• No results found

Verskeie professionele persone van die verskillende staatsdepartemente en ander organisasies kan betrokke wees wanneer beweringe van seksuele misbruik van kinders ondersoek word. Omdat hierdie professionele persone verskillende doelwitte met hulle dienste het, verskil hulle professionele verantwoordelikhede.

3.3.1 Aard van kinderbeskermingsdienste

Kinderbeskermingsdienste verwys na verskillende rolspelers en staatsdepartemente wat in gevalle van seksuele misbruik en verwaarlosing van kinders, optree.

Seksuele misbruik by kinders kan deur die slagoffer, ‘n lid van die publiek of ‘n persoon van ‘n professionele organisasie bekend gemaak word. Die persoon teenoor wie die kind die misbruik onthul, is wetlik verplig om die seksuele misbruik aan te meld (Powell, 2007:141).

Daar is verskeie wetgewing wat die individu verplig om die seksuele misbruik van kinders by die polisie of maatskaplike werker aan te meld. Hierdie wetgewing maak ook voorsiening daarvoor dat daar ondersoek na die beweerde seksuele misbruik ingestel moet word.

Die wetgewing sluit in:

• die Wet op Seksuele Misdrywe, Wet 32 van 2007, Artikel 54 (1) wat bepaal dat enige persoon wat daarvan kennis dra dat ‘n seksuele misdryf teen ‘n kind gepleeg is, sodanige kennis by ‘n polisiebeampte moet aanmeld; asook

• die Wet op die Voorkoming van Gesinsgeweld, Wet 133 van 1993 (Artikel 4), wat bepaal dat gevalle waar kindermishandeling vermoed word, aan ‘n polisiebeampte of maatskaplike werker gerapporteer moet word. Seksuele misbruik is deel van kindermishandeling.

• die Wet op Kindersorg, Wet 38 van 2005, beskryf spesifieke strategieë om kinders te beskerm. Die wysigingsontwerp dek ook misdrywe soos die seksuele voorbereiding (‘grooming’) van kinders en maak voorsiening vir aangeleenthede wat daarmee verband hou. In Afdeling 106 (4) c beklemtoon die Wet dat sake waar daar vermoed word dat ‘n kind seksueel misbruik word, ondersoek moet word.

Dit is duidelik dat die onderskeie wetgewing dit as belangrik beskou dat seksuele misbruik by die maatskaplike werker en polisie aangemeld moet word. Die onderskeie rolspelers het almal spesifieke verantwoordelikhede wat nagekom moet word om kinders te beskerm.

Die bekendmaking van seksuele misbruik aan lede van die SAPD, sal aanleiding gee tot spesifieke wetlike prosedures wat deur die onderskeie rolspelers in die SAPD gevolg moet word. Forensiese maatskaplike werkers is sedert Maart 2007 ‘n nuwe toevoeging tot die ondersoekspan van die SAPD wat help met die ondersoek wanneer kinders aan seksuele misbruik blootgestel word.

3.3.2 Verantwoordelikhede van rolspelers ten opsigte van kinderbeskermingsdienste

Verskeie staatsdepartemente byvoorbeeld die Departement van Gesondheidsdienste en die Departement van Justisie kan by intervensie betrokke raak nadat die seksuele misbruik van kinders onthul is (September, 2006:57). Die polisie en maatskaplike werkers is van die belangrikste rolspelers by kinderbeskerming. Pienaar (2000:21) beklemtoon dat die

Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) deel is van die multi-dissiplinêre span wat verantwoordelik is om kinders te beskerm.

Die polisie is volgens Conradie (2003:4) dikwels die eerste rolspeler wat oor misdade teen kinders ingelig word. Die rol van die polisie in hierdie verband is in die Nasionale Instruksie 22/1998 van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, gedateer November 1998, uiteengesit.

Hiervolgens is dit die verantwoordelikheid van die polisie om die klagte aan te hoor en onmiddellik daaraan aandag te gee. Die beskuldigde moet gearresteer word, borgtog moet geopponeer word en die kriminele klag moet ondersoek word. Die polisie is verantwoordelik om inligting in te samel. Die saak gaan dan na die staatsaanklaer wat moet besluit of vervolging gaan geskied, al dan nie. Dit is ook die rol van die polisie om die klaer op hoogte te hou van die saak (Nasionale Instruksie 22/1998).

Net soos die polisie, vervul maatskaplike werkers ‘n belangrike rol wanneer beweringe van seksuele misbruik by kinders ondersoek word. Waterhouse (2008:33) meld dat maatskaplike werkers daarvoor verantwoordelik is om ondersoek in te stel na beweringe oor kinders wat seksueel misbruik is en om tersaaklike verslae hieroor aan die hof te voorsien.

Hierdie verslae kan fokus op kinders se vermoë om te getuig, die beveiliging van die kind of die impak wat die insident op die betrokke kind gehad het. Ook poog die forensiese maatskaplike werker om tydens die forensiese ondersoek spesifieke inligting ten opsigte van die beweerde insident te bekom. Volgens Müller (2001:18) kan hierdie wetlik verdedigbare inligting in die hofproses gebruik word.

Kinders wat aan seksuele misbruik blootgestel was, kan om verskeie redes na die forensiese maatskaplike werker vir ‘n ondersoek verwys word. Daar is spesifieke verwysingsprosedures wat deur die staatsaanklaers en ondersoekbeamptes gevolg moet word wanneer die kind vir assessering na die forensiese maatskaplike werker vir assessering moet gaan.

