• No results found

Eksterne faktore wat ʼn invloed op die adolessent het

DIE JEUG AS GEHOOR

4.4 Eksterne faktore wat ʼn invloed op die adolessent het

Die adolessent word voor menige keuses en onmiddellike invloede in die ontwikkelingstake van die adolessent geplaas. Die keuses blyk in korrelasie te wees met die gemeenskap waarin die adolessent leef. Die keuses word deur verskeie sosiale sisteme beïnvloed. In die volgende diagram toon Hamachek (1995:526) verskillende sosiale groepe of sisteme wat ʼn invloed op die adolessent het:

Twee verdere sosiale sisteme wat nie in Hamachek se diagram voorkom nie, is die invloed van die skool- en die huissisteem op die adolessent. Die invloed en rol van die sisteme verskil van gemeenskap tot gemeenskap. Die twee sisteme funksioneer binne ʼn breër sosio-politieke en sosio-ekonomiese konteks. In die verlede was die sosiale strukture in Suid-Afrika op rasseklassifikasie gebaseer. Klassifikasie by geboorte het die adolessent se regte en voorregte bepaal, asook in watter gemeenskap die adolessent ingedeel sal word. Gemeenskappe verskil in grootte, van so klein as die skool tot die groter gemeenskap (vgl. Huysamer 1996:1–2 en Halverson 2005:76–81).

Hughes & Wilson (2004) noem verder dat “… personal and social development refers to the skills, qualities, capacities and resources that help young people make successful transitions to adulthood, that is, lead healthy, confident and independent lives where in they can fulfil their potential”.

Die eksterne faktore kan as basis vir storielyne en strydvrae dien vir Jeugteatertekste.

4.4.1 Sosio-ekonomiese invloede

Die sosio-ekonomiese klimaat het radikaal in die laaste twee dekades verander. Die adolessente fase word volgens Coleman (2004:230–242) gekenmerk deur groter kompleksiteit en onsekerheid.

Boshoff (2002:106) en Hughes & Wilson (2004:58–59) sluit hierby aan en meen dat een van die onsekerhede waarmee tieners gekonfronteer word, is of hy/sy eendag ʼn werk gaan hê. Die blanke is nie meer soos vroeër outomaties verseker van ʼn beroep nie. Die ou, tradisionele patrone en roetes tot volwassenheid bestaan nie meer nie. Die blanke man word die meeste in dié verband geraak; hy is laaste op die lys wanneer dit by aanstellings kom. Regstellende aksie, wêreldwye ekonomiese afplatting en die gebrek aan beleggersvertroue in Suid- Afrika is van die faktore wat ʼn invloed op die sosio-ekonomiese omstandighede van Suid-Afrika het. Die onmiddellike gevolg hiervan is verhoogde armoede,

werkloosheid, hoër misdaadsyfers en die verbrokkeling van gesinne en families. Die toekoms- en lewensverwagtinge van die jeug word as gevolg van hierdie tendense beïnvloed. Die paadjie het langer geword vir tieners om hulle doel te bereik en eie prosesse en paadjies moet gevind word. Jong mense begin buite die skool- en huisopset soek na onderskraging in dié verband. Jongmense begin ook aan aktiwiteite met groter risiko’s deelneem as ʼn manier om individualisme en status te bereik, wat nie altyd in sulke omstandighede bestaan nie, soos byvoorbeeld ʼn tema en storielyn wat binne Jeugteaterproduksies soos Breek voorkom.

Kinders en adolessente in arm omstandighede is baie weerloos teen infeksies. Die toename in malaria, tuberkulose, ebola-infeksies, cholera, meningitis, Vigs en diarree in Afrika is potensiaal gevaarlik en kan wêreldwye epidemies veroorsaak. Volgens Sunter (in Boshoff 2002:106) bestaan daar ʼn besliste verband tussen armoede en die voorkoms van siektes. Voorligting op ʼn spesifieke en grootskaalse wyse moet aan adolessente gebied word en Jeugteater kan vir dié doel aangebied word.

