• No results found

DIE JEUG AS GEHOOR

4.5 Die ontwikkelingstake van die adolessent

4.5.4 Sosiale ontwikkeling

Die behoefte en begeerte om vriende te hê, is ʼn basiese aspek van die menslike toestand, aangesien gedeelde vriendskap ʼn verrykende ondervinding is wat mense goed oor hulself laat voel (Brown 1998:73–75).

Louw (in Boshoff 2002:99) beklemtoon dat al die fasette van die adolessent se ontwikkeling, die liggaamlike, seksuele, kognitiewe, persoonlikheids-, sosiale en morele ontwikkeling, binne ʼn sosiale konteks plaasvind. Hierdie sosiale konteks kan ontwikkeling bevorder of strem. Groot sosiale verandering en ontwikkeling vind tydens adolessensie plaas. Die adolessent se aktiwiteite beweeg weg van die ouerhuis na ander plekke saam met sy vriende. Partytjies, konserte, sportwedstryde en ander buitemuurse aktiwiteite word gewilde bymekaarkomplekke. Nuwe rolle word aangeneem en mee geëksperimenteer.

J.M. Brown (1998:73–75) deel die verhoudings van tieners wat ʼn unieke rol in hul ontwikkeling speel in twee hooftipes:

a) Vertikale verhoudings – Hierdie is verhoudings met hoër gesag en kennis. Dit is gewoonlik tussen die kind en ʼn volwassene. Hierbinne vind die adolessent sekuriteit en beskerming.

b) Horisontale verhoudings – Dit is verhoudings binne die portuurgroep. Binne die verhoudings word sosiale vaardighede, samewerking en kompetisie aangeleer. Intimiteit word ook binne die verhouding bemeester. Die portuurgroep is ʼn bron van kameraadskap en ondersteuning. Konflikhantering, gelyke behandeling en sensitiwiteit vir ander se behoeftes word aangeleer (Brown 1998:73–75).

Die adolessent lees sekere boeke, waarin daar onderskeid getref word tussen helde, die tiran, asook emosies soos liefde, vreugde en leed. Die karakters word binne die bepaalde portuurgroepe bespreek en sodoende word die individu beïnvloed deur die evaluering van verskillende belewenisse ten opsigte van die intriges, temas en karakters. Dieselfde geld vir rolprente en Jeugteater (vgl. Le Roux 1989:83). In Hoofstuk 3 is reeds aangetoon dat daar nie genoeg Jeugteater bestaan nie.

Verhoudings met die portuurgroep, ouers en gesagsfigure het ʼn invloed op die sosiale ontwikkeling van die adolessent. Konflik bestaan tussen ouers en kinders omdat hulle die ouers bevraagteken en minder tyd saam met hulle bestee. Vir ouers is die fase baie moeilik as gevolg van die feit dat hulle adolessente as veeleisend en wisselvallig ervaar. Die konflik wat bestaan, is nie net negatief nie, maar die adolessent leer deur konfliksituasies om keuses te maak en besluite te neem. Tieners meen dat konflik gewoonlik ontstaan indien ouers kritiek lewer op hul sosiale lewe, skoolwerk, akademiese prestasie, vriende en te min sakgeld. Konflik kan ook handel oor alledaagse kwessies soos kleredrag, haarstyle en musieksmaak (vgl. Boshoff 2002:99 & Louw 1990:422).

Volgens Boshoff (2002:166) kan die adolessent wat sosiaal gemaklik is en selfvertroue het, makliker wegbly van aktiwiteite soos drank- en dwelmmisbruik, promiskue gedrag, jeugmisdaad en bendelidmaatskap .

Dr. Irma Labuschagne, ʼn kriminoloog (in Fitzpatrick 2003), beweer dat jeugmisdaad beslis aan die toeneem is. Die kinders soek na liefde en aanvaarding, asook iets of iemand om aan te behoort. Eksterne invloede soos portuurdruk is baie sterk in vandag se samelewing. Dr. Cecelia Jansen, ʼn opvoedkundige sielkundige, toon verder aan dat jeugmisdaad ʼn simptoom van ʼn siek samelewing is en dat dit “ʼn pynlike aanklag teen die gemeenskap [is] en dit wys daar is groot fout”. Die fout moet by die gemeenskap en die gesin gesoek word. Vingers moenie na die kinders gewys word nie, maar ouers moet die hand in eie boesem steek.

