• No results found

Navorsingsparadigmas as breë raamwerke huisves twee tipes wetenskaplike navorsing, naamlik kwantitatiewe en kwalitatiewe navorsing (Neuman, 2000:17). Hierdie twee tipes navorsing verskil in hoofsaak ten opsigte van die metodes waarop inligting versamel word en die tipe inligting wat gebruik word wanneer gevolgtrekkings gemaak word (Terre Blanche & Durrheim, 1999:10).

Hierdie studie was kwalitatief. Die doel was net om basiese data te versamel met kwalitatiewe oop antwoorde. Volgens Hancock (2002:2) wil kwalitatiewe navorsing antwoorde vind op vrae soos: Hoekom?, Hoe? of Op watter manier?

Kwalitatiewe navorsing verleen toegang tot ‘n rykdom van gedetailleerde, diepgaande en beskrywende data (Davis, 2004:12). Volgens Creswell (2009:15) is kwalitatiewe navorsing ‘n ondersoekende proses wat gebaseer word op bepaalde metodes en riglyne ten einde ‘n spesifieke sosiale of menslike verskynsel in sy natuurlike konteks te verstaan. Merriam (2001:6) definieer kwalitatiewe navorsing as ‘n poging om elke situasie in sy uniekheid, as deel van ‘n bepaalde konteks, te probeer verstaan. Die kwalitatiewe navorsingsbenadering bied aan my die geleentheid om beter insig oor opvoeders se kennis, verstaan van en persepsies van billikheid in die werkplek te verkry. Kwalitatiewe navorsers, wat deur ‘n interpretivistiese paradigma gerig word, beskou die realiteit wat bestudeer word as ‘n versameling sosiale konstruksie (Merriam, 1998:160). Mense se eie verstaan van hul werkomgewing en dit wat binne hul werkomgewing op ‘n spesifieke tyd en binne ‘n spesifieke konteks

gebeur, is dus die fokuspunt van die navorsing. In hierdie verband meld Sherman en Webb (1988:7) dat kwalitatiewe navorsing“implies a direct concern with experience as it is ‘lived’ or ‘felt’ or ‘undergone’.”

Die navorser is die belangrikste instrument van inligtingversameling en -analise (Merriam, 1998:165). Tydens inligtingversameling verkeer die navorser in ‘n interaktiewe verhouding met die konteks wat bestudeer word. Hierdie interaktiewe verhouding met die navorsingskonteks word voortgesit tydens die analise van die versamelde data. Kwalitatiewe navorsing verseker dat die navorser direk toegang verkry tot die konteks wat bestudeer word. Om hierdie rede word data gewoonlik deur middel van veldwerk versamel. Tydens die veldwerk raak die navorser intiem betrokke by die fenomeen wat bestudeer word (Merriam, 1998:161; Silverman, 2000:28). Die afleiding kan daarom gemaak word dat direkte toegang beter insig in individue se konstruksies van die realiteit wat bestudeer word, fasiliteer. Die instrument van navorsing in kwalitatiewe navorsing is die menslike gees en brein (Henning, 2004:3). Kenmerke van kwalitatiewe navorsing word deur McMillan (2000:252) genoem (Tabel 3.1).

Tabel 3.1: Kenmerke van kwalitatiewe navorsing

Eienskappe Beskrywing

Natuurlike situasie Studie van optrede soos dit natuurlik voorkom Direkte dataversameling Navorser versamel data direk van die deelnemer

Ryk narratiewe beskrywing Gedetailleerde narratiewe beskrywing wat die verstaan van die konteks van optrede bied

Prosesgeoriënteerd Fokus op hoekom en hoe optrede geskied Induktiewe data-analise Veralgemening van versamelde data

Deelnemerspersepsie Fokus op deelnemers se verstaan en mening oor ‘n aspek Veranderende studieontwerp Navorsingsontwerp kan verander namate die studie verloop

