• No results found

HOOFSTUK 3: DIE OS AS WERKDIER IN SUID-AFRIKA

3.6 Die os as trekdier in Suid-Afrika

Vir reise gedurende die pioniersera in Suid-Afrika was die trekos en ossewa, alhoewel stadig in sy gang, tot in die laat 19de eeu om verskeie redes en bepaalde behoeftes meer gesog en bruikbaar as vervoermiddels met ander trekdiere. Balfour (1896:29) gee 'n kort motivering van die voordele van die trekos en die wa vir reise na die binneland van Suid-Afrika in die trekosera. Sy bevestig dat dit soms vir 'n buitelandse reisiger wat diep in die binneland wou reis, 'n groot versoeking was om van die ligte muilwaens, weens die groter spoed van die muil of perd, gebruik te maak. Op advies van plaaslike kenners het hulle egter besluit om ossewaens te gebruik, aangesien dit die probleem voorkom om bykomende voer (soos wat vir die muile benodig word) saam te karwei. In teenstelling hiermee wei die osse op die droë gras in die veld soos wat die trek vorder. Daarbenewens bied die ossewa vir die reisiger meer ruimte en gemak tydens die rit en by uitspannings, as die muilwa.

Wesenlik is die trekos oor die algemeen 'n bedaarde, geduldige, mak, sterk en taai dier (Anon.

Suid-Afrikaanse Boerdery, 1924:117). Indien die trekos van meet af met toegeneentheid, oorleg,

en vaardigheid deur die drywer bejeën, ingebreek en hanteer word, is dit 'n trekdier by uitnemendheid. 'n Span, synde veelvuldige pare agter mekaar gekoppel, trek selfs op ongebaande paaie, soos in die pionierstydperk van die trekosera, asook oor ruwe terrein, in die algemeen swaar vragte gelykmatig en egalig (Scholtz, 1987).

Die relatief ongekunstelde, maar sterk trektoerusting tesame met die besondere trekaksie van die trekos is 'n groot voordeel teenoor ander trekdiere in die verskuiwing van swaar vragte, veral op moeilike terrein en ongebaande paaie. Hierbenewens was die baanbreker, pionier, ontdekkingsreisiger en osdrywer wat die trektoerusting betref, selfvoorsienend. Met behulp van elementêre handgereedskap (dissel; beitel; hamer; handbyl; handsaag; snymes) is jukke, skeie, trektoue, stroppe, rieme en so meer gemaak of herstel uit materiaal wat meesal geredelik in die omgewing verkrygbaar is. Hierdie feit word deur Burchell (1967 [1824]:447) onderskryf. By geleentheid het hy op reis 'n tekort gehad aan jukke. Een van sy werknemers is met 'n wa agtergelaat om die nodige hout te saag sodat nuwe jukke gemaak kon word.

Onder die plaaslike omstandighede, in die pioniersera toe swaar vragte soms verskuif is, kon die trekos homself dus beter onderhou en oorleef as enige ander trekdier (Botha 1970 [1926]:77).

goed kan oorleef en effektief funksioneer. In dele van Suid-Afrika is die reënval besonder laag en suipings soms yl verspreid, die weiding dikwels karig en van swak kwaliteit. Die inheemse beeste was deur natuurlike seleksie, oor eeue heen, gesout teen meeste inheemse veesiektes en ten volle aangepas by die plaaslike toestande van die klimaat, omgewing en weiding.

Oor eeue heen is beesrasse, in uiteenlopende wêrelddele, nie in die eerste plek as trekosse geteel en gevestig nie, maar om as voedselbron (melk en vleis) vir die mens te dien. Vanuit hierdie bronne is bloot die mees geskikte indiwidue vir trekdoeleindes, in gewasverbouing en vir vragverskuiwing, geselekteer (VSA – Conroy, 2007:251; Afrika - Poland et al. 2008:14-15; Indië – Singh, 2000:316; Brittanje - Williams & Cousins, 2004:80). In hierdie verband kan Suid-Afrika egter as 'n uitsondering beskou word.

Met die vestiging van 'n halfwegstasie vir skeepvaart aan die Kaap, teen die middel van die sewentiende eeu, is osse uitsluitlik as 'n bron van proteïnevoedsel (vleis) en as pak- en ryosse deur die Khoi-Khoi gebruik. Osse is egter byna van meet af deur die nedersetters as trekdiere vir 'n verskeidenheid doeleindes, soos verbouing van gewasse, verskuiwing van vrag en vir reise per ossewa, in die omgewing benut. Op hierdie ongebaande roetes vanaf Kaapstad na die aanliggende landelike gebiede was die inheemse beeste vir die eerste klompie dekades die voedingsbron vir hierdie behoeftes.

