• No results found

HOOFSTUK 3: LEERSTYLMODELLE EN KLAVIERTEGNIEK

3.4. Jensen se breingebaseerde onderrig en leermodel

In ooreenstemming met Herrmann, stel Jensen ook dat die heelbrein betrokke moet wees by alle leerprosesse13, maar Jensen lê meer klem op die omstandighede waarin die leerprosesse plaasvind en die welstand van die individu: “All learning involves our body, our emotions, our attitudes and health. Brain-based learning says that we must address those variables more comprehensively” (Jensen 1995:38).

Aangesien elke persoon se brein uniek is, moet daar ‘n verskeidenheid van onderrigmetodes, strategieë en tegnieke gebruik word om die leerervaring vir elkeen so intens en sinvol moontlik te maak. Albei kante van die brein moet deur middel van breingebaseerde onderrig geaktiveer, geïntegreer en gekoördineer word (Jensen 1995:11).

Volgens Jensen (1996:4, 131) is breingebaseerde onderrig ‘n benadering tot die leerproses wat die brein se mees natuurlike leervoorkeure bevorder, met die doel om maksimum aandag, begrip, betekenis en geheue te bewerkstellig. Hierdie leerproses vind plaas binne die konteks van twee oorhoofse strukture, naamlik die fisiologiese kant van die leerproses en die omgewing waarin die leerproses plaasvind.

13

93

As leerlinge se voorkeure vir die aanbieding van inligting en omstandighede waarin die klavierles plaasvind bevredig word, kan dit ‘n positiewe uitwerking op die ontwikkeling van tegniek en gesindheid van die leerling uitoefen. Genoemde sienings het betrekking op alle punte wat vervolgens bespreek word.

3.4.1

Fisiologiese aspekte van die leerproses

Die volgende fisiologiese aspekte naamlik emosie, breinsiklusse en spanning kan die leerproses beïnvloed.

3.4.1.1 Emosie

Volgens Jensen (1996:27-29) kan emosie en gemoedstoestand die leerproses affekteer. Die omstandighede waarin die leerproses plaasvind kan veroorsaak dat persone meer of minder van dieselfde ervaring wil hê, en positiewe emosies kan veroorsaak dat die brein se perseptuele prosessering beter funksioneer. Positiewe emosies kan ook lei tot beter selfvertroue en motivering om kennis te verkry (van leerlinge se kant af) en kennis oor te dra (van onderwysers se kant af). Emosie kan dus as ‘n kragtige hulpmiddel vir die leerproses gebruik word (Jensen 1995:40; Caine en Caine 1991:82).

As dit op die musieksituasie toegepas word, kan dit beteken dat gunstige emosionele omstandighede in die klas tot ‘n meer genotvolle leservaring bydra, wat tot beter prosessering kan lei. Hierdie stelling is nog nie in die klavierlessituasie bewys nie, maar in die skoolsituasie het ‘n positiewe atmosfeer tot positiewe gevolge gelei (Jensen 1995:40).

3.4.1.2 Breinsiklusse

‘n Studie wat op hemisferiese dominansie-veranderinge gedoen is, het bewys dat die brein in siklusse funksioneer, wat veranderinge in die leer- en denkprosesse asook redenering en ruimtelike vermoëns tot gevolg het. Dit het getoon dat denkprosesse negatief tydens lae siklusse en positief gedurende hoë siklusse is (Jensen 1995:50).

94

Daar bestaan dus ‘n moontlikheid dat maksimum resultate verkry kan word as ‘n klavierles ook in siklusse van werk en ontspanning aangebied word. Jensen (1995:56) meld juis dat volwassenes se maksimum tydspan van konsentrasie net 25 minute is.

3.4.1.3 Spanning

Navorsing toon dat leerlinge wat gespanne is, 75% minder inligting opneem as dié wat ontspanne is. Spanning verswak die beskikbare prosesseringskapasiteit asook die brein se geheue, perseptuele omvang en indekssisteme. Fisiologies word die hippokampus, wat betrokke is by leerprosesse en geheue, die meeste beïnvloed. (Jensen 1995:177, 225, 228; Caine en Caine 1991:86).

As individue onder enige spanning verkeer, sal die brein:

• Die vermoë verloor om inligting te kategoriseer, te berg en op te roep. • Die vermoë om patrone en verhoudings te herken, verloor.

• Beperkte funksies besit en nie hoër-orde denkprosesse kan uitvoer nie. • Geheuekapasiteit verloor.

• Op ‘n fobiese manier oorreageer op stimuli (Jensen 1995:30, 34, 224).

Die praktiese implikasie is dat onderwysers ‘n ontspanne atmosfeer in die klas moet handhaaf en nie vrees by die leerlinge moet afdwing nie. Leerlinge kan ook aangemoedig word om ontspanningstegnieke soos die Alexander-tegniek of joga te bemeester. Motivering en spanning kan egter ook produktief saamgaan – daar moet trouens ‘n mate van balans wees, en nie alle vorme van spanning is patologies van aard nie.

