• No results found

Hoofstuk 2: Judith Butler se teoretisering oor geslag, gender,

2.7 Butler se Bodies that matter (1993)

In 1993 verskyn ’n nuwe boek van Butler, naamlik Bodies that matter. On the discursive

limits of “sex”. Soos reeds genoem, skroom Butler nie om vorige gevolgtrekkings van haar te

bevraagteken wanneer sy tot nuwe insigte kom nie. In Bodies that matter voer Butler (1993: x) aan dat baie lesers haar boek Gender trouble (1990) verkeerd verstaan het. Sy benadruk dat sy nie in Gender trouble met gender wat performatief is, bedoel het dat die mens elke oggend opstaan, sy kas oopmaak en besluit watter gender-‘kledingstuk’ hy of sy wil ‘aantrek’ nie. ’n Persoon, sê sy, kan nie besluit wat sy of haar gender is nie. Volgens haar word ’n subjek sonder ’n keuse deur die voorskrifte en norme beïnvloed wat deur die samelewing voorgeskryf word. Elke mens is egter terselfdertyd ’n outonome subjek met ’n eie wilskrag wat tot ’n groot mate beheer uitoefen oor sy of haar eie liggaam en lewe. Die vraag is volgens Butler: Hoe word hierdie dualisme sinvol verbind?

2.7.1 Die materialiteit van geslag

Om aan te voer dat geslag ’n gender besit, verklaar nie volgens Butler (1993: xi-xii) die wyse waarop die materialiteit van geslag op ’n geforseerde wyse geproduseer word nie. Sy meen daar is voorskrifte en beperkinge wat die liggaam laat materialiseer as iets wat ’n geslag het. Dit noem sy “the repeated and violent circumscription of cultural intelligibility” – dit is met ander woorde dit wat die liggaam binne die samelewing kultureel verstaanbaar en bevatlik en daarom aanvaarbaar maak. Die proses waartydens die intelligibility of kulturele bevatlikheid van die liggaam gekonstrueer word, gebeur aan die hand van ’n proses waardeur regulerende norme geslag laat materialiseer deur die geforseerde herhaling van daardie norme. Geslag, meen Butler (1993: 2) is dus ʼn ‘ideale’ konstruk wat op ʼn geforseerde wyse oor tyd heen gematerialiseer word. Geslag is nie iets wat ’n mens besit of iets wat ’n mens is nie – dit is een of meer van die norme waardeur jy ’n subjek word, met ander woorde, dit maak jou as subjek kultureel bevatlik en gevolglik aanvaarbaar. In Butler (1993: 2) se woorde is geslag “that which qualifies a body for life within the domain of cultural intelligibility”. ’n Persoon sonder ’n geslag sal dus nie as ’n mens herken word nie. Geslag neem nie volgens Butler (1993: 5-6) sosiale betekenisse as bykomstige kenmerke aan nie, maar word deur die kenmerke vervang en dan daardeur verteenwoordig.

2.7.2 Die materialisering van die liggaam

Butler (1993: 1-2) voer aan dat die kategorie van geslag van meet af aan normatief is en ’n regulerende ideaal het, soos Foucault dit volgens haar bestempel. Die regulerende norme

44

van geslag werk volgens haar op ’n performatiewe wyse. Die norme konstitueer die materialiteit van liggame (dit materialiseer met ander woorde die liggaam se geslag) om sodoende seksuele verskil (die duidelike onderskeid tussen manlik en vroulik) in diens van die heteroseksuele imperatief te materialiseer. Dit wat die onveranderlikheid of vastheid van die liggaam met al sy kontoere en bewegings konstitueer, is volledig materieel, maar hierdie materialiteit word beskou as die resultaat van mag. Die feit dat die geforseerde herhaling van norme egter nodig is, bewys volgens Butler dat die materialiseringsproses nooit volledig voltooi is nie en dat liggame nie altyd hou by die norme waardeur dit geproduseer word nie. Daarom kan daar volgens Butler (1993: 10) aangevoer word dat geslag terselfdertyd geskep en gedestabiliseer word tydens die geforseerde proses van herhaling.

2.7.3 Die domein van abjeksie en onmoontlikheid

Die beperkinge van konstruktivisme word volgens Butler (1993: 15) blootgelê deur abjekte wesens of liggame wat nie as menslik of as menslike liggame kwalifiseer nie. Die heteroseksuele matriks bepaal wat in- en wat uitgesluit moet word van die domein van kulturele bevatlikheid. Die afbakening en begrensing gaan volgens Butler (1993: 11) gepaard met ’n normatiewe mag en soms selfs geweld omdat die konstruksie slegs deur ’n proses van uitwissing kan geskied. Butler (1993: 3-4) meen die subjek word gekonstitueer deur die identiteite wat nie aan die vereistes van die heteroseksuele imperatief voldoen nie, na die domein van abjekte wesens en liggame te verban (1993: 3). Hierdie domein van onmoontlikheid47 bedreig die sogenaamde stabiliteit van die subjek.

Die paradoks van subjektivering is volgens Butler (1993: 15) gesetel in die feit dat die subjek wat norme sou kon teenstaan, in die eerste plek deur hierdie norme tot stand kom. Alhoewel hierdie konstituerende beperking nie volgens Butler die moontlikheid van agentskap heeltemal uitwis nie, identifiseer dit agentskap as ’n herhalende en herartikulerende praktyk wat inherent is aan mag en wat nie verbind kan word met ’n eksterne of opponerende mag nie. Butler (1993: 7) omskryf die konstruksie van die ‘ek’ soos volg:

Subjected to gender, but subjectivated by gender, the ‘I’ neither precedes nor follows the process of this gendering, but emerges only within and as the matrix of gender relations themselves.

Die ontkende en verwerpte abjeksie sal volgens Butler (1993: 3-4) altyd dreig om die selfgegronde aannames van die subjek aan wie ’n geslag toegeken is, openbaar te maak.

47

Daar word in die tesis van verskillende beskrywings gebruik gemaak om te verwys na die domein waarna non-heteronormatiewe verstoot word – onder meer die domein van onmoontlikheid, die domein van die ‘onmoontlike’, asook die domein van abjeksie en onaanvaarbaarheid.

45

Butler beskou die dreigende abjeksie as ’n kritiese bron vir die stryd om die terme van simboliese legitimiteit, asook kulturele verstaanbaarheid (bevatlikheid), uit te brei.