• No results found

Kenmerke van die middeljarige wit Afrikaanse man tydens verpligte aflegging

HOOFSTUK 2: DIE BESKRYWENDE-EMPIRIESE TAAK

2.6 DATAGROEPERING

2.7.1 Subtema 1: Karaktereienskappe van die middeljarige wit Afrikaanse man tydens

2.7.1.1 Kenmerke van die middeljarige wit Afrikaanse man tydens verpligte aflegging

Vanuit die gesprekke met die gespreksgenote is dit duidelik dat die middeljarige wit Afrikaanse man homself as iemand vereenselwig wat met dissipline, respek en trots grootgemaak is en hierdie trots en respek moet teenoor die medemens uitgeleef word. Hy is ook iemand wat nie sy emosies wys nie, hy moet sterk staan en krisisse absorbeer. Die wit Afrikaanse man is veerkragtig en kan planne beraam as ʼn krisis voorhande is.

2.7.1.1.1 Dissipline

Die gespreksgenote vertel dat hul streng grootgeword het. Dissipline was belangrik en hy moes luister wat sy ouers vir hom sê. Hierdie dissipline is ook tydens skool en militêre diensplig ervaar.

65 “Dissipline was die “ultimate”. Ek het dit geleer vanuit die militêre diensplig en die skool waar ek was. Jy moes geluister het.” – Gespreksgenoot 6

“Jy luister en doen wat vir jou gesê word. Ons het baie streng grootgeraak. Jy moet jou ouers eer.” – Gespreksgenoot 6

“Daar was dissipline, ons het meer modern geraak, maar my dogter weet tot watter punt sy my kan dryf. Ons het baie Calvinisties grootgeword, baie streng grootgeword.” – Gespreksgenoot 8

Daar is ook ʼn gespreksgenoot wat voel dat dissipline nie meer so ʼn sterk rol soos in die verlede speel nie.

"Ons is nie meer so erg oor dissipline nie, ons het baie verslap in ons manier van doen." – Gespreksgenoot 8

2.7.1.1.2 Respek

Die gespreksgenote deel dat respek een van die kenmerke van die middeljarige wit Afrikaanse man is. Dit is hoe hy grootgemaak is, nie net ten opsigte van ouer persone nie maar ook in die werksopset.

“Jy moes respek vir ouer mense toon. Die respek is nie meer daar nie, mense word vermoor vir ʼn selfoon.” – Gespreksgenoot 6

“Ons het respek, jy respekteer mense. Amerikaners het nie so grootgeword nie. Ons het geweldige respek vir jou baas. Dit is meneer, nie eerste naam terme nie.” – Gespreksgenoot 8

2.7.1.1.3 Praat nie oor emosies nie

Emosies, vertel die gespreksgenote, word eerder vir hulself gehou. Hulle praat nie oor hulle emosies nie.

66 “As Afrikaanse mans het ons grootgeword dat ons nie praat oor emosionele dinge nie. Mans kan hul heeltemal onttrek en dan raak hulle ongelooflik depressief, waar ek ook was.” – Gespreksgenoot 6

“Mans is maar net eenvoudig so. Hulle “collapse” in hul eie omstandighede. Hulle praat nie daaroor nie. Hulle toon nie emosies daaroor nie. Hulle praat nie met hulle vrouens daaroor nie.” – Gespreksgenoot 6

“Die Afrikaner man praat nie oor sy emosies nie. Jy hou alles vir jouself. Jy sê nie eers vir jou vrou daarvan nie. Sy kom miskien agter alles is nie reg nie, maar jy praat nie daaroor nie.” – Gespreksgenoot 9

“Jy weet, die wit Afrikaner man praat nie oor sy gevoelens nie.” -Gespreksgenoot 7

Een van die gespreksgenote vertel toe hy vir sy pa sê dat hy sy werk verloor het, het sy pa net gereageer, sonder emosie, en gesê hy moet vorentoe gekyk. Tekenend daarvan dat die man nie by emosie moet stilstaan of oor emosie praat nie.

“Die mense naby aan jou moet verstaan, maar hulle verstaan nie. My pa sê net sterkte. My pa het gesê: “Skud jou af en stap vorentoe”. Ons mans het net soveel emosies soos die vroue en kinders.” – Gespreksgenoot 7

2.7.1.1.4 Trots

Die gespreksgenote dui aan dat trots ʼn belangrike rol in hulle lewe speel, soms tot nadeel van hulself.

