• No results found

Tegnieke om eienaarskap van beeste aan te dui

HOOFSTUK 4: PROFIEL VAN DIE SUID-AFRIKAANSE TREKOS

4.14 Tegnieke om eienaarskap van beeste aan te dui

Tussen 'n relatief geslote groep beeseienaars, hetsy familiegroepe of bure, speel bepaalde merke wat fisies aan die os (bees) aangebring is 'n rol by die bepaling of aandui van persoonlike eiendom.

Letsels van verskillende aard is tradisioneel met verskillende tegnieke algemeen aan dele van die lyf aangebring om eienaarskap van beeste te bevestig. Tans word sommige van hierdie letsels soos brand- en tatoeëermerke van owerheidsweë statutêr vasgestel. Vir hierdie doel bestaan 'n brandmerk uit een tot drie karakters (wat ook statutêr vasgestel is) in 'n bepaalde konfigurasie toegeken en geregistreer in die naam van 'n bepaalde persoon by die Nasionale Departement van Landbou (Wet op Veebrandmerke. 87 van 1962). As sodanig word dit in die nasionale register aangeteken synde die unieke eiendomsteken op die beeste van die betrokke eienaar. Hierdie reling dien veral as maatreël teen veediefstal om die oorsprong van beeste vinnig en effektief vas te stel.

4.14.1 Oormerke

Onder 'n oormerk word ingesluit enige merk wat in of aan die oorskulp/e (links en/of regs soos van agter die bees gesien) aangebring is, wat as eiendoms- of onderskeidingsteken dien. Die trek- , pionierboer en transportryer het 'n aantal standaardpatrone aan die oorskulp, wat met sy knipmes aangebring is, gebruik om die uitken van verskillende eienaars se beeste, binne familie- en gesinsverband, en tussen bure te vergemaklik. Gronum (1975:56) gee 'n goeie beskrywing van hoe die osdrywer sy osse aan die oormerk uitwys: "Dis my merk daardie regteroor slip-en-snytjie. My ander broer se merk is ook slip-en-snytjie van voor en myne is die slip-en-snytjie van agter, altwee regter-ore". Die WAT (2014. Lemma: oormerk) gee eweneens 'n voorbeeld waar die patrone gekombineer word: "My buurman se oormerke is linkeroor winkelhaak van agter en regteroor skuinsstomp".

Die term "van agter" verwys na die rigting van die hoek van die snit in die rigting van die kop en die term "van voor" verwys na die rigting van die hoek van die snit weg van die kop.

Van die meer algemene oormerke, ongeveer 5 tot 10 mm diep, is:

Halfmaantjie: 'n Halfmaanvormige keep wat uit die oorskulp gesny is.

Jukskei: Kepe soortgelyk aan die kerf van die skei waaraan die strop geheg word. Skuinsstomp: Die voorpunt van die oor is van bo skuins na die punt afgesny.

Stompoor: Die voorpunt van die oor word reguit afgesny (gewoonlik om uitskotdiere aan te dui).

Swaelstert: 'n V-vormige keep aan die punt van die oor. Winkelhaak: 'n Gewone reghoekvormige patroon.

Die toepassing en benaming van die onderskeidingsteken aan die linker- of regteroor is as sodanig onderskei met die benaming van die merk gekoppel aan links of regs, asook na bo of na onder en na voor of na agter, aan die oorskulp. Snymerke is 'n praktyk wat steeds, alhoewel in mindere mate, gebruik word. 'n Gebruik wat dikwels hiermee saamval is om, by geboorte van 'n kleinkind of kind (as geboortegeskenk) 'n kalf te merk vir die nuwe aankomeling, wat kan dien as grondslag van 'n latere eie kudde.

In die laat 20ste eeu is die basiese knipmetode aangepas deur die kepe met ’n metaaltang aan die oorskulpe uit te knip. Elke posisie aan die oorskulpe, soos in figuur 4-7 aangedui, verteenwoordig ʼn bepaalde syferwaarde om die nommer van elke individu aan te bring .

