• No results found

3.4 DATA INSAMELINGSTRATEGIEë

3.4.1 Individuele onderhoude

‘n Semi-gestruktureerde persoonlike onderhoud kan aan die navorser ‘n gedetailleerde prentjie verskaf van die deelnemer se sienings en ervarings van ‘n spesifieke onderwerp. Die metode bied aan die navorser en deelnemer geleentheid en buigbaarheid om ‘n duidelike prentjie van die deelnemer se ervarings en sienings te verkry en te verstaan. In semi-gestruktureerde onderhoude word ‘n skedule in die onderhoud gebruik (Bylaag 3.4). Die vrae het ten doel om areas van belang te dek tydens die onderhoud (De Vos, 1998; Merriam, 2002:74). Smith (1995:93) meld dat die onderhoud deur die skedule gelei word maar dat nie streng daarvolgens gehou word nie. Die presiese bewoording en orde van die onderwerpe vir bespreking is nie vooraf bepaal nie. Volgens Anderson en Arsenault (1998:190) is die voordele van semi-gestruktureerde onderhoude dat ‘n individu tydens onderhoude meer betrokke is as in die beantwoording van vraelyste. Die navorser kan meer volledige inligting verkry omdat hy tydens die onderhoud kan uitvra vir verdere inligting en so ryker data verkry. Die deelnemer se nie-verbale gedrag kan ook geobserveer word, sowel as die konteks waarbinne die deelnemers funksioneer. Ek het van ‘n onderhoudskedule gebruik gemaak waar onderwerpe vir bespreking geïdentifiseer is. Hierdie formaat het my as onderhoudvoerder die geleentheid gegee om te kon respondeer op elke situasie wat mag

voorkom, wat dan kon lei tot nuwe persepsies en idees oor die betrokke onderwerp (Breakwell, 2000:240; Merriam, 2002).

Dit is belangrik om die regte navorsingsdeelnemers te kies, sodat die relevante gebeure in die praktyk verkry kan word. Janesick (1994:210) beweer dat die doel van die keuse van kwalitatiewe

navorsingsdeelnemers is om bewustelik ‘n teikengroep te kies wat die navorsing die beste sal

beantwoord. Al die deelnemers word doelbewus en met groot oorleg as sleuteldeelnemers uit openbare skole gekies. Die rede hiervoor is omdat hierdie studie slegs gedoen word ten opsigte van billikheid in die werkplek van opvoeders.

Die navorsingsdeelnemers in die studie was vanuit ‘n laer-en hoërskoolpopulasie gekies en nie- waarskynlikheidsteekproeftrekking (doelgerigtesteekproefneming) is toegepas. ‘n Doelgerigte

deelnemeridentifisering is ‘n metode waarvolgens die navorser die deelnemers volgens sy eie oordeel kies, met inagneming van watter deelnemer beskikbaar en die meeste verteenwoordigend sal wees. McMillan en Schumacher (2001:640) beskryf doelgerigte-steekproefneming as ‘n proses waarvolgens die navorser ‘n element van die populasie kies wat verteenwoordigend is, of ‘n element wat genoegsame inligting kan verleen ten opsigte van die navorsingsonderwerp. Op grond van die navorser se kennis van die betrokke populasie, besluit hy wie die waardevolste inligting kan verskaf met betrekking tot die doel van die studie. Die deelnemers van hierdie studie was geselekteer op grond daarvan dat hulle, afgesien van hulle tradisioneel benadeelde milieu, blyke van volgehoue potensiaal toon.

Alhoewel nie-waarskynlikheidsteekproefneming die voordeel van gerief en koste-effektiwiteit inhou, is daar ook nadele aan verbonde waarvan die navorser homself moet vergewis; onder andere dat

veralgemenings tot die totale populasie subjektief van aard is en dat geldigheid en kredietwaardigheid as gevolg van seleksie-vooroordeel bevraagteken kan word (Merriam, 2002:9). Die deelnemers was uit primêre sowel as sekondêre publieke skole gekies. Daar was op deelnemers gekonsentreer wat daagliks in die praktyk staan en wat genoegsame onderwyservaring in die praktyk het. Die groep deelnemers wat deel sal uitmaak van die individuele onderhoude en fokusgroeponderhoude is afkomstig van verskillende skole binne die Oudtshoorn distrik.

Die seleksiekriteria het opvoeders ingesluit wat op, posvlak twee (departementshoof), posvlak drie (verwys na adjunkhoof) en posvlak vier (skoolhoof) was. Die studie was beperk tot ‘n sekere area met verwante sosio-ekonomiese kontekste. Ek het vyf oorwegend Afrikaanse skole en een Xhosa skool genader om my navorsing by die betrokke skole te onderneem.