Gebrekkige sosiale vaardighede kan lei tot eensaamheid by tieners. Dit is ʼn toestand wat verstaan moet word en ander tieners moet begrip daarvoor hê. ʼn Gevoel van minderwaardigheid en swak selfvertroue kan daartoe lei dat die kind hom of haar onttrek en eenkant hou. Hulle voel dat hulle niks het om met iemand te deel nie. Eensaamheid tydens vroeë adolessensie word gekoppel aan depressie, teruggetrokkenheid en onderwerping aan viktimisasie. Gevoelens van hopeloosheid het ʼn direkte verband met eensaamheid in die middel-adolessente fase. Hopeloosheid word gevorm wanneer ʼn kind nie bereik wat hy begeer nie. Hoe meer hopeloos hulle voel, hoe eensamer voel die tiener (Brown 1998:82).

Die nuwe sosiale en akademiese eise wat die hoërskoollewe in die vroeg- adolessente fase meebring, asook puberteitsveranderings, kan tot potensieel ontstellende ervarings lei. Tydens hierdie fase het adolessente ʼn groot behoefte om met iemand – in hul portuurgroep – oor persoonlike en intieme sake te gesels. As gevolg van ʼn groeiende behoefte om selfstandig te wees, wil die adolessent nie sake soos seksualiteit, vrese, drome en gevoelens met hul ouers bespreek nie (Brown 1998:125).

Voor puberteit het die portuurgroep gewoonlik uit een geslag bestaan; nou word dit meer heteroseksueel. Vriendskappe met persone van die teenoorgestelde geslag ontstaan wat in meer romantiese en intieme verhoudings kan ontwikkel (Brown 1998:77–78).

Tieners wat as gewild of populêr gesien word, het nie probleme met ʼn goeie selfbeeld nie. Hulle vorder ook goed op skool en is emosioneel meer stabiel. Ongewilde tieners, daarenteen, word deur almal of deur die meeste van hulle portuurgroep verwerp, vermy en verwaarloos, of openlik verwerp. ʼn Gebrek aan vriende het ernstige langtermyngevolge vir die individu en word gekoppel aan gedragsprobleme en aggressie (Balk 1995:285; Hartup 1989:125; Kimmel & Weiner 1995:281). Grusec & Lytton (1988:228) is van mening dat die oorsake van gewildheid en ongewildheid in die kind self geleë is (Brown 1998:76–78).

Tipiese temas en vraagstukke oor die sosiale ontwikkeling wat in hoofstroom Jeugteaterproduksies kan figureer word in die volgende tabel aangedui:

Sentrale tema Uitbreiding van die sentrale tema Jeugteater- produksies Groepsaanvaarding Adolessent se aktiwiteite beweeg weg

van die ouerhuis na ander plekke saam met sy vriende.

Breinbliksem Daar’s Vis in die Punch

Gebrekkige sosiale vaardighede kan lei tot eensaamheid by tieners, ander tieners moet begrip daarvoor hê. Eensaamheid tydens vroeë adolessensie word

gekoppel aan depressie,

teruggetrokkenheid en onderwerping aan viktimisasie.

Breinbliksem

Selfbeeld Positiewe selfbeeld –

Negatiewe selfbeeld – individue word gekoppel aan gedragsprobleme en aggressie

Skilpoppe Breinbliksem

Intieme vriendskappe

Behoefte om met iemand, in hul

portuurgroep, oor persoonlike en intieme sake te gesels. Sake soos seksualiteit, vrese, drome en gevoelens word nie met

Skilpoppe Breinbliksem Daar’s Vis in die Punch

ouers bespreek nie. Sosiale en

akademiese eise

Eise van die hoërskoollewe in die vroeg- adolessente fase meebring, asook puberteitsveranderings, kan tot ontstellende ervarings lei.

Breinbliksem Daar’s Vis in die Punch