• No results found

Arbeidsaamheid teenoor minderwaardigheid (middel tot laat kinderjare)

DIE AARD VAN PLEEGSORG TEN OPSIGTE VAN DIE PLEEGKIND IN MIDDELKINDERJARE

3.3 PSIGOSOSIALE ONTWIKKELING 1 Inleiding

3.3.2 Erik Erikson

3.3.2.5 Arbeidsaamheid teenoor minderwaardigheid (middel tot laat kinderjare)

Die tydperk van ses jaar tot en met vroeë puberteit word gekenmerk deur die ontwikkeling van arbeidsaamheid teenoor minderwaardigheid. Dit is in hierdie tydperk dat die kind formele skoolopleiding betree en aan die breër omgewingsinvloede blootgestel word. Ook in hierdie tydperk spreek die kind se ervaringe tydens die vorige ontwikkelingsfases sterk mee wat betref die wyse waarop hy/sy hierdie spesifieke fase betree. Indien die kind se ontwikkeling van inisiatief toereikend ontwikkel het, beskik hy/sy oor genoegsame waaghouding om weer eens die onbekende met ‟n positiewe ingesteldheid in te gaan. Indien die kind bepaalde gevoelens van minderwaardigheid tydens die vorige ontwikkelingsfase beleef het, kan sy ervaringe van hierdie tydperk sodanige minderwaardigheidsbelewinge elimineer. Ondersteuning, liefde en toereikende versorging is egter noodsaaklike voorvereistes vir die suksesvolle betreding en bemeestering van hierdie ontwikkelingsfase. Die beskikbaarheid van effektiewe skolastiese opleiding is belangrik ten einde aan die kind die geleentheid te gun om sy/haar volle potensiaal optimaal te bereik (Meyer & Van Ede, 1995:64: Louw & Louw, 2007:20).

In hierdie tydperk word die kind uitgedaag om meer ingewikkelde vaardighede wat in die volwasse fases benodig word, te bemeester. Sodanige vaardighede sluit in die stigting en handhawing van sosiale verhoudings met vriende, die gesin, onderwysers en ander persone. Fisieke ontwikkeling vereis die deelname aan verskillende sportaktiwiteite ten einde addisionele fisieke vaardighede te beproef. Sosiale verhoudings met individue buite

die huisgesin is noodsaaklik ten einde selfontwikkeling te vergelyk en te stimuleer. Uitdagings en prestasies dien as insentiewe tot die ontwikkeling van sogenaamde “arbeidsaamheid”. Die teendeel is egter ook waar, naamlik dat die kind reeds in hierdie ontwikkelingsfase onder ‟n minderwaardigheidsgevoel gebuk kan gaan vanweë herhaaldelike mislukkings of ongunstige ervaringe. Sou die kind se eksterne omgewing hom/haar dus nie gunstig steun nie, word sodanige minderwaardigheidsbelewinge versterk en net verder geïnternaliseer (Meyer & Van Ede, 1995: 64).

Die kind is gedurig besig met ‟n proses van vergelyking tussen hom/haarself en objekte en mense uit die omgewing wat dan as normatiewe maatstawwe dien rakende sy/haar eie vermoëns en persoonlikheid. ‟n Gevoel van bemeestering word volgens Hergenhahn en Olson (2003:177) bekom wanneer liefdevolle aandag en ondersteuning vanaf betekenisvolle mense beskikbaar gestel word terwyl negatiewe terugvoer tot ‟n intense minderwaardigheidsbelewing aanleiding gee.

Cole et al. (1998:636) verwys na Erikson se teorie as hulle stel dat die proses van identiteitsvorming ook tydens hierdie ontwikkelingsfase plaasvind. Identiteitsvorming is volgens Erikson die grootste uitdaging waarvoor die individu te staan kom. ‟n Gevoel van minderwaardigheid kan dus die kind se vorming van ʼn eie identiteit belemmer of ongunstig beïnvloed en die kind kan as gevolg daarvan ‟n swak selfbeeld, oftewel ʼn negatiewe identiteit ontwikkel.

Volgens Erikson (Hergenhahn & Olson, 2003:177) leer die kind tydens skoolopleiding spesifieke vaardighede aan wat die vermoë tot suksesvolle toekomstige beroepsbeoefening bevorder. If he accepts his work as his only obligation, and „what

works‟ as his only criterion of worthwhileness, he may become the conformist and thoughtless slave of his technology and those who are in a position to exploit it.

Erikson (Hergenhahn & Olson, 2003:177) meen die kind ontwikkel in hierdie ontwikkelingsfase ook ‟n begrip van formaliteit teenoor formalisme. Eersgenoemde verwys daarna dat die kind die kennis ontwikkel om ‟n betekenisvolle bydrae tot die

gemeenskap te lewer deur oor bepaalde inligting en vaardighede te beskik ten einde verpligtinge behoorlik uit te voer. Ongeag die omstandighede waarin die verpligting nagekom moet word (klaskamer, sportveld) dit moet op ‟n ordelike en realistiese manier uitgevoer word, met ander woorde dis ‟n formaliteit wat nagekom moet word. Wanneer die kind egter oormatig of slegs op sekere eienskappe van bepaalde verpligtinge konsentreer en gevolglik net op een uitkoms fokus (byvoorbeeld om net op akademie gebied te presteer) grens hy/sy aan formalisme. Daar word dus slegs op een komponent of tegniek gekonsentreer terwyl die oorhoofse doelwit uit die oog verloor word.

Vir die maatskaplike werker is dit belangrik om van hierdie insigte kennis te neem sodat die kind as ‟n totaliteit-in-funksie beskou kan word en daar nie oormatig op geïsoleerde elemente van die kind se lewe gekonsentreer word nie.

Louw, Schoeman, Van Ede en Wait (1995:366) stel dit dat hierdie ontwikkelingsfase ook bepaalde rolveranderinge inhou. Die middelkinderjarige kind raak toenemend onafhanklik, begin meer krities teenoor ouers en betekenisvolle andere staan en bevraagteken dikwels bestaande waardes en norme. Hierdie kinders ontwikkel die behoefte om eie besluite te neem en veral in besluitneming geken te word. Hulle verkies ‟n demokratiese benadering oor eie sake en ontevredenheid word dikwels overt uitgespreek. Die kind staan veral meer krities teenoor die ouers se benadering en oortuigings aangesien daar toenemend blootstelling aan verskeie benaderings is. Hierdie proses akkommodeer toenemend die kind se emosionele en sosiale ontwikkeling.

Die maatskaplike werker behoort dus daarvan bewus te wees dat pleegsorgplasing van ‟n middelkinderjarige kind ʼn besondere en andersoortige benadering vereis. Hierdie kinders beskik oor die vermoë om emosies teenoor die biologiese ouer, maatskaplike werker en pleegouer te verberg. In hierdie ontwikkelingsfase wil die kind betrokke wees by die besluitnemingsproses van moontlike pleegsorgplasing wat beteken dat die motiewe van die maatskaplike werker en beide pleeg- en biologiese ouers bevraagteken kan word. Ten einde suksesvolle aanpassing tot pleegsorgplasing te verseker, moet alles in die stryd gewerp word om die ouer-kind-verhouding asook verhoudings met betekenisvolle ander

tydens die voorbereidings- en plasingsproses van die betrokke pleegkind steeds stabiel te hou.