• No results found

2.4.3 Onderwysvernuwing in die Nuwe Suid-Afrika

Een van die eerste veranderings wat die nuutverkose regering in 1994 ingestel het, was kurrikulumvernuwing. Gedurende 1996 en 1997 is verskeie kurrikulumkomitees wat „n groot verskeidenheid rolspelers ingesluit het, aangestel om „n nuwe kurrikulum te ontwikkel. Die struktuur en raamwerk was vooraf vasgestel en moes op „n uitkomsgebaseerde onderwysmodel (UGO) gebaseer wees en die tradisionele vakke is vervang met leerareas. Die kurrikulum wat so ontwikkel het, is beskryf in terme van uitkomste, assesseringskriteria en prestasiestandaarde, maar volgens Dean (2000:51) sonder enige inhoud. Hierdie nuwe kurrikulum is ingefaseer in 1998 (Dean, 2000:51).

UGO is geplaas binne die breër konteks van die Nasionale Kwalifikasie Raamwerk (NQF). In 1989, nog voor die bewindsoorname van die ANC, het gesprekke reeds begin rondom die moontlikheid van „n NQF toe verskeie rolspelers ondersoek ingestel het na moontlikhede om die onderwys en opleiding in Suid-Afrika te verbeter. Die NQF se oogmerk was hoofsaaklik ekonomies gedrewe – om te kan oorleef in die globale ekonomiese mark, benodig die land hoë kwaliteit menslike hulpbronkapitaal wat ryk is aan vaardighede. Die NQF is gebaseer op UGO-beginsels en vestig „n nasionale stelsel wat al die verskillende vlakke van onderrig met mekaar verbind. Dit maak voorsiening vir vorige leer en laat leerders ook toe om meer gemaklik tussen die onderskeie vlakke te beweeg (Harber, 2001:42). Die NQF se voorstelle het beslag gekry in die voorgestelde nuwe beleidsraamwerk vir Onderwys en Opleiding wat vroeg in 1994 bekendgestel is. As gevolg van apartheidsonderwys en die gevolglike opstandigheid is die leerkultuur in talle gemeenskappe vernietig en het toestande van anargie in talle skole geheers, volgens hierdie beleidsraamwerk (African National Congress, 1994:2). Die uitdaging wat met die aanvang van die nuwe bestel oorkom moes word, was om „n

31

Onderwys- en Opleidingstelsel te skep wat die menslike hulpbronkapitaal in die land ten volle kan ontwikkel. Dit sou aangespreek word deur die doelstelling van die Freedom Charter - “ to open the doors of learning and culture to all.”

In 1995 word die White Paper on Education and Training deur die Onderwysdepartement bekend gestel waarin toegang tot onderwys vir almal en lewenslange leer veral beklemtoon word.

“For the first time in South Africa‟s history, a government has the mandate to plan the development of the education and training system for the benefit of the country as a whole and all its people. The challenge the government faces is to create a system that will fulfil the vision to “open the doors of learning and culture to all”. The paramount task is to build a just and equitable system which provides good quality education and training to learners young and old throughout the country” (Departement van Onderwys, 1995:12).

Die dokument stel dit dat die belangrikste doel met beleid moet wees om alle individue in staat te stel om toegang te hê tot lewenslange onderwys en opleiding van „n hoë gehalte. Die behoeftes van die leerder moet eerste gestel word en die kurrikulum moet voorsiening maak vir hulle voorkennis en vaardighede en daarop voortbou. Voorts moet die stelsel toenemend toegang tot onderwys en opleidingsgeleenthede verbeter en die leerders toelaat om gemaklik van een leerkonteks na die volgende te vorder om sodoende die geleentheid vir lewenslange leer moontlik te maak.

“An integrated approach to education and training will link one level of learning to another and enable successful learners to progress to higher levels without restriction from any starting point in the education and training system” (Departement van Onderwys, 1995:18).

Die assesseringsbeleid is eers in November 1998 aangekondig en in werking gestel in 1999. „n Hele paar jaar het dus verloop voor die konsep van assessering binne UGO uitgeklaar is. Daarom wil ek my skaar by Kallaway (2002:13) wat

32

argumenteer dat daar groot ooreenkomste was tussen die bewindsoorname van die Nasionale Party in 1948 en die ANC in 1994. Nie een van die twee het „n duidelike aksieplan gehad nie, maar was angstig om die politieke ideologieë van die party te vestig deur middel van onderwys. Waar dit vir die Nasionale Partyregering tyd geneem het om te verstaan hoe om mag verantwoordelik te gebruik, spesifiek in die vraagstuk van die hantering van die “naturelleprobleem”, het die ANC tyd gespandeer aan die vernuwing van die kurrikulum om nuwe gedagterigtings te vestig en apartheidsidees te verwyder, maar die kernfunksie van assessering is afgeskeep en eers as nagedagte bygevoeg, met implementering nadat UGO reeds in werking gestel is.

In die Assessment Policy in the General Education and Training Band, grades R to 9 and ABET (Departement van Onderwys, 1998(b)) is assessering gesien as „n deurlopende proses met „n verskeidenheid assesseringstegnieke. Interne assessering met eksterne moderering is beplan, behalwe in graad 9 waar assessering ekstern deur „n eksamineringsliggaam beplan, geadministreer en gemodereer word. Verwagte vlakke van prestasie waaraan leerders moet voldoen voordat hulle van een graad na die volgende bevorder kan word, sou vir elke graad en fase ontwikkel word, alhoewel die proses diagnosties van aard moet wees en leerders deur die loop van die jaar gehelp kan word om te vorder aangesien geen leerder meer as vier jaar in enige van die drie fases mag spandeer nie en leerders saam met hul ouderdomskohort moet vorder. In die voorwoord noem die destydse Minister van Onderwys, prof. Bengu, dat die belangrikste kwessie wat bespreek is tydens die konsultasieproses die kwessie was van die vordering tussen grade en fases en dat die gebruik van verwagte vlakke van prestasie vir elke graad en fase in die bepaling van progressie „n mylpaal is (Departement van Onderwys, 1998(b):2).

Hier lê egter „n groot teenstrydigheid in die beleid, aangesien daar nie sprake kan wees van vlakke van prestasie waaraan leerders moet voldoen, maar terselfdertyd word daar „n limiet geplaas op die aantal jare wat „n leerder binne „n fase mag spandeer nie. Dit is ook teenstrydig met die White Paper on Education and Training (Departement van Onderwys, 1995) wat dit stel dat leerders onder andere self kan

33

bepaal teen watter pas hulle wil vorder. “The Constitution guarantees equal access to basic education for all. The satisfaction of this guarantee must be the basis of policy. It goes well beyond the provision of schooling. It must provide an increasing range of learning possibilities, offering learners greater flexibility in choosing what, where, when, how and at what pace they learn” (Departement van Onderwys, 1995:18). Die kernidee van die “pass one, pass all”-beginsel kom hier duidelik na vore maar met min inagneming van die uiteindelike gevolge daarvan op die kwaliteit van onderrig.

2.4.4 Ontstaan van die Nasionale Beleid op Assessering en Kwalifikasies vir