• No results found

Die fisiese en fisiologiese aspekte van ‘n goeie klaviertegniek

HOOFSTUK 2: KLAVIERTEGNIEK

2.2 Onderliggende funksies nodig vir klaviertegniek

2.2.2 Psigomotoriese funksies

2.2.2.1 Die fisiese en fisiologiese aspekte van ‘n goeie klaviertegniek

Met die volgende stelling meld Kochevitksy (1967:37) dat basiese fisiologiese aspekte vir alle pianiste geld (sekere metodes van tegniekontwikkeling kan dus op almal van toepassing wees):

All human beings are subject to the same physiological laws, all normal human bodies are built on identical principles, they have similar skeletal constructions, muscle function, similarly working central nervous systems. They are at least similar to such a degree that it is possible to speak of common physiological laws governing motor activity – hence of the prerequisites for building the foundation of piano technique.

36

Vervolgens word die fisiese en fisiologiese aspekte nodig vir die daarstelling van ‘n goeie klaviertegniek aan die hand van die volgende onderafdelings bespreek: die anatomie van die pianis, gebruik van hefbome, bewegings deur pianiste uitgevoer, die ontwikkeling van luistervaardighede en die bemeestering van basiese tegniese vaardighede.

2.2.2.1(a) Die anatomie van die pianis

Volgens Herbein (2003:19) is ’n deeglike kennis van die pianis se anatomie noodsaaklik vir beter begrip van effektiewe bewegings nodig vir instrumentale spel. Dit kan tot verbeterde liggaamsbewustheid en -bewegings lei.

Leerlinge moet deur ‘n bewustelike proses van liggaamlike gewaarwording en koördinasie, hul eie liggame leer ken as ‘n bron van kennis. Hulle is dus nie instrumente in die hande van onderwysers nie, maar selfdenkende, ondersoekende entiteite (Mark 2003:xii; Fink 1992:11; Newman 1984:38).

2.2.2.1(b) Die gebruik van hefbome

‘n Uitgebreide sisteem van hefbome wat in ooreenstemming met fisiese wette funksioneer, is betrokke by klavierspel. Phelps (1981) meen sonder ‘n grondige kennis van relevante hefbome kan tegniese vaardighede nie ten volle ontwikkel word nie.

Vir effektiewe funksionering benodig elke hefboomsisteem ‘n beweeglike hefboom waarop krag toegepas word en ‘n steunpunt waarteen ‘n beweging plaasvind. Die vereistes van ‘n sekere musiekfrase of musikale vaardigheid bepaal die grootte van die kragproduserende hefboom en die area wat as steunpunt funksioneer (Phelps 1981).

Hefbome wat individueel of in kombinasie met mekaar tydens klavierspel gebruik word, is die torso, bo-arm, voorarm, hand en vingers (Smith 1990:12-14, 23-26; Sandor 1981:30, 32; Whiteside 1961:31, 32; Ortmann 1981:3). Dit word aan die hand van die volgende tabel toegelig.

37

Hefboom Steunpunt Moontlike bewegings

Die torso Stuitjie en die onderlyf wat geanker is in die voete

Effens op, vorentoe, agtertoe, sywaarts

Die bo-arm Torso Vertikaal, lateraal, deurvolg

Die voorarm Bo-arm en torso Lateraal, vertikaal, rotasie

Die hand Vinger, voor- en bo-arm Vertikaal, lateraal

Die vingers Handpalm, polsgewrig, voorarm en bo-arm

Lateraal, vertikaal

Figuur 2-1: Hefbome betrokke by klavierspel

Bewegings wat in die tabel genoem word kan soos volg verklaar word:

• Laterale beweging van die voorarm is die horisontale beweging van die voor- arm, in samewerking met die bo-arm (Smith 1990:17).

• Vertikale voorarmbeweging word gebruik tydens groot dinamiese effekte en deurvolgbewegings (Ortmann 1962:165).

• Rotasiebeweging is die horisontale draaibewegings wat deur die voorarm uitgevoer word (Smith 1990:18).

• Vertikale bewegings van die hand is wanneer die hand as ‘n ferm eenheid gebruik word in oktaaf- of akkoordspel (Sandor 1982:94; Gát 1981:209).

2.2.2.1(c) Bewegings deur pianiste uitgevoer

In verskeie sportsoorte en vegkunste word basiese bewegings die boustene van meer gekompliseerde tegnieke (Fraser 2003:5). Net so moet die essensie van menslike beweging as uitgangspunt by klavierspel geneem word. Basiese bewegings moet tot in die fynste besonderhede geëksamineer en fundamenteel gedefinieer word in terme van die vereistes vir goeie musikale spel. Fraser (2003:23) is van mening dat tegniese vaardighede op so ‘n wyse verbeter kan word.

