• No results found

2.3 Gehoorontwikkeling

2.3.3 Reaksies op musiekbeluistering

Sekere eksterne faktore het ʼn invloed op musiekbeluistering: die konteks waarbinne die musiek beluister word, die luisteraar self en vorige ervarings van musiek wat weer opgeroep word. Dunn (2006, p. 35) noem dat wanneer daar na musiek geluister word, die individu op vyf verskillende wyses reageer. Hierdie vyf reaksies word in Figuur 1 grafies uitgebeeld. Hierdie wyses is egter met mekaar vervleg, en kan nie noodwendig losstaande ervaar word nie. Eerstens is daar die ekstra-musikale reaksie. Dit is assosiasies wat nie musiek-verwant is nie, maar gekoppel word aan die musiek. Byvoorbeeld iets wat die luisteraar onthou wat ʼn vorige keer gebeur het toe hy of sy daardie musiek gehoor het. Tweedens is die verbeeldingryke

reaksie. Die luisteraar doen meer as om net passief na die musiek te luister: die luisterervaring,

saam met die uitvoerders, word herskep, om dit vir die luisteraar meer lewend te maak. Dit kan ook bestaan uit ʼn verbeeldingsvlug met visuele, emosionele beelde wat in die gedagtes afspeel.

Die derde reaksie op musiekbeluistering, is die kognitiewe reaksie. Meestal word daar met gehooropleiding op hierdie reaksie gefokus. Dit is die bewuswording van aspekte van musiek, soos byvoorbeeld vorm, timbre, tempo, styl, toonhoogte, en toonduur (Dunn, 2006, p. 35; Pratt, Henson, & Cargill, 1990, p. 8). Vierdens is die affektiewe reaksie. ʼn Sekere gevoel of emosie word opgewek wanneer musiek beluister word. Laastens is die fisiese of kinestetiese reaksie. Die liggaam reageer op musiek deur ʼn sigbare beweging (Dunn, 2006, p. 35). Al hierdie reaksies speel ʼn rol in die luisterervaring, en is almal so aan mekaar verbind dat dit onmoontlik is om met musiekbeluistering net een van die reaksies te kies en daarop te konsentreer.

Hoewel die reaksies met ʼn luisterervaring nie los van mekaar ervaar kan word nie, kan die verskillende reaksies afsonderlik deur navorsers bespreek word. Die gemiddelde sesjarige kind in Suid-Afrika is in Graad R. Hierdie groep word gekenmerk deur die eerste fase van formele skoolgaan. Kinders in Graad R het drie vakke op skool, naamlik huistaal, wiskunde en lewensvaardighede (Van Vreden: 2014, p.9). Lewensvaardighede word in aanvangskennis,

Fisiese Affektiewe Kognitiewe Verbeelding- ryke Ekstra- musikale Reaksies op musiek- beluistering

skeppende kunste, liggaamlike opvoeding en persoonlike en sosiale welsyn onderverdeel. Musiek word gesorteer onder skeppende kunste, en daar word aanbeveel dat dertig minute per week aan musiek afgestaan moet word op skool. Hoewel die tyd wat op skool aan musiek afgestaan word beperk is, maak Van Vreden (2014, p. 10) die opmerking dat musiek ʼn invloed het op die kind se sosiale, fisiese, emosionele, intellektuele en geestelike ontwikkeling. Sy is van mening dat musiek geïntegreer moet word by die res van die kurrikulum, om sodoende leer te vergemaklik. Sy doen verskeie gevallestudies by Graad R klasse, en beskryf verskillende reaksies op musiekbeluistering waarop die onderwyseresse konsentreer. Wanneer ek die gevallestudies van Van Vreden lees in die lig van Dunn se klassifikasies, merk ek dat hierdie reaksies beweging en dansies (fisiese reaksie) insluit. Die een onderwyseres vertel vir die kinders dat hulle ʼn herfsblaartjie is wat afdwarrel grond toe, terwyl daar musiek speel (kombinasie van fisiese en verbeeldingryke reaksie). Verder skryf sy van ʼn onderwyseres wat haar kinders op die mat laat lê het, met toe oë. Die onderwyseres speel vir hulle musiek op ʼn laserskyf en vra dan vir hulle waaraan die musiek hulle laat dink het, en hoe dit hulle laat voel (kombinasie van ekstra-musikale en affektiewe reaksies). Die mees algemene reaksie waarop baie van die Graad R onderwysers volgens Van Vreden fokus, is die kognitiewe reaksie, in die sin dat daar van die kinders verwag word om saam te sing en om op instrumente te speel. Daar word gekonsentreer op goeie intonasie en ʼn akkurate weergawe van die ritmiese vloei. Hierdie Graad R musiekaktiwiteite, is volgens my niks anders as gehoorontwikkeling nie. Dit wat die kind hoor, moet hy of sy weergee.

Met die PIPO-projek (Project for Introductory Piano Education), wat in 2000 in Nederland geloods was, word daar gefokus om kinders op gehoor te laat klavier speel (Koopman, 2002). Aan die hand van Dunn se luisterervarings, maak ek die gevolgtrekking dat klem veral gelê word op die kognitiewe en fisiese reaksies van musiekbeluistering. ʼn Groepie vyf- tot sesjarige kinders kom op Saterdae bymekaar. In die groot groep word ʼn nuwe liedjie aangeleer. Die kinders sing die liedjie en doen bewegings daarop. Daarna word hulle twee-twee in groepe verdeel en saam met ʼn onderwyser na ʼn klavierkamer vergesel. Die opdrag is dat die kinders die liedjie wat hulle sopas gesing het, op die klavier moet speel. Daar is geen vorm van notasie betrokke nie, daar word alleenlik staatgemaak op die kognitiewe reaksie van die musiekbeluistering. Die rol van die onderwyser is om hulp aan te bied as die kinders self nie weet hoe nie. Die onderwyser sal byvoorbeeld, as die kinders daarna vra, vir hulle wys op watter noot om te begin, en later vir hulle raad gee ten opsigte van hoër of laer in die melodie. Die kinders was in staat om die liedjies wat hulle gesing het, eenstemmig op die klavier na te boots. Dit is bewys dat hulle gehoor op sesjarige ouderdom so ontwikkel is dat hulle musiek wat hulle hoor en sing, kan speel, sonder notasie (Koopman, 2002).