• No results found

HOOFSTUK 3 DRIE: ANALISE EN INTERPRETASIE VAN ROMANS

3.1 Eben Venter: Biografie en romanoeuvre

3.2.2 Die plaasraam en die stadsraam

Die plaas as raam is geen onbekende agtergrond in Suid-Afrika en die Afrikaanse letterkunde nie (vgl. Van Coller, 2006). Die woord op sigself behoort by die leser ʼn stel kognitiewe rame op te roep van die plaas, die werf, die huis en daarby ook tipiese skripte wat op ʼn plaas uitgevoer word. Die argetipiese verhaal van die jong man wat die plaas verruil vir die stad in sy soeke na heil, avontuur en ʼn beter lewe word ook in Foxtrot van die Vleiseters uitgebeeld in veral die karakter van Johannes, Petrus se ouer broer. Sy beweging van die plaas na die stad as agtergrond in die roman het ook ʼn invloed op Petrus wanneer hy vir Johannes gaan kuier omdat dit bydra tot die verbreding van sy wêreldperspektief en eindelik ook die bevraagtekening en uitdaging van sy eie kultuur en die gevestigde opvattings van manlikheid daarin. Hierdie stelling word bevestig deur Johannes se woorde aan Petrus wanneer Petrus by hom in die stad is: “Jy’s nie nou op die plaas nie.” (72). Sy woorde is belangrik aangesien dit beskou kan word as die

katalisator wat van Petrus ʼn ondermyner en destabiliseerder van die gevestigde opvattings oor manlikheid binne sy kultuur maak.

Dit is duidelik dat Johannes Petrus (onbewustelik) beïnvloed om die plaasweë af te sweer en te verruil vir die stad (of enige ander raamwerk). Deur Petrus te laat beweeg van ʼn plaasraam na ʼn stadsraam verskuif die fokus van die roman ook en word die leser uit die gevestigde bekende agtergrond na die onbekende geneem. Hierdie bekendheid het egter nie te make met die voorafkennis wat die leser het nie, maar veel eerder onbekendheid ten opsigte van die skripte wat die karakters daar uitvoer. Die plaas staan in direkte kontras met die stad en die afleiding word gemaak dat die skripte wat daar uitgevoer word dus ook gaan verskil. Dit sal onvermydelik ʼn uitwerking op Venter se representasie van Petrus se manlikheid hê omdat, soos reeds genoem, die rame waarin die karakters beweeg, die skripte en eindelik manlikheidsbeeld/e bepaal. Venter maak dus hier gebruik van vervreemdingstegnieke om die leser se idees van gevestigde manlikhede te destabiliseer en dit laat ruimte vir die wysiging van die leser se geykte opvattings van manlikheid.

Wanneer Petrus in die stad is, bepeins en bevraagteken hy die manlike skripte wat uitgevoer word binne die plaasraam: “Ek wonder, Johannes, of jy die gewoonte van die mans daar op Wildeperdehoek om hande gevou op hulle boude te loop vir jouself afgeleer het? En die someraand toe al ons mans buite gesit en bier drink het? Onthou jy dié?” (70). Hoewel hy die vraag aan Johannes vra, is dit duidelik dat hyself ook wonder en begin twyfel oor die manier van dinge doen op die plaas wat so dramaties verskil van dié in die stad. Die leser sien hier hoe die raam die kognisie van die karakters wat daarin beweeg, kan beïnvloed. Geykte opvattings word uitgedaag en indien verwerp, maak dit ruimte vir nuwe idees en maniere van dink. Indien die leser nie die geykte opvattings verwerp nie, is dit moontlik dat bestaande opvattings wel gewysig kan word. Hierdie proses vind meestal onbewustelik by die gemiddelde leser plaas, maar by die gevorderde leser/literêre kenner is dit meer ʼn bewustelike proses omdat daar oor die karakters en hul handelinge gedink word.

Wanneer Hendrik vir Petrus sê dat hy vir Johannes moet bel en aansê om terug te keer plaas toe omdat dit veiliger is daar (4), word twee rame, dié van die plaas en die stad, teenoor mekaar gestel en hul prominensie in die roman gevestig. Dit is asof Hendrik glo dat die plaas,

