• No results found

32 2.9.2 Transkripsie van die versamelde data

Transkripsie van die stemopnames van die semi-gestruktureerde onderhoude moes plaasvind voordat die analise van die onderhoude kon begin. Transkripsie verskaf ‘n geleentheid vir die oorgang vanaf dataversameling na analise as deel van data-hantering en voorbereiding (Patton, 2002). Volgens Patton (2002) lê die uitdaging van kwalitatiewe analise daarin om sin te maak uit groot hoeveelhede data.

Die onderhoude tussen die navorser en die deelnemers is verbatim getranskribeer vir die doeleindes van latere tematiese analise. Om te verhoed dat die navorser gereeld moet teruggaan na die oudio bandopnames tydens data-ontleding is dit belangrik dat die transkripte so volledig as moontlik is. Verbatim transkripsie dui op volledigheid en dus word geen inligting uit die transkripte gelaat nie (Wengraf, 2001). Slegs inligting wat nie met die navorsingskwessie verband gehou het nie, is gedurende die transkripsieproses weggelaat. Sulke onverwante kwessies word in Engels na verwys as “dross” (Burnard, 1991). Die organisering van die data tydens die transkripsieproses het van die navorser vereis om die getranskribeerde data verskeie kere te lees om op die manier bekend te kon raak met die data (Marshall & Rossman, 1995). Die herhaalde, noukeurige bestudering van die data het gelei tot ’n verdieping in die data, en het die navorser gehelp om ’n geheelbeeld van die data te vorm (Patton, 2002).

2.9.3 Data-analise

Die analise van die semi-gestruktureerde onderhoude tussen die navorser en die deelnemers word grafies voorgestel in Figuur 2.2.

Die onderhoude is geanaliseer deur middel van tematiese inhoudsanalise en oop-kodering soos toepaslik is vir studies uitgevoer binne die raamwerk van die gegronde teorie (Patton, 2002). Die doel van tematiese analise is om ’n gedetaileerde en sistematiese opname van temas en kwessies wat aangespreek is gedurende die onderhoude te verkry, en om die temas daarna met mekaar te verbind in terme van ’n samevattende kategorie- sisteem (Burnard, 1991). ’n Aanpassing van die 14 stappe van tematiese inhoudsanalise soos deur Burnard (1991) saamgestel is, is gebruik vir data-analise in die huidige studie (Sien ’n volledige beskrywing van die 14 stappe van tematiese inhoudsanalise in Bylaag G).

Eerstens het ’n kombinasie van die eerste twee stappe van Burnard (1991) se metode plaasgevind. Die transkripte van die onderhoude is deur die navorser gelees en die verskillende uitinge is toepaslik genommer. Die transkripte is ’n tweede keer deurgelees en aantekeninge is gemaak oor moontlike wyses om die data te kategoriseer. Volgens Ryan en Bernard (2000) begin die analise van teks reeds by die proeflees van die data en die onderstreping van sleutelfrases.

Gedurende die tweede fase van data-analise is die transkripte vir ’n derde keer deur die navorser gelees om die deelnemers se uitinge toepaslik te kodeer en voorlopige hoof- en subtemas te selekteer wat alle aspekte van die inhoud beskryf. Temas is abstrakte konstrukte wat deur die navorser geïdentifiseer word voor, gedurende en na dataversameling (Ryan et al., 2000). Volgens Ely (1991) verwys temas ook na ‘n verklaring van betekenis wat in al die belangrike data waargeneem kan word en ‘n tema se impak is hoofsaaklik emosioneel en feitlik. Kodes word deur Miles et al. (1994) beskryf as etikette om betekenis te heg aan beskrywende of afgeleide inligting wat verkry is gedurende die studie. Kodes word dus binne ’n groter hoof- of subtema aan woorde, frases, sinne of ’n hele paragraaf geheg (Miles et al., 1994).

Gedurende die skepping van kodes en temas moet die navorser vasstel wat bymekaar pas deur te let op inligting wat herhaaldelik voorkom (Patton, 2002). Alle onverwante inligting of dross, is ook gedurende die tweede fase weggelaat (Burnard, 1991). Gedurende hierdie fase word byna al die onderhouddata inaggeneem in ’n proses wat as oop-kodering bekend staan (Burnard, 1991). Ryan et al. (2000) beskryf oop-kodering as die proses waar die die navorser potensiële temas identifiseer deur werklike voorbeelde uit die getranskribeerde teks saam te voeg.

33 Die derde fase van data-analise het die vermindering van temas en sub-temas ingesluit en is saamgestel uit stappe vier en vyf van Burnard (1991) se metode van 14 stappe. Gedurende hierdie fase is gepoog om oorvleueling en herhalings uit te skakel deur soortgelyke temas en sub-temas saam te groepeer.

Gedurende die vierde fase is al die oorspronklik gekodeerde aanhalings van elke deelnemer in tabelvorm gerangskik volgens die ooreenstemmende hoof- en subtemas. Die volledige transkripte is egter ook bewaar om sodoende terug te kon verwys na die verskillende aanhalings binne ‘n betekenisvolle konteks (Burnard, 1991). Hierdie stap van analise vorm ’n kombinasie van stappe agt, nege en tien van Burnard (1991) se 14 stap-metode. Data is deurgaans vanaf die aanvang van die tweede fase deur ‘n tweede navorser gekontroleer. Die tweede navorser het ondervinding in kwalitatiewe navorsing in die algemeen en navorsing oor ourale rehabilitasie spesifiek. Die doel van hierdie stap was om die geloofwaardigheid en toepaslikheid van die kategorie-sisteem te verhoog (Burnard, 1991). Waar verskille in kategorisering van die data tussen die twee navorsers voorgekom het, is die verskille deur die navorsers bespreek en ’n konsensus besluit is daar rondom geneem. Volgens Patton (2002) behoort meer as een persoon betrokke te wees by die analise van data om sodoende betroubare en geloofwaardige resultate te verseker en vooroordeel van die navorser te verhoed. Die geanaliseerde data is gedurende die laaste fase deur die navorser geïnterpreteer en vergelyk met bestaande literatuur.

34 FIGUUR 2.2 Die proses van data-analise

FASE 1