• No results found

HOOFSTUK 6: NEWEPRODUKTE VAN DIE SUID-AFRIKAANSE TREKOS AS

6.6.1 Huishoudelike en persoonlike toerusting, hulpmiddels en versiering

6.6.1.8 Knope en haarkamme

Knope om kledingstukke aan die lyf toe te knoop is van horingplaat en uit die soliede punte van horing gesaag of gedraai. Vir die swaarder kledingstukke, soos jasse of baadjies, is die punte meestal benut om sterker knope (soms staafvormig) van geskikte afmeting te maak. Die horingplaat is gedraai en afgewerk om plat, ronde, selfs die delikaatste knopies, aan die hand van 'n horingdraaier te bekom. Horing is eweneens nuttig aangewend om haarkamme te prakseer om die hare te kam, die kapsel netjies te hou of bloot as 'n versiersel in die hare te dra (Wolfaardt, 2013; Janse van Rensburg, 2009). Kyk figuur 6-4.

Figuur 6-4: Haarkam van horing gemaak

Foto met vergunning: Die President M.W. Pretoriushuis – Potchefstroom 6.6.1.9 Lampstaanders

'n Oshoring met 'n besonderse of gepaste groeiwyse is uitgesoek en die dop glad afgewerk om as lampstaander te dien. Dit is nie bloot ornamenteel nie, maar dien as nuttige staander om op 'n stewige basis van hout 'n elektriese bed- of tafellampie te prakseer. Herinneringe aan 'n bepaalde trekos is ook dikwels in so 'n lampstaander vasgevang.

6.6.1.10 Medisinale gebruik

Fyn gebrande horing wat in kookwater getrek is, bekend as beeshoringwater, het as medisyne teen inflammasie gedien (WAT 2014. Lemma: beeshoringwater).

6.6.1.11 Pypstele

Van die soliede voorpunt van horingdoppe is pypstele kunstig afgewerk om in die pot van 'n pyp, waarmee tabak gerook is, te pas. Die soliede punt van die horing is tot die gewenste grootte en vorm afgewerk en met 'n gaatjie van geskikte deursnit deurboor. Om 'n gerieflike mondstuk te vorm, is die pypsteel met 'n mes (of vyl) afgeplat. Die pypsteel is soms, deur dit plooibaar te verhit, effens gekrom sodat die pyp gerieflik in die mond kan hang (Wolfaardt, 2013; Scholtz, 1987). Kyk figuur 6-5.

Figuur 6-5: Pypsteel

Foto met vergunning: Die President M.W. Pretoriushuis – Potchefstroom 6.6.1.12 Servetringe

Horingdoppe van geskikte deursnee, gewoonlik van 'n suiwer (wit) of eenvormige kleur, is in ringe uit die horingdop gesny om as servetringe te dien. Die ringe is blink en glad afgewerk. Soms is patrone as versiersels daarop uitgesny of geverf. 'n Gedeelte van die ring is dikwels plooibaar verhit en afgeplat om as voetstuk te dien (Oosthuysen, 2011a).

6.6.1.13 Skaalmodelle

Die maak van seilbootmodelle uit horingdoppe is 'n buitengewone stokperdjie wat besondere vaardigheid verg. Die plooibaarheid en tekstuur van horing is ten volle benut om die romp, maste en seile te vorm en blink af te werk (Janse van Rensburg, 2009).

6.6.1.14 Skoenlepels

'n Skoenlepel, oftewel ook 'n skoenhoring, is 'n apparaat wat as hulpmiddel dien om 'n skoen aan die voet te trek (WAT 2014. Lemma: skoenlepel). Vir hierdie doel is 'n halfronde strook van gepaste wydte (om oor die voet se hak te pas) in die lengte uit 'n horingdop gesny en aan beide kante glad afgeskuur, wat veroorsaak dat dit gemaklik kan uittrek wanneer die voet in die skoen geplaas is.