3.4.2 Die omgewingsomstandighede

‘n Groot hoeveelheid van alle leerprosesse vind vir die meeste mense onbewustelik deur visuele stimulasie, klanke, ondervindinge, aromas en ander omgewingsfaktore plaas (Jensen 1995:22; Jensen 1996:35; Diamond 1988:2).

95

Your learning climate and environment are very important. So are your dress standard and your non-verbal messages. Those are all “learned” by your participants even though you may not be “presenting” any of them. How you treat your participants, what you say, how you say it, the temperature, the room set-up are all influencing the learner and being processed either consciously or non- consciously (Jensen 1996:37).

Dit kom ooreen met Rose en Nicholl (1997:53) se siening van die belangrikheid van die omgewing waarin die onderrig plaasvind.

Deur navorsing is daar bewys dat die volgende aspekte, naamlik positiewe omstandighede, visuele stimulasie, temperatuur, aromas asook liggaamstaal en kleredrag ‘n invloed op sekere leerlinge in die skoolsituasie het (Jensen 1996:55-117). Daar bestaan dus ‘n moontlikheid dat dit ook ‘n invloed kan uitoefen op klavierleerlinge se vermoë om inligting beter op te neem, beter te presteer en tegniese vermoëns te verbeter. Daar moet egter gewaak word teen veralgemening.

3.4.2.1 Positiewe omstandighede

Dit is in die skoolsituasie bewys dat onderwysers wat humor gebruik, vriendelik is, gereeld glimlag, ‘n vrolike en positiewe houding het en waarlik plesier in hul werk vind beter resultate ondervind as ander wat negatief en buierig is (Jensen 1996:98). Die liggaam reageer biochemies daarop deurdat daar ‘n toename in witbloedselaktiwiteite, verandering in die chemiese balans en ‘n verhoging van produksie van neurosenders is.

Hierdie aspek is die belangrikste, want die positiewe optrede van ‘n onderwyser, wat intra- en interpersoonlike vaardighede insluit, is primêr tot die leersukses van leerlinge. Die volgende wat genoem word, is sekondêre faktore wat ‘n bydrae kan lewer. Daar moet egter gewaak word teen veralgemening, want leerlinge met aandag- afleibaarheidssindroom moet byvoorbeeld juis nie deur middel van eksterne faktore gestimuleer word nie.

96

3.4.2.2 Visuele stimulasie

Die sentrale senuweestelsel kan geaktiveer en breinaktiwiteite verbeter word deur visuele stimulasie. Dit is bewys dat helder, konkrete, visuele beelde die beste wyse is om inligting oor te dra (Jensen 1995:80, 130). Dr Robert Gerard en Faber Birren van die University of Chicago het navorsing gedoen wat bewys dat kleur in die omgewing ‘n fisiologiese effek op angstigheid, polsslag en bloedtoevoer het, aangesien elke kleur ‘n golflengte het wat persone se gemoedstoestand en leervermoëns beïnvloed (Jensen 1995:57).

3.4.2.3 Temperatuur

‘n Hoë temperatuur verminder die leervermoë (Jensen 1996:63). Daar moet dus ‘n matige temperatuur in die lokaal teenwoordig wees.

3.4.2.4 Aromas

‘n Verband bestaan tussen die mens se reukorgane en die outonome senuweestelsel. Navorsers soos Alan Hirsch, Lewis Thomas en Harry Walter het bewys dat sekere geure en aromas14 die leerproses aanhelp (Jensen 1996:66).

3.4.2.5 Liggaamstaal en kleredrag

Lozanov (1989:2) bewys dat leerlinge boodskappe op twee vlakke ontvang, naamlik op ‘n bewustelike en onbewuste vlak. Leerlinge is bewus van verbale en nie-verbale kommunikasie, en word deur boodskappe wat die onderwyser onbewustelik uitstuur, beïnvloed.

Lawlor en Handley (1996:95) meld dat onderwysers ‘n sterk invloed op die kinders kan uitoefen deur die wyse waarop hulle hul liggame en stemtone gebruik. Albert Mehrabian (1972:182) het bewys dat die volgende persentasies van toepassing is in die kommunikasie proses:

14

Vir kognitiewe waaksaamheid is peperment, basiliekruid, suurlemoen, kaneel en roosmaryn die beste. Vir kalmering en ontspanning is laventel, kamille, lemoen en roosgeur die beste (Jensen 1996:66).

97

Liggaamstaal (gesigsuitdrukking, houding, gebare) 55% Stem (toon, spanning, hoogte, nuansering, gebruik van stiltes) 38%

Verbale inhoud (woorde alleen) 7%

In aansluiting by liggaamstaal is onderwysers se kleredrag net so belangrik en kan dit ‘n invloed op die werksverrigting en houding van die leerlinge uitoefen (Jensen 1996:97; Lozanov 1989:2). Daar is bewys dat kinders meer by goedgeklede onderwysers leer (Jensen 1995:320). Dit is dus van uiterste belang hoe die onderwyser homself handhaaf en voorstel.

Alhoewel dit blyk dat al bogenoemde aspekte ver verwyder van klaviertegniek is, kan dit tog in ‘n groot mate bydra tot die opneem en verwerking van inligting wat ‘n positiewe uitwerking op die ontwikkeling van klaviertegniek kan uitoefen.