• No results found

HOOFSTUK 1: INLEIDING TOT DIE NAVORSINGSONDERWERP

1.5 PROBLEEMSTELLING

Die middeljarige wit Afrikaanse man beleef ʼn uitdagende situasie wat die werksplek betref. Hierdie teikengroep van die studie is juis die groep wat blyk in die spervuur van die meeste verpligte afleggings te staan.

Daar is nie konsensus presies wanneer die middeljare begin nie. Hermans en Oles (1999:1401) definieer die middeljare as ’n transisie tydperk: Dit word deur hulle as ’n periode van die herorganisering van persoonlike betekenis beskryf sonder dat daar enige tekens van ernstige nood is. In die middeljare is daar ’n verskuiwing in hoe die man homself en sy lewe beskou. Oles (1999:1059) sien hierdie skuif nie bloot as iets wat gemaklik kom nie. Middeljare is ’n enorme uitdaging vir die man.

Lachman (2001:XX) toon aan dat die feit dat die wêreld oor die afgelope 30 jaar verander het, dat persone tussen 40 en 60 as middeljarig gesien word, met ʼn 10 jaar variasie aan albei kante. McCaughey (2003:13) stem hiermee saam en beweer dat daar nie meer ʼn eenvoudige definisie vir middelvolwassenheid gegee kan word nie. Volgens haar is middelvolwassenheid die langste en mees komplekse en betekenisvolle tydperk wat ons as volwassenes sal beleef.

Om afgelê te word by die werk, skep geweldige trauma veral as gevolg van die geskiedenis van Suid-Afrika. Wit Afrikaanse mans in hul middeljare word in die lig van

16 nasionale oogmerke en in sensitiewe verhouding tot die sakesektor nie meer so geredelik in diens geneem nie (Fischer, 1996:30). As hul in hul middeljare werksverlies beleef, het hul steeds baie verantwoordelikhede, byvoorbeeld huispaaiement, motorpaaiement en skoolgelde (Feather, 1989:175-185; Leana & Feldman, 1990:1151- 1181). Hul ouers is ook in ʼn gevorderde lewensstadium waartydens hul meermale finansiële hulp benodig. Wit Afrikaanse mans word ook groot vanuit hul kultuur dat hul die broodwinners (Malina, 2001:39) moet wees wat verdere druk plaas. Die verlies aan status, inkomste en sekuriteit het ʼn traumatiese effek op die persoon se selfkonsep en identiteit.

1.5.1 Trauma van die afleggingsproses

Doster (1996:1) verwys na werk as fundamenteel tot die emosionele en finansiële welstand van ʼn persoon. Volgens Doster (1996:1) is werk die fondasie waarop die man sy lewe baseer.

Wanneer iemand vervolgens afgelê word, is worstelinge soos die volgende aan die orde: Hoe ervaar die wit Afrikaanse man hierdie traumatiese gebeurtenis? Hoe kan hul ʼn nuwe verhaal uit hul verlies konstrueer? Is dit moontlik om, na verpligte aflegging, weer anders na die self te kyk?

Psigologiese simptome soos depressie, angs, woede en vyandigheid, skuld, hipersensitiwiteit, hoofpyne en spysverteringsprobleme word as elemente beskryf wat met verpligte aflegging by die werksplek te doen het (Guindon & Smith, 2002:73-82; Murray, 2001: 219-241).

Murphy en Athanasou (1999:83-99) het navorsing oor die verhouding tussen die verandering in indiensnemingstatus en die persoon se psigologiese welstand gedoen. Hul het bevind dat mense wat hul werk verloor het, se psigologiese welstand definitief negatief beïnvloed word. Metings van depressie, angs en algemene gesondheid is hoër vir persone wat hul werk verloor het as persone wat in die werksmag is.

Dit is duidelik dat persone wat gedwing word om afgelê te word, negatief hierdeur geraak word. Die rede hiervoor is dat werk ʼn substansiële deel van ’n mens se identiteit is (Super, 1990: 200). Deur te werk het die werknemer ’n geleentheid om homself op te bou, hetsy deur finansies of ’n gevoel van waarde en selfvervulling. Sosiale

17 verhoudinge met persone by die werk asook die werker se status bou die man op. Daarmee saam voel die werknemer ook deel van ’n span wat sekere doelwitte moet bereik (Mallinckrodt & Fretz, 2002:281-286).

Hierdie argument toon duidelik dat persone wat deur die proses van verpligte werksverlies gaan ook deur ’n rouproses beweeg. Hierdie persone gaan deur dieper trauma as wat op die oog af gesien word. Verpligte werksverliese is baie meer kompleks en toon selfs ook emosies wat tydens die verlies by dood ervaar word. Daar is aspekte wat in die verlies van ’n eggenoot en die verlies van werk (verpligte aflegging) gedeel word. Trolley (1994:285-300) wys op ooreenkomste tussen verpligte werksverlies en verlies aan dood en hy oordeel dat daar wel ’n brug te slaan is tussen hierdie twee verliese. Hy toon aan dat die verlies van lewe en van werk albei ’n verlies is waar die persoon nie in beheer is nie. Vervolgens lei dit tot woede, skuld, herspeel in die gedagtes (herkou van wat hier gebeur het) en sosiale isolasie. Wanhoop, somatiese probleme en ’n soeke na wie jy werklik is, is ook reaksies wat ooreenstem.

In hierdie studie, is dit wat die middeljarige wit Afrikaanse man beleef tydens aflegging verdiskonteer in die gespreksgenote se unieke verhale by aflegging. Dit het die navorser gehelp om vrae aan die persoon te stel wat sy werk verloor het. Hierdie vrae kom meer in besonderhede aan die orde in Hoofstuk 2.

Vrae wat aan die gespreksgenote gestel is, was byvoorbeeld om ʼn verhaal van frustrasie, ’n verhaal van ’n doodloopstraat, ten opsigte van die aflegging, te deel.

 Hoe dink jy as wit Afrikaanse man oor werk?

 Wat sou ander mense wat in verhouding tot jou staan, oor die aflegging sê?

 Wat was jou eerste gedagtes en gevoelens toe jy hoor jy gaan afgelê word?

 Maak dit ʼn verskil dat jy in jou middeljare is, toe jy jou werk verloor het?

Die studie het aangedui waardeur die wit Afrikaanse man wat sy werk, as gevolg van verpligte aflegging verloor, moet werk. Hierdie navorsing help om ʼn dominante verhaal, soos dit ook verskillend in elke persoon se verhaal uitgespeel het, te kon blootlê sodat die gespreksgenoot homself daarteenoor kon posisioneer. Dit was interessant om die narratief van die gespreksgenote te beleef en in hoe ʼn mate daar raakvlakke tussen mekaar se verhale was. Die studie het unieke of voorkeur uitkomste, so genoem na

18 aanleiding van ’n narratiewe benadering, aangedui om hierdie groep pastoraal by te staan om hierdie prosesse en emosies te kan hanteer.