• No results found

Hoofstuk 4 – Relasionele performatisme

4.6. Metamodernistiese performatisme

4.6.2. Performatistiese raamskepping

Eshelman se idee van die dubbelraam hou verband met Derrida se dekonstruksie van die veronderstelde middelpunt of essensie van ʼn werk. Die raam van ʼn werk, verduidelik Derrida (soos bespreek deur Eshelman, 2008:1), plaas die estetiese waarde van die kunswerk in ʼn onlosmaaklike verhouding ten opsigte van die ruimte of konteks buite die raam. Die raam, wat eers beskou is as ʼn ornamentele nagedagte, word ʼn noodsaaklike voorwaarde: “[…] it is that place which is both inside and out, where text and context meet in a way that is both absolutely crucial to the work’s makeup and impossible to determine in advance” (Eshelman, 2008:1-2). Die raam maak dit dus onmoontlik om die werk ooit as ʼn afgehandelde of geslote geheel te beskou, omdat dit altyd reeds onderhewig is aan die konteks daaromheen, wat alles behalwe ʼn koherente geheel is. Hoe gaan Eshelman se performatiewe strewe na ʼn nuwe, outonome monistiese estetika te werk om hierdie probleem te omseil? Die antwoord lê volgens hom in ʼn radikale nuwe performatistiese bemagtiging van die raam:

The author [...] imposes a certain solution on us using dogmatic, ritual, or some other coercive means. This has two immediate effects. The coercive frame cuts us off, at least temporarily, from the context around it and forces us back into the work. Once we are inside, we are made to identify with some person, act or situation in a way that is plausible only within the confines of the work as a whole (Eshelman, 2008:2).

144

Die gewillige leser word gelei, of selfs gedwing, om te identifiseer met iets wat onwaarskynlik of ongeloofwaardig is – “to believe in spite of yourself” (Eshelman, 2008:2). Die leser is egter deurentyd kognitief daarvan bewus dat die gewaarwording van identifikasie of geloof gedwonge is – dat dit kunsmatig gekonstrueer word. Die raam elimineer dus nie metafisiese skeptisisme en ironie nie, maar hou dit onder beheer. Daar word van die leser verwag om te onderhandel tussen die estetiese identifikasie en die dogmatiese, gekonstrueerde manier waarop dit ontstaan het (Eshelman, 2008:2-3). Sodanige gekonstrueerde, kunsmatige unifikasie vind plaas aan die hand van Eshelman se dubbelrame. ʼn Dubbelraam bestaan uit ʼn buiteraam (die raam van die kunswerk, of teks) en ʼn binneraam, wat soms met ʼn “originary scene” gepaard gaan. Die buiteraam gaan só te werk dat ʼn onwaarskynlikheid as geloofwaardig voorgehou word, wat tot gevolg het dat die leser tydelik afgesny word van die eindelose oop en onbeheerbare (postmoderne) konteks buite die raam. Die leser word dan teruggedwing in die werk om die onwaarskynlikheid dáár te beoordeel. Indien die teks dualisties van aard is, sal die leser een of ander tipe ironie in die werk vind wat die buiteraam sal ondermyn en die kunsmatig geraamde eenheid ongedaan sal maak. ʼn Performatiewe werk sal egter ʼn noodsaaklike toneel of reeks gebeure as binneraam bevat wat die buiteraam se kunsmatige logika sal bevestig (Eshelman, 2008:3). Daar kan ook meervoudige dubbelrame in teks teenwoordig wees, soos die geval is in die kortverhale in Die

sneeuslaper (2010). Of ʼn werk ervaar word as ʼn geheel met identifikasie en sluiting (‘closure’), of as

“an exercise in endless ironic regress”, sal bepaal word deur die mate waarin die buite- en binnerame van die teks saamval of nie. Die leser word egter nie só deur die skrywer aan die neus rondgelei nie. Die spanning tussen die saamval van die twee rame en die leser se legitieme skeptisisme word steeds onderhou. Die punt is dat sluiting as ʼn haalbare alternatief aangebied word vir eindelose postmoderne uitwaaiering van betekenis.

ʼn Buiteraam het ʼn arbitrêre of dogmatiese karakter wat skynbaar van bo af “afgedwing” word, vanaf die posisie van die skrywer of die ouktoriële fokalisator. Die binneraam word gegrond op wat Eshelman (2008:4) “an originary scene” noem. Die “originary scene […] reduces human behaviour to what seems to be a very basic or elementary circle of unity with nature and/or with other people82”. Volgens

Eshelman (2008:4) hou sodanige reduksie verband met wat Eric Gans semiotiese ostensiwiteit noem. Volgens Gans kan die ontstaan van taal uitgebeeld word in ʼn hipotetiese interaksie tussen twee protomense wat in ʼn konflik gewikkel raak oor een of ander objek. Die konflik kan gelees word as mimetiese mededinging, ʼn idee afkomstig van René Girard (Eshelman 2008:4). In plaas daarvan dat die een protomens die ander met geweld oorheers, beduie een van die twee na die objek en uiter ʼn klank wat veronderstel is om die objek te verteenwoordig. Indien die tweede protomens dié klank aanvaar as

145

verteenwoordigend van die begeerde objek, word die klank ʼn teken (“an ostensive sign)” en is die konflik (tydelik) afgeweer.

The two antagonists have transcended their animal status by agreeing on a sign representing and temporarily replacing a bone of contention; through their act of spontaneous agreement they also lay the foundations for all future acts of semiosis, and hence for all culture and ritual (Eshelman, 2008:4).

Omdat die teken die vermoë het om konflik af te weer, neem die twee protomense aan dat die teken bonatuurlike kragte moet besit aangesien hulle nie in staat is om hul eie betrokkenheid in die skep daarvan te begryp nie. Die punt wat Gans hier wil maak, is nie dat die teken werklik van goddelike afkoms is nie, maar dat dit so ervaar kan word (Eshelman, 2008:4), ʼn nosie wat sterk aan metamodernisme se asof-ingesteldheid herinner. Die grens tussen die immanente wêreld en die transendente word hierdeur belig. Gans voer verder aan dat die ostensiewe teken deur die twee protomense beskou word as mooi, “[…] because it allows us to oscillate between contemplating the sign standing for the thing and the thing as it is represented by the sign” (Eshelman, 2008:5).

Eshelman (2008:6) beskou die ostensiewe teken en die “originary scene” as basiese instrumente “[…] that can help us describe other monist strategies as they cut through the endless regress and irony of postmodern culture and play out new, constructed narratives of origin in contemporary narrative and thematic guises”.