38

Een van die fundamentele aspekte van klavierspel en seker die belangrikste beweging wat ‘n pianis kan uitvoer, is die aanslaan van ‘n klawer (Huang en Lee 1997:31). Pianiste moet beheer hê oor die volgorde, tydsberekening, krag en resultante spoed waarmee die klawer aangeslaan word (Parncutt en Troup 2002:286).

Fraser (2003:23-25) is van mening dat die kwaliteit van ‘n beweging ‘n maatstaf van die pianis se vaardigheid is. Hoe ryker die sensoriese inligting wat na die brein gestuur word, hoe beter is die grondslag waarop die bewegings gebou kan word. Alle bewegings affekteer die klankbeeld: hoe groter die fisiese sensitiwiteit, hoe beter die klankbeheer; hoe meer die liggaam in ewewig is, hoe makliker is dit om aksies effektief uit te voer; hoe minder moeite in ‘n aksie betrokke is, hoe beter is die vermoë om dit te beheer.

Fink (1992:7) verdeel bewegings wat deur pianiste geïnisieer word in drie afdelings: • Fundamentele bewegings. Dit betrek die liggaam- en armbewegings, hand-

en vingerbewegings, geïntegreerde bewegings en bewegings as gevolg van pedaalgebruik.

• Toegepaste bewegings. Dit is bewegings deur die bo-arms en skouers, voorarms, hand en duime asook tweede tot vyfde vingers.

• Gesintetiseerde bewegings. Dit is ontspannings-, legato- en laterale bewegings.

Koornhof (2000:31) se beskrywing van bewegings fundamenteel vir ‘n goeie tegniek is meer spesifiek as hy die volgende lys daarstel:

• Vryval van die arm op die klawerbord.

• Laterale beweging van arm oor die klawerbord met minimale spiersametrekking.

• Opwip van arm met vinger en hand as stutpunt.

• Deurvolgbeweging van gewrig en voorarm met die vinger as stutpunt. • Rotasievryheid van die arm.

39 • Vingerbewegings vanaf die kneukels.

Om klavier te speel betrek dus die gekoördineerde, ontspanne bewegings van talle liggaamsdele. Soos Mark (2003:3) tereg daarop wys moet ‘n onderrigmetode nie uitsluitlik op die ontwikkeling van vingers gebaseer wees nie, maar op alle ondersteunende bewegings van die res van die liggaam.

2.2.2.1(d) Die ontwikkeling van luistervaardighede

Musiek is ‘n gehoorkuns wat die verstand stimuleer – daarom moet leerlinge geleer word dat musiek nie net ‘n visuele of psigiese aktiwiteit is nie, maar ook ‘n luisteraktiwiteit. Die oor moet konstant opgelei en verfyn word om enige ongerymdhede wat in die klavierspel mag voorkom te identifiseer en te verbeter (Fraser 2003:8).

Pedagoë is dit eens dat luisterbekwaamheid een van die belangrikste komponente van goeie klavierspel en met implikasie tegniek is (Fraser 2003:8; Chappell 1999:256; Dalby 1999:22; Campbell en Scott-Kassner 1995:158; Slenczynska 1974:12; Gieseking en Leimer 1972:5). Luisterbekwaamheid is die vermoë om klanke waar te neem en ‘n mening daaroor te vorm (Campbell en Scott-Kassner 1995:159).

Om na musiek te luister is ‘n komplekse taak, aangesien dit nie net as ‘n akoestiese struktuur in tyd ervaar word nie, maar ook as patrone, assosiasies, emosies en verwagtinge. Hierdie aspekte is gebaseer op ‘n komplekse stel perseptiewe en kognitiewe handelinge teenwoordig in die sentrale senuweestelsel (Altenmüller en Gruhn 2002:69).

Aansluitend hierby het studies rakende die rol van gehoor in klaviertegniek aangetoon dat breinsubstrate onderliggend aan die ouditiewe proses aanpasbaar is (Altenmüller 2003:350-352). Fyn motoriese vaardighede kan dus verbeter word deur die pianis se reaksie op ouditiewe terugvoer (Altenmüller en Gruhn 2002:69). Ouditiewe terugvoer is die gevolg van oudiasie, innerlike gehoor en internalisering.

40

Volgens Altenmüller en Gruhn (2002:79) is oudiasie die daarstelling van ouditiewe en kognitiewe verteenwoordigings van musikale eenhede (maar nie in terme van visuele of verbale eienskappe nie), wat bydra tot die intrinsieke musikale betekenis van musiekklanke. Dit is ook die aktivering van bekende, musikale patrone wat as kognitiewe verteenwoordigings geberg is. Om hierdie rede is dit tot die pianis se voordeel as die musikale leerproses gerig is op die daarstelling van kognitiewe beelde voordat enige motoriese aktiwiteite aangeleer word.

