• No results found

HOOFSTUK 5: INTERPRETASIE

5.3 Gehoorontwikkeling of gehooropleiding?

Hoewel dit reeds duidelik vermeld is dat gehooropleiding slegs ʼn onderafdeling van gehoorontwikkeling is, is dit tog ook belangrik om die nut van gehooropleiding te verduidelik.

Ilomäki (2011), Karpinski (2000) en Naude (1987) het genoem dat gehooropleiding innerlike gehoor kan verbeter, wat tot gevolg het dat die kind ʼn meer musikale weergawe van sy stukke kan speel. Lucia (2007) maak die vergelyking dat gehooropleiding en teorie soos ʼn stel gereedskap is, wat aangewend moet word om kreatief met musiek om te gaan.

Die agt klavieronderwysers gee meer aandag aan gehoorontwikkeling as aan gehooropleiding – wat heeltemal in lyn is met die stelling dat gehooropleiding ondergeskik is aan gehoorontwikkeling. Hulle noem egter ook dat hulle kinders leer om ritmiese patroontjies te klap, intervalle te sing en kadense te herken. Een van die redes waarom hulle dit doen, is verseker omdat hulle hulle leerlinge wil voorberei vir die gehooreksamens. ʼn Ander rede is egter ook dat gehooropleiding die innerlike gehoor verbeter. Daarom sê Elsie: “ʼn Kind kan op die noot sing, want hy het ore!”. As hy of sy ʼn noot reg sing, beteken dit die innerlike gehoor is so ver gevorder dat die kind weet hoe om te maak om die geskikte klank te kan produseer. Ilomäki (2011) voer dit nog verder wanneer sy beweer dat gehooropleiding nie alleen innerlike gehoor bevorder nie, maar ook ʼn positiewe uitwerking het op die pianis se bladleesvermoëns.

Om terug te keer na Dunn (2006) se reaksies op musiekbeluistering – naamlik ekstra-musikale reaksie, verbeeldingryke reaksie, kognitiewe reaksie, affektiewe reaksie, en fisiese reaksie – word daar vanuit hierdie reaksies gekyk na wat die klavieronderwysers sê.

Die ekstra-musikale reaksie is dinge en situasies wat die luisteraar herroep wat ʼn vorige keer gebeur het toe hy of sy die musiek gehoor het. Dit is met ander woorde ʼn vorm van onthou, wat terselfdertyd ook herhaling impliseer. Hierdie is die een reaksie op musiekbeluistering wat die moeilikste is om in die les aan te wend, aangesien die onderwyser nie bewus is van vorige ervarings wat die kind gehad het met ʼn spesifieke musiekstuk nie. Wat Elfie, Vanessa, Emmerentia en Rineke egter noem, is dat hulle van die kinders vra om kleuterliedjies te sing wat hulle reeds ken. Sulke liedjies het moontlik verdere assosiasies vir die kind.

Al agt die klavieronderwysers wend die verbeeldingryke reaksie aan om improvisasie aan die kinders bekend te stel. Emmerentia is lief daarvoor om vir haar kinders stories te vertel, terwyl die kinders pentatoniese patroontjies na willekeur improviseer. Haar stories word in klank uitgebeeld, en elke storie het ʼn verbeeldingryke titel. Rineke noem ook dat haar leerlinge die geleentheid gebied word om te improviseer op die swart note van die klavier.

Die kognitiewe reaksie is reeds bespreek onder gehooropleiding hierbo. Dit is die een aspek van gehoorontwikkeling wat getoets kan word, en wat ingevoeg word by klaviereksamens. Wat onderwysers soms ook byvoeg by die tradisionele herkenning van toonhoogte en toonduur, is harmonie en timbre. Neil speel vir sy leerlinge orrel, sodat hulle die verskil kan hoor tussen die verskillende registers.

Die agt klavieronderwysers noem nie pertinent dat hulle aandag gee aan die affektiewe reaksie nie. Die affektiewe reaksie is ʼn sekere gevoel of emosie wat by mens opgewek word wanneer daar na musiek geluister word. Christelle noem tog dat sy ʼn leerling se stuk self sal deurspeel en dan vir die kind vra watter deel van die stuk was vir hom of haar die mooiste. Wanneer die musiek in dele opgedeel word, sal sy dan dat die kind begin oefen by die deel wat vir hom of haar die mooiste was. Christelle noem ook dat sy die kinders se musiek vir hulle voorspeel, en dan vir hulle vragies vra rondom interpretasie. Dit kan in ʼn mate die affektiewe reaksie aanraak. Veral met die aanleer van ritmiese patrone, word die fisiese reaksie uitgelig. Onder die invloed van die Dalcroze-benadering, of ander soortgelyke idees, laat die klavieronderwysers dikwels die leerlinge beweeg op die maat van die musiek. Selfs met die speel van slaginstrumente en klavier, is daar ʼn sekere beweging wat die liggaam moet uitvoer om die geskikte klank te produseer.

Ten slotte is my argument dat slegs die kognitiewe reaksie gemeet en geëksamineer kan word, maar dat al die ander reaksies betrokke is by musiekbeluistering, sowel as by die beginner se les. Hoewel mens nie ʼn punt kan gee vir die ander reaksies op musiekbeluistering nie, kom al hierdie reaksies tog tot uiting wanneer die kind klavier speel. Dit is al hierdie reaksies wat bepaal of die kind ʼn musikale uitvoering gaan gee, en of hy of sy bloot net note gaan speel. Dit is waarskynlik wat Elsie daardie dag op die stoep vir my wou sê: dat goeie toonproduksie op die klavier slegs bereik kan word as die oor goed genoeg ontwikkel is, sodat die uitvoerder nie net weet of die noot hard of sag gespeel moet word nie, maar ook bewus is van verskillende toonkleure wat geproduseer kan word.