• No results found

2.1. Kognitiewe narratologie

2.3.5. Manlikheidsbeelde

Manlikheidsbeelde is daardie beelde van manlikheid wat uitgebeeld of uitgeleef word in die samelewing. Dit is die voorkoms en handelinge van mans en ook die manier waarop mans tussen verskillende manlikhede in verskillende kontekste kan wissel – baie soos ʼn masker waaragter hulle kan skuil om verskeie redes. Vervolgens sal verskeie van hierdie manlikheidsbeelde soos gesien in verskeie kontekste bespreek word aan die hand van opgetekende teorieë en standpunte. Om ʼn man te wees, beteken onvermydelik dat die man as mens ʼn sekere rol moet speel. Manlikheid representeer ʼn stel riglyne en toneelaanwysings wat mans moet leer uitvoer (Van der Watt, 2007:54). Reeser (2010:22-23) noem dat beelde van mans kan verander in mites wanneer dit so wyd verspreid raak dat ʼn kultuur/kulture dit as vanselfsprekend aanvaar as die geldige narratiewe vir manlikheid. Wanneer hierdie beelde oral aanvaar word, word dit universeel en op ʼn kulturele vlak sal dit as mites manifesteer, d.w.s. as rigtende navolgenswaardige voorbeelde of imago’s wat as mitologies standhoudend en geldig aanvaar word (Reeser, 2010:22-23).

Kimmel (1996:5) stel dat die beeld van die Amerikaanse man soos volg daar uitsien: jonk, getroud, wit, voorstedelik, noorderlik, heteroseksueel, Protestants, vader, besit tersiêre kwalifikasie, ten volle werkend, van ʼn goeie kompleksie, gewig, lengte en ʼn onlangse rekord in sport (vergelyk ook Behnke & Meuser, 2001:162-163). Ook Van der Watt (2007:82) verskaf voorbeelde van sosialiserende “boodskappe” oor manlikheid wat deur ouers, onderwysers, portuurgroepe, die media en organisasies soos kerke voorgehou word: vaandeldraers, werkers, minnaars, werkgewers, geharde individue. Harris (1995:3) sluit hierby aan met ʼn lys van nege dinge wat van die moderne man verwag word: wees soos jou pa, wees ʼn getroue man, goeie Samaritaan, regter, natuurliefhebber, versorger, rebel, skolier en tegnikus. Hierteenoor vind Visagie (2004:37-50) ʼn aantal manlikheidsbeelde wat in die Afrikaanse literatuur tot en met 1980 voorkom, naamlik die jagter, die avonturier, die boer, die vader, die kryger, die intellek en die gay man. Dit behoort dus interessant te wees om hierdie manlikheidsbeelde te vergelyk met die manlikheidsbeelde in Venter se romanoeuvre wat almal ná 1990 geskryf is.

Connell (1994:73) verskaf vier kategorieë van manlikheid, naamlik dominant, aandadig, onderdanig en opposisioneel of protesterend. Hierdie kategorieë is egter vloeibaar en oorvleuelend van aard en dit moet ook in gedagte gehou word dat dit nie uitsluitlik van toepassing is op biologiese mans nie, maar dat vroue ook binne hierdie kategorieë tuisgebring kan word. Synnott (2009:26) noem op sy beurt weer vier beelde van manlikheid naamlik die ridder, die heer (gentleman), die selfgemaakte man en meer onlangs die “nuwe” man ook bekend as l’homme rose (ʼn man wat nie gelukkig is met sy manlikheid nie) of die sensitiewe millennium-man. Die ridder en die krygsman is antiek en dateer terug na die helde van Homeros tot en met kontemporêre helde (Synnott, 2009:26). Die heer is veral geskoei op die Engelse ideaal van manlikheid waar die hoofkriteria sagmoedigheid (wat nie verwar moet word met swakheid nie), beleefdheid, integriteit, gulhartigheid en galante goeie maniere is – enigeen kan ʼn heer wees omdat dit nie gekoppel is aan klas, beroep of religie nie (Synnott, 2009:31). Die selfgemaakte man is veral ʼn Amerikaanse model van manlikheid, en dit kom neer op die man wat uitgestyg het van niks tot iets (ibid).

Dit word duidelik hoe die genoemde beelde verband hou met skripte wat binne sekere rame uitgevoer word wanneer Jooste (2008:17) daarna verwys dat sekere stereotipiese manlike arenas (lees: rame) soos werk, sport, emosies, mode en mans se verhoudings met ander mans wel bestaan. Omdat manlikheidsbeelde ook afhang van die konteks waarin hulle uitgebeeld en uitgeleef word, kan die beginsel ook oorgedra word na die manlikheidsbeelde wat binne narratiewe tekste gerepresenteer word.

Dit is, volgens Seidler (2006:45), baie belangrik dat mans hul posisie as mans moet behou en nie aansien mag verloor voor ander mans nie – veral omdat manlikhede met mekaar kompeteer en hierdie manlikheidsbeelde ten alle koste gepreserveer moet word, veral in die publieke oog. Dit geld natuurlik ook vir die beelde wat tradisioneel as alternatief beskou word. Hierdie radikale disjunksie tussen die publieke en private sfere (lees: rame), en die behoefte van mans om gepas op te tree in die publiek kan dit moeilik maak om navorsing te doen oor mans se oortuigings en verhoudings (Seidler, 2006:45).

2.3.6. Samevatting

Manlikheid word tans beskou as ʼn kollektiewe genderidentiteit en nie ʼn natuurlike eienskap nie (Morrell, 1998:607). Verder is daar nie slegs een manlikheidstipe nie, maar verskeie manlikhede en die vorm wat manlikheid sal aanneem, is afhanklik van onderliggende klas- en kulturele faktore. Die kontoere van manlikhede verander met tyd en word geaffekteer deur veranderinge elders in die gemeenskap. Terselfdertyd beïnvloed hulle die gemeenskap. Dit herinner baie aan die werking van raamnetwerke aangesien dít wat binne een raam gebeur, ʼn direkte effek het op dít wat binne ʼn ander raam gebeur. Connell (1994:73) maak ʼn baie belangrike stelling wanneer hy noem dat enige manlikheid, as ʼn konfigurasie van praktyk, gelyktydig geposisioneer is in ʼn aantal verhoudingstrukture wat moontlik die gevolg kan wees van verskillende historiese trajekte. Manlikheid is daarom altyd onderhewig aan interne kontradiksie en historiese ontwrigting. Binne Venter se romans word hierdie innerlike worstelinge en kontekste waarbinne ontwrigting van die manlikheidsnorme geskied aan die leser deurgegee. Manlikheid is nie ʼn vasgestelde eienskap van mans nie, maar is sosiaal gekonstrueer en verander en ʼn manlike geslagsrol beklemtoon die aanleer van norme vir optrede wat op sosiale vlak verwag word (Connell, 2001:141). Reeser (2010:25) beskryf die paradoks van manlikheid as dat dit dikwels die illusie van vryheid gee, maar die enigste vryheid wat dit in werklikheid gee is die vryheid om verskillende vorme van manlikheid te aanvaar of te verwerp. Die leser van ʼn roman kom dus voor hierdie keuse te staan en moet besluit of hy/sy oop is vir ʼn wysiging in denke oor manlikheid en manlikhede.