• No results found

Kollektiewe aksie deur onderwyservakbonde

HOOFSTUK 3: DIE AARD VAN ONDERWYSERVAKBONDE

3.2 HISTORIESE OORSIG-1652-1996

3.4.5 Kollektiewe aksie deur onderwyservakbonde

Dat onderwysers die reg het om beter salarisse te eis en daarvoor te beding is nie ʼn kwessie nie. Werkers se regte word immers in die Grondwet verskans en opvoeders het die reg op kollektiewe onderhandelinge en die reg om te staak (Carstens, 2007:1). Carstens meen egter dat die vraag ontstaan of die geweld en intimidasie deur sommige vakbondlede tydens stakings nie die onderwysprofessie ʼn slegte naam gee nie.

3.4.5.1.1 Die beeld van die professie

Carstens (2007:1) brei verder uit dat in ʼn land met ʼn oorwig disfunksionele skole, waar dissipline in die klaskamer ʼn probleem is, al hoe minder leerders lees- en syfervaardigheid het en skoolterreine al as oorlogsones beskryf is, sukkel dit reeds om nuwe bloed na dié beroep te trek. Opvoeders wat by ʼn skool instorm, die eksamen ontwrig, leerders dreig en hul eksamenvraestelle opskeur, ʼn skoolhoof wat deur haar kollegas aangerand is omdat sy „op haar pos was‟, leerkragte wat hul kollegas tot “eendrag maak mag “ oorhaal, ʼn elfjarige leerder wat byna voor ʼn laerskool raak geskiet is toe betogers op voertuie losgebrand het, is tonele van intimidasie en geweld wat afgespeel het in die landswye staking van staatsdienswerknemers, onder wie opvoeders, in hul salarisgeskil met die regering. Meneer Sipho Nkosi, leier van SADOU in KwaZulu-Natal het verklaar dat alle openbare instellings gedwing gaan word om te sluit. Hy het ook benadruk dat daar geen skool of onderrig sal plaasvind nie en dat selfs onafhanklike skole gesluit gaan word (Carstens, 2007:1). Opvoeders wat hulle skuldig maak aan geweld en intimidasie help nie om die beroep se beeld te verbeter nie. Krüger (2010:2) meen dat die ontwrigting, dreigemente en „bangmaaktaktiek‟ van party vakbondlede ʼn negatiewe gees en gesindheid by die land se inwoners teenoor die onderwysberoep skep. Onderwys is ʼn gegewe - hoe en wat elke opgeleide persoon daarvan maak, die beeld wat elkeen uitdra deur woord, optrede en gesindheid, sal die aansien van die onderwysberoep bepaal.

3.4.5.1.2 Die effek van stakings op die leerders en opvoeders

Carstens (2007:2) meen verder dat met meer as tagtig persent van die opvoeders wat aan die staking deelgeneem het, die skole en leerders die ergste geraak is. Met die matriek eindeksamen om die draai en opvoeders wat aan stakings deelgeneem het, word leerders nie geleentheid gebied om hul beste te lewer nie (Jacobs, 2010b:1; Retief, 2010:2). Leerders van ander grade is ook ten tyde van die staking besig om eksamen te skryf (Krüger, 2010:1). Hoofde moes onmiddellik klasse ontruim en leerders huis toe stuur uit vrees vir hulle veiligheid. ʼn Graad twaalf-leerder het verklaar dat die toekoms deur die stakings ontwrig word en dat hulle, die klas van 2010, die toekoms is (Cloete, 2010:1). Die vraag wat die leerder nie kon begryp nie, was waarom haar landsburgers nie oor die toekoms van hul land bekommerd was nie. Die stres, angs en onsekerheid was onbeskryflik toe leerders die geraas en oproerige stakers buite hul skool gewaar. Cloete berig dat leerders vir die eerste keer bang was om by hul skool te wees. Die drade is geruk en pluk en die opvoeders en veiligheidseenhede het op die terrein gestaan om te keer dat die stakers die perseel betree. Ten spyte van mooipraat het die stakers oor die draad geklim en die skoolterrein binnegestroom met die bevel dat die skool onmiddellik ontruim moes word. Cloete berig verder dat leerders histeries en in trane van vrees en skok was. Die stakers het gedreig dat

