• No results found

HOOFSTUK 2: DIE BESKRYWENDE-EMPIRIESE TAAK

2.4 NAVORSINGSMETODE

Narratiewe navorsing word deur Lieblich, Tuval-Mashiach en Zilber (1998:2) beskryf as enige studie wat narratiewe materiaal gebruik of analiseer. Hulle dui aan dat die inligting versamel word as ʼn lewensverhaal wat in onderhoude vertel word. Hierdie lewensverhale word die objek van die navorsing. Die gespreksinligting is by wyse van individuele onderhoude ingesamel. Die benadering wat gevolg is, is die narratiewe benadering. Dit is by wyse van semi-gestruktureerde onderhoude gedoen met sekere vrae wat vir al die gespreksgenote ooreenstem. Ander vrae het binne die oogmerk van narratiewe gesprekvoering voortgevloei. Die sogenaamde respondente word binne die narratiewe benadering as gespreksgenote gesien (Rubin & Rubin, 2005:27).

Kwalitatiewe onderhoude vanuit die narratiewe benadering fokus daarop dat die gespreksgenote nie bloot net ʼn objek van studie is nie, maar mense met gevoelens, persoonlikheid, ervaringe en taal is. Hierdie proses is een waarin gespreksgenote soveel as moontlik betrek word. In die narratiewe navorsingsparadigma het die navorser nie geheime kennis of metodes nie. Dit gaan eerder in hierdie tipe interpretatiewe analise oor die versmelting van horisonne tussen die wêreld van die navorser, gespreksgenoot, ander betrokkenes en dissiplines; die holistiese hantering van gegewens; en die gespreksgenoot as sleutelfiguur.

Stewart et al. (2007:109-110) wys daarop dat wanneer besluite vinnig geneem moet word of die gevolgtrekkings van die navorsing redelik eenvoudig is, mag notas en ʼn opsomming al wees wat nodig is. Die volgende take word deur Debus (1989:52-53),

34 Greeff (2005:304), Onwuegbuzie et al. (2009:5-8) en Stewart et al. (2007:109-125) uitgewys; dit staan in verband met die analiseringsproses van die inligting wat verkry is:

 Doen ʼn beraming van die hoeveelheid tyd wat nodig gaan wees om die analise van die inligting te doen.

 Organiseer die veldnotas, digitale opnames, transkripsies en ander inligting.

 Luister weer na digitale opnames en lees notas.

 Bestudeer die verhale (in die Narratiewe navorsing word op verhale gefokus ) om die hoofgevolgtrekkings vir die indeling van die temas en subtemas te maak.

 Voeg afsonderlike elemente saam om 'n sintese te bereik.

2.4.1 Navorsingsomgewing

Die inligting is by wyse van onderhoude in Gauteng asook in Kaapstad bekom. Die Gauteng en Kaapstad onderhoude is by ʼn geskikte plek, soos deur die gespreksgenote verkies is, gehou.

Daar is ook van elektroniese wyses, byvoorbeeld e-pos, gebruik gemaak om meer duidelikheid oor die verhale van die gespreksgenote te verkry. Dit handel hier egter nie bloot om duidelikheid nie, maar voldoen ook aan narratiewe navorsingsgeldigheid van reflektiwiteit waarin nuwe moontlikhede groei en in die normatiewe en pragmatiese taak uitmond.

2.4.2 Metode van data insameling

Responsiewe, semi-gestruktureerde individuele onderhoude is met die gespreksgenote gevoer. Hierdie onderhoude is ook digitaal opgeneem met die nodige toestemming (Bylae A). Sake wat nog onduidelik was en wat verder uitgebou is, is via e-pos verder uitgeklaar.

2.4.2.1 Groepe, Steekproef en steekproefgrootte a) Groepe

35 Die navorsing het betrekking op die middeljarige wit Afrikaanse man wat sy werk, as gevolg van verpligte aflegging, verloor het.

b) Voorgestelde grootte van groep en motivering

Volgens Krueger en Casey (2009:68) en Morgan (1997:42) voorsien minder gespreksgenote beter omvattende insig wanneer die navorsing ten doel het om ʼn groter begrip van mense se ondervindinge te verkry en wanneer duideliker insig van elke persoon se reaksie tot ʼn onderwerp verlang word. Die gespreksgenote se onderhoude is as individue gevoer en nie as deel van ʼn groep nie.