6.6.1.15 Teerputse

'n Geskikte groot horingdop, met 'n aansienlike inhoudsmaat, het dikwels as 'n baie gerieflike teerputs gedien. Die smeermiddel (teer of ghries) vir die wa se asse en skamels, is aan die onderstel van die wa gehang (Lord & Baines, 1975 [1876]:398; Sneyd, 2001). In uitdrukkings met betrekking tot die teerputs word gewoonlik neerhalend verwys na smerigheid of morsigheid aan of van 'n persoon. Dit kan toegeskryf word aan blootstelling aan vuiligheid, soos stof wat om die bewegende wa opslaan en maklik aan die teer buite-om die teerputs vassit.

6.6.1.16 Tregters

Om vloeistowwe in houers soos waterkruike te gooi, is geskikte horingdoppe as tregters aangepas. Die basis is skuins afgesaag ten einde die oppervlak van die opening en die hoek waarteen die vloeistof ingegooi word, te vergroot. Waar dit nodig is om vloeistowwe (soos heuningbier) te filtreer, is dit deur 'n sif of doek, wat vir die doel pasgemaak is, oor die wye opening aan die basis van die horingdop geplaas. Die voorpunt is op 'n gepaste plek, waar die buis van die dop 'n geskikte deursnit het, afgesaag om die vloeistof deur te laat (Janse van Rensburg, 2009).

6.6.1.17 Vet- en vloeistofhouers

Uitgesoekte groot horings, waarvan sommige 'n inhoudsmaat van etlike gelling (1 gell. = 4.5 liter) gehad het, met afmetings van punt tot punt van ongeveer 4 meter, het onder meer as houers vir vet, water en heuningbier diens gedoen (Lord & Baines, 1975 [1876]:448). Die wye agterste opening is, waar van toepassing, van 'n houtprop of deksel voorsien, wat stewig pas en die opening verseël het om vermorsing te beperk. Hierdie prop kon tog, wanneer nodig, maklik verwyder word. Die horingdoppe het die inhoud goed geïsoleer en koel gehou (Janse van Rensburg, 2009; Scholtz, 1987). Thomas Pringle, leier van 'n groep 1820-Britse Setlaars, verwys na 'n besondere benutting van horings geskoei op die kruithoring. Die groep boere wat sy geselskap vanaf Algoabaai na die Baviaansriviervallei vervoer het, het elk, naas hul kruithoring, 'n oshoring as brandewynbottel benut, waaruit saans 'n "zoopje" geskink is om saam met biltong, vir aandete, te geniet (Meiring, 1968:31).

Uitgebraaide vet en mengsels van vet en geurmiddels is vir 'n verskeidenheid gebruike in klein horinghouers gehou, onder andere as smeermiddel om melkkoeie se spene te smeer wanneer hulle gemelk is of vir 'n els wanneer stikwerk aan leer gedoen is. Vet is vir dergelike gebruike in 'n vethorinkie byderhand gehou deur dit met 'n riempie aan die lyfband of melkstoeltjie te heg.

6.6.1.18 Worsstoppers

Die lengte van die worsstopper, van 10 tot 13 cm, is gemaak om gerieflik in die hand te pas (Pretorius red. 1988:121; Scholtz, 1987; Van Rooyen, 1938:135). Die voorpunt van 'n horingdop met geskikte deursnit om die vleismengsel (fyngekerfde blokkies vleis) met die duim te kan deurdruk, is as worsstoppers benut. Die soliede punt is afgesaag, waar die buisgedeelte van die horing die gewenste deursnit het, om die vleis met gemak tot die derm, wat oor die voorpunt getrek is, in te voer.

6.6.2 Basuine en blaasinstrumente

In vroeër eeue was oshorings tydens oorloë gewilde oorlogsbasuine om soldate aan te moedig, op te roep of aan te spoor tot oorlogvoering en stryd. Die Kasteel De Goede Hoop in Kaapstad huisves 'n besonder mooi eksemplaar van sodanige basuin.

