• No results found

Die jukstaponering van Australië en Suid-Afrika in Ek stamel ek sterwe

Hoofstuk 3: Ek stamel ek sterwe as ondermynende teks

3.4 Die jukstaponering van Australië en Suid-Afrika in Ek stamel ek sterwe

ek sterwe

Daar is reeds in die vorige hoofstuk genoem dat Butler se teorie oor agentskap, as gesetel in diskoers, nie volgens Magnus (2006: 88-89) voorsiening maak vir handelinge wat buite die diskoersveld val nie. Ek het toe geargumenteer dat Butler nie genoegsaam onderskeid in haar werk tref tussen gemeenskappe waar regulerende norme steeds sterk aanwesig is en gemeenskappe waar norme al tot so mate teengewerk is dat dit hul trefkrag verloor het nie. In Ek stamel ek sterwe is die kontras tussen Suid-Afrika, waar homoseksualiteit taboe is, en Australië, waar “’n ieder en elk” volgens Konstant se persoonlike waarneming en evaring aanvaar word (vergelyk p.249), opvallend. Daarom meen ek moet ’n mens by die ondersoek van norme deeglik bewus wees van die mate waarin hierdie norme nog ’n houvas en invloed

95

het op die samelewing wat ter sprake is. Ten einde hierdie punt te illustreer word die jukstaponering van Australië en Suid-Afrika soos dit in Ek stamel ek sterwe uitgebeeld word, nou bespreek. In die roman word dit volgens my duidelik uitgebeeld dat Australië ’n meer verdraagsame samelewing ten opsigte van homoseksualiteit en vigs is, terwyl dit as taboe in Suid-Afrika uitgebeeld word. Soos reeds vantevore genoem, is hierdie waarneming egter gebaseer op Konstant se persoonlike ervaring. Vir hom is daar groter vryheid ten opsigte van sowel die uitleef van sy homoseksualiteit, as sy aanvaarding as vigslyer deur die mense in Sydney. Hy kon egter met net soveel veroordeling en verwerping te make gehad het as in Suid-Afrika as hy hom byvoorbeeld in die Australiese platteland bevind het. Indien die ruimtes van die plaas met die ruimtes van die stad vergelyk word, kan die argument egter wel gevoer word dat daar groter verdraagsaamheid teenoor homoseksualiteit en vigs in die ruimte van Sydney as op die plaas heers.

Konstant ervaar die plaasgemeenskap as beklemmend en meen hy moet padgee, anders sal daar niks van hom oorbly nie. Hy verruil die ruimte van die plaas vir die ruimte van die stad (Johannesburg) waar hy sy vlerke sprei en hom oorgee aan ’n hedonistiese leefstyl. Op die vliegtuig na Australië dink Konstant dat sekswinkels glo volop in Australië is en hy meen: “Dit sal ’n verkwikking wees ná al daai jare van Verwoerd, Vorster en baas Botha [...]” (81). In hierdie sin word Suid-Afrika as konserwatief en Australië as meer vrydenkend bestempel. Dit wil ook voorkom of Konstant beplan om in Australië finaal los te breek van die greep wat die konserwatiewe Afrikanerdom op hom het: “Wag maar, Jude, in my nuwe land, gaan ek my nuwe blaadjie omblaai [...]” (82). Die belangrikste kontras is egter in hoe mense in die twee lande mekaar aanvaar of juis nie aanvaar nie. Oor Sydney sê Konstant: “Ek is immers gewaarsku: in Sydney kan jy makliker presteer, maklik prooi van die kooi word, maar ook slaapwandelaar, nagwagter, hedonis, monnik, fynproewer, net wat jy wil.” (155). Daar is dus volgens Konstant minder beperkinge op jou menswees. Laasgenoemde word veral bevestig wanneer Konstant oor Australië dink: “Ek het myself hier so supervry kom voel soos nog nooit tevore nie. Selfversekerd geword. Geen land bied jou soveel ruimte om jouself te wees nie.” (189) en wanneer hy ernstig siek is, meen hy: “Ek besef nou dat ek hierheen moes kom waar die mense met die oop arms woon, hulle wat my altyd nes ek kom, gevat het.” (263). Hy spreek ook sy waardering uit vir die Australiërs se aanvaarding van alle mense uit: “Dis nou een ding van dié mense, hulle aanvaar ieder en elk.” (249).

Konstant slaag nie daarin om hom van die plaaslandskap of die ruimte soos dit in sy kop bestaan, los te maak nie. Hy maak gebruik van ‘plaasmetafore’ om sy nuwe leefwêreld te beskryf, soos wanneer hy van Sydney se “duisende vuurvliegieliggies” praat as hy die stadsliggies uit die vliegtuig aanskou (87). Wanneer hy en Jude saam mark toe gaan om vis te koop, waarsku Jude hom egter: “Jy moet nou ophou parallelle trek tussen Suid-Afrika en

96

jou nuwe land, jong” (105). Tydens die gereedmaak om vir die naweek na die Wollondilly te gaan, verduidelik Jude hoe dinge daar werk, byvoorbeeld dat hulle die kos koel hou onder ’n klip wat oorhang en dan dink Konstant onmiddellik “soos die ou koelers op die plase, selle prinsiep” (148). Hy sê later vir Jude: “Die windbuks is nou nog daar op die plaas” waarop Jude antwoord, “Ek merk jy’t opgehou om van o n s plaas te praat.” (148, sic - MH), wat dan vir Jude ’n aanduiding is dat Konstant besig is om afstand van die plaas te doen.

Abstraksie van ruimte vind dus ook plaas in terme van die teenpool wat ontstaan tussen die ruimtes van die plaas (Suid-Afrika) en die ruimtes van die stad (Austalië). In Ek stamel ek

sterwe is Konstant se oorgang vanaf die plaasruimte na die stadsruimte belangrik omdat dit

veranderinge in hom teweegbring en ook karakterontwikkeling by hom tot gevolg het. Sy karakter ondergaan ontwikkeling omdat hy ’n nuwe identiteit in Australië ontwikkel waar hy vryer voel omdat homoseksualiteit daar meer aanvaarbaar is as in Suid-Afrika.