• No results found

HOOFSTUK 2: DIE AARD VAN WERKSTEVREDENHEID

2.8 DIE VERBAND TUSSEN WERKSTEVREDENHEID EN BEMAGTIGING

2.9.2 Probleme binne-in die klaskamer

Die beskikbaarheid van goeie handboeke en hulpbronne kan ʼn groot bydrae lewer tot hoë onderwysgehalte. Dit is ʼn waardevolle bron van inligting wat leerders in staat stel om te presteer in die skool. Gevolglik kan onvoldoende verskaffing van handboeke lei tot onderprestering en uiteindelik tot swak prestasie. ʼn Tekort aan basiese hulpmiddels kan lei tot komplekse probleme soos ʼn lae moreel asook ʼn gebrek aan toewyding tussen beide opvoeders en leerders (Masitsa, Van Staden, De Wet, Niemann, Heyns, Brazelle & Niemann, 2004:227). Aanvullend tot Masitsa et al. verklaar Fry (2002:33) dat „n gebrek aan handboeke en ondersteuningsmateriaal die opvoeder laat sukkel omdat die opvoeder voel dat sy/haar onderrigbenaderings beperk en onvoldoende is.

2.9.2.2 Multikulturele onderwys

Faktore wat ʼn bydrae gelewer het tot die werksontevredenheid van opvoeders in Suid-Afrika is die geweldige veranderings wat in die onderwys ervaar is sedert 1994. Voorbeelde

hiervan sluit die integrasie in skole ten opsigte van taal- en kulturele groepe in (Kamstra, 2005:54).

Multikulturele onderwys fokus op die erkenning, waardering en instandhouding van die verskille tussen die kulturele groepe. Multikulturele onderwys kan gesien word as die teenwoordigheid van kinders afkomstig uit verskillende etniese, kulturele en sosio- ekonomiese agtergronde wat saamgevoeg word om saam te leer in dieselfde klaskamer. Die doel hiervoor is om leerders aan verskillende kulture bloot te stel waarbinne hul eie kultuur aanvaar word as waardevol. Rassisme en diskriminasie wat buite die skoolgrense bestaan kan nie altyd maklik binne die klaskamer bestuur word nie (Jansen, 2003:136).

2.9.2.3 Dissipline

Dissiplinêre probleme is een van die mees demotiverende faktore in die klaskamer (Schulze & Steyn, 2003:145). Daar word van opvoeders verwag om op ʼn daaglikse basis met ongedissiplineerde leerders te werk. Opvoeders is gevolglik ook die teiken van ongedissiplineerde en militante leerders (Masitsa et al., 2004:234). Ongedissiplineerde leerders veroorsaak verskeie probleme in die klaskamer soos drostery, vandalisme, afwesigheid, laatkommery, opstandigheid, onvoltooide take, geweld en ontwrigting van leer (Masitsa et al., 2004:247). Die outeurs is van mening dat die afskaffing van lyfstraf sonder plaasvervangende strafmaatreëls die situasie net vererger het. ʼn Gebrek aan respek word deur Kamstra (2005:55) as die hoofoorsaak van dissiplinêre probleme in die klaskamer beskou. Omdat leerders nie respek vir die opvoeders het nie moet die opvoeder meer tyd aan dissiplinêre probleme afstaan, wat minder beskikbare tyd oorlaat vir onderrig. Volgens Masitsa et al. (2004:225) is die gevolg hiervan dat opvoeders nie in staat is om leerders se swak en sterk punte te identifiseer en hulle daarvolgens te assisteer nie.

2.9.2.4 Veiligheid

ʼn Skool behoort ʼn veilige omgewing te wees waar leerders kan leer, werk en speel en waar die opvoeder nie bang hoef te wees dat iets verkeerds met die leerders kan gebeur nie (Kamstra, 2005:56). Die skool behoort vry te wees van vrees, geskille, intimidasie, teistering, vernedering en geweld (Prinsloo, 2005:5).

Geweld binne die skool affekteer die kultuur van leer en onderrig negatief (Zulu, Urbani, Van der Merwe & Van der Walt, 2004:170). Die outeurs is van mening dat geweld in sommige

daarin gefaal om leerders teen geweld binne die skool te beskerm (Prinsloo, 2005:5). Onderrig en leer kan nie effektief in ʼn onveilige omgewing plaasvind nie (Kamstra, 2005:56). Volgens die Konstitusie van SA (1996) het elkeen die reg tot ʼn omgewing wat nie skadelik vir sy welstand is nie. Die opvoeder moet dus sy plig tot sorgsaamheid só vervul dat ʼn veilige omgewing, wat bevorderlik is vir leer, geskep word. Onderwys word bedreig deur die toenemende mate van geweld, toenemende getal dissiplinêre probleme, die groeiende disrespek teenoor outoriteit, onvoldoende finansiering deur die staat asook ʼn tekort aan gekwalifiseerde opvoeders. Dit alles lei tot ʼn skoolomgewing wat onveilig word vir beide opvoeder en leerder (Netshitahame & Van Vollenhoven, 2002:313).