In Suid-Afrika is groot oshorings vroeër deur die osdrywers as basuin gebruik om onderling mee te kommunikeer. 'n Klein, spleetvormige opening, waaroor die lippe van die blaser netjies pas, word naby die punt van die horing aan die sykant uitgekerf. Wanneer kundig op hierdie horings geblaas word, is die klank daarvan oor groot afstande (etlike kilometer) duidelik hoorbaar. Op reis, veral tydens handelstogte in die transportry-era, het die wadrywers, wanneer die osse op 'n afstand wei, op die horingdoppe geblaas om die veewagters met die osse nader te roep (Gronum, 1975:77). Desgelyks het die reisiger die mense by die opstal reeds op 'n afstand verwittig van sy terugkeer. Wanneer lede van 'n geselskap op trek van mekaar afdwaal, het hulle mekaar op hierdie wyse gesoek. Die basuingeskal van die oshoring is eweneens gebruik om te bepaal of 'n bergpas met beperkte deurgang reeds deur 'n ander wadrywer beset is. Indien dit beset is, sou die betrokke drywer op gepaste wyse antwoord met sy basuinhoring of met die klap van sy sweep (Scholtz, 1987).

In bepaalde konteks verwys die term "horing" na 'n blaasinstrument wat tradisioneel van horing (of 'n horing) gemaak is. Tradisioneel is so 'n instrument as seininstrument, veral by georganiseerde jaggeleenthede of in oorlog, gebruik. Hulle is mettertyd van bepaalde hardehoutsoorte (tans ook van metaal soos brons of koper) nagemaak en dermate verfyn dat 'n groep van hierdie instrumente 'n integrale chromatiese onderdeel van 'n eietydse orkes kan uitmaak (WAT 2014. Lemma: horing). Hierbenewens het die konsep van die basuingeskal van die horing ook tydens die Sokker-wêreldbekertoernooi van 2010 in Suid-Afrika met groot fanfare deel van die jolyt uitgemaak. Alhoewel geskikte beeshorings, onder andere weens moderne boerderypraktyke, nie beskikbaar is nie, is 'n beperkte hoeveelheid koedoehorings, onder andere deur African Musical Instruments te Grahamstad in die Oos-Kaap, tydens die toernooi verwerk. Derduisende basuine van plastiek is egter tydens dié toernooi gebruik. Die tradisionele beeshoring speel dus indirek, ook in die eietydse kultuur, 'n belangrike rol by die bevrediging van stoflike, geestelike en estetiese behoeftes.

6.6.3 Kruithouers

Die benutting van horingdoppe as kruithouers was reeds in die sestiende eeu bekend (Pretorius,

red. 1988:122). Tot in die laat negentiende eeu was een van die nuttigste alledaagse toepassings

van oshorings in Suid-Afrika om as kruithouers, 'n voorraad kruit vir die geweer (voorlaaier) waarmee die pionier gejag en homself verdedig het, droog en byderhand te hou en dit gerieflik te kon afmeet om die geweer te laai. Hierdie houers met 'n natuurlike spits buis was maklik

om aan die lyf te dra, maar sterk en stabiel in tekstuur vir die robuuste omstandighede waarin dit dikwels benodig is. Die tregtervormige buis van die horingdop vergemaklik eweneens die vloei van die kruit wanneer dit vir lading van die geweer afgemeet word.

