• No results found

INLEIDING EN ORIëNTERING

Hoofstuk 6: Hierdie hoofstuk omskryf nie net die beperkinge van die studie nie,

2.5. SENSORIESE INTEGRASIE EN DIE GGS

Smith-Roley, et al. (2007:1) verwys daarna dat sensoriese integrasie die geleentheid aan die Arbeidsterapeut bied om gebruik te maak van die wetenskap van die mens se ontwikkeling en groei, ten einde intervensie strategieë te ontwikkel wat die aktiwiteitsverrigting van die spesifieke individu verbeter. Sensoriese integrasie intervensie spreek dus spesifiek die onderliggende sensoriese probleme aan, ten einde aktiwiteitsverrigting te bevorder.

50 Alers (1997:329) verwys daarna dat van die karaktertrekke van die GGSV met skisofrenie, wat onder die patologie bespreek is (vgl. 2.2.1.1.1.), aan sensoriese integrasie disfunksies toegeskryf kan word. Die GGSV met skisofrenie het dikwels gedisorganiseerde spraak, skuifelloopgang en ander bewegingsdisfunksies. Hierdie simptome is ook kenmerkend van praksisversteuring (Bundy & Murray, 2002:4-7).

King (1974:529) het reeds in die 1970‟s deur navorsing bevestig dat die GGSV met skisofrenie moontlik ′n disfunksie in die proprioseptiewe sisteem ervaar en dus met sensoriese integrasie disfunksies presenteer. Hierdie standpunt word bevestig deur Levine, O‟Connor en Stacey (1977:18-21), wat deur verdere navorsing vasgestel het dat die GGSV met skisofrenie se funksie verbeter het na betrokkenheid in ′n ses-weke, sensoriese integrasie intervensie program. Bailey (1978:449) bevestig dat die GGSV met skisofrenie se taal, delusies, bisarre ideasies, kort- en langtermyn geheue verbeter het nadat hul betrokke was by ′n intensiewe sensoriese integrasie intervensieprogram. Navorsing (Alers:1997:329; Bailey, 1978:449; King, 1974:529; Levine, O‟Connor & Stacey, 1977:18-21) het dus jare gelede bevestig dat die GGSV moontlik met sensoriese integrasie disfunksies presenteer en gevolglik kan baat by sensoriese integrasie intervensie.

Alhoewel navorsing bevestig dat sensoriese integrasie „n positiewe bydrae kan lewer tot die GGSV se remediёringsproses, is dit noodsaaklik om die inhoud van „n gebalanseerde sensoriese integrasie program te ondersoek. Die gebruik van die vestibulêre-, tas- en proprioseptiewe (vgl. 2.4.) sisteme in die sensoriese integrasie program van die GGSV word beklemtoon (Alers, 1997:330). Alhoewel die ander sisteme ook belangrik is en alle sensoriese sisteme verweef en interafhanklik van mekaar is, is die proprioseptiewe sisteem dominant en het dit „n sterk invloed op die ander sisteme. Lane (2002:45-53) verwys na die verbinding tussen die tas- en proprioseptiewe sisteme; asook die verbinding tussen die vestibulêre- en proprioseptiewe sisteme. Alers (1997:330) maak

51 melding van die belang van diepdruk aktiwiteite en aktiwiteite wat proprioseptiewe terugvoer vereis; asook oogbewegings, kleur, teksture, ritme en ruimtelike verhoudings in „n geïntegreerde sensoriese integrasie program.