3.3.3 Verwysingsprosedures wanneer kinders na die forensiese maatskaplike werker verwys word

Die prosedure wat gevolg moet word wanneer kinders na die forensiese maatskaplike werker vir assessering verwys word, word vervolgens uiteengesit.

3.3.3.1 Prosedure wat gevolg moet word wanneer die kind verwys word

Kinders kan aan verskeie vorme van seksuele misbruik, soos byvoorbeeld verkragting, blootgestel word. Nie alle kinders wat aan seksuele misdrywe onderwerp word en vir wie ‘n dossier geopen is, word deur die forensiese maatskaplike werker geassesseer nie.

Kinders word deur die forensiese maatskaplike werker in die SAPD geassesseer:

• indien ‘n kriminele klag in terme van die Wet op Seksuele Misdrywe, Wet 32 van 2007 geregistreer is; en

• indien ‘n versoek van die ondersoekbeampte of staatsaanklaer ontvang is (SAPS

Forensic Procedure Manual, 2011:9).

‘n Dossier word geopen en die kriminele klag word geregistreer nadat ‘n verklaring ten opsigte van die beweerde insident deur die kind en / of voog by die polisiestasie afgelê word. Die dossier word daarna na ‘n ondersoekbeampte van die Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe Eenheid (GKS) vir ondersoek verwys. Hierdie ondersoekbeampte kan, nadat hul die dossier bestudeer het, bevind dat die kind vir assessering by die forensiese maatskaplike werker verwys moet word.

Kriel en Wilson (2007:86) wys daarop dat die ondersoekbeampte eers die verwysingsvorm kan voltooi, nadat goedkeuring van die GKS bevelvoerder of staatsaanklaer verkry is, en daarna die versoek om assessering aan die forensiese maatskaplike werker kan rig. Die ondersoekbeampte of staatsaanklaer moet skriftelik aansoek doen vir hierdie assessering.

3.3.3.2 Gebruik van ‘n verwysingsvorm

Daar is ‘n spesifieke verwysingsvorm wat voltooi moet word, indien ‘n kind na ‘n forensiese maatskaplike werker verwys word.

Die ondersoekbeampte of staatsaanklaer wat die kind verwys, moet die volgende inligting op die verwysingsvorm voltooi:

• Naam, ouderdom en kontakbesonderhede van die kind en haar voog; • Naam en kontakbesonderhede van die ondersoekbeampte;

• Die Stasie, MAS nommer en misdaad wat gepleeg is;

Die inligting ten opsigte van die misdaad word op die verwysingsvorm tot die minimum beperk omdat die forensiese maatskaplike werker objektief moet wees. Indien die forensiese maatskaplike werker oor inligting van die saak voorsien word, kan dit die assessering en die deskundige getuienislewering van die forensiese maatskaplike werker negatief beïnvloed.

3.3.3.3 Redes vir verwysing

Daar is verskeie redes waarom kinders vir ‘n ondersoek na die forensiese maatskaplike werker, verwys word. Die rede vir die verwysing moet duidelik op die verwysingsvorm aangeteken word.

Kinders word volgens die (SAPS Forensic Procedure Manual, 2011:9) na die forensiese maatskaplike werker verwys:

• wanneer die ondersoekbeampte van die SAPD nie in staat is om effektief met die kind te kommunikeer of ‘n gedetailleerde verklaring kan neem nie, of onvoldoende inligting ten opsigte van die beweerde misdaad verkry;

• wanneer die strafhof in terme van die Wet op Seksuele Misdrywe, Wet 32 van 2007 ‘n kind vir assessering via die ondersoekbeampte verwys;

• wanneer die strafhof in terme van die Wet op Seksuele Misdrywe, Wet 32 van 2007 inligting benodig ten opsigte van die kind se vermoë om te getuig;

• wanneer die strafhof in terme van die Wet op Seksuele Misdrywe, Wet 32 van 2007 die getuienis van ‘n professionele persoon/deskundige getuie nodig het om insig ten opsigte van die dinamiek van seksuele misbruik te verkry.

Bogenoemde is die vernaamste redes waarom kinders vir assessering verwys word.

3.3.3.4 Registrasie van verwysing

Nadat die verwysingsvorm van die ondersoekbeampte van die SAPD ontvang is, word die aanmelding in die gevalleregister van die forensiese maatskaplike werker aangeteken. Of die forensiese maatskaplike werker of die ondersoekbeampte kan die ouer/voog van die kind kontak om reëlings vir die eerste afspraak te tref.

Die forensiese maatskaplike werker in die SAPD het ‘n spesifieke verantwoordelikheid om kinderbeskermingsdienste te lewer wanneer kinders wat seksueel misbruik is, na hulle verwys

word. Die verantwoordelikhede van die forensiese maatskaplike werker word soos volg in die

SAPS Forensic Social Work Procedure Manuel (2011:18) uiteengesit:

• Assessering van beweerde seksuele misbruik van die kind; • Verslagskrywing oor die ondersoek;

• Deskundige getuienislewering in die strafhof.

Hierdie verantwoordelikhede moet deur die forensiese maatskaplike werker nagekom word ten einde die beweringe van seksuele misbruik by kinders suksesvol te ondersoek.

Vervolgens word gefokus op die verskeie verantwoordelikhede (assessering, verslagskrywing en deskundige getuienis) wat die forensiese maatskaplike werker moet nakom wanneer die voorskoolse kind vir assessering verwys word.