• No results found

4.9 Etiese oorwegings

5.4.4 Invloed van herhalers en leerders wat outomaties bevorder is op die res van die klas

Uit al die respondente se ervaring blyk dit dat die leerders wat outomaties bevorder word, en veral diegene wat in graad 9 vassit, glad nie bydra tot „n werksatmosfeer in die klas nie. Situasies word geskets waar die leerders uit hul pad gaan om klasse te ontwrig en die ander leerders te steur. Soms is die ander leerders, ten spyte van hulle ooglopende frustrasie, te bang om hulle teë te gaan, omdat die herhalers dikwels ouer is of „n fisiese voordeel het.

“Daar het kinders verlede jaar geslaag wat geen mens weet hoe‟t hulle geslaag nie. En nou is dit kinders wat verlede jaar geslaag het wat nou in my graad 9-klas sit…dis nou kinders wat dissiplinêre probleme veroorsaak...Wat ook nou gebeur…daar is nou die vier herhalers van die vorige jaar in die klas,

111

en dan is daar nog drie swak kinders wat verlede jaar eintlik moes gedruip het, so daar is sewe kinders in daai klas wat ontsettend moeilik is. Dit maak die wêreld vir jou verskriklik moeilik.” En ook: “Dis „n geweldige probleem. Hulle is oud genoeg ook dat hulle weet dat, as hulle jou kwaad maak, mors hulle tyd en as hulle jou tyd mors, beteken dit hy word nie gekonfronteer met werk wat hy nie kan doen nie.” (Huistaal-onderwyseres)

Sy beweer daar is „n definitiewe verband tussen die leerders se wangedrag en hulle akademiese onvermoë, omdat hulle nie die pas kan volhou nie. Dit is ook die Wiskunde-onderwyseres se ondervinding.

“Ek dink die klas…die feit dat kinders…die sisteem die kind help-help-help om tot hier te kom…hy beskik nie oor die vaardighede wat hy behoort te hê in hierdie klas nie, so hy is eintlik „n “odd one out”. So hy moet homself nou op „n manier in hierdie klas handhaaf. Dit is nie deur die werk baas te raak nie, maar soms is dit deur die klas te ontwrig en op dié manier kry hy die aandag of voel hy hy dra by…maar so staan hy net weer uit.”

Die res van die klas weet dikwels nie hoe om hierdie wangedrag te hanteer nie, en derhalwe veroorsaak dit dat onderrig verlore gaan. Die respondente stem almal saam dat die klas dikwels gefrustreerd is met hierdie kinders se gedrag.

“Kinders is bang om so „n kind teë te gaan, want gewoonlik is hy ouer as hulle. Gewoonlik is hy…het hy miskien „n bietjie van „n…fisiese voordeel. Kinders is skrikkerig vir daai kinders en is bang om hulle teë te gaan, maar dis „n geweldige frustrasie vir die kinders in die klas, maar eintlik weet hulle nie hoe om dit op die regte manier te hanteer nie.” (Huistaal-onderwyseres)

112

Die respondente ondervind ook dat hierdie leerders soveel van hul tyd in beslag neem, hoofsaaklik as gevolg van dissiplinêre probleme, dat daar geensins tyd is vir verryking vir die sterker leerders nie. Ongelukkig veroorsaak dit ook dat daar nie geleentheid is vir die remediëring wat hierdie leerders wat outomaties bevorder is met die veronderstelling dat hulle ondersteuning in die volgende graad gaan ontvang, nodig het nie.

“In baie gevalle gaan hierdie kind wat swak…wat „n druipeling is, aandag vereis. Jy moet hom dissiplineer voor jy met die res van die klas kan aangaan. Hy vat baie keer meer aandag dissiplinegewys en dan kom jy nog nie by die onderrig van die vak uit nie.” (Wiskunde-onderwyseres)

“Ek dink die probleem is dat dit soveel tyd vat, en ek gaan dit erken, jy is nie altyd opgelei daarvoor nie. Wat gebeur is, is dat alles word so verswak tot „n middelpunt toe. Jy stimuleer nie jou sterk kinders nie en jy probeer aanmekaar die swakkes net dissiplineer of jy moet probeer om hulle êrens op „n manier deur fiktiewe punte deur kry.” (Huistaal-onderwyseres)

Die Wiskunde-onderwyseres stem hiermee saam en sê dat daar nie regtig geleentheid is vir verryking of vir remediëring nie. Nog die leerders wat sukkel om die eise van die kurrikulum baas te raak, nog die akademies sterker leerders het dus gelyke toegang tot kwaliteit onderrig.

“Dit gebeur elke jaar dat binne „n klas is daar kinders wat voor die ander is, maar hulle moet net daarmee verlief neem dat hulle soms „n bietjie verveeld raak. Jy kan niks daaraan doen nie. Die ongeluk is, „n mens pas jou tempo aan na aanleiding van die swakker kind in jou klas en die beter kind in jou klas moet die aanpassing maak.”

113

Dit wil dus voorkom asof die NBAK die kwaliteit van onderrig nie net nadelig beïnvloed ten opsigte van die leerders wat herhaal of outomaties bevorder is nie, maar ook vir diegene wat akademies sterker is en kan baat vind by verrykende aktiwiteite en ekstra aandag. Die leerders wat outomaties bevorder is terwyl hulle nie aan die kriteria voldoen het nie, ondervind probleme om by te bly by die eise van die kurrikulum en lewer dikwels „n negatiewe bydrae tot die onderwysgehalte van die hele groep.