“Afrikaner mans het baie trots in hulle, dit is hoe ons groot gemaak is.” – Gespreksgenoot 6

“Trots is baie belangrik vir die Afrikaanse man. Ons het dit in ons weermag dae geleer. Die Afrikaner man praat nie oor sy emosies nie. Jy hou alles vir jouself. Jy sê nie eers vir jou vrou daarvan nie. Sy kom miskien agter alles is nie reg nie, maar jy praat nie daaroor nie.” – Gespreksgenoot 9

67 “Jy is grootgemaak, jy kry pak, stof jou af en gaan aan. Ons is te trots grootgemaak. Ons word in die ding ingegooi, dat jy later absoluut niks is nie en geen ondersteuning het nie. Jou vrou en kinders ondersteun jou maar hulle verstaan nie wat jy beleef nie. As daar nuwe goed in die huis aangekoop moet word, vat dit aan jou, want daar is nie geld nie. Nuwe swembroeke en goed, ons wurg elke maand om daar deur te kom. Jy draai jou tiekie om, om iets bymekaar te sit van niks af nie. Ons is heeltemal te trots, maar dit kom van ons weermag dae.”- Gespreksgenoot 7

“Maak nie saak in watter omstandighede ek myself bevind nie, ek as Afrikaanse man sal nog steeds probeer om iets te “create” maar ek sal nie met ʼn bordjie om my nek staan en bedel nie. Al is ek blind, sal ek werk.” – Gespreksgenoot 4

2.7.1.1.5 Sukkel om as Afrikaners saam te werk

Afrikaners, volgens een van die gespreksgenote, is oortuig daarvan dat wit Afrikaanse mans nie kan saamwerk nie.

“Kom ek vertel jou wie is die Afrikaner man. Die Afrikaner was verdruk deur die Engelse. Die Afrikaner sukkel om saam te werk.” – Gespreksgenoot 8

2.7.1.1.6 Veerkragtig

Die middeljarige wit Afrikaanse man, vertel ʼn gespreksgenoot, is iemand wat krisisse kan weerstaan en wat kan opstaan, al gaan dit hoe moeilik.

“Die wit Afrikaanse man is ontsaglik sterk, emosioneel sterk, “resilient". Wat gebeur as daar ʼn krisis, tragedie is? Die Afrikaner verander daardie tragedie in ʼn grappie. Ons het die vermoë om oor tragedies te kom, dit te absorbeer en iets daarmee te maak. Die boere word afgemaai, jy hoor nie die boere gooi hul hande in die lug en hardloop weg nie. Jy hoor hulle nie sê: “Vat die goed, ek gaan nie meer boer nie”. Hoe swaarder dit gaan met die Afrikaner, hoe sterker is hy. Ek dink die Afrikaner het die vermoë om hom uit die omgewing te lig, want ek moet vir my gesin sorg. Die Afrikaner het ruggraat, hy kan homself uit ʼn gat grawe. Ek

68 dink ons het ruggraat, rêrig ruggraat en dit is die manier waarop ons grootgemaak is. – Gespreksgenoot 8

2.7.1.1.7 Werksetiek

Die gespreksgenote vertel dat die middeljarige wit Afrikaanse man hard kan werk en ʼn goeie werksetiek het.

“Die Afrikaner is in aanvraag oorsee, ons werksetiek is net op ʼn ander vlak. My vriende oorsee, hulle het loopbane wat soos ʼn vuurpyl opskiet. Hulle werksetiek is soveel beter as die Amerikaners. Ons het respek, jy respekteer mense. Amerikaners het nie so grootgeword nie. Ons het geweldige respek vir jou baas. Dit is meneer, nie eerste naam terme nie.” – Gespreksgenoot 8

“Die Afrikaanse man is trots op sy werk. Hy moet hard werk. Dit is wie hy is. Werk laat jou beter voel oor jouself. – Gespreksgenoot 9

“Ander mense kry respek vir jou as hulle sien hoe hard jy werk.” – Gespreksgenoot 1

2.7.1.2 Primêre voorsiener in terme van behuising, voedsel, kleding en