Die voorgestelde gespreksgenote het uit nege (9) middeljarige wit Afrikaanse mans bestaan wat deur verpligte werksverlies gegaan het. As gevolg van die narratiewe aard van hierdie studie sal slegs twee van hierdie verhale diepgrondig verken word. Die navorsing is van diepte afhanklik eerder as om slegs bloot aan die oppervlak te raak. Twee persone wat in die Wes-Kaap woonagtig is, is geïdentifiseer, wat gesprekvoering meer toeganklik gemaak het. Die fokusgroep (“Population”) is persone wat aflegging ervaar het en wat wit Afrikaanse middeljarige mans is. Die populasie gee ter selfde tyd uitdrukking aan die gedagte van ʼn doelgerigte steekproef (“Purposive sampling”) omdat vier kenmerke in die populasie aanwesig moet wees, naamlik: taal, ras, ontwikkelingsfase, en geslag.

c) Die proses van werwing

ʼn Onafhanklike navorser het die gespreksgenote via ʼn advertensie genader wat binne die skopus van hierdie studie val. Die advertensie se bewoording in gemeentebulletins het soos volg daaruit gesien: Afrikaanse mans wat hulle werk verloor het as gevolg van verpligte aflegging, wat in die skopus groep van middeljarig en wit val, word benodig vir navorsing. Kontakbesonderhede van die onafhanklike navorser is hierby gevoeg.

2.4.3 Data analisemetode

Flinspach (2001:23) fokus op interpreterende analise. Sy toon aan dat navorsers by die formulering van ʼn vraag begin. Die vraag reflekteer wat die spesifieke navorsing behels. Die vraag/vrae skep ook die parameters en die skopus van die studie. Die omvang van

36 die literatuur is nie altyd dieselfde as wat in die onderhoude beskryf word nie. Om meer duidelikheid te kry, is die vrae ook gewysig (“reframe”) om meer insig en inligting te verkry. Soms lei dit tot die wysiging van die onderwerp of verfyning daarvan. Die navorsers ontwikkel hul interpreterende analise (“interpretive analysis”) om die vraag te beantwoord. Die interpreterende analise, veral aan die begin van die gesprek, kan meebring dat sekere vrae beïnvloed word. Die navorser analiseer en interpreteer hierdie verhale (inligting) in terme van sy studieveld. In die teks beskryf die navorser soos hy betekenis aan die verhaal gee wat aan hom gekommunikeer is. Vanuit die narratiewe benadering word daar seker gemaak dat die betekenis van die verhaal deur die gespreksgenote juis geïnterpreteer word. Dit vind plaas deur reflektief te werk om seker te maak wat die betekenis daarvan vir die gespreksgenoot is.

Dit gee geleentheid aan die primêre navorser om ʼn geleentheid vir refleksie op die onderhoude te skep en om deur gesprekvoering seker te maak dat hy reg gehoor en geïnterpreteer het (Rubin & Rubin, 2005:31).

2.4.4 Die rol van die navorser

Die navorser moet volgens Pienaar (2012:1) van sy kultuur, godsdiens asook ander invloede wat moontlik as positief of negatief beleef kan word, bewus wees. Die navorser kan homself nie van sy kultuur en ervaringe losmaak nie (Pienaar, 2012:3). Vervolgens toon Pienaar aan dat die navorser sensitief vir magsdiskoerse moet wees, veral vanuit die gedagte dat die navorser die sogenaamde professionele persoon is. Die navorser kan nie sonder enige invloed binne die proses wees nie, maar moet ʼn intensionele gedesentraliseerde posisie kies.

