• No results found

HOOFSTUK 5: METODE VAN ONDERSOEK

5.2 Fenomenologie

Volgens Wing (2001:50-51) handel fenomenologie oor mense se ervaring van die wêreld binne sekere kontekste en tydgleuwe, en nie oor abstrakte stellings oor die die algemene aard daarvan nie. Die daarstelling van die objek as ‘n perseptuele fenomeen varieer afhangende van die waarnemer se posisie en konteks, invalshoek van persepsie en geestelike instellings (soos oordele, emosies en doelwitte).

Moustakas (1994:41) meld ook dat die navorser betrokke is by ‘n fenomenologiese ondersoek, onder andere as gevolg van persoonlike belangstelling: “My perception, the thing I perceive and the experience interrelate”. Maar tog stel hy:

Phenomenology attempts to eliminate everything that represents a prejudgment, setting aside presuppositions and reaching a transcendental state of freshness and openness, a readiness to see in an unfettered way, not threatened by the customs, beliefs and prejudices of normal science (Moustakas 1994:41).

Kruger (1989:141) se standpunt kom op dieselfde as Moustakas se siening neer as hy stel dat die navorser moet poog om die navorsing te benader vanuit ‘n posisie van konseptuele stilte, om sodoende meer ontvanklik vir waarneming te wees. Maar hy voeg dan by dat die navorser nie ‘n houding van onbetrokkenheid kan handhaaf nie, aangesien die menslike element teenwoordig is. Dit is in ooreenstemming met Wing

173

(2001:51) wat ook stel dat die navorser noodwendig betrokke is.

Moustakas (1994:41) en Kruger (1989:141) meld dat die navorser die fenomeen beskryf sonder om te poog om dit binne 'n raamwerk te verduidelik of 'n hipotese of teorie te vorm. “In other words the phenomenological researcher should not prejudge any particular phenomenon nor see it through any given perspective because previous knowledge about that phenomenon exists” (Kruger 1989:141).

5.2.1

Fenomenologiese metode

Moustakas (1994:41, 103, 111) som die beginsels van die fenomenologiese metode, asook die proses van die persepsie van ‘n fenomeen tot die blootlegging van die essensie daarvan, as volg op:

Beginsels:

• Dit fokus op ‘n fenomeen, gestroop van enige vooronderstellings.

• Die fenomeen is ‘n eenheid wat uit verskeie invalshoeke bestudeer word. • Die navorser het persoonlike belang by die ondersoek.

• Data, die navorser se denke, intuïsie, nadenke en oordeel word beskou as primêre bewyse van die wetenskaplike ondersoek.

• Die navorsingsvraag, fokus van ondersoek en die rigtinggewende faktore, moet deurdag gekonstrueer word.

Die proses:

• Die daarstelling van ‘n tema en navorsingsvraag.

• Uitgebreide oorsig van bestaande literatuur. Dit sluit rekenaarsoektogte, psigologiese en opvoedkundige literatuur, proefskrifte, tydskrifte, artikels, kontak met kundiges, ander relevante studies, lesings en seminare in.

• Daarstelling van kriteria om geskikte mede-navorsers te identifiseer.

• Gee van instruksies rakende die aard en doel van die ondersoek en die ontwikkeling van ‘n ooreenkoms wat vertroulikheid, ingeligte toestemming en uiteensetting van verantwoordelikhede insluit.

• Ontwikkeling van ‘n stel vrae wat as riglyne by die onderhoudproses dien. • Onderhoudvoering en notering van inligting.

174

5.2.2 Basiese metodologiese prosedures wat met

interpretatiewe fenomenologiese analise geassosieer word

Die prosedure kan in verskillende stappe verdeel word:

• Interpretiewe fenomenologiese analise. • Analise van die individuele saak.

• Notering van bevindinge.

5.2.2.1 Interpretatiewe fenomenologiese analise

Volgens Wing (2001:53) is fenomenologiese analise 'n poging om betekenis aan inligting te heg wat deur 'n proses van interpretatiewe betrokkenheid verkry is. Dit word vergestalt deur 'n reeks stappe wat die navorser toelaat om relevante inligting te identifiseer en in betekenisvolle groepe te integreer.

Interpretatiewe interpretasie is 'n goeie navorsingsmetode as gevolg van die sistematiese aard van die analitiese prosedure en die voorsiening van gedetaileerde beskrywings van die analitiese proses. Kruger (1989:143) meen egter dat klem eerder op beskrywing as interpretasie gelê moet word as hy sê dat die navorser poog om die fenomeen so akkuraat moontlik te beskryf eerder as om dit binne ‘n bepaalde raamwerk te probeer verduidelik.

Aangesien fenomenologiese navorsing van die navorser verwag om die wêreld van die deelnemer te betree, is dit belangrik dat oop-einde, nie-leidende vrae gevra moet word. Die hoofdoel van die vrae is om deelnemers geleentheid te bied om hul persoonlike ondervinding rondom die fenomeen wat ondersoek word, weer te gee (Wing 2001:53). Gefokusde en spesifieke vrae word slegs gebruik as deelnemers aangemoedig moet word om meer uit te brei. Die doel daarvan is nie om te bepaal of hulle met die navorser se siening saamstem nie.

Uit die literatuurstudie het die volgende aspekte van fenomenologiese analise na vore gekom (Moustakas 1994:85-86; 90-98):

• “Epoche”. Dit beteken dat die navorsers hulle eie vooropgestelde idees, vooroordele, interpretasies en partydigheid laat vervaag sodat volle aandag aan die saak gewy kan word.

175

• Fenomenologiese redusering. Dit is refleksie en redusering met die doel om die wesenlike aard van die fenomeen te verduidelik. Dit sluit onder andere waarneming, denke, verbeelding en oordeel in. Die einddoel van redusering is die daarstelling van ‘n volledig geskrewe beskrywing van die fenomeen. • Verbeeldingryke variasie. Dit is die beskrywing van die essensie deur die

gebruik van verbeelding en verskillende verwysingsraamwerke.

5.2.2.2 Analise van die individuele saak

Volgens Wing (2001:54-58) word die analise van die saak in vier fases opgedeel: • Eerste fase – die herhaaldelike lees van die teks en die maak van

ongefokusde notas.

• Tweede fase – identifisering van temas wat die wesenlike kwaliteit van die teks karakteriseer.

• Derde fase – strukturering van die analise. Temas van fase twee word in verband met mekaar gebring. Sommige temas vorm natuurlike groepe konsepte.

• Vierde fase – opstel van 'n opsommende tabel met gestruktureerde hooftemas en ondergeskikte temas wat die kern van die deelnemer se ondervinding van die fenomeen vasvang.

5.2.2.3 Opskryf van bevindinge

Moustakas (1994:100) beskryf die finale stap as die intuïtiewe integrasie van die basiese beskrywings. Drie afdelings word in hierdie proses onderskei, naamlik inleiding (gebied van navorsing en navorsingsvraag), metode (metodologiese logika en prosesse gebruik) en resultate (‘n oortuigende weergawe van die aard en kwaliteit van die respondente se ondervinding van die fenomeen).

5.3 DIE DELPHI-METODE

Die woord Delphi kom van die modus operandi van die Griekse orakel by Delphi (Mattingley-Scott 2009:intyds). Die Delphi-metode is in die laat 1950’s deur Olaf Helmer, Norman Dalkey en TJ Gordon ontwikkel as deel van navorsing wat gedoen is by die Lugmag van die Verenigde State van Amerika. Dit het bekend gestaan as “Project Delphi”.