'n Tweede tegniek van uitkenning is die gebruik van oorplaatjies (aanvanklik metaal en later ook plastiek), wat aan die oorskulp geheg word. Dit het sedert die sestigerjare van die 20ste eeu tradisionele oormerke, veral in kommersiële boerderye, grootliks vervang. In die geval van die metaalplaatjies word die betrokke identiteitsmerke (letters of syfers) op die klein plaatjie ingekap en met 'n spesiale tang aan die oor vasgeknip. Die plastiekplaatjies wissel in grootte en kleur en die identiteitsmerke word met 'n spesiale inkpen met die hand geskryf en eweneens met 'n spesiale apparaat aan die oorskulp geheg. 'n Groot voordeel van die plastiekplaatjies is dat die dier nie gevang hoef te word om die merke na te gaan nie, die inligting kan op 'n redelike afstand waargeneem word. Die plaatjies leen hulle tot gerieflike bestuur van die kudde deurdat tersaaklike inligting soos die kuddenommer, geboortedatum, ens. met 'n oogopslag beskikbaar is. Eweneens speel die kleur van die plaatjie dikwels ook 'n belangrike rol in die bestuurspraktyk van die beesboer.

Figuur 4-7: Gebruik van oortang vir knip van oormerke www.landbou.com/http://www.landbou.com/

Oortang Syferwaarde

van knipmerke aan oorskulpe

Figuur 4-8: Oormerke en plastiek plaatjie om beeste te identifiseer Marius Oosthuysen-fotoversameling

Op die keper beskou is dit duidelik dat die aanbring van letsels aan die oorskulp/e die mees praktiese metode was vir verskillende eienaars om hulle beeste te eien.

4.14.2 Brandmerke

Brandmerke word tans met spesiale brandysters, wat die geregistreerde brandmerk van die eienaar bevat en witwarm verhit is, op bepaalde plekke aan die lyf van die bees ingebrand. Die minimum- en maksimumgrootte en die konfigurasies van die letters vir geregistreerde brandmerke is statutêr vasgestel. Die eienaar mag 'n brandmerk op enige deel van die bees waar dit duidelik sigbaar is, aanbring, met die uitsondering van die nek en skof. Hierdie gedeelte is deur die Staat gereserveer vir brandmerke, waar beeste, met die tersaaklike in- en uitvoerpermitte, oor die landsgrense heen beweeg. Beeste word ook op die nek en skof gemerk wanneer hulle as sekuriteit vir staatslenings dien. Die kruis en sykante van die boude is die algemeenste liggaamsdeel waar beeseienaars brandmerke aanbring omdat dit 'n posisie is waar dit maklik waargeneem kan word. Soms word beeste ook op die blad of wang gebrandmerk. 'n Wetlike vereiste is dat beeste nie voor die ouderdom van ses maande gebrandmerk mag word nie.

Tradisioneel is die aanteelkalwers jaarliks, in die laat winter of vroeë lente wanneer brommers minder aktief is sodat die moontlikheid van besmetting met maaiers gering is, gebrandmerk. Die jong, gespeende beeste is deur 'n paar mans met rieme gevang en op die grond neergetrek en stewig vasgehou om met die witwarm brandyster gemerk te word. Droë miskoeke, wat hoë hitte vrystel, is as voorkeurbrandstof gebruik om die yster mee te verhit (Oosthuysen, 2009). 'n Eietydse gebruik is om die bees in 'n drukgang aan te druk en met 'n immobiliseerder teen lae volts te verdoof terwyl die brandmerk aangebring word. Hierdie tegniek ontwrig die dier minimaal, aangesien geen newe-effekte, soos lomerigheid met die toediening van narkose, ondervind word nie. Die brandysters word gerieflik in 'n spesiale gasoondjie tot die verlangde hitte verhit.

4.14.3 Tatoeëering

Tatoeëermerke word uitsluitlik aan die binnekant van die oorskulp met 'n tatoeëertang aangebring. Die tatoeëermerke (of karakters) word soos die brandmerke eweneens statutêr gereguleer. Die tegniek word om praktiese redes algemener by kleinvee toegepas as by beeste. By laasgenoemde moet die bees telkens in 'n drukgang gevang word, soms met veel moeite, om die betrokke merke na te gaan. Toediening van die merke geskied met karakters wat met behulp van fyn naalde in 'n basis uitgelê word en wat in 'n spesiale tang inpas. Tatoeëerink word aan die binnekant van die oorskulp gesmeer en met die naalde van die tang in die oorskulp impregneer (Oosthuysen, 2009).

In hoofstuk 5 word gekyk na die profiel van die Suid-Afrikaanse osdrywer, die vakterminologie van die osdrywerstaal en die osdrywer se etiek in die beoefening van sy nering. Aansluitend hiertoe word die invloed van hierdie komponente op die Afrikaanse taal bondig saamgevat.