3.3.1 Die konteks van die navorsing

Vir die navorser was dit van kardinale belang om ‘n goeie keuse van navorsingsdeelnemers te maak vir die studie (De Vos et al., 2002:199). Die navorsingsdeelnemers was beperk tot geselekteerde skole in die Oudtshoorn distrik. Hierdie distrik bestaan uit ses hoërskole en twaalf primêre skole. Die

navosingdeelnemers het bestaan uit elf opvoeders wat in diens van die Wes-Kaap Onderwysdepartement (WKOD) is, en derhalwe moes ek skriftelike toestemming van die WKOD verkry vir die navorsing (Bylaag 3.1). Die skoolhoof het goedkeuring aan my verleen om die skoolbiblioteek te gebruik vir die onderhoude met die deelnemers (Bylaag 3.2). Gedurende Julie 2011 het ek ook skrywes aan die deelnemers gerig om hul toestemming te kry vir deelname aan die navorsing (Bylaag 3.3). Onderhoude met die

deelnemers het gedurende Augustus 2011 plaasgevind. Daar was van die deelnemers wat aangedui het dat hulle ander verpligtinge gehad het en ek moes hulle onttrek aan die navorsing. Ek moes derhalwe op ‘n kort kennisgewing ander deelnemers identifiseer wat wel bereid was om aan die navorsing deel te neem en wat aan die volgende kriteria voldoen het. Hulle moes:

• in diens wees van die WKOD

• op verskillende posvlakke binne die skoolverband aangestel wees • ‘n aktiewe rol binne hul vakbonde speel.

3.3.2 Die rol van die navorser

In kwalitatiewe navorsing is die navorser die primêre data-insamelingsinstrument en kan die navorser omstandighede gebruik om voldoende data in te samel om die navorsingsvraag te beantwoord. Ek het self die strukture geskep ten aansien van plek van navorsing en die bewoording van die navorsingsvraag. Dit bied volgens Merriam (2002:20) vir my die geleentheid om te respondeer op elke situasie wat mag voorkom en te besluit oor watter response daar uitgebrei kan word. Die navorser speel egter ‘n belangrike rol in die interaksie met die deelnemers ten opsigte van sy waardes, subjektiwiteit en agtergrond wat die data kan beïnvloed. In die onderhoude kan die resultate beïnvloed word deur die navorser se eie gevoelens, idees en vooroordele (Anderson & Arsenault, 1998:123; McMillan &

Schumacher, 2001). Deur gebruik te maak van die reflektiewe joernaal en insette van my hulpstudieleier wat die onderhoude bygewoon het, het ek gepoog om bogenoemde invloede te minimaliseer.

Henning (2004:83) verklaar dat die navorser die “inside view” van die deelnemers wil observeer en verstaan. Haar siening sluit aan by die aanname van die interpretivistiese benadering waar ek deurgaans gepoog het om die realiteit van elke deelnemende opvoeder se ervaring en regskennis oor billikheid in die werkplek in sy of haar unieke konteks te probeer verstaan en weer te gee in die bespreking van die resultate en bevindings. Ek is ‘n middeljarige manlike Kleurling-opvoeder wat self onbillikheid in die werkplek beleef het en derhalwe oor intieme kennis beskik van die tema van die navorsing. Ek kon dus makliker met die deelnemers kommunikeer oor die onderwerp en verstaan wat hulle my meedeel. Ek het egter ten alle tye verseker dat ek nie die navorsingsdeelnemers in enige opsig beïnvloed nie, maar slegs interpreteer wat hulle met my deel.

3.3.3 Keuse van deelnemers

Ek het van ‘n doelgerigte keuse van deelnemers gebruik gemaak ten aansien van ‘n sekere populasie wat voldoen aan die seleksiekriteria vir die navorsing. Merriam (2002:61) verklaar dat doelgerigte steekproeftrekking gebaseer is op die aanname dat die navorser begrip en insig wil verkry en daarom ‘n sekere populasie kies by wie daar die meeste geleer kan word. Die deelnemers wat gekies is volgens die seleksiekriteria het opvoeders ingesluit vanuit skoolbestuurspanne, -opvoeders en

vakbondverteenwoordigers. Die opvoeders in bestuursposte het bestaan uit drie skoolhoofde, een adjunkhoof en twee departementshoofde. Die studie was beperk tot die Oudtshoorn distrik. Daar was op deelnemers gekonsentreer wat daagliks in die praktyk staan en wat genoegsame onderwyservaring het.