Fase 1: Individuele onderhoude

Vyf individuele onderhoude met doelgerigte steekproefneming het plaasgevind. Daar is met ‘n prinsipaal ‘n onderhoud gevoer vanweë sy ervaring, kennis en vermoë om ‘n personeel van vyf en dertig opvoeders te bestuur. Daar is ook met ‘n senior opvoeder ‘n onderhoud gevoer vanweë sy ervaring as opvoeder en as gewese sekretaris van Suid-Afrikaanse Onderwysersunie binne die Oudtshoorn distrik. Verder is ‘n onderhoud met ‘n opvoeder gevoer vanweë sy kennis en ervaring as gewese voorsitter van die

Kaaplandse Professionele Onderwysersunie binne die Oudtshoorn distrik. Die vierde onderhoud is met ‘n adjunk-prinsipaal gevoer vanweë sy jarelange onderwyservaring. Die vyfde onderhoud is gevoer met ‘n opvoeder vanweë sy kennis en ervaring as onderwyser in ‘n landelike gebied. Die deelnemers en hulle onderskeie skole se inligting word in Tabel 3.2 aangedui.

Tabel 3.2: Doelgerigte keuse van navorsingsdeelnemers

Deelnemers Kenmerke

Deelnemer 1 Hy is ‘n opvoeder met tien jaar onderwyservaring. Hy gee tans onderrig by ‘n laerskool in

Bongulethu, Oudtshoorn. Die skool het ongeveer seshonderd leerders.

Deelnemer 2 Hy is ‘n opvoeder met vyf en twintig jaar onderwyservaring. Hy gee tans onderrig by ‘n

laerskool in Bridgton, Oudtshoorn. Hy studeer tans. Die skool het ongeveer negehonderd leerders.

Deelnemer 3 Hy is ‘n senior opvoeder met twintig jaar onderwyservaring. Hy was voorheen die

sekretaris van die Onderwysersunie, SADOU. Hy gee tans onderrig by ‘n laerskool in Bridgton, Oudtshoorn. Die skool het ongeveer eenduisend leerders

Deelnemer 4 Hy is ‘n opvoeder met vyf en twintig jaar onderwyservaring. Hy is tans ‘n bestuurslid van

die Onderwyserunie, SADOU. Hy gee onderrig by ‘n laerskool in Bridgton, Oudtshoorn. Die skool het ongeveer vierhonderd leerders.

Deelnemer 5 Sy is tans ‘n skoolhoof van ‘n hoërskool met een jaar ondervinding en as opvoeder vyf en

twintig jaar onderwyservaring. Sy gee tans onderrig by ‘n sekondêre skool in Dysselsdorp, Oudtshoorn distrik. Die skool het ongeveer eenduisend vierhonderd leerders.

Deelnemer 6 Hy is tans skoolhoof met sewentien jaar ondervinding en as opvoeder vyf en dertig jaar

onderwyservaring. Hy gee tans onderrig by ‘n skool in Bridgton, Oudtshoorn. Die skool het ongeveer eenduisend seshoderd leerders.

Deelnemer 7 Hy is ‘n opvoeder met tien jaar onderwyservaring. Hy gee tans onderrig by ‘n laerskool in

Grootkraal, Oudtshoorn distrik. Hy is tans ‘n bestuurslid van die Onderwysersunie, SADOU. Die skool het ongeveer driehonderd en vyftig leerders.

Deelnemer 8 Hy is ‘n adjunkhoof met veertien jaar ondervinding en as opvoeder twee en dertig jaar

onderwyservaring. Hy gee tans onderrig by ‘n laerskool in Bridgton, Oudtshoorn. Die skool het ongeveer negehonderd leerders.

Die volgende deelnemers was by die individuele onderhoude betrek: • ‘n Skoolhoof

• ‘n Adjunkhoof

• ‘n Senior opvoeder (Departementshoof) • Twee opvoeders.

Die agt verkose navorsingsdeelnemers het oor die nodige onderwyservaring beskik in die posisie wat hulle by die betrokke skool beklee het. Vanweë hul posisie in die struktuur van hul onderskeie skole mag hulle billikheid in die werkplek op verskillende maniere ervaar en beleef het. Die navorser het die

deelnemers self gekies en hulle is persone wat voorheen reeds aan hom bekend was. Dit het die onderhoudvoering makliker gemaak, omdat hierdie persone meer gemaklik hulle ervarings en kennis met die navorser gedeel het.