Wildeperdehoek, outomaties beveilig word wanneer al die mans van die plaas teenwoordig is

om dit en die mense daar te beskerm van enige onheil. Hierdie manier van dink kan beskou word as ʼn direkte uitvloeisel van die Afrikaner se geskiedenis met betrekking tot grond en identiteit. Die beeld van Hendrik wat op sy plaas rondstap en alles inspekteer en later tot sy

binne die plaasraam. Hendrik identifiseer met hierdie skripte wat uitgevoer word en daarom bevestig dit sy manlikheidsbeeld. Dit vestig egter ook die manlikheidsbeeld wat van sy seuns (en hul seuns) verwag word in die familietradisie en enige afwyking hiervan kan beskou word as ʼn bedreiging vir die voortbestaan van die spesifieke manlikheidstipe. Hier word ʼn patroonmatigheid bespeur met betrekking tot die manlikheidsbeeld wat van een geslag na die ander oorgedra word. Die leser kan hier waarneem hoe ʼn kringloop van opvattings gevestig en onderhou word deur middel van introjeksie. Die outomatiese aanneem van waardes en handelinge, sonder dat die karakters werklik daaroor dink, is ʼn goeie voorbeeld van hoe rame, en die skripte wat daarin uitgevoer word, iets is wat aangeleer en geskep word na aanleiding van die kontekste waarin dit plaasvind en die onderlinge verhoudings tussen die mense binne die kontekste. Die roman word dus ʼn representasie van die werklikheid en daarom kan aangeneem word dat die representasie van manlikhede of die onsekerheid van manlikhede ʼn weerspieëling is van die realiteit en die historiese konteks waarin dit gesitueer is.

Die plaasraam word versterk met ʼn tweede plaas in die roman – oom Jannie se volstruisplaas aan die begin van die tweede hoofstuk van die roman. Hierdie plaas is van belang omdat dit aansluit by die politieke raam in die roman wanneer daar gepraat word van die sewe “bruinvel- Afrikaner”-gesinne wat saam met oom Jannie op die plaas woon, hoewel mense steeds praat van “die stoksielalleen Jannie” – die bruin mense se teenwoordigheid word dus geïgnoreer (13). Deur die werkers se teenwoordigheid te ontken, word dit juis beklemtoon en laat dit die leser dink. Hierdeur weerspieël die roman weereens die historiese konteks waarin dit gesetel is, naamlik die apartheidsjare. Hoe die verskillende mans in die roman die plaaswerkers hanteer, word ook sprekend van hul onderskeie manlikheidsbeelde. Die politieke raam word verder versterk wanneer die onwettige kinderarbeid op die plaas vooropgestel word: “Hy en hulle ouers laat die kinders werk sonder ʼn sent betaling vir hul arbeid” (13).

Petrus se gesprekke met die plaaswerkers oor hul lewensomstandighede en swak betaling (17) bevestig die idee dat Petrus besig is om weg te breek van die rame en skripte waarmee hy grootgeword het. Hierdie raamverskuiwing vind egter moeisaam plaas juis omdat Petrus ambivalent is wanneer hy in dieselfde asem aan die plaaswerker sê: “Ek kan nie jou probleem vir jou oplos nie. Dit is nie in my hande nie.” (18). Dit is duidelik dat Petrus sukkel om afstand te doen van vorige rame en skripte en daarom was hy sy hande in onskuld en erken daardeur die krag van gedragspatrone wat oor die eeue heen geyk geraak het. Hierdie gesprek is ook tekenend van die ambivalensie in hom wat vroeër genoem is. Hy keur die swak behandeling van die plaaswerkers nie goed nie, maar terselfdertyd distansieer hy hom ook van hul swaarkry. Hy kry dit nie reg om heeltemal uit die een manlike raam na ʼn ander te beweeg nie en voer

Sy familie beskou hom as die “gewete van die Steenekamps” (19) wanneer hy wel ʼn poging aanwend om met oom Jannie oor die lewensomstandighede van die werkers te praat. Hierdie beskrywing blyk sarkasties te wees en dit versterk die idee dat daar wantroue jeens hom is en dat die karakters om hom begin besef dat hy hom probeer losmaak van die gevestigde rame, met die gepaardgaande skripte, waarin hy homself bevind. Binne die roman word Petrus dus ook die gewete van die leser deur kwessies aan te raak wat die leser ongemaklik kan laat voel – eerstens die rol van die wit Afrikanerman tydens apartheid en tweedens onwettige kinderarbeid op plase. Hierdie bevraagtekening ondermyn enersyds die gevestigde opvatting van die edelheid en regverdigheid van die Afrikanermans soos in die roman gevestig en andersyds bevestig dit Petrus se manlikheidsbeeld van dapperheid en beginselvastheid omdat hy standpunt inneem teen iets wat weens konvensie veronderstel is om deel van sy identiteit te wees. Die leser word dus vervreem en moet self besluit hoe om hierdie vervreemding van geykte opvattings oor manlikheid te hanteer.

