• No results found

HOOFSTUK 4: NED HERRMANN SE VIERKWADRANT-BREINMODEL

4.1.3 Musici se breinvermoë

Soos deur Jensen (1996:10) opgemerk, is elke brein uniek (punt 4.1.2) en bestaan daar strukturele verskille tussen die manlike en vroulike brein (sien Campbell:1984; Moir en Jessel:1989; Wonder en Donovan:1984; Ornstein en Thompson:1984). Die vraag is nou of daar spesifieke musiekareas in die brein bestaan, die brein aanpasbaar is en of daar funksionele en strukturele verskille tussen musici en nie- musici se breine bestaan.

Kennis rakende fisiologiese struktuur van en ingewikkelde prosesse in die brein neem met rasse skrede toe. Veral in die laaste tien jaar was daar ‘n toename in wetenskaplike ontdekkings wat breinfunksionering betref. Prosedures soos die nukleêre magnetiese resonansskandering (NMR)16 en positron emissie transaksiale tomografie (PETT)17 verleen insig in die werking van die brein. Die gevolg is dat wetenskaplikes kan “sien” as iemand aan iets dink of emosies ervaar (Rose en Nicholl 1997:26). Dit lei tot insig in die funksionering van die brein.

16

Deur middel van radiogolwe kan twee- of driedimensionele beelde van weefseltipes opgebou word. Dit kan ook bloedvloei in die are afbeeld (Rose en Nicholl 1997:26).

17

Dit produseer tomografiese beelde waar detail van sekere weefsel skerp afgeëts is. Dit kan ook dinamiese prosesse soos bloedvloei en selmetabolisme monitor (Rose en Nicholl 1997:26).

115

Die volgende figuur is ‘n voorbeeld van genoemde feit. Die helder dele wat deur ‘n PETT skandering verkry is wys drie areas in die linkerbrein wat aktief is tydens ‘n taalspesifieke taak. Die agterste area is wanneer ‘n persoon lees; die middelste is wanneer iemand praat en die voorste area is wanneer ‘n persoon oor die betekenis van ‘n woord dink.

Figuur 4-6: PETT afbeelding van die brein tydens ‘n taalspesifieke taak. (Kandel, Schwartz & Jessel 1991:1)

116 4.1.3.1 Spesifieke musiekareas in die brein

Navorsing toon dat veelvuldige areas van die brein by musiek betrokke is. Dit is dus ‘n wankonsepsie dat musikale aktiwiteite primêr in die regterbrein geprosesseer word (Baeck 2002:449). Bewyse bestaan dat musikale herkenning van oorvleuelende neuronale netwerke afhanklik is, wat met fundamentele musiekkomponente in beide hemisfere korrespondeer (Altenmüller 2001:273). Musiek het dus veelvuldige en multisensoriese verteenwoordiging in beide hemisfere wat bevestig dat die hele brein by klavierspel betrokke is.

4.1.3.2 Neuronale plastisiteit van die brein

Neuronale plastisiteit kan gedefinieer word as die algemene vermoë van die sentrale senuweestelsel om aan te pas by veranderde omgewingsomstandighede, die suksesvolle uitvoering van nuut opgelegde take, of die kompensering vir beskadigde serebrale strukture (Altenmüller en Gruhn 2002:63-64; 72; Altenmüller, Gruhn, Parlitz & Liebert 2000b:47; Schlaug 2001:282). Navorsers is dit eens dat neuronale plastisiteit by musici voorkom en dat musikale opleiding musici se breinaktiveringspatrone beïnvloed en verander (Altenmüller et al. 2000b:51; Bangert en Altenmüller 2003:1).

Sulke mikrostrukturele veranderinge is moontlik as gevolg van die funksionele eienskappe van betrokke neurone, sowel as die plooibaarheid van die neurale baanwerke binne dieselfde of verskillende breinareas wat ‘n duidelike graad van funksionele plastisiteit besit (Schlaug 2003:367; Altenmüller 2001:273). Veranderinge manifesteer in die vorm van versterking van bestaande sinapse, vorming van nuwe sinapse, of die verandering van kortikale weefsel om funksies van beskadigde weefsel oor te neem (Schlaug 2001:283).

Dergelike funksionele reorganisasie van sensories- en motories-kortikale netwerke is in verskillende eksperimente bewys (Herrmann 1995:7; Thompson 1985:315; Ornstein en Thompson 1984:12, 21, 151; Schlaug 2003:367). Daar is byvoorbeeld gevind dat verskille in die sensorimotoriese verteenwoordigende voorstellings ‘n gevolg is van die aanleer van ‘n nuwe vaardigheid; dat die kortikale verteenwoordigende area vergoot nadat ‘n vyfvinger-oefening oor ‘n tydperk van vyf

117

dae aangeleer is, en dat veranderinge in verteenwoordigings van kortiese bewegings in die primêre motoriese korteks voorkom nadat daar daagliks vir ‘n paar minute geoefen is.