Figuur 6-6: Kruithoring

Foto met vergunning: Die President M.W. Pretoriushuis – Potchefstroom

Die basis van die kruithoring is met 'n styfpassende houtprop dig verseël. Vir hierdie doel is die binnerand van die horing se wand skuins afgeplat sodat die prop, wat presies op die fatsoen van die horing se omtrek gemaak is, makliker ingedryf kon word. Ten einde die plasing van die prop in die horing te vergemaklik, is die basis van die horing goed in water verhit totdat dit versag en voldoende buigsaam is om oor die houtprop te rek wanneer die prop ingetik word. By afkoeling krimp die horing styf en dig om die prop. Vir estetiese doeleindes is die prop aan die buitekant gewoonlik kunstig met uitgekerfde patroontjies, met 'n sirkelblom as gewilde motief, versier. Die dun voorpunt van die kruithoring is afgesaag op 'n plek waar die opening die gewenste deursnee (ongeveer 10 mm) het en is netjies, glad en rond uitgekrap en voorsien van 'n noupassende proppie, gemaak van stabiele materiaal wat nie swel of krimp in die veld- en klimaatstoestande waarin dit gebruik is nie. Been, harde houtsoorte, horing of ivoor is algemeen gebruik. Die kop van die proppie is gewoonlik ook netjies afgewerk met 'n skouertjie of knoppie vooraan om 'n riempie in posisie te hou waarmee dit aan die kruithoring se skouerband verbind is om te verhoed dat die prop tydens gebruik buite bereik val of verlore raak (Le Roux, 1977:38; Mills, 2011; Spoelstra, 2001 [1922]:21). Kyk figuur 6-6.

Die kruithoring is gerieflik byderhand gehou deur dit met 'n riem van geskikte lengte oor die skouer, aan die sy te dra. Om die riem stewig en gebalanseerd aan die horing te heg, is die een punt van die skouerband om die omtrek van die kruithoring se basis geheg met netjies afgewerkte been-, ivoor- of koperspykertjies wat deur die horingwand ingeslaan en in die prop gevestig is. As sodanig het dit ook die vestiging van die prop in die horingbasis versterk en as versiering van die kruithoring gedien. Alternatiewelik is die riempie in 'n vlak gleufie, wat om die basis van die horing uitgekerf is om te verhoed dat dit verskuif, vasgetrek. Die ander punt van die skouerband is op

Versierde horingplaat Uitlaat van die kruit- horing met 'n proppie verseël

dergelike wyse aan die dik wande van die voorpunt vasgesit. Die mees praktiese afmeting van kruithorings is, afhangend van die eienaar se voorkeur en behoeftes, ongeveer 20-35 dm. (50-64 cm) lank. Die omtrek van die basis het eweneens gewissel tussen 200 en 250 mm (Mills, 2011; Pretorius red. 1988:122; Scholtz, 1987).

Horingdoppe van sommige groot lang horings van die inheemse beeste het 'n aansienlike inhoudsmaat (Lord & Baines, 1975 [1876]:443). As sodanig is hierdie horings ook soms as kruitmagasyne gebruik om groter volumes kruit te berg en te vervoer (Mills, 2011; Scholtz, 1987).

6.6.4 Lymstowwe

In die trekosera was horings, saam met velle, 'n basiese grondstof vir die vervaardiging van lym vir 'n verskeidenheid toepassings. Vir die vervaardiging van meubels en sekere musiekinstrumente was hierdie lym onmisbaar. In die hedendaagse restourasie van hierdie artikels word die tradisionele lym steeds deur die kundige vakmanne verkies. (Later in die hoofstuk volg 'n meer omvattende uiteensetting).

6.6.5 Ystersmidblaasbalke

Die inboorlinge van Afrika het tradisioneel op hul hurke gesit wanneer hulle ystersmeewerk doen. Die smid se es is op die grond gelykgeskraap en met 'n laag klei uitgelê. Elementêre tuisgemaakte blaasbalke (vir smidswerk) is vindingryk met beperkte hulpmiddels tot stand gebring. Om die toestel te prakseer, is lang oshorings nuttig as blaasbalkpyp benut. Die dik agterkant van die horings (soms ook grootwildhorings) is aan 'n gebreide velsak gekoppel om die blaasbalk te vorm waarmee die blaasbalktrekker die vuur aangeblaas het. Vir hierdie doel is die vel van kleiner diersoorte soos klein wildsbokke (steenbok) afgeslag sonder om dit in die lengte op die buik oop te sny. In die slagproses is 'n dwars spleet tussen die agterbene gemaak ten einde die vel in 'n sakvorm af te slag. Die nekopening (of een voorbeen) is dig om die lang oshoring, wat as blaasbalkpyp dien, met rouvelriempies vasgebind, terwyl die ander beenopeninge omgevou en dig toegewerk is. Die agterste snit is oopgesper deur twee reguit stokke wat aan die teenoorstaande rante van die spleet met riempies vasgewerk is, sodat 'n opening (ongeveer 75 mm wyd) gelaat is waardeur lug ingeneem kon word. Die kuns van die werking van die blaasbalk het daarin gelê om die spleet oop te maak om lug in te neem wanneer die hand gelig word en die lug af te sluit en deur die horingblaasbalkpyp te forseer wanneer die hand afgedruk word.

