• No results found

Hoofstuk 2: Judith Butler se teoretisering oor geslag, gender,

2.14 Melancholie

In Gender trouble voer Butler (1990: 57) aan dat daar na haar mening nog nie genoegsaam ondersoek ingestel is na hoe die melancholiese ontkenning van homoseksualiteit binne die heteroseksuele raamwerk funksioneer tydens die konstruering van gender nie. Melancholie word in beide Gender trouble (1990) en Bodies that matter (1993) uitvoerig deur Butler bespreek. Sy baseer haar teorie oor melancholie grotendeels op Freud se se twee essays, naamlik Mourning and Melancholia (1917) en The Ego and the Id (1923). Butler se teo- retisering oor melancholie behels in ’n neutedop dat sy travestie beskou as iets wat heteroseksuele melancholie allegoriseer (Butler, 1993: 235). Dit is die melancholie waarvolgens ’n manlike gender gevorm word deur te weier om te treur oor die verlies van die moontlikheid van die manlike as liefde en die vroulike gender word gevorm deur die fantasie of oortuiging dat die vroulike uitgesluit moet word as ’n moontlikheid van liefde.

Vanweë die beperkte omvang van hierdie M.A.-tesis (wat 50% van die eindpunt bydra), word Butler se teorie oor melancholie nie volledig by hierdie ondersoek ingesluit nie. Sy verwys in haar besprekings nie net na die werk van Lucian Freud nie, maar ook na die werk van Jacques Lacan, Julia Kristeva en Luce Irigaray en maak gebruik van psigoanalitiese teorieë. Haar uiteensetting van melancholie is te omvattend en verg myns insiens ’n selfstandige ondersoek.

57

Verder is Butler se uiteensetting van melancholie volgens my problematies aangesien sy, soos Prosser (aangehaal in Jagger, 2008: 148) aanvoer dat die waarde van hetero- seksualiteit en wat hy “straight gender” noem, devalueer. Die feministiese filosoof Nancy Fraser vra tereg of subjekformasie altyd onderdruk word (Salih, 2002: 142).53 Indien dit wel so is dat heteroseksuele melancholie plaasvind, laat Butler volgens my nie in haar teorie ruimte vir heteroseksuele individue wat dalk wel ’n homoseksuele verbintenis oorweeg, maar dit afwys omdat hulle vind dat hulle nie individue van dieselfde geslag begeer nie. Die vraag ontstaan dan of elke heteroseksuele individu behoort te treur oor die verlies aan die moontlikheid van ’n homoseksuele verbintenis soos Butler voorstel. Is dit nie genoegsaam wanneer heteroseksuele individue die sogenaamd afwykende Ander (h)erken en daardeur byvoorbeeld die homoseksuele individu se reg op bestaan in die samelewing help bevorder nie? Butler (2004: 245) sê immers: “It is only by recognising the other as oneself that one becomes anything at all.”

Verder huiwer die ondersoeker om Butler se teorie oor melancholie in te sluit omdat daar ’n groot klemverskuiwing in haar argument daaroor na vore kom tydens ’n onderhoud wat Vikki Bell in 1997 met haar gevoer het (die onderhoud is in 1999 as ’n artikel gepubliseer: “On speech, race and melancholia: An interview with Judith Butler”). In die onderhoud verskil Butler se argument oor melancholie van haar argument in Gender trouble (1990) en Bodies

that matter (1993). Bell se onderhoud met Butler is egter nie opgeneem deur Sarah Salih en

Judith Butler in The Judith Butler reader (2004) nie wat die saak bemoeilik om met sekerheid te sê wat Butler se finale of mees onlangse standpunt oor melancholie is.

Aangesien die punte wat Butler in haar onderhoud met Bell, uitlig egter waardevol is vir die interpretering van Ek stamel ek sterwe, word dit nou verder belig. Bell (1999: 170) vra vir Butler of die melancholie waarna sy verwys eintlik ’n soort melancholie is wat gebaseer is op diskoers in stede van ’n Freudiaanse melancholie. Butler beaam dit en sê die melancholie is ’n liefdesobjek wat deur diskoers uitgesluit word en daarom is die melancholie waarna sy in haar werk verwys eerder ’n analogie as ’n werklike Freudiaanse melancholie.

53

Daar kan in ’n akademiese sin, net soos Butler dit deur middel van haar werk doen, geargumenteer word dat subjekformasie altyd onder die invloed van norme geskied en daarom altyd in ’n sekere mate met onderdrukking verband hou. Volgens my verwys Nancy Fraser (in Salih, 2002: 142) egter hier na die vraag: Is ’n individu bewus van sy/haar subjekformasie terwyl dit plaasvind? Individue wat nie van laasgenoemde gegewe bewus is nie sal moontlik ook nie bewus wees van die feit dat hulle in terme van subjekformasie deur middel van die werking van norme onderdruk word nie. Die gevolg is dat hulle moontlik ook nie onderdruk sal voel in terme van subjekformasie nie. Verder kan die afleiding gemaak word dat sommige heteroseksuele individue moontlik minder bewus sal wees van hierdie onderdrukking omdat hulle as subjekte deur die heteronormatiewe ideaal van die samelewing bevoordeel word.

58

Butler verduidelik aan Bell (1999: 170) dat melancholie vergelykbaar is met seksuele verhoudinge oor die rasgrens heen wat ook in die verlede uitgesluit was van die domein van kulturele bevatlikheid. Hier beteken die woord uitgesluit spesifiek dat die bestaans- moontlikheid daarvan ondenkbaar en dus ‘onmoontlik’ is. Homoseksuele begeerte is volgens Butler binne die bestaande openbare diskoers “ungrievable” (daar kan nie daaroor getreur word nie). Sy meen dit is kultureel geïnstitusionaliseerde vorms van melancholie. Dit is nie gebaseer op die Freudiaanse model waarvolgens die ego nie daartoe in staat is om ’n persoon lief te hê nie. Dit gaan hier volgens Butler eerder oor wat dit behels wanneer ’n mens se begeertes grotendeels gevorm word deur kulturele norme wat voorskryf watter individue deur ’n individu lief gehê mag word en watter nie en dit bepaal wat ‘wettige’ vorms van liefde is.

Vigs is ook hier ter sprake aangesien Butler (in Bell, 1999: 172) redeneer dat homoseksuele verhoudings tot ’n groot mate nie as regte verhoudings deur die samelewing beskou word nie. Sy redeneer dat wanneer ’n homoseksuele paartjie uitmaak of wanneer ’n homo- seksuele individu se lewensmaat sterf, veral wanneer die persoon aan vigs sterf, hierdie verlies nie as ’n werklike verlies beskou of betreur word in die samelewing nie. Butler (1999: 172) meen verlies moet in die openbaar betreur en verwerk kan word. Daarom voer sy aan: “[We] must continue to disrupt that public mode of denial.” (Daar word later op hierdie aspek uitgebrei).