• No results found

ONDERHOUD MET MEV RINA SMITH – HOOF VAN ‘FROM THE HEART PRE PRIMARY SCHOOL’ IN PRINCESS INFORMELE NEDERSETTING.

Rina, vertel my meer van die kleuterskool en wat jy beleef van die mense en kinders in Princess Plakkerskamp?

“Hierdie kleuterskool het so dertien jaar gelede ontstaan en was eers baie klein gewees, maar het deur die jare geweldig gegroei. Ek is die enigste een, saam met Susan Rammekwa van Tshepang, wat by die Departement van Onderwys geregistreer is. Ek is geregistreer om 140 kinders te kan inneem met speling tot en met 150 kinders maksimum. ‘From the Heart Pre- Primary school’ is saam met Tshepang beslis een van die twee grootste kleuterskole in Princess Plakkerskamp. Ons ontvang subsidie by die staat (‘n bedrag per kind per dag) en ons verwag van elke ouer om iets by te dra. Baie kan nie die volle bedrag betaal nie, maar ons vra tog dat hulle eienaarskap neem vir hulle kinders se opvoeding en opleiding en dus ‘n bydrae maak. Die skool het 9 personeellede wat ‘n salarais van die staat ontvang. Die skool ontvang verder ondersteuning van Kerke en die gemeenskap en ons verkies om nie geld te ontvang nie, maar eerder kos of mense wat ons apparaat kan herstel of aanvul of selfs kan help met die onderhoud van die geboue en die terrein.”

Wat is dan jou siening oor die mense en die kinders van Princess Plakkerskamp?

“Ek is van mening dat kinders vir die hier en die nou leef en dus nie noodwendig omgee oor wat gister gebeur het nie, solank hulle vandag kos het en met maatjies kan speel. Dit is wel so dat van hierdie kinders al gesien het hoe van hulle ouers verkrag, aangerand en selfs vermoor is en dus in daardie opsig trauma ervaar het, en sekerlik later in hulle lewe moontlik berading sal moet ontvang, maar ons ondervinding is dat hierdie gelukkige kinders is wat goeie onderrig, stimulering en die voorsiening in hulle basiese behoeftes ontvang. Hier is ook nie kinders wat in die strate slaap of in die straat ronddrentel in die aande nie, want die gemeenskap en die stelsel van uitgebreide families maak dat enige iemand op ‘n gegewe aand ‘n kind sal inneem en by hulle sal laat slaap en môre weer die ouers sal opspoor. Daar is by

die kleuterskool 2 personeellede wat op die perseel bly en dit gebeur gereeld dat ouers nie ‘n kind kom haal in die aand nie en dan slaap die kind daar en word versorg en die volgende dag kom haal die ouer wel die kind. Die gemeenskap sorg vir mekaar en vir mekaar se kinders en staan saam as daar ‘n ramp of krisis die gemeenskap tref.”

Is daar baie kinders wat nie skool toe gaan nie en wat is jou ervaring van dwelmmisbruik in Princess Plakkerskamp?

“Dit is glad nie waar dat kinders as gevolg van armoede by die huis bly nie, want almal wat wil skoolgaan, kan per trein (Princess stasie is ‘n paar honderd meter van die plakkerskamp af) na Durban Deep Laerskool ry. Dit is wel so dat eerstetaal onderrig feitlik glad nie plaasvind nie. Ouers is soms lui en slaap laat en sien nie toe dat kinders by die skool uitkom nie. Ek dink nie dat daar veel kinders is wat dwelms gebruik nie, aangesien daar net eenvoudig nie geld vir dwelms is nie. Dit kan wel waar wees dat dwelms aan wit kinders en jongmense verkoop word vanuit die plakkerskamp – heel moontlik aan Van der Lindestraat se kant.”

Watter ander probleme ervaar julle in Princess Plakkerskamp?

“As gevolg van die feit dat ons van die min persele is wat elektrisiteit het, word elektrisiteit vanaf ons verbinding gesteel en party maande is ons rekening werklik baie hoog en so vinnig as wat ons dit probeer herstel, so vinnig word dit maar weer deur die Zimbabwiërs veral (baie van hul is leke elektrisiëns) omgekeer en word krag maar weer onwettig en soms op lewensgevaarlike wyse gesteel. Ons is nie bang nie en word redelik deur die gemeenskap aanvaar. Die Here beskerm ons en mense kan niks aan ons doen nie, al weet ons dat sangomas en toordokters soms vloeke uitspreek oor ons en goed oor die heining gooi (soos bene en binnegoed van dooie diere) en ons probeer ontsenu en bang maak, maar dan neem ons dit maar net en verbrand dit en bid dat die Here ons sal beskerm, want ons weet Hy wat vir ons is, is baie sterker as die wat teen ons is.

‘n Verdere probleem is soms die kerklandskap in die Informele Nedersetting. Ons weet dat die grootste kerke in Princess die ZCC-kerk en die Twaalf Apostels is. Baie van die mense woon die kerke se byeenkomste by, en dit is deels positief, maar tog kommerwekkend dat veral die Twaalf Apostels nog baie gefokus is op voorvadergeeste en voorvaderaanbidding. Hierdie vorme van aanbidding het ‘n baie sterk houvas op die mense en is nie altyd tot voordeel van die mense en die gemeenskap nie.

80 

Te midde van al die uitdagings, ervaar ons dus eintlik baie seën van die Here en is ons van plan om hier te dien en te werk solank as wat die deure en die geleenthede vir ons bly oopgaan en oop bly.”

Enkele opmerkings oor die onderhoud met me Rina Smith.

Na die onderhoud het ons weer gedagtes gewissel oor die aard van die traumatisering van hierdie kinders en daar is begrip daarvoor dat sy voel dat dit wat hulle aan die kinders bied, nl. liefde, kos en klere, onderrig en ‘n plek om veilig te speel asook die baie bederfies van die gemeenskap en kerkgroepe en skole wat kom uitreik en altyd iets saambring, maak dat die kinders nie deur armoede of hulle blyplek in die Informele Nedersetting getraumatiseer word nie. Sy verstaan wel dat kinders wat albei ouers verloor het en wat geweldsmisdaad moes aanskou, getraumatiseer kan wees en sy sien in dat dit goed sal wees om met hierdie kinders op ‘n stadium ontlonting en narratiewe berading te doen.

Die sesde onderhoud is met mev. Susan Nawane gevoer.