• No results found

HOOFSTUK 5: INTERPRETASIE

5.5 Aanbevelings

Soos reeds genoem, maak die klavieronderwysers wel gebruik van die verskillende tipes reaksies op musiekbeluistering wanneer hulle met beginners werk. Hulle kan egter in die les meer aandag aan die verskillende reaksies gee indien hulle self bewus is daarvan. By ekstra-

musikale ervaring kan die onderwyser byvoorbeeld aan die kind vra watter liedjie hy of sy wil sing. Vrae kan verder gevra word, rondom wie die liedjie vir die kind geleer het. Waar was die kind laas gewees toe hy of sy die liedjie gesing het? Sodoende kan kinders aangemoedig word om ʼn ekstra-musikale ervaring uit sy of haar geheue op te roep. Die onderwysers maak wel gebruik van verbeeldingryke stories en speletjies om improvisasie aan die leerlinge bekend te stel. By ʼn volgende les kan die ekstra-musikale reaksie egter weer ingetrek word by die verbeeldingryke reaksie, deurdat die onderwyser kan vra of die kind nog laas keer se storie kan onthou. Hoe het hulle nou weer gespeel toe die son byvoorbeeld begin skyn het? Van daar af aan, kan daar weer voortgebou word op ʼn nuwe verbeeldingryke reaksie. Hoewel onderwysers poog om ʼn speletjie te maak van die kognitiewe reaksie, bly dit steeds die een element van musiekbeluistering wat ʼn mate van spanning veroorsaak. Goeie metodes wat die onderwysers egter noem wat hulle wel gebruik om die spanning by kognitiewe reaksies te verminder, is om betyds te begin wanneer daar voorberei word vir eksamens, en om die gemoedere so lig as moontlik te hou. By die affektiewe reaksie kan die onderwysers, wanneer hulle vir die leerders musiek speel, vrae vra soos byvoorbeeld: “Hoe laat hierdie musiek jou voel?” of “Waaraan laat hierdie musiek jou dink?”. Daar kan ook, soos Bamberger (1996) en Dunn (2006) voorstel, vir die leerders kryte gegee word, en vir hulle gevra word om die musiek te teken. Hoewel Bamberger in hoofsaak hierdie metode aanwend om die kinders aan te moedig om ʼn vorm van notasie te teken, kan hierdie metode ook gebruik word om ʼn emosie te teken wat die musiek by die kind opwek. Die fisiese reaksie geniet genoeg aandag in die klavierles, aangesien al die onderwysers noem dat hulle die kinders laat dans en beweeg.

Hoewel die onderwysers nie in die onderhoude genoem het dat hulle bewus is van Dunn se vyf verskillende reaksies op musiekbeluistering nie, maak hulle tog wel in die klavierles vir beginners gebruik van hierdie reaksies om kinders se gehoor te ontwikkel. My aanbeveling sou wees dat die onderwysers bewus moet wees van hierdie tipes reaksies, en met dit in die agterkop voortgaan met wat hulle in elk geval reeds in die les doen.

Tyd is ook beperk, wat die onderwysers nie in staat stel om nog meer te kan doen rakende gehoorontwikkeling nie. ʼn Leemte wat ek egter opmerk, is dat daar op ʼn gereelde basis tyd ingeruim kan word om al die leerders wat op dieselfde vlak van ontwikkeling is, bymekaar te laat kom. Daar kan dan vir hierdie kinders gevra word om een van hulle stukkies vir hulle vriende voor te speel, terwyl die res van die kinders vir daardie kind “lesgee”. Die onderwyser moet betrokke wees by hierdie byeenkomste, om toe te sien dat die kind wat gespeel het nie as persoon aangevat word deur vriende nie, en om die ander leerlinge te lei in ʼn rigting om te luister na sekere aspekte van die spel. Ek is egter bewus daarvan dat die onderwysers se tyd baie beperk is, en dat ouers nie altyd gewillig is om ʼn kind na ʼn ekstra les toe te bring nie.

Wat die musiekeksamens betref, is die gehoorafdeling ingewerk by die praktiese eksamen. Die gehoorafdeling tel tussen tien en vyftien persent van die totale punt, en dit toets slegs een afdeling van gehoorontwikkeling. Aangesien gehoorontwikkeling so ʼn groot rol speel by die musikale uitvoering van die leerling, voel ek dat gehoor meer gewig behoort te dra in die musiekopleiding wat aan kinders gebied word. ʼn Aanbeveling wat ek in die verband wil maak, is dat gehoor (in sy geheel) net soos musiekteorie apart behoort te staan van die klaviereksamens. Net soos wat daar van die leerling verwag word om op ʼn sekere vlak met musiekteorie te wees voordat ʼn spesifieke praktiese eksamen afgelê kan word, kan dieselfde riglyne geld in terme van gehoor.

Aangesien dit nie maklik is om die ander vier reaksies van musiekbeluistering te toets nie, is my aanbeveling dat die gehoorafdeling van die musiekdepartemente nie noodwendig op ʼn beginsel van puntetoekenning gerig moet wees nie. Met die moderne tegnologie is dit moontlik om ʼn musiekprogram te skryf wat ʼn kind moet deurwerk om te vorder na ʼn volgende vlak. ʼn Program kan geskryf word in dieselfde rigting as die programme Meludia en Auralia. Binne elke vlak kan daar van die kandidate verwag word om na musiek te luister, en vrae te beantwoord. Vrae kan insluit waaraan die musiek jou laat dink, of hoe dit jou laat voel. Net soos met die musiekprogram wat Paney (2015) gebruik, kan kognitiewe reaksies ingewerk word by die musiekprogram om aspekte soos sang, ritme en timbre te akkommodeer. Die belangrikste van hierdie program is dat dit nie ʼn gespanne eksamen-atmosfeer moet skep nie, maar dat die leerling rustig teen sy of haar eie pas deur die program kan werk.

Dit is ook van kardinale belang om die kind reeds van jongs af gereeld bloot te stel aan goeie opnames en lewendige optredes van goeie kwaliteit musiek, om sodoende hulle gehoor te ontwikkel. Soos wat Davidson en Scutt (1999) en Renwick en Reeve (2012) egter reeds genoem het, is innerlike motivering by die leerder noodsaaklik om gehoor optimaal te ontwikkel. Die tipe musiek waaraan die kind blootgestel word, moet ook uit verskillende genres, tydperke en vorme van tonaliteit voorkom.