• No results found

Primêre voorsiener in terme van behuising, voedsel, kleding en skoolfonds

HOOFSTUK 2: DIE BESKRYWENDE-EMPIRIESE TAAK

2.6 DATAGROEPERING

2.7.1 Subtema 1: Karaktereienskappe van die middeljarige wit Afrikaanse man tydens

2.7.1.2 Primêre voorsiener in terme van behuising, voedsel, kleding en skoolfonds

Onder die subtema van die karaktereienskappe van die middeljarige wit Afrikaner man word sy siening as primêre voorsiener van sy gesin in terme van behuising, voedsel, kleding en skoolfonds oftewel tersiêre kostes besoek. Daar word ook oor die middeljarige wit Afrikaanse man se sienswyse as die hoof van die gesin besin.

ʼn Uiters belangrike faset van die middeljarige wit Afrikaanse man, is die feit dat hy homself as die primêre voorsiener van die gesin beskou en wat in die Afrikaner volksmond as die broodwinner bekend staan.

Die gespreksgenote het die volgende verhale oor hul rol as primêre voorsiener vertel:

69 In die verhale van die volgende gespreksgenote kon die besorgdheid gehoor word van desperate bekommernis oor hul vrou en hul kinders wat behuising betref. Volgens die gespreksgenote is daar ʼn voortdurende stryd om huurgeld te bekom en laat dit hulle voel of hulle nie in die behoefte kan voorsien nie.

“Ek kan nie meer ʼn dak oor my vrou en kinders se kop sit nie. Soos ek hier sit moet ek nog die huur betaal. Ek kan nie die huur betaal nie en die eienaar het my verlede maand gedreig dat hy my bene gaan afskiet as ek nie betaal nie en dit bou alles spanning en stres. Dit leef in jou agterkop die hele tyd. Om jou werk te verloor het ʼn helse effek.” – Gespreksgenoot 1.

“Vir sommige mense is dit aanvaarbaar om in ʼn huis of ʼn woonstel te woon maar dit is nie aanvaarbaar om onder ʼn boom te woon nie. As jy jou met sekere norms assosieer moet jy daaraan voldoen. As hierdie norm is om in ʼn huis te bly dan moet ek dit voorsien.” – Gespreksgenoot 3

“Die man is die voorsiener en hy moet sorg vir ʼn dak oor sy gesin se kop, klere en die behoeftes van die gesin. Ek kan nie meer voorsien nie en dit maak jou terneergedruk” -Gespreksgenoot 4

2.7.1.2.2 Voedsel, kleding, skoolfonds en tersiêre kostes

Om vir sy gesin te voorsien is ʼn primêre rol van die man en uitdrukking word hier gegee waar gespreksgenote nie die vermoë het om te kan voorsien nie. Dit het ʼn effek op die man se selfbeeld en hy is ook bewus dat dit ook ʼn negatiewe effek op sy vrou en kinders het, in die hede maar ook vir die toekoms. Die man voel dat hy sy familie faal as hy nie voedsel, kleding, skoolfonds of tersiêre kostes kan voorsien nie.

“Die man is die persoon wat moet voorsien vir die gesin. Dit is vir my moeilik want my seun het “toks” nodig en ek kan nie dit vir hom koop nie. Dit maak my stukkend. Al sy vriende het “toks” maar ek kan nie dit vir hom gee nie. Dit maak dat ek wil handdoek ingooi.” – Gespreksgenoot 1

70 (In die narratiewe benadering is die nieverbale kommunikasie belangrik want ook dit is deel van gespreksgenoot 1 se verhaal. Gespreksgenoot 1 is duidelik hieroor aangedaan en die trane sit vlak.)

“Elke keer as my kinders my iets vra en ek kan nie voorsien nie, is dit of ʼn koeël my tref”- Gespreksgenoot 1

“Dit tref my die ergste as ek dink aan my seun van 17. Sy toekoms begin nou en as hy oor drie jaar matriek skryf moet hy R100 000 hê vir die begin van Universiteit. Alles waarvoor ek baklei het, is weg. Hier is ʼn reguit pad vir jou en jy val in ʼn gat en daar is niks. Jou verlies is nie net jou verlies nie maar dit is ook my kinders se verlies. Hulle drome is weg. Jou pa en ma moet jou ʼn “boost” gee maar jy is in ʼn gat.” – Gespreksgenoot 1

“Werk beteken vir my om inkomste te verkry om in die behoeftes van my familie te voorsien soos voedsel, huisvesting, kleding en veiligheid.” – Gespreksgenoot 2

“Werk is om vir my gesin te sorg en ook die lewe vir jou makliker en beter te maak. In die Bybel staan daar dat God dit van jou verwag om te werk. Jy kan nie net op jou louere sit en niks doen nie en dat jy geseën sal wees as jy hard werk.” – Gespreksgenoot 6

“Ons is so grootgemaak, jy moet sorg vir jou gesin. Jy is die een na wie daar gekyk word om te voorsien. My vrou het weer begin werk nadat sy jare nie gewerk het nie maar dit is deel van die herstelperiode. Ons natuur is om te sorg vir ons gesin, ek sal graag wou hê my vrou moet by my kinders wees, by die huis wees, en kyk dat die kinders emosioneel reg is.” – Gespreksgenoot 7

“As daar nuwe goed in die huis aangekoop moet word, vat dit aan jou, want daar is nie geld nie. Nuwe swembroeke en goed, ons wurg elke maand om daar deur te kom. Jy draai jou tiekie om, om iets bymekaar te sit van niks af nie. Ons is heeltemal te trots, maar dit kom van ons weermag dae.”- Gespreksgenoot 7

71 Daar is duidelik ʼn verskuiwing ook van grense wat die man as voorsiener betref. Hoewel die meeste mans te kenne gee dat hul die primêre voorsiener moet wees, is daar wel ʼn verskuiwing. Gespreksgenoot 8 vertel ʼn verhaal van eerder ʼn vennootskap tussen hom en sy vrou en dat hulle saam sorg dra vir die gesin. Onderliggend spreek hy hom uit dat hy nog steeds die druk ervaar om te voorsien, al word dit nie op die voorgrond geplaas nie.