Fourie (2004:13) is van mening dat die term “notasie-oudiasie” (“notational audiation”) eerder ‘n meer akkurate beskrywing as net oudiasie is. Brodsky, Henik & Rubinstein (2003:610) gebruik ook die term “notasie-oudiasie” en verklaar dit as volg: “...silent reading of musical notation resulting in auditory imagery involving kineasthetic-like phonatory processes”.

Fink (1997:20) beskou oudiasie as die belangrikste aspek van klaviertegniek. Hy sien die innerlike projeksie van musikale intensies as fundamenteel vir intelligente klavierspel aangesien dit tegniese vaardighede saamvoeg tot ‘n musikale idee. Dalby (1999:22) en Chappell (1999:256) is van mening dat oudiasie leerlinge kan help om die tonale en ritmiese aspekte van musiek beter te begryp. “Through learning to represent the music internally one is moving away from a notation-led system towards one where the ear takes priority. The brain has to learn how to mentally manipulate the images and sounds…” (Chappell 1999:256).

Hierteenoor is innerlike gehoor ‘n term wat gebruik word om die psigiese hoor van musiek in ‘n wyer konteks te beskryf (Dalby 1999:22) en is dit nie noodwendig beperk tot kognitiewe beelde wat die gevolg is van waargeneemde notasie soos oudiasie nie (Fourie 2004:13). Die vermoë van ‘n pianis om bladmusiek te lees en dan klanke psigies te hoor, is eksperimenteel in ‘n neurologiese ondersoek bewys. Pascual-Leone (2001:321) het ook gevind dat die kognitiewe stimulering van motoriese aksies noodsaaklik vir die uitvoer van ‘n musiekstuk, sekere neurale strukture aktiveer.

41

Volgens Chappell (1999:256) is internalisering van toepassing op die psigiese voorstelling van ‘n musiekstuk. Hy beskryf dit as volg: “It calls upon us mentally to create and manipulate sounds, feelings and images, to use spatial awareness, to see the music as a whole and to focus all our attention on the activity” (Chappell 1999:255). Die voordele van internalisering is onder andere die vermindering van spierspanning (as gevolg van die antisipasie van werklike fisiese bewegings) asook die fokus op innerlike gehoor en uitdrukkingsvolle voordrag (Chappell 1999:256).

Bo en behalwe bogenoemde fisiologiese aspekte, is daar sekere fisiese vaardighede wat noodsaaklik is vir goeie klavierspel. Bemeestering van hierdie vaardighede word as die basis van ‘n goeie tegniek beskou (Cooke 1999:54; Fink 1992:7; Uszler et al. 1991:214).

2.2.2.1(e) Bemeestering van basiese tegniese vaardighede van klavierspel Uit die literatuurondersoek het die volgende vaardighede na vore gekom wat algemeen deur pedagoë, onderwysers en pianiste aanvaar word as tegniese vermoëns wat ‘n pianis moet besit om ‘n sinvolle voordrag te lewer. Aangesien dit binne die bestek van die huidige ondersoek nie moontlik is om volledige beskrywings te gee van die uitvoering en ontleding van genoemde tegniese vaardighede nie, sal elkeen slegs gemeld word.

• Die veelsydige en ekonomiese gebruik van alle hefbome (Harrison 1953:3; Fink 1992:7-8; Neuhaus 1973:83).

• Die regte liggaamshouding en posisie van arms, polsgewrigte en vingers (Uszler et al. 1991:214; Fink 1992:11).

• Die uitskakeling van alle onnodige bewegings (Hofmann 1944:214; Gieseking en Leimer 1972:58).

• ‘n Ontspanne houding van die hele liggaam voor die klavier (Scholes 1983:803; Kochevitsky 1967:22; Neuhaus 1973:92,129; Gieseking en Leimer 1972:54).

• Die gebruik van gewigtegniek eerder as die toepassing van druk op die klawers (Johnstone 1967:71; Cooke 1999:134-137; Ortmann 1981:75; Bernstein 1981:129; Uszler et al. 1991:364; Kochevitsky 1967:22; Neuhaus 1973:87).

42

• Koördinasie van spiere (Camp 1992:13; Fink 1992:13; Newman 1984:70; Kochevitsky 1967:21).

