• No results found

DIE AARD VAN PLEEGSORG TEN OPSIGTE VAN DIE PLEEGKIND IN MIDDELKINDERJARE

3.4 MORELE ONTWIKKELING 1 Inleiding

Louw en Louw (2007:267) definieer morele ontwikkeling as die proses waardeur kinders beginsels aanleer wat hulle in staat stel om bepaalde gedrag as reg en ander as verkeerd te beoordeel, en om hulle eie gedrag volgens hierdie beginsels te rig. Louw et al. (1995:359) asook Cole et al. (2005:629) wys daarop dat Kohlberg ‟n betekenisvolle bydrae gelewer het tot die beskrywing van die morele ontwikkeling van ‟n kind.

3.4.2 Lawrence Kohlberg

Lawrence Kohlberg (Louw et al., 1995:357) beskryf die individu se morele ontwikkeling aan die hand van verskeie vlakke wat elk verwys na die stelselmatige ontwikkeling van morele kennis, waardes en uiteindelike gewetensvorming. Morele ontwikkeling vind plaas aan die hand van opeenvolgende fases waarvan die afhandeling van die vorige fase ‟n voorvereiste vir die betreding en bemeestering van die volgende fase uitmaak. Kohlberg (Louw & Louw, 2007:270) onderskei tussen drie fases van morele ontwikkeling, naamlik die prekonvensionele, konvensionele en postkonvensionele vlakke. Hiervan is die prekonvensionele ontwikkelingsvlak veral van toepassing op die kind in die middelkinderjare.

Louw en Louw (2007:270) voer aan dat die hoogste vlak van morele ontwikkeling egter nie deur almal bereik word nie. Die kind se morele ontwikkeling word ook deur sy sosio- ekonomiese klas en die gehalte van sy kognitiewe ontwikkeling beïnvloed. Dit is die ervaring van professionele persone op die terrein van die maatskaplike werk dat pleegsorgkinders sorgbehoewend bevind word juis as gevolg van swakker en dikwels onaanvaarbare lae sosio-ekonomiese omstandighede. Dit beteken noodwendig dat die kind wat vir pleegsorg oorweeg word, reeds moontlike agterstande toon ten opsigte van, onder andere, sy/haar morele ontwikkeling.

Ten einde die morele ontwikkelingsproses van die kind in die middelkinderjare ten volle te begryp, word ‟n kort omskrywing van die prekonvensionele vlak van ontwikkeling verskaf.

3.4.2.1 Prekonvensionele vlak (Fase 1 en 2: ongeveer 5 tot 9 jaar)

Tydens die eerste vlak tree die kind reaktief op wat betref kulturele reëls en wel op grond van fisieke en materiële mag. Besluite word geneem teen die agtergrond van die hedonistiese gevolge van handeling (Harwood et al., 2008:556). Dit beteken dat die kind se morele besluite slegs geneem word op grond van egoïstiese gewin, dit wil sê tot sy/haar eie voordeel. Die pre-konvensionele vlak bestaan uit twee stadiums, te wete straf en gehoorsaamheid en ‟n naïewe en instrumentele georiënteerdheid.

a Fase 1: Straf- en gehoorsaamheidsoriëntasie

Aangesien die kind in hierdie stadium nog nie ten volle in staat is om objektief en gedistansieer op te tree nie, word sy/haar gedrag alleenlik op grond van die gevolge daarvan bepaal. Die kind se gehoorsame gedrag word dus gedryf deur die vermyding van straf, en sy/haar motiewe word dus nie in aanmerking geneem nie. Morele besluitneming deur die kind gaan dus suiwer om die vermyding van straf, en reëls word nagekom slegs om nadelige gevolge te vermy en hoegenaamd nie omdat reëls begryp, aanvaar of geïnternaliseer word nie (Swanepoel, 1994:93).

b Fase 2: Naïewe en instrumentele oriëntasie

Die kind se gedrag word in hierdie ontwikkelingsfase steeds deur sy/haar eie belange gedryf (Harwood et al., 2008:556). Die kind ontwikkel ‟n gevoel van opportunisme en is dus daartoe in staat om eie gewin in verskillende situasies raak te sien en na te streef. Hy/sy begin egter stelselmatig ander se sieninge te ontdek en in ag te neem. Die kind sal stelselmatig gehoorsaamheid openbaar ten gunste van ander se belange maar steeds vanuit ‟n egoïstiese perspektief. Dit beteken dus dat, wanneer die kind se optrede tot voordeel van ‟n ander persoon strek, hy/sy uiteindelik ook daarby sal baat aangesien dit weer gunstige optrede teenoor die kind tot gevolg sal hê. Die kind se gehoorsaamheid word dus hier steeds gedryf deur beloning van goeie gedrag of om gunste te bekom. Onderliggende motiewe word egter nou geïdentifiseer aangesien daar op meer komplekse vlak geredeneer word. Die kind se intensies word hier vir die eerste keer oorweeg en geëvalueer (Swanepoel, 1994:94).

