• No results found

DIE AARD VAN PLEEGSORG TEN OPSIGTE VAN DIE PLEEGKIND IN MIDDELKINDERJARE

3.2 KOGNITIEWE ONTWIKKELING 1 Inleiding

3.2.3 Lev Vygotsk

ʼn Alternatiewe aanvaarbare model van kognitiewe ontwikkeling word voorgestel deur die Russiese sielkundige, Lev Vygotski (Ansell, 2005:17; Keenan, 2005:134). Anders as Piaget, meen Vygotski dat die kind aktief deel is van ʼn sosiale opset, in plaas daarvan om daarin in te groei (Ansell, 2005:17). Donald et al. (2005:69) beweer dat, terwyl Piaget kinderontwikkeling as ʼn proses van beweging vanaf die interne na die eksterne omgewing beskou het, het Vygotski die teenoorgestelde benadering aangehang. Vygotski (Karpov, 2005:11) het geredeneer dat kinderontwikkeling nie alleen teen die agtergrond van die sosiale omgewing plaasvind nie, maar dat invloede vanuit die ouers se opvoeding betekenisvol op die kind se ontwikkeling inwerk. Dit beteken dus dat die kind se ontwikkeling afhanklik is van sekere vaardighede en inhoude wat deur die ouer/s voorgeleef en afgerig word.

Die ouer speel derhalwe ʼn betekenisvolle rol in die kind se kognitiewe ontwikkeling. Kognitiewe ontwikkeling vind plaas deur ʼn proses van ontdekking en eksplorasie van die

eksterne omgewing wat gerugsteun word deur die sosiale interaksie tussen ‟n meer ervare persoon (ouer) en ‟n kind. Volgens Vygotski (Harwood, Miller en Vasta, 2008:256) het die sosiale konteks ʼn betekenisvolle impak op die aard en gehalte van die kind se kognitiewe ontwikkeling.

Dit is dus vir die maatskaplike werker essensieel om deeglik kennis te neem van hierdie benadering aangesien die kind nie in isolasie gesien mag word nie. Vygotski (Karpov, 2005:19) beweer dat ouers sekere sielkundige vaardighede aan hul kinders voorleef wat deur die kind verwerf en uiteindelik geïnternaliseer word. Hierdie proses vind plaas deur die bemiddeling van die ouer en laasgenoemde bepaal die inhoud van die kind se aanpassings- en ontwikkelingsvaardighede. Aangesien die ouer ook deel van ʼn groter kulturele opset uitmaak, word die reëls en beginsels van daardie spesifieke konteks aan die kind voorgehou.

Binne die arbeidsveld van die maatskaplike werker is hierdie benadering belangrik aangesien dienslewering ook binne bepaalde kulturele kontekste plaasvind. Indien die kognitiewe ontwikkeling van die kind optimaal plaasvind, verteenwoordig sy/haar sielkundige vaardighede ook konstituente van die spesifieke kultuur waarbinne die kind hom/haarself bevind. Optimale ontwikkeling vind egter slegs plaas indien die sosiale konteks (gesin en kulturele omgewing) die nodige ondersteuning hiertoe bied. Volgens Vygotski (Donald et al., 2005:70–71; Karpov, 2005:34–35) beweeg die kind tydens ontwikkeling in ʼn sone van proksimale ontwikkeling (sien figuur 3.1).

Figuur 3.1: Sone van proksimale ontwikkeling

Die sone van proksimale ontwikkeling verwys na die spanning tussen die kind se werklike ontwikkelingsvlak en die vlak van sy potensiële ontwikkeling. Ideaal gesproke word verwag dat die kind tydens ontwikkeling behoort te beweeg na sy/haar eie optimale kognitiewe vermoëns en wel met hulp vanuit die eksterne omgewing. Hierdie sogenaamde “hulp” word deur stimuli vanuit die eksterne omgewing (mense, boeke, diere) bemiddel. Hoewel die ouer deel uitmaak van eksterne omgewingstimuli, beïnvloed al die ander omgewingstimuli die gehalte van die kind se kognitiewe ontwikkeling. Dit is dus nie net ʼn ouer wat as ʼn bemiddelaar gesien word nie. Enige stimulus wat dus ʼn kind se kognisie vanaf die een ontwikkelingsvlak na die volgende vlak fasiliteer, word derhalwe as ʼn bemiddelaar gesien (Donald et al., 2005:70–71; Keenan, 2005:134; Harwood et al., 2008:256).

In hierdie studie is daar gefokus op die kind op die middelkinderjarige ontwikkelingsvlak. Dit is ʼn ontisiteit dat kinders die meeste ontwikkeling in die formele onderwysomgewing opdoen. Vygotski (Karpov, 2005:171) voer aan dat skoolopleiding nie slegs akademiese vordering behels nie, maar ook geleentheid vir sosiale interaksies

Werklike ontwikkelingsvlak ontwikk Sone van proksike proksimale ont ontwikkeling Potensiële ontwikkelingsvlak Bemiddeling

skep en bevorder. Dit is dus belangrik dat kinders die geleentheid gegun word om binne ʼn skoolomgewing tot optimale ontwikkeling van hulle potensiële vermoëns te beweeg. Sou die eksterne omgewingstimuli dus ongunstig blyk te wees (mishandeling, verwaarlosing) kan optimale kognitiewe ontwikkeling nie suksesvol plaasvind nie en bestaan daar ʼn diskrepansie tussen die kind se werklike en potensiële vermoëns.

Die optimale kognitiewe ontwikkeling van die middelkinderjarige kind kan dus belemmer word deur ʼn kind in ʼn hoërisiko-omgewing te plaas waar hy/sy aan negatiewe invloede en interaksies blootgestel word. Die ouer het dus twee betekenisvolle verantwoordelikhede teenoor die kind, te wete om ʼn positiewe en ondersteunende invloed op die kind se ontwikkeling te hê, en om toe te sien dat die kind beskerm word teen negatiewe interaksies vanuit die omgewing. Sou daar verwaarlosing of mishandeling van enige aard plaasvind, word die kind se totale ontwikkeling daardeur ongunstig geraak en kan die kind as sorgbehoewend verklaar word. Dit noop die professionele betrokkenheid van die maatskaplike werker wat hoofsaaklik sal fokus op die ontwikkeling en implementering van ʼn ouerbegeleidingsprogram en/of alternatiewe pleegsorgplasing van die kind.

Die versorger (primêre en sekondêre versorger) is op elke ontwikkelingsvlak van die kind betrokke. Begeleiding in dié verband behels dus om begrip vir die proses van kinderontwikkeling per se te ontwikkel asook om die ouer te sensitiseer vir die behoeftes van die kind in sy/haar spesifieke ontwikkelingsvlak (Wood & Middleton, 1975, aangehaal in Keenan, 2005; Rogoff, 1998, aangehaal in Keenan, 2005).

Opleiding en bemagtiging van hierdie aard behoort ouers toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om effektief by te dra tot die optimale ontwikkeling van die kind/ers. Ten einde die uniekheid van elke ouer en kind se sosiale omstandighede asook persoonlikheidsontwikkeling gestand te doen, is dit ook vir die maatskaplike werker noodsaaklik om kennis te neem van die betekenisvolle benadering gevolg deur Erik Erikson (1902–1980) (Sien paragraaf nr. 3.3.2).

3.3 PSIGOSOSIALE ONTWIKKELING