• No results found

4.2 Die interpretiewe raamwerk

In hoofstuk 3 het ek die NBAK ontleed in terme van die teks, doelstellings en voorgeskrewe implementering daarvan. Interpretasie vorm egter „n belangrike komponent van beleidsanalise en daarom wil ek in hierdie studie fokus op die wyse waarop onderwysers die beleid interpreteer en ervaar. Tesame hiermee wil ek die moontlike persepsies van onderwysers ten opsigte van die rol wat die NBAK speel in die lewering van kwaliteit onderrig verken. Omdat ek gaan fokus op begrip

69

(verstaan) en interpretasie, gaan ek vir hierdie studie van die interpretiewe raamwerk gebruik maak.

Terre Blanche & Durrheim (1999:123) verduidelik dat die interpretiewe raamwerk aanneem dat mense se subjektiewe ervarings eg is en dat dit ernstig opgeneem behoort te word. Ons kan ook ander se ervarings verstaan deur interaksie met hulle en deur te luister na wat hulle vir ons vertel. Die interpretiewe benadering probeer om die mag van gewone taal en uitdrukking te versterk sodat ons die sosiale wêreld waarin ons leef, beter kan verstaan.

Volgens Norman Denzin (soos aangehaal in Stake, 2010:37) is interpretiewe navorsing „n poging “to make the meanings that circulate in the world of lived experience accessible to the reader. It endeavours to capture and represent the voices, emotions, and actions of those studied. The focus of interpretive research is on those life experiences that radically alter and shape the meanings persons give to themselves and their experiences.”

Hierdie interpretasie van dinge word dikwels gebaseer op die ervaarde begrip (experiential understanding) van of hul eie ervarings of die persoonlike ervarings van ander. Die Duitse woord verstehen kan hiervoor gebruik word. Kennis in die menslike wetenskappe verskil grootliks van kennis in die fisiese wetenskappe, aangesien fisiese wetenskappe hoofsaaklik gemoeid is met onpersoonlike verduidelikings van hoe dinge werk, terwyl die menslike wetenskappe dikwels gemoeid is met hoe mense dink en voel oor die werking van dinge. Dit bepaal hulle verstaan daarvan. Verstehen is met ander woorde „n ervaarde verstaan van aksie en konteks en die interpretasie word grootliks gevorm deur die dinge wat ons ervaar het (Stake, 2010:48). Maar, dit is „n wedersydse invloed: ons ervarings word beïnvloed deur ons verstaan van die wêreld, en ons verstaan van die wêreld word wedersyds beïnvloed deur ons ervarings.

70

Aangesien my studie fokus op die onderwysers se persoonlike interpretasie van die NBAK en ook op hulle verstaan daarvan ten opsigte van gelyke toegang tot onderwys en die lewering van kwaliteit onderrig, is die interpretiewe raamwerk gepas hiervoor. „n Sogenaamde ”thick desription” sal nodig wees. Ek gebruik die definisie van “thick description” soos gebruik deur Geertz (1973) om te verwys na „n beskrywing van menslike gedrag wat nie net die gedrag beskryf nie, maar ook die konteks, sodat die gedrag betekenisvol kan wees vir „n buitenstaander. Dit beteken dat daar ook gedink moet word oor die teorie deurdat vrae gevra word om dit te sien as deel van sosiokulturele wetenskap. „n Direkte verband moet getrek word tussen kulturele teorie en wetenskaplike kennis. Ek moet die situasie nie net beskryf nie, maar ek moet ook empatiese begrip toon en huidige interpretasies vergelyk met interpretasies in die navorsingsliteratuur. Ek moet dus dit wat tans gebeur deeglik ondersoek sodat daar nagedink kan word oor dieper betekenisse asook oor die bestaande teorie. Die “thick description” sal verslag doen oor die individue op wie daar gefokus word, maar met dit as basis wat my verder laat nadink oor veralgemenings en „n wyer toepassing van hulle verstehen. Die situasie wat ondersoek word en die bevindings wat daardeur gemaak word, hoop ek kan sodoende toegepas word op „n baie wyer grondslag.

Dit sluit aan by Merriam (2009:8) wat argumenteer dat interpretiewe navorsing aanvaar dat realiteit sosiaal gekonstrueer word en dat daar nie „n enkele waarneembare realiteit is nie, maar eerder veelvuldige realiteite of interpretasies van „n enkele gebeurtenis. Kennis word met ander woorde nie gevind nie, maar gekonstrueer. Individue soek na begrip van die wêreld waarin hulle leef en ontwikkel subjektiewe betekenisse van hulle ervarings. Hierdie betekenisse is gevarieerd en veelvuldig en word sosiaal en histories geskep en gevorm deur interaksie met ander en deur die historiese en kulturele norme wat in individue se lewens bestaan. Menslike subjektiwiteit is dus „n belangrike fokuspunt. Denzin & Lincoln (1994:119) sluit hierby aan wanneer hulle noem dat interpretiewe navorsing die standpunt huldig dat die egte wêreld van die eerste persoon se subjektiewe ervaring voorrang geniet. Daar moet dan gepoog word om hierdie menslike subjektiwiteit te objektiveer deur dit te vergelyk met die navorsingsliteratuur, om tendense uit te lig en om „n wyer toepassing daar te stel.

71

Terre Blanche & Durrheim (1999:125) beklemtoon ook die belangrike rol wat konteks speel in verstehen. Dit is nie net belangrik om te weet wat die persoon bedoel nie, maar ook om die konteks waarbinne dit gesê word, te verstaan. Die teks word met ander woorde teruggeplaas binne sy konteks en van daar af met „n empatiese ingesteldheid verstaan. Denzin & Lincoln (1994:123) waarsku dat hierdie empatie nie „n manier is om binne die persoon “se kop” te kom en te weet wat hy dink nie, maar dat die proses van verstehen eerder ontwikkel wanneer oor die persoon se skouer geloer word na wat hy doen binne sy bepaalde konteks. Alhoewel ek nie onderwysers se interaksies in die klaskamer direk gaan waarneem nie, gaan ek oor die onderwysers se skouers loer deur hul evaluering (toekenning van punte) van leerders te beskou as „n gestalte van hul interpretasie van die leerder se vermoëns.