Die Khoi-Khoi-beeste, as inheemse beeste van Suid-Afrika, het vroeg reeds onder die trekboere en transportryers as "Afrikaners" bekend gestaan. Hierdie beeste het oor die basiese bouvorm en kenmerke van 'n goeie trekos beskik – hulle is groot, hoog op die bene, met 'n reguit rug en sterk gespierde kruis. Die haarkleur van hierdie Afrikanerbeeste was selde eenvormig van aard, maar dikwels ook 'n verskeidenheid kombinasies van kleurpatrone, rooi (donker of lig), wit, blou (swart) en geel. Hierdie osse het uiteenlopende groeivorms van die horings, met die punte soms twee tot drie meter van mekaar (Gronum, 1975:29-31). Oom Rooi Jozeph du Plessis noem in 1928 dat tot voor die Anglo-Boereoorlog, Afrikanerbeeste bestaan het uit rooiskimmels, groot donkerrooies met lang horings, rooiwitrugge, rooiwitpense, geles en swartes (Du Plessis, 2012:47). Onder Suid-Afrikaanse osdrywers is hierdie osse hoog aangeslaan vir hul geskikte temperament, liggaamsbou en -grootte, trekkrag, uithouvermoë, asook 'n flink en vasvoetige stapaksie.

Die tradisionele osdrywer het persoonlike bevrediging gekry met die saamstel van 'n span van eenvormige kleur (donkerrooi, geel, swart, ens.) of kleurpatroon (rooiwitpens; swartwitrug, ensovoorts). So ver as moontlik is dan ook gepoog om sodanige span saam te stel met 'n groeipatroon van die horings wat eenders is, hetsy bakkop, hangkop, weglêers, ens. Mettertyd was hierdie fenotipe kenmerke belangrike faktore ter beoordeling van spanne osse tydens kompetisies op landbouskoue (Clayton, 1988; Smith, 1988). In die osdrywerstaal word die term "horing" nie gebruik met verwysing na die groeiwyse van horings nie, maar wel die term "kop"

soos in bakkop, hangkop, skewekop, ensovoorts. 'n Uitsondering in hierdie verband is die gebruikvan die term "weglêers", wanneer die horings horisontaal en reghoekig tot die os se kop uitgroei. Hierdie fenotipe eienskappe is 'n belangrike element van die tradisionele Suid-Afrikaanse osdrywer se estetika in die uitbou en bevrediging van sy geestelike kultuur.

Figuur 3-3: Swart- en rooiwitrugosse Marius Oosthuysen-fotoversameling

Figuur 3-4: Hangkop, skewekop, opkrul bakkop, weglêers Marius Oosthuysen-fotoversameling

Weglêers Opkrul bakkop

Skewekop Hangkop

Teen die laaste helfte van die 1700's was hulle reeds 'n bewese beesras, wat veral as trekosse onder die plaaslike omstandighede hoog aangeslaan is deur die pioniers. Die runderpes (1896-97) en die verskroeideaardebeleid van die Britse regering en militêre bevelvoerders tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), waar honderde beeste vernietig is, het daartoe gelei dat die Afrikanerbees byna uitgesterf het. Ná die oorlog is klein kernkuddes wat behoue gebly het deur verskillende beeseienaars uitgebou. 'n Hooffenotipe onder hierdie kuddes het uitgestaan, naamlik die rooi, of vleis-Afrikaner met goeie eienskappe vir vleisproduksie en kenmerkende fyn, lang weglêers, eweneens ook 'n trekdier by uitnemendheid (Bosman, 1988:20-29; Gronum, 1975:28- 30). Vir die behoeftes van daardie tyd was dit ewe belangrik om doelgerig trekosse, naas die produksie van vleis, te teel.

