• No results found

Metatekstualiteit in Van Niekerk se oeuvre: ʼn quipu-sisteem

Hoofstuk 2 – Marlene van Niekerk se oeuvre: ʼn stuk borduur of vlegwerk

2.3. Deurlopende elemente in Van Niekerk se tekste

2.3.8. Metatekstualiteit in Van Niekerk se oeuvre: ʼn quipu-sisteem

In haar artikel oor Memorandum verduidelik Van Vuuren (2014:508) dat Wiid ʼn onverklaarbare woord, “boere-kwie-poe” neerskryf wat hy in X en Y se gesprek gehoor het. “Dié foneties-gespelde woord, ‘kwiepoe’, is ’n verafrikaansing van die Mexikaanse ‘quipo’27” (Van Vuuren, 2014:507-508) wat

verwys na ʼn ingewikkelde kommunikasiesisteem waarmee inligting in die vorm van knope in tou bewaar is. Van Vuuren (2014:508) verduidelik dat Agaat se borduurwerk met quipu in verband gebring kan word: “‘Borduurdery’ as die ‘boerekwiepoe van begeerte’ beteken […] letterlik borduurdery is ʼn boere-boodskap van verlange. Agaat se volgehoue aktiwiteit op lap ‘sein’ haar liefde-haat (mooi landskappe op doodskleed teenoor wrede diere op kep) na Milla”. Die borduurwerk (en die quipu-beeld)

62

kan met die maak van kuns in verband gebring word. Dit is immers kommunikasie op kunstige manier, en nie sommer maklike kommunikasie nie, maar boodskappe wat ingewikkelde sisteme benodig om verstaan en ontsyfer te kan word. So kan Van Niekerk se oeuvre ook beskou word as ʼn grootse stuk borduurwerk, of mosaïek, wat op estetiese wyse kommunikeer en diepgaande en verwikkelde boodskappe oordra. Van Niekerk se gebruik om intertekstueel na ander kunsvorms te verwys, kom hier dus ook aan bod. Alle kuns kan beskou word as kommunikasie, selfs al is die nie talige kommunikasie nie. ʼn Mens kan sê dat Van Niekerk met woorde borduur en verf, maar ook met klank, en dat beide kommunikeer, al is dit soms net-net.

Van Niekerk se oeuvre kan beskryf word as “verstrengeld” (Van Vuuren, 2016:921). Dit is egter nie ʼn kraaines nie, maar eerder ʼn geordende stuk borduur- of vlegwerk waardeur ʼn toenemend duidelike kuns- en werklikheidsbeskouing rakende die doel en aard van kuns en die kunstenaar performatisties uitgevoer word. As haar oeuvre as één grootse, uitgebreide en aaneenlopende kunswerk gelees word, raak ʼn groter metatekstuele narratief sigbaar wat sprekend is van Van Niekerk se eie kunsfilosofiese ontwikkeling. Sy begin met poësie (wat beskou word as die ‘skoonste van die literêre genres’), beweeg dan deur die verskillende genres vanaf kortverhale na romans en ʼn drama, terug na kortverhale en uiteindelik weer na die gestrooptheid en “intieme ongerief van die liriek” in Kaar, In die stille

agterkamer en Gesant van die mispels. Ook in terme van genre is daar verstrengeldheid in die oeuvre. Memorandum is nie ʼn tipiese roman nie; dit is ʼn verhaal met skilderye, kruisverwysings en addenda

wat uiteindelik die leser op ʼn opleidingsreis neem van hoe om goeie letterkunde te lees. Die leser moet ʼn monster van nuuskierigheid en leesgierigheid wees wat elkeen van die verwysings soos ʼn speurder sal gaan navors om, soos Wiid, uiteindelik ʼn nuwe waardering vir kuns én die kuns van lewe en sterwe te ontwikkel. Die sneeuslaper is nie ʼn tipiese kortverhaalbundel nie; dit is ʼn versameling raamvertellings wat mekaar oor en weer eggo en beïnvloed, tot so ʼn mate dat die leser soos ʼn speurder deur die verhale moet snuffel om al die raakpunte te identifiseer en in die groter geheel te plaas. Waar die skrywer die leser in Memorandum gelei het om die komplekse teks met die oënskynlik oneindige hoeveelheid intertekstuele verwysings te verstaan, gooi Van Niekerk die leser aan die diepkant in met

Die sneeuslaper, en nog soveel te meer met Kaar. Dit is asof sy vir die leser wil sê: toe, Wiid het jou

mos nou in Memorandum gewys hoe letterkunde gelees moet word, nou moet jy dit verder self regkry. Hieruit kan ʼn mens iets aflei van die verantwoordelikheid wat Van Niekerk teenoor haar lesende gemeenskap voel: om telkens “nuwe onbekende” (Anon, 2014) ideale lesers te skep wat in staat is om ʼn literêre teks te waardeer as unieke en veelvlakkige kreatiewe uiting. In ʼn onderhoud met Frank Provoost (2009) verwoord sy hierdie verantwoordelikheidsgevoel soos volg: “[…] in een wereld die steeds meer gericht is op doelgerichte productie is het heel belangrijk om de spelende mens wakker te houden en om hem goed te leren spelen”.