• Ontwikkeling van vingervlugheid, krag, uithouvermoë, buigsaamheid, grasie en egaligheid (Fink 1991:13; Uszler et al. 1991:214-220; Johnstone 1967:6; Ahrens en Atkinson 1955:41; Cooke 1999:68; Gát 1958:101-141; Gieseking en Leimer 1972:5; Kochevitsky 1967:26; Camp 1992:13).

• Ontwikkeling van luistervaardighede (Ahrens en Atkinson 1955:38; Uszler et al. 1991:214, 222; Camp 1992:13-14).

• ‘n Grondige kennis dat tegniek in diens staan van musikale doelwitte (Newman 1984:68; Kochevitsky 1967:14; Fink 1992:11; Wolff 1972:22; Harrison 1953:57).

• Die produsering van verskillende tipes aanvaarbare klankbeelde (Uszler et al. 1991:365; Mach 1991a:117; Mach 1991b:233).

• ‘n Psigologiese benadering tot klaviertegniek (Neuhaus 1973:82, 88; Kochevitsky 1967:14; Newman 1984:39; Gieseking en Leimer 1972:52).

• Deursettingsvermoë, passie, energie en vinnige denke (Neuhaus 1973:91; Kochevitsky 1967:22; Bernstein 1981:131).

• Kennis, insig en volkome beheer van die volgende fundamentele aspekte: - Legato- en staccatospel (Hofmann 1944:214; Johnstone 1967:5;

Camp 1992:14; Fink 1992:8; Ortmann 1981:75; Harrison 1953:3; Uszler et al. 1991:214–215; Bastien 1977:283).

- Dubbelnootspel soos dubbelnootderdes en -nootoktawe (Whiteside 1961:51; Uszler et al. 1991:214-215; Neuhaus 1973:118; Newman 1984:71).

- Tremelo’s, versierings, glissando’s en trillers (Gát 1958:101; 174; Ortmann 1981:75; Gieseking en Leimer 1972:57).

- Begeleidingstyle soos Alberti-bas (Uszler et al. 1991:214-215; Ahrens en Atkinson 1955:41).

- Akkoordspel soos drieklanke en omkerings, blokakkoorde en gebroke akkoorde (Gieseken en Leimer 1972:56; Ahrens en Atkinson 1955:43). - Onafhanklikheid tussen hande (Johnstone 1967:19; Uszsler et al.

43

- Die uitbring van stemme in ‘n drieklank of verskillende note deur een hand gespeel (Gieseken en Leimer 1972:56; Uszler et al. 1991:214- 215; Neuhaus 1973:129).

- Beheer oor vinnige verplasings oor die klawerbord (Fink 1991:8; Ortmann 1981:75; Uszler et al. 1991:214-215, 220).

- Basiese dinamiese skakerings en klankkleure (Cooke 1999:133-134; Uszler et al. 1991:214; Neuhaus 1973:117).

- Tempo aanduidings (Cooke 1999:70; Uszler et al. 1991:214-216; Reddie s.j.:1; Bernstein 1981:138-152).

- Pedaalgebruik (Uszler et al. 1991:214-215).

- Toonlere, arpeggios en passasiewerk (Ortmann 1981:75; Cooke 1999: 68, 365; Bastien 1977:249; Johnstone 1967:6; Newman 1984:71; Gieseking en Leimer 1972:50; Uszler et al. 1991:364; Harríson 1953:3; Reddie s.j.:1; Cooke 1999:54; Du Plessis 2000:3; Bernstein 1981:159- 168; Neuhaus 1973:86, 118; Mach 1991b:161; Gát 1958:164).

- Onderdeursetting van die duim (Fink 1992:7-8, Ahrens en Atkinson 1955:38, 41; Uszler et al. 1991:215; Cooke 1999:54; Bernstein 1981:159; Gieseking en Leimer 1972:53, 54; Gát 1958:32, 158).

- Die regte vingersetting (Gát 1958:101; Ahrens en Atkinson 1955:38, 43; Gieseking en Leimer 1972:52, 57).

2.2.2.1(f) Samevatting fisiese en fisiologiese aspekte

Die oorsig wat hierbo aangebied is onderstreep die feit dat klavierspel nie slegs ‘n natuurlike proses is nie. Bewustelike, meganiese prosesse is betrokke wat kognitiewe inspanning en ‘n psigologiese benadering verg. Bewegings wat gebruik word, moet sorgvuldig beplan en met die nodige vaardigheid uitgevoer word. Luistervaardighede moet ter wille van sinvolle terugvoer ontwikkel word. Daardeur kan spel verbeter en die einddoel vinniger bereik word. Al hierdie aspekte moet in diens staan van ‘n goeie musikale voordrag sonder dat die eindresultaat meganies van aard is.

44