indien die skool nie onmiddellik verdaag nie, hulle die gebou sou plunder (Cloete, 2010:2). Leerders is van mening dat dit onprofessioneel is om skole te ontwrig en leerders te keer om te leer asook dat dit onregverdig is om hul beperkte skooltyd van hulle af te neem (Cloete, 2010:2). Retief (2010:2) is ook van mening dat die rebelse beeldmateriaal op televisie die boodskap aan leerders oordra dat indien jy nie jou sin kry nie, jy alles om jou mag breek en afbrand. Opvoeders is per slot van sake opgevoede mense en nie barbare nie. As dit by opvoeding kom, moet die leerder se reg tot onderwys voorkeur geniet (Retief, 2010:1). Die outeur berig verder dat die nuwe Suid-Afrika se leiers nie in die arm kind belangstel nie omdat die meeste van hul kinders nie in staatskole is nie; inteendeel, hul kinders is in privaatskole en het hulle geen idee hoe negatief ʼn staking leerders affekteer nie. Die kinders vir wie daar in die apartheidsjare geveg is en aan wie ʼn kans gegee wou word, is einste kinders wat die ergste onder stakings ly. Retief meen dat onderwys dieselfde prioriteit behoort te kry as ʼn noodsaaklike diens soos byvoorbeeld verpleging, omdat onderwys vanuit ʼn leerder se oogpunt ʼn noodsaaklike diens is. Dit is immers die leerder se grondwetlike reg. Uit vrees dat hul kinders intimideer of selfs aangerand mag word indien hulle nie die staking steun nie, hou ouers hul kinders by die huis (Retief, 2010:2). Van die leerders uit die swart woonbuurte was vir die duur van die staking nie by die skool nie weens intimidasie (Krüger, 2010:1).

Party opvoeders het dit ook nie makliker as die leerders nie. Krüger (2010:1) berig dat opvoeders tydens stakings dieselfde intimidasie en dreigemente as leerders ervaar. Tydens die staking in Augustus 2010 het twee voertuie byvoorbeeld by skole in die dorp omgegaan en gedreig dat opvoeders en leerders die perseel moes verlaat. Al die skole het met hul beheerliggame in verbinding getree, waarop besluit is om die skole om veiligheidsredes vir twee dae te sluit.

3.4.5.1 3 Redes waarom opvoeders staak

Retief (2010:2) berig volgens ʼn skoolhoof, dat hy fisiek naar voel elke maandeinde as sy opvoeders se salarisstrokies op sy lessenaar beland. Van sy opvoeders werk al meer as twintig jaar, maar verdien vyftienduisend rand ʼn maand. Hy meen dat hul ondervinding heeltemal misgekyk word. Hyself neem vierduisend vyfhonderd rand huis toe na aftrekkings. Onderwyssalarisse hou nie tred met die stygende lewensduurte nie. Die staat se aanbod getuig van minagting teenoor die beroep (Krüger, 2010:2; Kruger, 2010:1). Dit is ʼn absolute belediging vir opvoeders (Kruger, 2010:1). Hy verklaar dat opvoeders die aanbiedings as ʼn klap in die gesig ervaar, veral omdat hul moreel op ʼn laagtepunt is. Dit bly ʼn raaisel vir die outeur hoedat daar vir skoonmakers en straatveërs om dieselfde tafel onderhandel word as vir professionele beroepe soos onderwys.

Benewens salaris, word daar ook van opvoeders verwag om onderwysstelsels soos Uitkomsgebaseerde Onderwysstelsel (UGO) toe pas, ten spyte daarvan dat opvoeders goed weet dat die stelsel die leerders benadeel. UGO het groter druk op opvoeders geplaas eerder as wat dit hulle ontwikkel het (Kruger, 2010:1). Retief (2010:3) vul aan dat hierdie onredelike eise van die werkgewer opvoeders se houding teenoor hul werk negatief beïnvloed. Opvoeders se professionele etos word benadeel. Tans het leerders ook meer regte en opvoeders se hande is afgekap wanneer dit by dissipline van leerders kom. Onderwys geniet ook nie meer dieselfde respek en agting as in die verlede nie. Ouers skuif ook al hoe meer die taak van huishoudelike opvoeding op die opvoeder af.

Opvoeders staak, nie omdat hulle nie vir leerders omgee nie, maar omdat hulle dit as ʼn daadwerklike poging sien om die regering te laat luister (Kruger, 2010:1). Daarom ook die tydsberekening, die tyd van die jaar wat die regering sal dwing om iets omtrent hul eise te doen.

3.4.6 SAMEVATTING

Uit bogenoemde is dit duidelik dat kollektiewe aksie deur onderwyservakbonde groot nadele inhou vir die onderwysprofessie. Nie slegs het dit ʼn negatiewe uitbeelding van die professie as sulks nie dit hou ook nadelige gevolge vir beide leerders en opvoeders in. Dit blyk duidelik dat opvoeders staak omdat hulle die regering wil laat luister na hul ontevredenheid, daarom die tydsberekening van stakings.

3.5 SAMEVATTING

Hierdie hoofstuk gee ʼn historiese oorsig oor hoe vakbonde tot stand gekom het. Dit verduidelik ook hoe vakbonde in die algemeen asook onderwyservakbonde in besonder funksioneer. Die invloed van kollektiewe aksie op die skool, opvoeders en leerders word ook uitgelig. Hoofstuk 4 brei uit op die navorsingsmetodologie. Onderhoude met opvoeders uit die drie grootste vakbonde SADOU, SAOU en NAPTOSA gaan analiseer word om hul betrokkenheid tot groter werkstevredenheid van hul lede te bepaal.

HOOFSTUK 4