• No results found

Hoofstuk 2 – Marlene van Niekerk se oeuvre: ʼn stuk borduur of vlegwerk

2.3. Deurlopende elemente in Van Niekerk se tekste

2.3.2. Intersubjektiwiteit en relasionaliteit

Letterkunde is tot ʼn groot mate die uitbeelding van hoe mense met mekaar, hul omgewing en hulself omgaan. Afhanklikheid en verwydering ten opsigte van verbintenis met ander (of die ander) word in letterkunde ondersoek, en fiktief en artisties uitgebeeld. Van Niekerk se werk is geen uitsondering nie. Daar is ʼn deurlopende tweeledigheid ten opsigte van relasie in haar tekste te bespeur. Die enkeling word voortdurend opgestel teenoor die idee van relasie en verbintenis met ander. Dit werp lig op hoe moeilik betekenisvolle interaksie met ander is, en hoe die enkeling smag na iets wat lyk asof dit buite sy of haar bereik is. Van Niekerk as skrywer verteenwoordig self hierdie verskeurdheid deurdat sy gelyktydig ʼn enkeling is, maar ook in verhoudings staan met familie, geliefdes en studente. Verder is sy gelyktydig ʼn Suid-Afrikaner wat gemoeid is met die uitdagings van die Suid-Afrikaanse werklikheid, en ʼn wêreldburger wat maklik vir maande aaneen na Nederland “vlug” en Suid-Afrika dan van ʼn afstand bekyk. Sy is gelyktydig betrokke by haar vaderland, en afstandelik daarteenoor, ʼn ingesteldheid wat duidelik na vore kom in die karakter van Sus in Die kortstondige raklewe van Anastasia W, die karakter Jakkie in Agaat en verskeie van die karakters in Die sneeuslaper.

Reeds in Sprokkelster kom die tema van relasie in die vorm van familieverhoudinge sterk na vore met gedigte wat verwys na die spreker se “mamie”, “gryskopvader”, “boeta” en “suster” (1977:7). In die eerste gedeelte van Groenstaar kan die leser agterkom dat die digter haar in Europa bevind. Daar verlang sy na haar vaderland, maar sy ervaar ook ʼn proses van openbaring, ontnugtering, volwassewording en individuasie ten opsigte van haar (Suid-)Afrikaanse identiteit. Daar is ook ʼn

56

terugkeer vanaf Europa na Suid-Afrika in Groenstaar wat ná “nostalgiese lied” (Van Niekerk, 1983:48) duidelik word. In die gedigte wat volg, hoor die leser weer iets van die landelikheid wat Sprokkelster deurlopend teenwoordig was, maar nou met ʼn bydraende sinisme ten opsigte van die spreker-digter se interaksie met die land en haar mense. Dit blyk dat daar ʼn ontnugtering ingetree het wat duidelik raak in gedigte soos “ampsfoto strelitzia augusta” (1983:66) en “skoufotograaf”. In “skoufotograaf” word “die wildgroei van die vaderland” satiries en spottend ingedam “tot ʼn portret vir die oggendblad / van boeremaagd en bobaasram!”.

In Die vrou wat haar verkyker vergeet het word interpersoonlike verhoudings op interessante en ongewone maniere uitgebeeld. Soos genoem, het daar na die einde Van Niekerk se tweede digbundel ʼn afstandelikheid ontwikkel ten opsigte van verhoudinge met mense in Suid-Afrika, asook ʼn sinisme rakende mense se intensies. In Die vrou wat haar verkyker vergeet het word die afstandelikheid verder uitgebou, onder andere aan die hand van ʼn bewustheid van hoe mense magsposisies misbruik en ander, meestal randfigure en weerloses, daardeur skade berokken. Die lig word keer op keer gewerp op hoe oordrewe “belangrik” die Afrikaner homself beskou het en hoe toenemend angstig hy vasgeklou het aan mag aan die einde van sy bewind.

In Triomf en Agaat word intieme verhoudings in fyn besonderhede uitgebeeld. Waar daar in Triomf satiries met mites rondom Afrikanerskap, familie en rasverhoudinge omgegaan word, word dit in Agaat in die mees intieme en sensitiewe situasies soos derms uitgeryg en voor die leser se voete gewerp. Sodoende word die idee van sosiale medepligtigheid uitgepak; ʼn tema wat trouens toenemend aandag kry in Van Niekerk se oeuvre. Die tweeledigheid van wedersydse wreedheid en uitbuiting, maar ook versorging, verbintenis en deernis, word op geskakeerde wyse in Agaat uitgebeeld.

Die interaksie tussen Sus en Daan, en Lovemore en Savage in Die kortstondige raklewe van Anastasia

W beeld bogenoemde gekompliseerde situasie verder uit. Daar bestaan nie ʼn maklike antwoord vir die

sosiale probleme in Suid-Afrika nie. En die probleme is nie beperk tot Suid-Afrika nie. Daarin lê een moontlike verklaring vir die verskuiwing na ʼn wyer, meer geskakeerde werklikheids- en kunsbeskouing wat in die derde fase van Van Niekerk se oeuvre te sien is. Onderdrukking, uitbuiting, eensaamheid en verwydering is steeds ʼn probleem, maar dit word op ʼn breër globale verhoog beskou en met die fokus op die basiese menslike behoefte van behoort. Nie slegs behoort tot ʼn sekere land en kultuur nie, maar behoort tot die menslike ras, die planeet aarde en die gemeenskap van lewendes, sterwendes en agterblywendes. Van Niekerk se kunspraktyk en oeuvre word in die lig van dié verskuiwing geposisioneer op ʼn wêreldverhoog wat relasie oor alle grense veronderstel. Die leser word saamgeneem op die reis met gekompliseerde tekste wat die mens se verbintenis met alles anders beklemtoon, indien die leser bereid is om die moeite te doen om die tekste te ontrafel. Sodoende word die verbintenis tussen

57

skrywer en leser ook belig; die skrywer het ʼn verantwoordelikheid ten opsigte van die leser, en die leser het ʼn verantwoordelikheid ten opsigte van die skrywer en haar teks.

Intersubjektiwiteit en relasionele verbintenis word op alle vlakke in Van Niekerk se tekste veronderstel en uitgebeeld. In die mees resente tekste word die intersubjektiwiteit en relasionaliteit egter metamodernisties-performatisties benader. Die maniere waarop Van Niekerk dit artistiek dóén, word in Hoofstukke 4 en 5 bespreek.