• No results found

3.4 INTERVENSIEPROSES

3.4.2 Take in die inligtinginsamelingsfase

Die wyse van inligtinginsameling word vervolgens bespreek.

(a) Unieke manier van inligtinginsameling

Daar is verskeie struikelblokke wat oorbrug moet word wanneer inligting by die voorskoolse kind bekom word. Voorskoolse kinders sal vanweë hul ontwikkelingstadium minder inligting verskaf as kinders wat byvoorbeeld in hul middelkinderjare is. Alhoewel hulle in staat is om beperkte inligting te verskaf, meld Hewitt (1999:35) dat voorskoolse kinders inligting kan verskaf ten opsigte van ‘wie’ ‘wat’ ‘waar’ en dikwels ‘hoe’ die seksuele misbruik plaasgevind het. Voorskoolse kinders kan volgens die skrywer nie inligting verskaf ten opsigte van ‘wanneer’ of ‘hoeveel keer’ ‘n insident plaasgevind het nie.

Sensoriese inligting kan ‘n waardevolle bron van inligting wees. Die forensiese maatskaplike werker moet poog om tydens die ondersoek sensoriese inligting van die kind te verkry. In die

APSAC Practice Guidelines (2012:12) word gemeld dat daar byvoorbeeld vir die kind gevra

Die inligting wat ingesamel word, sal help om ‘n geheelbeeld van die aard van die seksuele misbruik te verkry. Vanweë voorskoolse kinders se gebrekkige kommunikasievaardighede, is dit ‘n uitdaging om die nodige inligting van hulle te verkry. Goeie onderhoudsvaardighede en hulpmiddels is volgens Hewitt (1999:189) nodig om die gebrekkige kommunikasievaardighede van kinders te oorbrug.

(b) Assessering

Assessering is die proses waartydens inligting van die kind verkry word. Die forensiese maatskaplike werker poog om met assessering vas te stel wat die kind gesien, gehoor en ervaar het.

(i ) Omskrywing van die begrip assessering

Merrel (1999:10) definieer assessering soos volg: “Assessment, in the broad view, is a process whereby information is gathered regarding a specific problem or issue.”

Bovermelde omskrywing bevestig dus dat assessering ‘n proses is waartydens inligting ten opsigte van ‘n spesifieke probleem ingesamel word.

(ii) Doel van assessering

Maatskaplike werkers se doel met assessering mag verskil, maar alle maatskaplike werkers poog om deur middel van assessering inligting te bekom. Müller (2001:18) en Walker (2002:151) onderskei tussen kliniese of terapeutiese assessering en forensiese assessering. Terwyl dit die doel van die kliniese of terapeutiese assessering is om vas te stel watter intervensieplan die beste vir die kliënt is, fokus die forensiese assessering daarop om inligting ten opsigte van die beweerde seksuele misbruik te bekom.

(iii) Kenmerke van assessering

Volgens die SAPS Forensic Work Procedure Manual (2011:13) is daar sekere vrae wat tydens die forensiese assessering beantwoord moet word, naamlik:

• Is die kind seksueel misbruik?

• Wat het in die kind se verlede gebeur wat aanleiding tot haar/sy gedrag gee? • Hoe is die kind sielkundig deur die misdaad beïnvloed?

• Wat is die nie-konstante / teenstrydige inligting wat van die kind verkry word?

• Sal die kind met inagneming van haar/sy ontwikkelingsfase in staat wees om in ‘n hof te getuig?

Bogenoemde vrae duik dikwels tydens die ondersoek van die misdaad op. Die forensiese maatskaplike werker moet derhalwe poog om tydens assessering antwoorde op hierdie vrae te bekom.

Aansluitend hierby meld Spies (2006:218) dat spelverwante kommunikasietegnieke en forensiese tegnieke aangewend kan word om inligting van die kind te bekom. Hierdie tegnieke word gebruik om op ‘n ouderdomstoepaslike wyse met die kind te kommunikeer.

(c) Die gebruik van hulpmiddels

Daar is ‘n verskeidenheid van hulpmiddels en tegnieke wat aangewend kan word om inligting ten opsigte van seksuele misbruik by die kind te verkry. Persona et al. (2006:91) meld dat onderhoudvoerders daarteen moet waak om hulpmiddels te gebruik om die onthulling van seksuele misbruik te ontlok.

Omdat elke kind uniek is, moet die forensiese maatskaplike werker sensitief wees vir die individuele verskille tussen kinders. Persona et al. (2006:85) wys daarop dat selfs kinders van dieselfde kronologiese ouderdom van mekaar kan verskil. Dit is daarom onmoontlik om te bepaal presies watter tegnieke gebruik moet word vir kinders van bepaalde ouderdomme. ‘n Verskeidenheid van hulpmiddels soos byvoorbeeld tekeninge, speelgoed, pophuise en poppe kan aangewend word om inligting van die kind te verkry (Poole & Lamb 1998:194). Anatomies korrekte poppe word dikwels ook as hulpmiddel gebruik. Daar is egter uiteenlopende standpunte in die literatuur oor die gebruik van anatomies korrekte poppe om inligting tydens assesserings van kinders te verkry.

Wakefield en Underwager (2006:4) verwys na Yates en Terr (1988) wat van mening is dat die gebruik van anatomies korrekte poppe veral by voorskoolse kinders nuttig is. Die noodsaaklikheid dat die onderhoudvoerder opleiding in die gebruik van anatomies poppe moet hê, word in die APSAC Practice Guidelines (2012:23) benadruk. Hewitt (1999:221) beklemtoon egter dat anatomies korrekte poppe nie gebruik mag word om te diagnoseer of ‘n kind seksueel misbruik is al dan nie. Volgens Hewitt (1999:221) is daar navorsers wat van

mening is dat die blootstelling van hierdie poppe se privaat dele, tot die onthulling van seksuele misbruik by die kind kan bydra.

(d) Agtergrondsinligting en kollaterale bronne

Carnes (2001:5) wys daarop dat daar nie slegs op die kind se verklaring ten opsigte van seksuele misbruik staatgemaak moet word nie. Agtergrondsinligting ten opsigte van die kind kan op verskeie wyses bekom word (Faller, 2007:145). Kollaterale persone, soos onderwysers en beraders in die kind se leefwêreld, kan waardevolle agtergrondsinligting verskaf. Dit is volgens Pence (2011:330) ook belangrik om in gesprek te tree met die persoon wat die seksuele misbruik aangemeld het. Hewitt (1999:99) wys daarop dat die gebruik van ouervraelyste waardevolle inligting kan verskaf ten opsigte van byvoorbeeld die kind se ontwikkelingsgeskiedenis of moontlike trauma waaraan die kind in die gesin blootgestel is. Dit kan ‘n impak op die assessering hê, aangesien emosionele probleme by kinders nie altyd deur seksuele misbruik veroorsaak word nie, maar deur trauma byvoorbeeld gesinsgeweld wat in die gesin kan voorkom.