4.1.3.3 Funksionele breinverskille tussen musici en nie-musici

Funksionele magnetiese resonans is gebruik om die serebrale aktiwiteitspatrone wat met musikale persepsie geassosieer word by musici en nie-musici te toets. Volgens Ohnishi, Matsuda & Asada (2001:754) het musici gedurende ‘n passiewe musiekbeluisteringsessie aktiwiteite in die bilaterale planum temporale en die linkerareas in die temporale korteks en die linker prefrontale korteks getoon. Nie- musici het aktiwiteite in die regter ouditiewe areas getoon. Volgens moderne konsepte van neuropsigologie en kognitiewe psigologie is hierdie verskille as gevolg van verskillende kognitiewe strategieë (Altenmüller et al. 2000a:100).

Die graad van aktivering van die linker planum temporale, asook serebrale eienskappe (struktureel sowel as funksioneel), korreleer met die ouderdom waarop ‘n persoon met musiekopleiding begin het. Dit bewys dat kortikale reorganisasie plaasvind as ‘n direkte gevolg van musiekopleiding.

4.1.3.4 Strukturele breinverskille tussen musici en nie-musici

In verskeie studies wat gedoen is (Altenmüller en Gruhn 2002; Baeck 2002:452; Schlaug 2001:281), is daar vergelykings getref tussen die breinanatomie van bekwame musici en nie-musici. Daar is bevind dat sekere breinareas van musici sekere strukturele serebrale veranderinge toon as gevolg van buitengewone vereistes daaraan gestel.

Heelwat strukturele verskille is tussen musici en nie-musici aangetref. Volgens Schlaug (2001:282) is dit die direkte gevolg van musiekopleiding en motoriese ondervindinge. Die duidelikste verskil is gevind in die perisilviaanse breinareas. Hierdie areas verrig verskeie perseptuele take soos musiekbeluistering, toonhoogtediskriminasie, geheue asook harmoniese, melodiese en ritmiese take (Schlaug 2003:373). Ander verskille is in die volgende strukture gevind:

118

• Corpus callosum: Nie net is die anterieure frontale helfte van die corpus callosum groter by musici as nie-musici nie, maar ook groter by musici wat vroeg (jonger as sewe jaar) met musiekopleiding begin het (Schlaug 2003:368; Baeck 2002:449; Altenmüller en Gruhn 2002:72).

• Motoriese korteks: Motories-verwante areas soos die premotoriese en serebrale korteks wat ‘n kritiese rol in die uitvoering van bimanuale, sekwensiële vingerbewegings speel, is vergroot by musici (Gaser en Schlaug 2003:9242). Daar is ook ‘n groter simmetrie van die intra-groeflengte van die posterieure kant van die presentrale kronkel, ‘n vergroting van die area wat die hande verteenwoordig (Altenmüller en Gruhn 2002:71) asook groter hemisferiese afmetings van linker- en regterhelftes van die motoriese korteks (Schlaug 2003:369).

• Serebellum: Die serebellum toon mikrostrukturele veranderinge (soos verhoogde aantal en digtheid van sinapse, gliaalselle en haarbuisies) ná langtermyn motoriese aktiwiteite (Schlaug 2003:370; Altenmüller en Gruhn 2002:72). Spesifieke areas van die serebellum wat duidelike verskille toon, is die linker kronkel van Heschl en die linker inferieure frontale kronkel (Gaser en Schlaug 2003:9242).

• Grysstof volume: Professionele musici toon ‘n hoër konsentrasie van grysstof in vergelyking met nie-musici in die posterieure en anterieure superieure pariëtale areas. Volgens Gaser en Schlaug (2003:9242) is die superieure pariëtale areas belangrik vir die integrering van multimodale sensoriese inligting en inisiëring van motoriese aksies. Dit sluit die volgende in: gelyktydige lees van notasie, omskakeling na motoriese aksies en reaksie op ouditiewe terugvoer.

• Planum temporale: Musici besit ‘n vergrote linkerasimmetrie van die planum temporale (Schlaug 2003:373).

119

Bogenoemde inligting toon aan dat daar wel verskille tussen musici en nie-musici se breine bestaan, en dat funksionele en strukturele veranderinge die direkte gevolg van musiekopleiding en motoriese ondervindinge is.

4.2 BESKRYWING VAN HERRMANN SE VIERKWADRANT-