3.4.2.2 Konvensionele vlak (Fase 3 en 4: 9 tot 15 jaar)

In hierdie stadium word die kind se gehoorsaamheid aan reëls en beginsels gerig deur die produk van sy gedrag, ongeag die onmiddellike gevolge daarvan. Die kind ontwikkel stelselmatig ʼn sin vir lojaliteit teenoor sy portuurgroep, gesin of gemeenskap en teenoor homself. Hy/sy handhaaf bepaalde norme en waardes wat ondersteun en regverdig word deur bepaalde innerlike oortuigings. Die kind hou tot ‟n redelike mate by sy/haar norme en waardes as gevolg van die verwagting wat ander van hom het en as gevolg van sy plig teenoor ander (Swanepoel 1994:94).

a Fase 3: Interpersoonlike ooreenkoms

Tydens hierdie vlak poog die kind om gedrag te openbaar wat hulpvaardig is en waarvan ander hou ten einde goedkeuring by betekenisvolle persone te ontvang en kritiek te vermy. Dit is hier waar die kind gemoeid raak met betekenisvolle persone se persepsie van hom/haar en poog om deur gehoorsame gedrag ‟n positiewe beeld by ander te skep. Die kind se gedrag word deur sy motiewe geëvalueer en goedgekeur op grond van “aanvaarbare” of “normale” gedrag (Swanepoel 1994:95).

b Fase 4: Die regverdigheidsoriëntasie (wet en orde)

Die kind openbaar korrekte gedrag as gevolg van respek vir outoriteit en sosiale beginsels. Ter wille van die voortbestaan van die samelewing word spesifieke norme en waardes geïdentifiseer en sodoende word reëls nagekom (Swanepoel 1994:95).

Aangesien hierdie studie slegs op die middelkinderjarige pleegkind fokus, word daar, ter wille van die lengte van die studie, slegs kortliks na die na-konvensionele vlak van morele ontwikkeling verwys.

3.4.2.3 Die na-konvensionele vlak (Fase 5 en 6: ongeveer 16 jaar tot volwassenheid)

Hierdie vlak van ontwikkeling word ook die moraliteit van selfaanvaarde of outonome morele beginsels genoem. Die individu onderskei onafhanklik tussen daardie universele morele waardes en norme wat in ‟n groep geldig en toepaslik is (Swanepoel 1994:95).

Dit is vir die maatskaplike werker dus besonder belangrik om deeglik kennis te dra van die morele ontwikkelingsvlak waarin ‟n betrokke kind verkeer asook van dié van die primêre versorgers. Gebrekkige morele begrip resulteer in onnadenkende en selfsugtige optrede wat die kind/ers se totale ontwikkeling kan belemmer. Indien ‟n kind se morele ontwikkeling gapings toon, kan dit suksesvolle intervensie-aksies in die wiele ry en weerstandigheid by die kind asook die ouers veroorsaak.

3.5 SAMEVATTING

Elke kind is uniek en die welsyn van elke individuele kind moet geevalueer word. Ten einde die maatskaplike stand van die kind te bepaal, moet die betrokke kind se ontwikkelingstand bepaal word ten einde effektiewe intervensie-strategieë te beplan. Indien die maatskaplike werker binne die Suid-Afrikaanse verband met die nodige kennis van die Wet op Kindersorg (Suid-Afrika, 1983), kulturele verskille, ontwikkelingsfases en -behoeftes van die kind te werk gaan, word moontlike suksesvolle maatskaplike intervensie gepredisponeer.

In die lig van die voorafgaande bespreking blyk dit dat die kind in totaliteit benader moet word. Dit vereis egter ook deeglike kennis van die volledige spektrum van ontwikkeling by die kind per se asook van die wyse waarop die ouers sodanige ontwikkeling bevorder of gestrem het. Hoewel ontwikkeling vir teoretiese doeleindes in onderskeie aspekte verdeel en bespreek word, is dit noodsaaklik om nie die kind as geïsoleerde entiteit te beskou nie. Omgewingsinvloede speel ‟n bepalende rol in veral die middelkinderjarige kind se ontwikkeling en ‟n kind kan dus sorgbehoewend verklaar word indien die onmiddellike omgewing asook die gemeenskapsomgewing nie tot die kind se optimale ontwikkeling bydra nie. Ten einde omgewingsinvloede van nader te beskou, word die volgende hoofstuk daaraan afgestaan.

HOOFSTUK 4

DIE AARD EN GEHALTE VAN DIE BYDRAE WAT DIE MAATSKAPLIKE