Elke navorser is uniek. Die navorser moet homself verstaan. Pienaar noem dit “constructing oneself”. Hy dui aan dat die taak van die outobiografie vir die teoloog in hierdie sin nie ʼn luukse is nie, maar ʼn noodsaaklikheid; nie net vir die verstaan van sy eie teologie nie, maar hoofsaaklik vir die konstruksie daarvan (Pienaar, 2012:7). Die navorser moet ook van sy eie bevolkingsgroep of die sogenaamde “whiteness” bewus wees. Steyn verklaar “whiteness” as:

I believe it is best understood as an ideologically supported social positionality that has accrued to people of European descent as a consequence of the

37 economic and political advantage gained during and subsequent to European colonial expansion (Steyn, 2001:121).

Müller (2016:6) wys daarop dat die navorser konstant bewus moet wees wat hy na die proses, as gevolg van sy eie bevolkingsgroep, bring. Dit is duidelik dat die navorser van sy eie diskoerse bewus moet wees terwyl hy besig met navorsing is sodat hy nie die navorsing in ʼn sekere rigting stuur nie. Die narratiewe benadering is in hierdie navorsing gekies sodat die klem geplaas word om te luister vanuit ʼn “nie-weet-nie” posisie.

Die navorser se rol is om stories uit te lok (Pienaar, 2014:4). Hierdie stories handel oor die gespreksgenoot se lewe, sy familie, kultuur en hoe hierdie sake met mekaar in verband staan. Pienaar (2014:4) wys daarop dat die navorser ʼn veilige ruimte moet skep sodat die verhale vertel en hervertel kan word. Müller (2009:212) tipeer hierdie ruimte as ʼn veilige maar ook ʼn brose ruimte.

Labuschagne (2008:148) wys daarop dat outo-etnograwe uit die begrippe outo (self), etnos (kultuur) en grafie (skryf) saamgestel is en dit dui op die skryfproses aangaande persoonlike ervaring binne bepaalde omstandighede. Brunsdon en Lotter (2011:3) wys daarop dat Chang (2008:54) vyf kritiese areas geïdentifiseer het waaroor outo- etnograwe hulself gereeld moet verantwoord:

1. Word daar nie deur die skrywer of navorser te veel op die self in isolasie van ander gefokus nie?

2. Daar moet ʼn balans ten opsigte van die analise en interpretasie van die kulturele verhouding wees en daarom moet daar versigtig omgegaan word om nie te veel aandag aan die narratiewe proses te gee nie.

3. Voortdurend moet die navorser/skrywer homself afvra of hy net op sy eie geheue staatgemaak het?

4. Is daar deurlopend in die verwysingproses eties en korrek opgetree?

5. Is die term outo-etnografie deurgaans korrek aangewend?

Etiese aspekte rakende die beskerming van privaatheid en toestemming tot publikasie van navorsingsresultate vir hierdie studie is volgens die riglyne en beleid van die

38 Etiekkomitee vir navorsingsetiek van die Noordwes Universiteit hanteer (Handleiding vir meestersgraad- en doktorale studie, 2013:26-28).

Die navorser het die voorgeskrewe etiese goedkeuring by die Etiekkomitee van die Fakulteit Teologie (NWU-00236-18-A6) aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit verkry.

Die gespreksgenote is voor die studie deeglik oor die doel van die navorsing ingelig, die prosedures wat gevolg sou word, asook wat die moontlike voor- en/of nadele mag wees. Gespreksgenote het self besluit of hulle aan hierdie studie wou deelneem en die opsie is aan hulle gegee om op enige tydstip hul deelname aan die navorsing te staak. Die onderhoudvoering is vertroulik tussen die primêre navorser en die gespreksgenote. Privaatheid impliseer die element van persoonlike privaatheid wat gerespekteer word, terwyl vertroulikheid op die hantering van inligting en identiteit op ʼn vertroulike wyse dui (Strydom, 2005:61). Die onafhanklike navorser verkry elke gespreksgenoot se toestemming en respekteer elkeen se reg tot privaatheid. Die navorser sal alle gespreksgenoot se inligting op ʼn vertroulike manier hanteer deur hul anonimiteit te beskerm. Daar is op so wyse met die inligting omgegaan dat die gespreksgenote nie herkenbaar en identifiseerbaar is nie.

2.5 ETIESE OORWEGINGS/IMPLIKASIES OP DIE NAVORSING