Die behandeling van die volwasse GGSV met sensoriese integrasie disfunksies behels ′n alternatiewe benadering tot die wat Arbeidsterapeute in die Pediatriese veld volg. In die pediatriese veld skep die kind geleentheid tot vryspel en verbeeldingryke aktiwiteite. Doelwitte kan dus terloops aangepak word en die kind raak betrokke by terapie sonder moeite en ervaar genot in die proses (Bundy, 2002:235). Die volwasse GGSV kan egter in intervensie betrek word deur aktiwiteite van die daaglikse lewe te gebruik, want hierdie aktiwiteite is dikwels ouderdomstoepaslik en kan genot fasiliteer tydens intervensie. Tydens intervensiesessies kan die terapeut dan sukses fasiliteer en ook “die regte uitdaging” verseker. Die sensoriese integrasie intervensie van die GGSV vind hoofsaaklik in groepsverband plaas (Alers, 1997:337-346).

Die gebruik van sensoriese integrasie intervensie vereis dat spesifieke doelwitte word tydens intervensie aktiwiteite nagestreef. Die posturele patrone van die GGSV kan verbeter word deur aktiwiteite wat weerstand bied te doen, bv. die gooi van ′n medisyne bal of die geflekseerde postuur kan teëgewerk word deur opwaartse en uitwaartse bewegingspatrone gedurende aktiwiteite te gebruik. Die vermindering van spanning gedurende aktiwiteite en genotbelewing word beklemtoon en is van kardinale belang om die sensoriese integrasie proses te fasiliteer. Sosialisering, kruising van die midlyn en motoriese beplanning word ook geïnkorporeer gedurende intervensie (Alers, 1997:331- 346).

Brown en Nicholson (2011:287) beklemtoon dat verskeie psigiatriese patologieё presenteer met sensoriese integrasie disfunksies. Die navorsers (Brown & Nicholson, 2011:287-289) is van mening dat die meeste navorsing in die veld van volwasse sensoriese integrasie is gedoen op skisofrenie; en dat die GGSV met skisofrenie verskeie sensoriese insette mis, maar terselfdertyd baie geïrriteerd

52 kan raak met ander sensoriese insette. Genoemde navorsing (Brown & Nicholson, 2011:287; Dunn & Brown, 2002:58) kan dus moontlik die ongewone en soms bisarre gedrag van die GGSV met skisofrenie verduidelik.

Dunn en Brown (2002:58) bevestig dat die GGSV met bipolêre versteuring in die profielkwadrante van sensories-soekend en sensories-vermydend val. Volgens Brown en Nicholson (2011:289) is die GGSV met bipolêre versteuring dalk baie meer geneig tot vermydende gedrag in hul depressiewe fase.

Dunn en Brown (2002:58) gaan egter verder deur te noem dat die GGSV opmerklik meer drasties reageer op stresvolle gebeure as die geestelik gesonde mens. King (1983:1) het bevestig dat die teorie van sensoriese integrasie intervensie en die van stresintervensie mekaar komplimenteer en aanvullend in die behandeling van die GGSV gebruik kan word.

Volgens Botha (2008:27) kan verminderde seksuele vermoёns, verminderde interpersoonlike vermoёns, swak regulering, risiko‟s vir selfbesering en verminderde selfvertroue, depressie en substans misbruik voorkom by die GGSV in die akute fase. Lombard (2007:90-180); Miller, Wilbarger, Stackhouse & Trunnell (2002:439) en Smith- Roley, Mailloux, Miller-Kuhaneck & Glennon (2007:1) beklemtoon die feit dat sensoriese integrasie disfunksies die aktiwiteitsverrigting van „n persoon kan beïnvloed word. Sensories-soekende gedrag lei dikwels by kinders tot selfbeserende gedrag (Lane, 2002:102) en verminderde selfvertroue kom ook algemeen voor by individue met sensoriese integrasie disfunksies (Bundy & Murray, 2002:16,24). Dus kan ons die afleiding maak dat die GGSV in die akute fase „n sensoriese integrasie disfunksie het.

