• No results found

GEVOLGTREKKINGS EN AANBEVELINGS

6.2.1 Profiel van die maatskaplike werker

Die oorgrote meerderheid deelnemers betrokke by die pleegsorgproses beklee meer junior poste in die onderskeie instansies en presenteer met een tot vyf jaar werksondervinding. Die gevolgtrekking wat gemaak kan word, is dat senior deelnemers meer betrokke is by ander velde van maatskaplike werk. Gevolglik moet deelnemers met slegs een tot vyf jaar ondervinding in die veld van pleegsorg die pleegsorgproses hanteer.

Die gevolgtrekking kan gemaak word dat deelnemers met relatief beperkte werkservaring nou betrokke is by die aanpassingsproses tydens die pleegsorgplasing van pleegkinders in middelkinderjare ontwikkelingsvlakke. Hierdie bevinding kulmineer ook in die gevolgtrekking dat meer onervare deelnemers dikwels gekonfronteer word met die komplekse uitdaging om die aanpassing van pleegouers sowel as pleegkinders tydens pleegsorgplasing op ʼn effektiewer wyse te ondersteun. Sodanige gevolgtrekking laat die vraag ontstaan of beperkte ervaring van die maatskaplike werker nie moontlik een van

die onderliggende redes is waarom aanpassing in pleegsorgplasing nie altyd suksesvol is nie.

Bevindinge dui daarop dat deelnemers hul groot werkslading en beperkte tyd bekla en dat dit optimale aandag aan die aanpassingvan pleegkinders en pleegouers die proses kortwiek. Daar is deurgaans verwys na die behoefte aan ondersteuning in dié verband in die vorm van addisionele hulpwerkers en die implementering van onbenutte bronne soos gemeenskapswerkers. Die gevolgtrekking kan gemaak word dat die pogings van die maatskaplike werker om effektiewer aanpassing betekenisvol te beïnvloed, deur die feit dat hul werkslading te groot is en die tyd te min, beperk word. Bykomend kan die gevolgtrekking gemaak word dat deelnemers hul dikwels in die verband tot krisisbestuur wend.

6.2.2 Dienste tydens pleegsorgproses

Daar is bevind dat al die deelnemers op die een of ander stadium relevante dienste tydens die pleegsorgproses lewer. Hierdie dienste bestaan uit veiligheidsassessering, krisisintervensie, statutêre intervensie, verwyderingsdienste, pleegsorgplasing en nasorgdienste. Die gevolgtrekking is dat, ongeag hoë gevalleladings, deelnemers tog daarin slaag om ʼn breë spektrum van dienslewering tydens die pleegsorgproses te implementeer.

Bevindinge dui ook daarop dat bogenoemde dienste gerig word op die pleegouers, biologiese ouers, asook die betrokke pleegkinders en dat daar van bykomende bronne gebruik gemaak word ten einde dienslewering in dié verband te bevorder. Daar is veral gekonsentreer op die betrokkenheid van vrywillige hulpwerkers betrokke by pleegsorgplasing en moontlike addisionele opleiding en ondersteuning in dié verband. Die gevolgtrekking kan dus gemaak word dat deelnemers nie die waarde van eksterne bronne negeer nie maar dat die huidige opleiding en bystuur van vrywillige werkers nog bepaalde leemtes reflekteer.

Deelnemers dui aan dat beperkte aandag geskenk word aan die komponent van hereniging tussen die pleegkind en die biologiese ouers. Daar kan tot die gevolgtrekking

gekom word dat daar moontlik meer fokus geplaas word op krisishantering tydens die aanpassingsproses van ʼn pleegkind en ʼn pleegouer en wel ten koste van die moontlikheid van hereniging.

Dit is die mening van deelnemers dat administratiewe pligte uiters tydrowend is en die frekwensie en gehalte van hulpverlening tot effektiewer aanpassing betekenisvol beïnvloed. Die gevolgtrekking kan gemaak word dat ʼn maatskaplike werker se ondersteuningsdienste tot effektiewer aanpassing van ʼn pleegkind en ʼn pleegouer beperk word vanweë administratiewe pligte. Dit lei verder tot die gevolgtrekking dat ʼn pleegkind en ʼn pleegouer nie noodwendig altyd bevredigende aandag in dié verband van die maatskaplike werker ontvang nie. Die gevolgtrekking kan ook gemaak word dat die sorgbehoewende kind hom/haar moontlik in pleegsorg bevind waarin sy/haar optimale ontwikkeling nie noodwendig ten volle gefasiliteer word nie en wel as gevolg van beperkte beskikbaarheid van plekke van veiligheid en ‟n relatief klein aantal beskikbare pleegouers.

6.2.3 Voorbereiding van ʼn pleegkind op pleegsorgplasing

Daar is bevind dat pleegkinders voor pleegsorgplasing deur die deelnemers voorberei word. Sodanige voorbereiding vind hoofsaaklik plaas deur middel van individuele sessies waar gesprekstegnieke deur die maatskaplike werker gebruik word. Gesprekstegnieke sluit vraagstelling, klarifisering, gevoelshantering, ondersteuning en ontlonting in. Hierteenoor is daar ʼn kleiner persentasie deelnemers wat terapeutiese metodes soos spelterapie en assessering (sterkpuntassessering en assessering volgens ouderdomsgroep) implementeer tydens die voorbereidingsproses. Die gevolgtrekking kan dus gemaak word dat die meerderheid deelnemers verkies om pleegkinders op individuele basis en wel eerder deur middel van gesprekstegnieke vir die proses van pleegsorgplasing voor te berei.

Deelnemers se aandeel in die aanpassingsproses van ʼn pleegkind in sy/haar middelkinderjare blyk te wissel. Bevindinge dui daarop dat beperkte tyd en ʼn groot werkslading ʼn maatskaplike werker dikwels daarvan weerhou om op ʼn kontinue basis

ondersteuning ten opsigte van die aanpassing van ʼn pleegkind sowel as die pleegouers te bied. Daar kan dus tot die gevolgtrekking gekom word dat daar nie genoeg gedoen word om aanpassing in ʼn pleegsorgplasing te verseker en te handhaaf nie.

Bevindinge dui daarop dat deelnemers die ouderdom en ontwikkelingsvlak van ʼn pleegkind in ag neem en daarvolgens voorbereidingstegnieke en -metodes aanpas. Net minder as die helfte van die deelnemers akkommodeer ʼn pleegkind se ouderdomsvlak en taalbegrip deur verbale gesprekvoering dienooreenkomstig aan te pas. Daar word ook gebruik gemaak van tegnieke soos speltegnieke, bewaring van herinneringe van die betrokke biologiese ouer en sterkpuntassessering om intervensie aan te pas by ʼn pleegkind se ouderdom en ontwikkelingsvlak. Die gevolgtrekking kan dus gemaak word dat deelnemers wel ʼn pleegkind se ouderdoms- en ontwikkelingsvlak in ag neem tydens die voorbereiding van die pleegkind op pleegsorgplasing. Sodanige akkommodering speel gevolglik ook ʼn belangrike rol in die wyse waarop deelnemers ʼn betekenisvolle bydrae lewer tot die aanpassing van ʼn pleegkind in sy/haar middelkinderjare tydens