontes, spraak- of taalvaardigheid (Faller, 2003:246).

2.8.5 Veranderinge in slaappatrone

Jong kinders is nie in staat om hul vrees en angs te verbaliseer nie. Deur die monitering van kinders se slaappatrone kan ‘n nie-verbale aanduiding verkry word van die stres wat die kind ervaar (Hewitt, 1999:83).

Lewis (1999:58) identifiseer verskeie slaappatrone by die kind wat op onderliggende probleme kan dui:

• Die kind vind dit moeilik om aan die slaap te raak. • Die kind word verskeie kere gedurende die nag wakker. • Die kind is bang om alleen te slaap.

• Die kind slaap meer as gewoonlik.

2.8.6 Skeidingsangs

Die kind kan meer aan haar/sy versorgers vaskleef as gewoonlik en weier om van hul geskei te wees. Volgens Lewis (1999:27) kan die kind haar/sy ouers voortdurend volg, weier om die ouer te verlaat of om na die kleuterskool te gaan.

Vanweë hulle unieke samestelling sal kinders verskillend op misbruik reageer. Kuehnle (1996:73) beklemtoon dit dat kinders wat seksueel misbruik word verskillende gedragspatrone kan openbaar. Omdat dit kan gebeur dat daar geen gedragspatrone voorkom wat ‘n aanduiding van seksuele misbruik is nie, kan dit moeiliker wees om die graad van trauma wat die kind ervaar, te bepaal.

2.8.6.1 Dis kinderseksuele-mishandeling-akkommodasiesindroom

Verskeie studies poog om die trauma van seksuele misbruik wat kinders ervaar, te verduidelik. Summit in Müller en Hollely (2009:139-140 ) verwys na ‘n groep gedragsimptome as die kinderseksuele-mishandeling-akkommodasiesindroom. Hierdie gedrag van die kind is volgens die skrywer die wyse waarop die kind die feit dat sy/hy seksueel misbruik is, hanteer.

Daar vyf fases wat kenmerkend van die sindroom is, staan bekend as geheimhouding, hulpeloosheid, aanpassing, onthulling en herroeping.

• Geheimhouding

As gevolg van die dreigemente van die oortreder of die vrees dat niemand haar/hom sal glo nie, vertel die kind vir niemand van die misbruik nie.

• Hulpeloosheid

• Aanpassing

Omdat die kind besef dat daar ernstige nagevolge vir die oortreder, maar ook vir die kind en haar/sy hele families al wees, indien sy/hy die misbruik onthul, maak sy/hy aanpassings in haar/sy lewe om met die misbruik saam te leef.

• Onthulling

In hierdie fase kan toevallige of doelbewuste onthulling plaasvind. • Herroeping

Kinders sal dikwels die gebeure ontken en herroep, nadat hul die onthulling gemaak het, aangesien hulle nie die implikasies van die onthulling kan hanteer nie.