“Ek dink ons sit nog altyd met ons Afrikaner mentaliteit van patriargale denke. As ʼn Afrikaner man nie sy gesin kan versorg nie, beskou hy homself as iemand wat sy familie faal. Dit is ʼn baie groot ding. Jy moet ʼn verhouding met jou eggenote hê, dat dit ʼn gesamentlike poging is. Ek en my vrou het nog nooit jou geld en my geld gehad nie. Dis ons geld. Ons is meer in ʼn vennootskap, maar jy voel nog steeds die druk dat jy moet voorsien. Ek is nog steeds die grootste broodwinner, ten spyte van ons moeilike tyd. 90% van die inkomste kom nog steeds van my kant af. Jy moet weet, vir 5 maande het ek vir onderhoude gegaan en hoop geplaas op onderhoude. Tot ek besef het, ek moet iets doen. In daardie proses moes ek die familie, kinders bymekaar kry en vir hulle sê, julle moet nou verstaan. Ons het net hierdie pakkie, ons is in die hemelse Vader se hand en ons moet op mekaar vertrou. Ons het ons koste sodanig gesny sodat ons met die bietjie koste kan oorleef. Kinders moet eet, by die skole gekry word, skoolklere en dit kon ons grootliks met beperkinge konsolideer. Dit is ʼn vennootskap. Almal moet saam werk. As hulle dit nie verstaan nie, raak die druk al groter op jou as man, die paniek word groter. Dit is krities, ons moes konsolideer en aanpassings maak.” – Gespreksgenoot 8

Vir Gespreksgenoot 9 is dit duidelik dat hy nie meer die broodwinner en die primêre versorger is nie.

“Die Afrikaanse man is nie meer altyd die broodwinner nie. Dit het so bietjie geskuif. In my huis is my vrou die broodwinner, al vir ʼn lang tyd.” – Gespreksgenoot 9

72 Die gespreksgenote vertel ʼn verhaal van ʼn verwagting wat sy vrou en kinders van hom het en hy kan nie aan die verwagting as hoof van die huis voldoen nie.

“Alles lyk “fine” [van buite af], maar ek is verpletterd. Ek is stukkend. Ek kan nie vir my vrou en kinders sorg nie. Jy "worry" hoe jy vir hulle ʼn dak oor hulle koppe gee? Wat gaan jy doen om vir hulle die lewe makliker te maak? Ek is die hoof van die gesin. Hulle kyk na my as hulle koud kry. Dit is so goed jy stap in ʼn leeuhok en jy is weerloos, niks seggenskap nie, jy het nie krag om terug te baklei nie.” – Gespreksgenoot 1

“Die man is die hoof van die gesin en ek hou glad nie daarvan dat my vrou werk nie, want dit kom daarop neer dat my rol as man en vader geskend word. Vir baie jare was my vrou ʼn huisvrou en daar was ʼn rustiger atmosfeer in die huis en die kinders het beter op skool gedoen. Naweke was ook rustiger.” – Gespreksgenoot 2.

“Ek het groot geword in ʼn familie en tyd waar mans gewerk het om na hul gesinne om te sien. Mans is die broodwinners van die gesin. Ek moet voorsien aan my gesin se behoeftes.” – Gespreksgenoot 3

“Broodwinner wees, hoof van die gesin, daai klas van goed.” – Gespreksgenoot 5

Een van die gespreksgenote het weer in sy verhaal te kenne gegee dat daar ʼn skuif in die tradisionele siening van man wees, soos bo vermeld, gekom het. Daar is ʼn deelnemende besluitneming in die huishouding en sy verhaal is dat mans nie meer so homogeen soos in die verlede is nie.

“Ek weet nie meer of jy die Afrikaanse man meer kan vasvat nie want daar is baie wat uit die kas begin klim, wat ʼn nuwe ding is. Ek dink jy kry nog die tradisionele siening van die man wat die baas van die huis is, hy is in beheer en die vrou se deelname in die besluite is, ek stem saam met jou my man. Jy kry dit, maar jy kry ook ander wat meer deelnemend is. Ons [die wit Afrikaanse man] het geleer om by mekaar aan te pas – elke doen sy ding op sy eie manier. Ons doen

73 deesdae as manne dinge anders en verskillend en dit maak nie een van die manne verkeerd nie. Daar is nie meer so homogene groep om te wys, so lyk die Afrikaner man nie. Dit is baie anders as die tradisionele siening, ek sien dit ook by my pelle.” – Gespreksgenoot 5

2.8 HOOFTEMA 2: WERKSBESKOUING VAN DIE MIDDELJARIGE WIT