Elke sodanige toestel is van twee, nagenoeg ewe groot velblaasbalke voorsien, een vir elke hand van die blaasbalktrekker. Tydens die pompaksie is lug afwisselend in- en uitgesluit, ten einde deurlopend 'n lugstroom te bewerkstellig om die vuur aan te blaas. Die dun afgesaagde, oop voorpunt van die horing (blaasbalkpyp) is na die basis van die vuur gerig en met 'n kleilaag (gewoonlik 'n mengsel van gebreide miershoop en beesmis) bedek. Die blaasbalkpyp is verleng met 'n blaasbalkvorm van klei, ten einde die horing se punt teen die intense hitte van die vuur te

beskerm. Met relatief min hout en/of miskoeke kon 'n vuur gestook word wat die yster (byvoorbeeld 'n byl) binne enkele minute rooiwarm kon verhit. Hierbenewens is 'n swaar klip op die platliggende horings, wat as blaasbalkpype dien, geplaas om hulle te stabiliseer wanneer die blaasbalk gepomp word. Die smidswinkel is afgerond met 'n klip as aambeeld, enkele klein hamers en 'n groot horing met water om die gesmede yster af te koel (Burchell, 1824:483; Lord & Baines, 1975 [1876]:187; Scholtz, 1987).

6.7 Hoewe (Pote)

Uit die pote en onderbene van beeste (osse) is uiteenlopende gebruiksartikels en grondstowwe, soos in die opvolgende paragrawe uiteengesit, vir verskillende toepassings berei.

6.7.1 Gelatien

Gelatien dien as grondstof vir die bereiding van uiteenlopende produkte vir verskillende doeleindes. Gelatien vind uitgebreide toepassing op vele lewensterreine. Huishoudelik word dit gebruik vir die maak van lekkergoed en dien as voedingstof in jellie. In die wetenskap word dit as voedingsbron vir bakterieë gebruik. Op geneeskundige gebied dien dit as stelpmiddel om bloeding te keer, asook vir die maak van kapsules. Tegnologies word dit aangewend by die bereiding van liggevoelige lae op fotografiese plate asook in die vervaardiging van lym en ander kleefmiddels (Bosman, 1988:85; WAT 2014. Lemma: gelatine).

6.7.2 Hoefdoppe

'n Gunstelingos wat vrek of geslag moes word se hoefdoppe is (dikwels om sentimentele redes) as nutshouers soos asbakkies, spelde- en vuurhoutjiehouers benut (Janse van Rensburg, 2009).

6.7.3 Kloutjiesolie

In die verskillende fases van die trekosera was kloutjiesolie 'n besonder veelsydige produk wat tuis gemaak is. Wanneer bees geslag is, is die pote gekrap (onthaar), opgekap in stukke en in water gekook. Die olie wat afskei, is versigtig in 'n houer afgeskep en warm gehou, waarna dit goed gesuiwer is deur dit weer te kook en sorgvuldig af te skep om van enige waterigheid ontslae te raak. Die kloutjiesolie is vervolgens in lugdigte houers (bottels of horingdoppe) gebêre om vir 'n veelvoud van gebruike aangewend te word (Sneyd, 2001; WAT 2014. Lemma: kloutjiesolie).

6.7.3.1 Beligting

Van Rooyen (1940:22) verwys na 'n eertydse gebruik om soms kloutjiesolie, by gebrek aan beter middele, te benut om lig te voorsien. Die lig wat dit voorsien, is egter swak. Hierbenewens gee kloutjiesolie ook 'n onaangename reuk af wanneer dit verbrand word (Scholtz. 1987; Van Rooyen. 1938:136).