Botha (2008:27) gaan verder deur uit te lig dat die GGSV met chroniese skisofrenie swak modulasievermoë het en probleme met sensoriese diskriminasie het. Kognitiewe, motoriese en affektiewe sisteme kan moontlik ook geaffekteer wees en hierdie persone ervaar probleme met aktiwiteitsdeelname,

53 algemene funksionering en interpersoonlike vaardighede. Dit blyk ook duidelik te wees dat die GGSV met chroniese skisofrenie verminderde fokus en eksterne afleibaarheid ervaar. Brown en Nicholson (2011:287-289) bevestig dat die GGSV met chroniese skisofrenie sensoriese integrasie disfunksies het en dit hulle algemene funksionering en interpersoonlike vaardighede merkwaardig beïnvloed.

Bogenoemde navorsing bevestig nie net die impak wat „n sensoriese integrasie disfunksie op die GGSV se ervaring van sy wêreld het nie, maar ook die duidelike impak wat dit op die persoon se aktiwiteitsverrigting het. Brown en Nicholson (2011:287-289) bespreek verskeie aktiwiteite wat moontlik beïnvloed kan word indien die GGSV met skisofrenie „n sensoriese integrasie disfunksie het. Die navorser sal graag die voorbeeld van die busrit met u wil deel: Volgens Brown en Nicholson (2011:287-289) sal die GGSV met skisofrenie verskeie inligting op „n bus glad nie inneem of hoor nie. „n Mens sal dalk dink dat dit die busrit baie makliker sal maak, maar vergeet moontlik wat se impak dit sal hê op die feit dat die persoon by die regte busstop sal moet afklim. Terselfdertyd sal die GGSV met skisofrenie ook die busrit as baie oorweldigend ervaar, want daar is baie eksterne insette (bv. mense wat praat, mense wat aan jou raak ens.) op die bus en dit kan moontlik baie angs tot gevolg hê. Bogenoemde kan tot verskeie probleme aanleiding gee en die aktiwiteitsverrigting van die betrokke GGSV met skisofrenie selfs nog verder inperk. Eklund (2011:649) is van mening dat aktiwiteitsverrigting „n integrale rol speel in die mens se welstand. Indien ons bogenoemde voorbeeld ontleed, kan ons tot die gevolgtrekking kom dat nie net die angsvlakke van die spesifieke GGSV sal styg nie, maar dat die GGSV ook moontlik meer terugvalle kan kry, indien soortgelyke situasies nie beter bestuur kan word nie.

Dunn en Brown (2002:58) het die volgende studie in die publikasie van die “Adolescent/Adult Sensory Profile User‟s Manual” ingesluit. Die studie verwys na navorsing oor sensoriese profielkwadrant indelings (vgl. Figuur. 2.2.) en

54 standaard afwykings van individue met verskeie psigotiese versteurings soos skisofrenie en bipolêre versteuring. Die studie dui op modulasieversteurings wat voorkom by die patologieë.

Die hipoteses wat Dunn en Brown (2002:58) oor die GGSV met skisofrenie gehad het is beantwoord. Genoemde hipoteses sluit die volgende in: 1) Die hipotese dat individue met skisofrenie ′n hoër telling in die profielkwadrante van sensories-vermydend en lae registrasie het, is in die navorsing bevestig; 2) die hipotese dat die GGSV met skisofrenie sensories-sensitief is, is egter nie bevestig nie. Alhoewel die kliniese beeld van die GGSV met skisofrenie gepaardgaan met verminderde nuuskierigheid en verkenning van die fisiese- en sosiale omgewing, het die studie nie daarop gedui dat individue met skisofrenie sensories- vermydend is nie.

Soos uit genoemde navorsing afgelei kan word, is navorsing oor praksis disfunksies (vgl. 2.4.) in die GGSV met skisofrenie meer algemeen as die navorsing oor sensoriese integrasie en ander geestesversteurings. Navorsing spesifiek oor sensoriese modulasie disfunksies by die volwasse GGSV is skaars. Sabarre (2007:7) verwys daarna dat die huidige beskikbare teorie wel dui op die effektiwiteit van sensoriese integrasie in die behandeling van die volwasse GGSV.