• No results found

HOOFSTUK 3: NAVORSINGSBENADERING

3.1 Inleiding

3.1.2 Rasionaal vir ʼn interpretatiewe beskrywing

Binne die raamwerk van kwalitatiewe navorsing is daar ʼn aantal verskillende tipes studies waarvan gekies kan word. Cresswell identifiseer vyf hoofstrominge, naamlik Etnografie,

Gegronde teorie, Fenomenologie, Gevallestudie en Narratiewe navorsing (Cresswell, 2014; Merriam & Tisdell, 2016; Thorne, 2016). Thorne ontwikkel egter ʼn benadering wat sy baseer op drie tipes studies, naamlik etnografie, gegronde teorie en fenomenologie. Elk van hulle word kortliks bespreek in die volgende paragrawe voordat die Interpretatiewe Beskrywing – die benadering wat Thorne ontwikkel het – aangespreek word.

Etnografie was oorspronklik ʼn soeke om die raaisels van die aard van die menslike bestaan te ontrafel (Thorne, 2016, p. 26). Dit ontwikkel uit ʼn perspektief dat “primitiewe kulture” iets wys van hoe “evolusie” plaasgevind het na die moderne mens. Etnografiese tradisies het gedui op menslike kulturele variasie wat dien as ʼn “venster” om logika van ʼn sosiale groep en menslike kompleksiteit te verstaan. Kritiek wat egter aan die lig van bogenoemde stellings gelewer word, is dat dit Eurosentries is – dit het aangeneem dat Europese kultuur die hoogste vorm van ontwikkeling is (Cresswell, 2014, p. 112). Hedendaags word binne ʼn Etnografiese studie eerder verwys na ʼn groep mense wat dieselfde belange deel (soos byvoorbeeld ʼn sosiale instansie of ʼn skool). Die deelnemers se belangstellings en denkpatrone word waargeneem, met die doel om te kan verstaan hoekom dinge binne ʼn sekere groep mense gedoen word soos wat dit gedoen word (Cresswell, 2014, p. 112). Menslike optrede word bestudeer, en onderhoude word gevoer met lede van die kulturele groep om te verstaan wat die betekenis van optredes is. Gegronde teorie beweeg vanuit die beginsel dat menslike optrede net verstaan kan word binne ʼn kollektiewe bewustheid (collective consciousness), (Thorne, 2016, p. 27). Die navorser se agtergrond en sienswyses beïnvloed met ander woorde die wyse waarop hy of sy na ʼn spesifieke kulturele groep kyk. Dit is dan ook die rede waarom die navorsing deur middel van waarneming slegs ʼn gegronde teorie kan maak (Thorne, 2016, p. 27).

Fenomenologie spruit voort uit die filosofiese studies van ontologie (die aard van die mens) en epistomologie (die aard van kennis). Fenomenologie is aanvanklik die filosofiese soeke na die essensiële aard van iets – dit wat maak dat dit daarsonder nie sou wees wat dit is nie. Fenomenoloë streef daarna om om en deur die filter van menslike denke te werk, om sodoende kennis te verkry van die dieper essensiële struktuur van wat dit is om mens te wees (Thorne, 2016, p. 28).

Thorne neem hierdie bogenoemde drie metodes en gebruik sekere aspekte van elkeen om ʼn nuwe navorsingsbenadering te skep, wat sy interpretatiewe beskrywing (interpretative

description) noem (Thorne, 2016). Die rede hiervoor is haar beskouing dat daar ʼn kloof bestaan

tussen kennis en praktyk, wat sy met hierdie benadering wil oorbrug. Met hierdie benadering word gepoog om op verskillende maniere te verstaan hoe ʼn komplekse ervaring, soos om klavierles vir ʼn beginner te gee, werk. Dit behou die integriteit van ʼn teoreties gedrewe benadering tot kennis, terwyl dit ook begaan is oor konteks, situasie en die intensie van die aanwending van kennis (Thorne, 2016, p. 26). Ek sien die aanbieding van ʼn klavierles vir ‘n

beginner as ʼn bron van kennis en wil graag verstaan hoe klavieronderwysers hulle leerders se gehoor in die les ontwikkel.

Interpretatiewe beskrywing berus daarop om inligting uit die samelewing te verkry, en terug in die samelewing te werk op ʼn positiewe wyse (Thorne, 2016). Daarom word daar vir hierdie studie onderhoude gevoer met agt klavieronderwysers, om te verstaan hoe hulle gehooropleiding vir ʼn beginner aanbied, en met watter struikelblokke hulle te kampe het.

Aangesien Thorne ʼn verpleegsuster is, merk sy op dat daar ʼn skeiding bestaan tussen dit wat in teorie geskryf staan, en dit wat pasiënte in die “werklike lewe” ervaar. In ʼn poging om hierdie skeiding te oorbrug, skep sy uit elemente van etnografie, gegronde teorie en fenomenologie ʼn nuwe benadering tot navorsing, en noem dit interpretatiewe beskrywing. Sy soek na ʼn manier om navorsingskennis te kombineer met patrone van menslike optredes wat bestudeer word, om die lewens en dienste wat gelewer word aan mense, nog beter te maak. Thorne (2016, p. 31) noem dat Patton, Lincoln en Guba reeds in die tagtigerjare eksperimenteer met metodes waar sekere elemente van die tradisionele benaderings tot navorsing behoue bly, maar aangepas word om in te pas by die doel van die studie. Interpretatiewe beskrywing is dus ʼn verwerking van ervaring en kennis, om spesifieke tekortkominge aan te spreek (Thorne, 2016, p. 32). Met die navorsing wat in hierdie skripsie gedoen word, word daar eerstens ʼn literatuurstudie gedoen om vas te stel hoe navorsers dink rondom die kwessie van gehoorontwikkeling en gehooropleiding, en die plek wat dit in die beginner se klavierles inneem. Met die literatuur in ag genome, word daar onderhoude met agt klavieronderwysers gevoer om vas te stel in hoe ʼn mate gehoorontwikkeling en gehooropleiding geïntegreer word in hulle klavierlesse. Inligting wat ek met hierdie studie uit die samelewing wil verkry, is hoe klavieronderwysers ʼn jong beginner se les benader, en waar gehoorontwikkeling en gehooropleiding inpas. Aangesien die literatuur en gesprekke met onderwysers toon dat daar dikwels problematiek ontstaan rondom gehooropleiding binne ʼn klavierles, wil ek verstaan hoe gehoorontwikkeling en gehooropleiding bymekaar inpas en hoe dit meer doeltreffend aangebied kan word in die praktyk. Daar bestaan ʼn interaksie tussen die teorie en praktyk, aangesien literatuur en die onderhoude met mekaar vergelyk word. Interpretatiewe beskrywing vra vrae oor wat in die praktyk gebeur, om ʼn positiewe uitwerking op die praktyk te kan hê. Die vrae wat gevra word vir hierdie studie is die plek wat gehoorontwikkeling en gehooropleiding inneem in ʼn beginner se klavierles.