Later in die roman konfronteer Johannes vir Petrus oor die bevoorregte posisie waarin hy homself bevind: “Jy maak of jy self een van die mense is, weet jy. Of jy nou self so verskriklik ly. Jy’s ʼn wit mens, Petrus. Onthou dit. Buitendien, ek weet nie hoekom vryf jy al die goed so in nie. Of voel jy miskien skuldig?” (101). Hierdie woorde van Johannes raak Petrus nogal diep juis omdat hy homself binne die teenstrydige posisie bevind waarin hy enersyds die plaaswerkers wil help, maar andersyds homself tog eenkant hou van hul swaarkry en lyding. Venter plaas Petrus in ʼn situasie waar hy nie weet wanneer hy watter skripte moet/kan uitvoer nie aangesien dit ook wysigings in die rame waarin hy hom bevind teweeg sal bring. Die rede hiervoor is dat Petrus se karakter tekenend is van die onsekerhede van Suid-Afrikaners en in die besonder Afrikaners tydens die verbrokkeling van apartheid. Die wysigings van die rame waarin hy beweeg, lei tot ʼn wysiging in sy manlikheid – iets wat fundamenteel tot sy identiteit is. Hoewel onseker, is hy nie blind vir die foute wat sy mense begaan nie en juis hierdie persoonlikheidstrek van hom dra by daartoe dat hy wel die moed aan die dag lê om stadig, dog seker, sy manlikheidsbeeld te wysig en aan te pas by dít waarin hy glo en nie dít waarin hy volgens die rame waarin hy is behoort te glo nie. Venter skep die konflik tussen die twee broers om te toon hoe die plaasraam gedestabiliseer word deur beide die invloed van die politiek en die stad. Die destabilisering lei tot onsekere en onstabiele skripte en Johannes se aanklag teen Petrus is bes moontlik ʼn projeksie van sy eie skuldgevoelens. Die leser word hier blootgestel aan die ambivalente resultaat wanneer mans se skripte bevraagteken en hul rame bedreig word – veral gesien in die lig dat dit lei tot veranderde manlikheidsbeelde.

mekaar beïnvloed en op mekaar inspeel. Hy vertel die storie om die luisteraars (sowel as lesers van die roman) uit te lok en hul idees rondom die politiek uit te daag en wanneer Hendrik hom vra waar hy wat Petrus is in die storie pas, kry hy nie ʼn direkte antwoord nie (31). Juis met hierdie verhaaltjie toon Petrus die ontmitologisering van spesifiek die Afrikanerman wanneer hy vertel van GrootMan (Hendrik Douw Steenekamp): “Maar GrootMan het soveel woelwaters in sy kop, hy weet self nie elke dag wat om te dink en hoe om hom te gedra nie.” (35). Hierdie ondermyning van die manlikheidsbeeld deur die man as onseker uit te beeld, tas die manlikheid van al die ander mans in die raam aan en dit is veral Hendrik Douw Steenekamp se manlikheid wat hier metafories subtiel ondermyn word. Die gebruik van ʼn verhaal binne ʼn verhaal word eintlik metafories van die wedersydse invloede wat die narratiewe op die kognisies van die betrokke mense het. Binne Petrus se verhaal beklemtoon Venter hoe die uitvoer van skripte binne rame lei tot sekere manlikheidsbeelde. Veral in die verhaal van GrootMan bepaal die politieke en ook die familietradisierame sy handelinge (skripte) en dit vorm uiteraard die beeld van manlikheid – hoe Petrus (en die leser) hom ervaar.

Die destabiliserende invloed wat die politieke raam op die plaasraam het, manifesteer in die onsekerhede van die mans op die plaas. Afgesien die politieke raam bedreig die stadsraam ook die plaasraam aangesien die stad beskou kan word as die bybelse Sodom en Gomorra wat bedreigings inhou vir die gevestigde opvattings van manlikheid. Petrus se wedervaringe saam met Johannes in die stad stel hom bloot aan nuwe leefstyle en wêreldperspektiewe en dra by tot die vorming van sieninge wat bots met dié van die plaasmense wat binne hul gevestigde rame bly en nie die grense oorskry nie. As jong man wat sy eie kultuur en raamwerk/e bevraagteken en uitdaag, dra die stad by tot die vorming van sy nuwe manlikheidsbeeld. Die roman toon dus hoe verskillende rame verskillende skripte induseer en hoedat dit lei tot die wysiging of verwerping van bestaande manlikheidsbeelde of hoe nuwe manlikheidsbeelde geskep word.