Hoewel daar gehoop is dat die nuwe regering van 1994 die probleem kon oplos, is geweld en ontwrigting in sommige skole steeds teenwoordig (Kieft, 2005:56). Ander veiligheidsbedreigings vir opvoeders en leerders, hoofsaaklik in oorwegend swart skole, is gevegte op die skoolterrein tydens lesure, snuif van gom en benzene, beskikking oor wapens soos messe, alkolholmisbruik en leerders wat in toordery glo (Netshitahame & Van Vollenhoven, 2002:316).

Uit ʼn ondersoek van De Wet (2003:88) blyk dit dat probleme veral ontstaan by skooltoilette. Uit dieselfde ondersoek het geblyk dat diefstal, roof en selfs ʼn enkele geval van verkragting ter sprake is by die betrokke skool. Die veiligheid van skole is egter moeilik om te peil, omdat baie voorvalle nie aangemeld word nie (Kieft, 2005:56).

Netshitahame en Van Vollenhoven (2002:317) beklemtoon die belangrikheid van die ontwerp en toepassing van veiligheidsmaatreëls by skole. Onveilige omstandighede veroorsaak gevoelens van magteloosheid, onsekerheid en angs by leerders sowel as opvoeders, wat ʼn sterk invloed het op die motivering en werkstevredenheid van die opvoeder (De Wet, 2004:206).

Zulu et al. (2004:171) beskou ʼn skool as veilig wanneer leerders kan leer, ontwikkel en geniet, en waar opvoeders vrylik kan onderrig sonder die bedreiging van geweld en misdaad. Die outeur meen ook dat ʼn skool veilig is wanneer ouers welkom is om idees omtrent leer en ontwikkeling uit te ruil en die gemeenskap betrokke kan wees in ondersteuning en deel in die verantwoordelikheid van interaksie met opvoeders en die beheerliggaam.

Ongelukkig het hierdie verwagtinge in verskeie skole in Suid-Afrika gedurende die afgelope drie dekades nie gerealiseer nie (Kieft, 2005:57).

2.9.2.5 Klasgrootte

Die klasgrootte van skole in Suid-Afrika veskil van dié in Duitsland. In Suid-Afrika bestaan een klas uit veertig tot sewentig leerders, teenoor Duitsland waar die maksimum leerders per klas tussen vyf-en twintig en dertig is (Kieft, 2005:57). In Suid-Afrika word een klas gebou vir slegs vyf-en-dertig leerders en sodra dit meer as veertig leerders huisves, is dit oorvol (Masitsa et al., 2004:223).

Te veel leerders in ʼn klas maak dit feitlik onmoontlik vir die opvoeders om in al die behoeftes van die leerders te voorsien. Die gedrag van die leerders raak onbevredigend, wat lei tot stres en gevoelens van mislukking by die opvoeder. Die oorvol klasse verhoog die werkdruk van die opvoeder aansienlik en opvoeders vind dit moeilik om die werk te voltooi omdat die groot klasse leer vertraag (Masitsa et al., 2004:229). Oorvol klasse het ook ʼn negatiewe invloed op die individuele aandag asook die entoesiasme, motivering en moreel van die opvoeder. Die belangrikste faktor, veral in landelike swart gemeenskappe, wat oorbevolking in die klaskamer veroorsaak is armoede (Masitsa et al., 2004:224). Volgens Masitsa et al. (2004:224) is daar ook ʼn tekort aan banke, leerders is te veel, daar is nie genoeg geleentheid tot individuele onderrig nie, en opvoeders is oorwerk. Die gevolg is dat leerders onderprestering in die oë staar.

Legotlo, Maaga, Sebogo, Van der Westhuizen, Mosoge, Nieuwoudt en Steyn (2002:115) is van mening dat hierdie tekortkominge nog nie na behore deur die huidige regering aangespreek word nie. Die outeurs meen dat oorvol klasse ʼn ernstige probleem is. Sommige skole word swak in stand gehou en daar is ʼn tekort aan veral gekwalifiseerde opvoeders. Klasse is juis oorvol as gevolg van die tekort aan opvoeders.

Omdat die opvoeder nie sy/haar aandag gelyk tussen die leerders kan verdeel nie word die verhouding tussen die opvoeder en die leerder negatief beїnvloed (Kamstra, 2005:59).