63

Nog ʼn rede waarom Van Niekerk se werk as ʼn uitgebreide quipu-sisteem beskou kan word, is die feit dat haar tekste vol herhalings en iterasies is. Die Van Niekerk-karakter kom in verskeie van haar tekste voor, selfs al is dit nie by name nie. Ander herhalende karakters is die gemarginaliseerde, outistiese, geniale, sjamanistiese karakters waarvan vroeër reeds melding gemaak is. Daar is ook intertekstuele verwysings tussen die tekste. Die gedig “Brief aan Suid-Afrika” wat in Kaar opgeneem is, word in Die

kortstondige raklewe van Anastasia W voorgedra. Kasper Olwagen se verblyf in Amsterdam herinner

sterk aan Van Niekerk se eie verblyf waarvan dele afgelei kan word uit die gedigte in Groenstaar. Daar is oor die algemeen interessante verbande tussen Die sneeuslaper en Groenstaar in terme van die verwysings na die Nederlandse en Suid-Afrikaanse ruimtes.

Die feit dat Van Niekerk geneig is om as kulturele argivaris op te tree in die optekening van belangrike woorde, gebruike en filosofieë dien ook ʼn belangrike samebindende doel in die oeuvre. Triomf is die optekening van Afrikaanse taboetaal; Agaat is die argivering van unieke Suid-Afrikaanse boerderygebruike, Afrikaanse woorde en verse, asook musiek; Memorandum is die opskryf van die aaklige proses van sterf, maar ook van die kuns van sterf en die waarde van die Westerse artistieke erfenis; en Gesant van die mispels en In die stille agterkamer is kunstige en performatiewe gesprekvoering met ʼn klein maar veelseggende deel van daardie artistieke erfenis.

Die punt wat ek hier wil maak, is dat Van Niekerk haar oeuvre as ʼn geheel bewustelik opbou. Triomf funksioneer as kritiese reaksie op Die vrou wat haar verkyker vergeet het. Agaat se einde baan die weg vir Memorandum en Die sneeuslaper. Ek het reeds verwys na die interessante kunsbeskoulike wending wat intree in Memorandum en Die sneeuslaper, wat amper saamval met Die kortstondige raklewe van

Anastasia W as ʼn soort kulminasiepunt. Die einde van Agaat is ʼn prelude tot Memorandum (Rossmann,

2014:57). Memorandum eindig met ʼn verwysing na Wiid wat ʼn hawelose wil inneem, versorg en sy vriend maak, soos Kasper dan prakties met die swanefluisteraar in Die sneeuslaper doen. Die klank en natuurgedigte wat in Kaar vervat is, stem ooreen met Olwagen se gedig “Oggend van ʼn waterfiskaal” (2010:42-43) wat die Van Niekerk-karakter in “Die swanefluisteraar” vertaal. Die gedig is trouens die openingsgedig in Kaar. Kaar begin dus waar Die sneeuslaper eindig. Die twee Nederlandse skilders, Jan Mankes en Adriaen Coorte, kan beskou word as historiese figure wat ooreenkomste vertoon met die sjamanistiese karakters in Van Niekerk se oeuvre. Die klein alledaagshede waarmee hulle hulself besig hou, is tipe ʼn performatiewe voorsetting van die insig waartoe die Van Niekerk-karakter in Die

sneeuslaper rondom die doel van kuns kom. Van Niekerk as digter voer dan ook die idee van kuns-in-

die-kleine op in die gedigte wat die skilderye in Gesant van die mispels en In die stille agterkamer vergesel.

Die een teks volg op die ander en bou voort op wat die skrywer metatekstueel in vorige tekste ‘gesê’ of opgevoer het. Uiteindelik kan ʼn mens Van Niekerk se oeuvre beskou as een groot verhaal (of opvoering)

64

oor die goeie en die afstootlike van menslikheid, en ook as ʼn uitgebreide oefening en eksperiment met betrekking tot die doel van kuns en die kunstenaar, en die vraag tot waar letterkunde performatief en performatisties28 kan reik.