Tydens die stigting van die Afrikanerbeestelersgenootskap (19 Junie 1912), op die terrein van Potchefstroom se Landboukollege, onder leiding van die hoof van die kollege en met die ondersteuning van 'n aantal pioniertelers, is begin om hierdie inheemse bees amptelik as volwaardige beesras te erken. In 1905 is die Suid-Afrikaanse Stamboekvereniging gestig en die Afrikanerbees is een van die eerste beesrasse wat by die Suid-Afrikaanse Stamboekvereniging geregistreer is. "Die ras se aanvanklike funksie sou wees om as trek- sowel as slagdier te dien" (Du Plessis, 2012:43-48). Buitendag (2012:16) skryf: "Die trekos … Afrikaner van 1912 het binne die eerste 25-jaar van die ABTG se bestaan grotendeels plek gemaak vir die 'veredelde' skoubees". De Kock & Tissier (2012:24) betoog: "Dit moet aangeneem word dat die rooi Afrikaner suiwer opgeteel is uit inheemse beeste en deur sorgvuldige seleksie". Seleksie is 'n werkwyse waardeur alleen diere met bepaalde eienskappe vir voortplanting aangewend word. Vir die trekosteler dien dit ter bevestiging van die voorkeure en bevrediging van persoonlike estetika in die daarstelling of vestiging van bepaalde fenotipe eienskappe, soos 'n bepaalde haarkleur, kleurpatroon, horinggroeiwyse, bouvorm, gedragspatrone en so meer in 'n bepaalde beesras. Lede van die Afrikanerbeestelersgenootskap het 'n sterk voorkeur vir 'n rooi haarkleur openbaar. Die trekos in Suid-Afrika manifesteer dus sterk op die terrein van beide die patrisiër- en volkskultuur.

'n Tweede Suid-Afrikaanse beesras het eweneens sy ontstaan en voorkeur vir die Suid-Afrikaanse trekoseienaar en -teler te danke aan die besonder voortreflike eienskappe as trekos. Die grondslag van hierdie ras was die inheemse swart Kaapse beeste wat reeds in 1659 in Khoi- Khoi-besit in die Suid-Kaap (die huidige Bredasdorpomgewing) gevind is. Alhoewel die herkoms van hierdie beeste vaag is, word bespiegel dat hulle moontlik dateer uit Spaanse handel met die Khoi-Khoi in die 16de eeu. In 1690 het die Kaapse owerheid vir die eerste keer beeste vanaf Nederland ingevoer, maar hul betrokkenheid by beesboerdery is in 1695 gestaak (Bosman, 1988:20). Hierdie stap het 'n meer volhoubare en standvastige patroon van beesboerdery gevestig. Hierdeur is die Vryburgers en latere trekboere meer vrye teuels gegun, nie alleen in die voorsiening van slagvee nie, maar veral ook vir die teel en voorsiening van trekosse, wat

vragvervoer, graanverbouing, landbou en ontdekkingsreise (veral deur natuurkundiges van daardie tyd) in die algemeen sterk ondersteun het.

Swart bulle vanuit Groningen in Nederland is vir kruisteling met die plaaslike swart Kaapse beeste gebruik. Die kruisings het as "Vaderlanders" ('n geharde bees en gewilde trekos vir die plaaslike omstandighede) bekend gestaan (Bosman, 1988:20). Die Vaderlanders is hoofsaaklik gekenmerk deur hul korter horings en oorwegend swart kleur, wat soms met 'n wit streep op die rug af (swartwitrug), of wit vlekke onder die buik (swartwitpens) gekenmerk is. Die lyf was lank en die bene in verhouding kort. Met die eerste oogopslag het hierdie osse 'n rankerige voorkoms gehad, maar dit is 'n mistasting. In werklikheid was hulle swaar en gespierd, met 'n besonder innemende geaardheid en van die voortreflikste trekosse beskikbaar. Kruisings tussen Vaderlanders en Afrikaners het 'n groepering bekend as Baster-Vaderlanders tot gevolg gehad, eweneens voortreflike trekosse met besonder sterk inslag van die Vaderlander se mak geaardheid (Delegorgue's, 1990 [1840's]:20).

Tydens die Groot Trek was die Vaderlanders, naas die Afrikaners, gewilde trekosse voor die waens. In die besonder het Jacobus Johannes Uys (1838) met Vaderlanders uit die Suurveld (Grahamstadomgewing) aan die oosgrens getrek en homself uiteindelik in die huidige distrik van Wakkerstroom gevestig. Hier en in die omliggende distrikte is spoedig na die ras as "Uysbeeste" verwys. In 1946 (1 Mei) het die Uysbeestelersgenootskap tot stand gekom, maar in 1947 (7 November) met die stigting van die Suid-Afrikaanse beestelersgenootskap is die naam "Drakensberger" vir die ras gevestig (Bosman, 1988:29).