2.9.2.6 Werkdruk

Werkdruk bepaal die houding van die opvoeder ten opsigte van die hoeveelheid, redelikheid en verskeidenheid van take wat van hom/haar verwag word (Kirsten, 2000:50).

ʼn Te hoë werkduk hou verband met stres in die werksituasie wat baie demotiverend vir die opvoeder is. ʼn Te lae werkdruk hou ook verband met stres (Fourie, 2001:64).

Werksontevredenheid ontstaan dan wanneer die opvoeder nie oor die vermoë beskik om ʼn sekere taak te verrig nie.

Te lae kwalitatiewe werkdruk as gevolg van die gebrek aan stimulering, lei tot ʼn lae moreel, ongemotiveerdheid, werksontevredenheid, depressie, irritasie en psigomatiese probleme. Te hoë kwantitatiewe werkdruk hou verband met fisieke of kognitiewe oorlading. Die werknemer moet te veel werk in te min tyd uitvoer, wat een van die belangrikste stresfaktore is. Te lae kwantitatiewe werkdruk lei tot psigologiese probleme. Te min werk kan tot verveling en onoplettendheid lei wat uiteindelik aanleiding gee tot stres.

2.9.2.7 MIV/VIGS

Suid-Afrika het die ergste VIGS-epidemie ter wêreld (Kieft, 2005:61). Jong mense en klein kinders is die groep waarop gefokus word ten opsigte van voorkoming omdat hierdie groep makliker bereik kan word vir MIV-voorkomingsprogramme. Die effek van MIV/VIGS op die onderwyssektor sal ongetwyfeld ʼn bykomende las word vir die opvoeder (Kieft, 2005:61).

Die werkslading van gesonde opvoeders sal toeneem omdat hulle die take van die siek opvoeder moet oorneem. Leerders wat geaffekteer is met MIV sal agter raak met hul studie. Die skool ly daaronder wanneer ʼn opvoeder of leerder omkom as gevolg van die siekte. Volgens Kieft (2005:61) sal die MIV-pandemie die onderwysstelsel op ten minste vier maniere beїnvloed:

a) groter getalle opvoeders en leerders sal sterwe,

b) die kwaliteit van onderwys sal afneem omdat minder ervare opvoeders sal oorbly,

c) die vraag na onderwys sal afneem omdat minder kinders permanent skool toe sal gaan en daar bly en

d) kostes in die onderwyssektor sal styg omdat meer plaasvervanger- en tydelike opvoeders vereis word.

2.9 2 .8 Verhouding met leerders

Die verhouding tussen die opvoeder en sy/haar leerders is baie belangrik vir beide die opvoeder en die leerder (Fourie, 2001:53). Die opvoeder is hoogs gemotiveerd wanneer hy/sy in interaksie is met sy/haar leerders asook deur die prestasie wat hy/sy deur hierdie interaksie behaal (Wevers & Steyn, 2002:207).

Goeie onderwys is onmoontlik sonder kommunikasie tussen die opvoeder en die leerder beide binne en buite die klaskamer. Die uitvoerbaarheid van kommunikasie word verminder indien een van die partye nie die onderrigtaal goed magtig is nie. Die taalmagtigheid van die leerder sowel as die opvoeder is uiters belangrik in die onderrigsituasie, nie slegs vir die uitbreiding van kennis nie, maar ook vir die ontwikkeling van gedagte. Kommunikasie is dus kritiek vir die insameling van kennis, vaardighede, kognitiewe ontwikkeling en dit kan die skolastiese ontwikkeling bevorder of vertraag (Masitsa et al., 2004:220). Kieft (2005:58) is verder van mening dat die houding van die leerder ten opsigte van leer, gedrag, prestasie en die opvoeder aanleiding gee tot werkstevredenheid/-ontevredenheid by die opvoeder.

Op die vraag waarom sommige opvoeders eintlik nog gemotiveerd en tevrede bly ondanks die vele negatiewe faktore, antwoord Vandenberghe (2004:179) dat vele opvoeders motivering put uit die kontak met jong mense. Die voorwaarde is egter dat daar orde in die klas moet heers sodat die opvoeder en die leerder goed kan funksioneer en dat die lesverloop glad is.

2.9.2.9 Samevatting

Uit bogenoemde blyk dit duidelik dat verskeie faktore aanleiding gee tot die opvoeder se werkstevredenheid/-ontevredenheid binne die klaskamer. Opvoeders se grootste motivering om te volhard in die beroep ondanks die die vele struikelblokke blyk hul kontak met jong mense te wees.