• No results found

Die ontstaan, herkoms en groei van Afrikaans

HOOFSTUK 5: DIE TRADISIONELE SUID-AFRIKAANSE OSDRYWER

5.8 Die ontstaan, herkoms en groei van Afrikaans

Die Afrikaanse taal het gedurende die laaste helfte van die sewentiende eeu in Suid-Afrika, vanuit die sewentiende-eeuse Nederlands, tot stand begin kom (Opperman, s.a.:473). Met die vestiging van 'n verversingstasie (1652) vir die skeepvaart om die Kaap was die voertaal van Jan van Riebeeck en sy geselskap in hierdie nedersetting Nederlands. Hulle is mettertyd aangevul met Duits- en Franssprekendes. Die gesprekstaal van die uitgebreide nedersetting het, onder die invloed van verskeie faktore, geleidelik dermate eiesoortige karaktereienskappe ontwikkel dat daar teen 1750 kennelik na 'n taal met 'n eie aard, ten opsigte van die oorspronklike Nederlands, verwys kon word (Grové, s.a.:1). Die omvangrykste aanpassings het stellig tydens die eerste vyf dekades ná die vestiging van die halfwegstasie aan die Kaap plaasgevind (Smuts, 1968:26).

Teen 1795 was die meerderheid van die boerebevolking steeds binne 120 kilometer vanaf Kaapstad gevestig. Vanuit hierdie streek is daar na die res van die land inbeweeg (Smith, 1962:440). Die trekos as kragbron het tydens hierdie proses van uitbeweeg na die meer afgeleë gebiede, as 'n anker gedien vir die instandhouding en behoud van onder meer gereelde kerkplig en amptelike verpligtinge teenoor die owerheidsgesag. Gesinne, familiegroepe en gemeenskappe kon met die ossewa gereeld saam byeenkom en deel in hierdie belangrike saambindende sosiale

verpligtinge. Uit die aard van die saak het dit hul onderlinge taalgebruik en dus die vestiging van Afrikaans beïnvloed. Die trekos en sy toerusting het stellig op hierdie wyse indirek ‘n belangrike bydrae tot die vestiging en ontwikkeling van Afrikaans gelewer.

Hierdie plattelandse gemeenskap, wat mettertyd die nuwe taal Afrikaans wellewend gepraat het, was egter nie van 'n eenvormige samestelling nie, en is beïnvloed deur ‘n aantal ander tale, te wete Europese, Inboorling- en Oosterse tale (Smuts, 1968:18-21). Geen spraakgebied is egter ten volle afgeskei van 'n ander nie, en kom die een met minstens een of meer ander spraakgebiede in aanraking. Woorde en sêgoed word oorgeneem van die ander en desgelyks van sy eie aan die ander gegee (Coetzee,1939:7-8). Reeds tydens die eerste paar dekades het 'n betekenisvolle proses, naamlik dialekvermenging, in die taalgebruik aan die Kaap plaasgevind (Smuts, 1968:21-22).

Weens die veehandel is daar reeds in die eerste jare van die halfwegstasie aan die Kaap noue kontak met individue en groepe van die Khoi-Khoi gemaak. Hierdie groepe, na aan die Kaap, het hulself skynbaar egter gou self met 'n vorm van Nederlands behelp. Tekens van Khoi-Khoi- invloed op die ontstaan van Afrikaans is hoofsaaklik beperk tot vele plekname asook die name van inheemse flora, fauna en woorde wat verband hou met die Khoi-Khoi se leefwyse (Smuts, 1968:22). Onder die inboorlinge van Suid-Afrika was die Khoi-Khoi by uitstek die beeskenners en sou die swart mense indertyd hul beeste van die Khoi-Khoi verkry het. Voorts bestaan die veronderstelling dat sekere gebruike wat in die hantering van beeste onder Afrikaanse boere geld, soos die span van ‘n koei om haar te kan melk, van die Khoi-Khoi oorgeneem is (Ziervogel, 1968:161). Die vaardigheid van die Khoi-Khoi met betrekking tot die hantering van hul osse word betekenisvol deur Gordon en Talbor (1938:5) weergegee. Met verwysing na die dood van D'Almeida in 1510, bied hierdie outeurs die volgende eerstehandse verslag soos weergegee deur J. de Barros (Lissabon, 1552): "... the blacks came on so furiously that they … came into the body of our men, taking back the oxen; and by whistling to these and making other signs (since they are trained to these warlike device), they made them surround our men … like a defensive wall, from behind which came so many fire-hardened sticks that some of us began to fall wounded or trodden by the cattle". Osse, as pak-, ry- en vegosse, het 'n belangrike funksie in die tradisionele kultuur van die Khoi-Khoi vervul. Op hierdie terrein was die Khoi-Khoi dus, met behulp van klanke en lyftaal, stellig bedrewe hanteerders van osse. Met hulle kennis en weens hul relatief noue kontak met lede van die vroeë nedersetting aan die Kaap, kon hulle mettertyd behulpsaam wees met die hantering van osse vir trekdoeleindes. Die hôi of hôi-hôijaag van trekosse herinner sterk aan 'n "defensive wall" soos hierbo beskryf.

Reeds vroeg ná die vestiging van die halfwegstasie aan die Kaap, is spoedig van trekosse gebruik gemaak vir verskillende doeleindes, soos die aansleep van houtstompe vir timmer- en skrynwerk, wat vir die oprigting van vroeë strukture vir skuiling benodig is. In die praktyk kon die Khoi-

Khoi destyds hierin stellig 'n betekenisvolle bydrae gelewer het met hulle kennis van die toepaslike "whistling" en "other signs" soos hierbo deur J. de Barros beskryf.

Hierbenewens sou hul intieme kennis met betrekking tot die hantering van hul pakosse, gepaardgaande met gebreide rieme en velle vir 'n verskeidenheid gebruike, stellig op die lange duur vir Suid-Afrikaanse osdrywers met hulle unieke lang spanne trekosse, ook handig te pas gekom het. Langs hierdie roete het die Khoi-Khoi waarskynlik mettertyd indirek, veral ten opsigte van 'n uitgebreide toepaslike beeldspraak en idiomatiek wat uit die trekoskultuur spruit, oor die jare heen 'n beduidende bydrae tot die uitdrukkingsvermoë en groei van Afrikaans gelewer. Aansluitend hierby stel Kok (1942:40) dit dan ook dat die spitsvondigheid van die omvattende Afrikaanse idiomatiek in talle beeldryke vergelykings en uitdrukkings, nou verbonde is aan die arbeidsaamheid en tipiese eienskappe van die trekos en in die benutting en bereiding van sy trekgoed.

In Afrikaans bestaan 'n verskeidenheid woorde, waarvan die slawetaal as bron van oorsprong kon dien, onder meer baie, baadjie, bobotie, sambok van Maleise afkoms asook kraal en

sambreel van Portugese agtergrond (Smuts, 1968:22-23). In die Suid-Afrikaanse osdrywerstaal

het die woorde kraal en sambok 'n hoë gebruiksfrekwensie. Vir die osdrywer dien die sambok (gesny uit seekoei- of renostervel) hoofsaaklik as slaanding om in bepaalde omstandighede die agterosse in die span te dryf. In die omgangstaal dien dit ook as algemene benaming vir 'n slaanding soos 'n karwats, lat, peits, plak en sweep.