4.4.2 Politieke omstandighede

In aansluiting by die sosio-ekonomiese invloed, moet die politieke omstandighede en dus die apartheidstelsel aandag geniet. Die apartheidsbestel (1948–1994) was gekenmerk deur wetlike rasseskeiding en gepaardgaande negatiewe gevolge. Die verandering het ʼn nuwe, positiewe verwagting by die swart adolessent laat ontstaan. Dit is wel só dat, alhoewel dit met ʼn sekere groep van die adolessente beter gaan, die oorgrote meerderheid nog in dieselfde omstandighede bly. Politieke vryheid het nie almal positief beïnvloed nie. Die grootste deel van die adolessente bevolking ondervind nog steeds gevoelens van neerslagtigheid en frustrasie. As gevolg van regstellende aksie gaan die wit adolessent gebuk onder dieselfde gevoelens. Die onsekerheid van ʼn beroep en toekoms dra in ʼn groot mate by tot adolessente se verlaagde psigologiese welstand. Die politieke onrus in Zimbabwe, 11 September 2001, en ander

politieke onrus in die wêreld het ʼn invloed op die Rand, wat ʼn gevoel van onbestendigheid onder adolessente meebring (Boshoff 2002:104–111).

Wat betref die adolessent en die politiek, gee Carina Diedericks-Hugo (2006), ʼn jeugboekskrywer en Redakteur van Jeugboeke by Human & Rousseau, te kenne dat die jeug van vandag apaties teenoor belangrike politieke kwessies staan en dat die jeug besig is om Afrikaans te vernietig met “Engfrikaans”. Die Afrikaanse jeug van Suid-Afrika het die geliefde “Ander” geword. Dit lyk vir haar asof “Afrikaanssprekendes nie vorentoe kan beweeg sonder om hulle eie identiteit teenoor dié van ʼn Ander te plaas nie …” Politiek was in die verlede oral; op skool, in die kerk, op TV, en was deel van ons samelewing. Vandag se jeug luister en besluit self oor wie en watter politieke party hulle sal steun.

ʼn Voorbeeld hiervan is die volgende: in Daar’s Vis in die Punch word die volgende as vraag gestel: “Waar pas ʼn wit meisie in die politieke bestel?”

4.4.3 Media

“… There is still a sense that something is wrong, that the arts are in tremendous peril in America, and that today’s children live in a sea of video games, possess an MTV attention span, and will never learn the difference between Britney Spears and Brahms …” (Frank Rich 2001).

Die woord “America” in die aanhaling hierbo kan baie maklik met die woord “South Africa” vervang word. Suid-Afrika en die jeug van vandag word met dieselfde beelde en temas gebombardeer. Rich (2001) betoog dat kinders wel na die teater geneem moet word. Kinders mag nooit onderskat word nie; hulle verstaan dalk nie altyd wat hulle sien nie, maar die ondervinding is van groot belang. Tieners van vandag sal nooit ophou om na swak films of TV-programme te kyk nie, maar enige tiener wat na die teater geneem word of met teater in aanraking kom, is ʼn potensiële teaterganger of kunstenaar.

Kinders van vandag is Generasie @, die opvolgers van Generasie X, en vorm deel van die oorversadigde media- en inligtingstegnologie-samelewing. Die kinders van vandag het minder tyd, of die lus om met die gesin en familielede te verkeer. Hulle verkry al hul inligting vir hul morele kompas in die media en in die kuberruimte. Volgens Wolfgang Huber (in Ferreira 2002), ʼn Lutherse pastoor in Duitsland, is ʼn verdere probleem dat Generasie X nie die tyd of geduld het om morele waardes oor te dra aan Generasie @ nie. Wat geleer word van goed en sleg, reg en verkeerd, word deur tegnologie aan hulle oorgedra. Verder noem Huber dat: “Wat ons sien en beleef en ervaar van die wêreld om ons, is toenemend afkomstig van die massamedia. Die massamedia skep en vorm ons selfbeeld en rig toenemend die daaglikse struktuur en rituele van ons lewe” (Ferreira 2002). Jeugteater kan juis tegnologie omdraai om ʼn positiewe boodskap oor te bring.

Daar is al hoe meer geweld in ons kultuur en media en teater is die plek waar ons kan sien dat ons aksies gevolge het wat ander mense diep kan seermaak. Teater help om die verlede te rekonsilieer en om die toekoms te visualiseer. Hoe meer advertensies ons lewe indring, hoe belangriker is dit dat jongmensteater bestaan om dít wat belangrik is, te beklemtoon; dat die lewe nie oor geld gaan nie, maar oor stories, karakter, die prag van taal en beelde (ASSITEJ 2004/2005:32).