• No results found

2.4 Variëteite van Afrikaans

2.4.1 Niestandaardtaal

2.4.1.1.1 Linguistiese variasies van Kaaps

Verskeie studies oor die linguistiese verskynsels van Kaaps is al uitgevoer. Die linguiste van wie voorbeelde verkry is, is Van Rensburg (1983, 1997), Hendricks (1996, 2012a, 2012b), Saal en Blignaut (2011), Kleinhans (1988), Coetzee (2005), Klopper (1983) en Blignaut (2014). Hier volg ʼn kort bespreking van die fonologiese, leksikale, sintaktiese en morfologiese verskynsels van Kaaps.

(i) Fonologiese variasies

Onder die fonologiese variasies van Kaaps kom die volgende voor: vokaalverhoging ([e] > [i] en [o] > [u]), vokaalverlaging ([ə] > [a]), affrikatisering ([j] > [dʒ]), weglating van die postvokaliese [r] (bv. ha x haar), ontronding, palatalisasie [ɦ] > [j], palatalisasie by die verkleiningsuitgang (Hendricks, 1996, 2012a, 2012b). Hier onder volg ’n paar voorbeelde van die fonologiese variasies van Kaaps.

Vokaalverhoging

[e] > [i]: twie (x twee), faxit (x vergeet), skri (x skree). [o] > [u]: su (x so), uk [x ook], lup [x loop].

[ee] > [ie]: vit (x weet) Vokaalverlaging

[ə] > [a] by die ig-morfeem: ses-en-twintag (x ses-en-twintig), xaloekax (x gelukkig). [ə] > [a] by die ge- morfeem: xasε: (x gesê), xakᴐm (x gekom)

Affrikatisering

[j] >[dʒ] in sillabe-beginposisie: dӡǝi (x jy), dӡǝlǝ (x julle), dӡou (x jou). Weglating van die postvokaliese [r]

broe (x broer), ha (x haar), vε:k (x werk), kε:k (x kerk). Ontronding

ɦǝis (x huis), ǝitstik (x uitsteek)

Palatalisasie by die verkleiningsuitgang karǝnʧis (x karretjies), sunʧis (x soentjies)

39

Volgens Saal en Blignaut (2011:350) is daar fonologiese verskynsels wat nie eiesoortig is aan Kaaps nie, maar wat wel ’n hoë gebruiksfrekwensie onder sprekers van Kaaps het. Hierdie verskynsels sluit die volgende in: vokaalverkorting, vokaalreduksie, assimilasie en palatalisasie.

Vokaalverkorting

[a:] > [a]: slat (x slaan), xat (x gaan), an (x aan). Vokaalreduksie

[ɛ] > [ə]: ik (x ek), samǝt (x saam met), kanǝt (x kan net). Assimilasie

Die assimilasie van die funksiewoorde die en nie kom gereeld voor: pra:ti (x praat nie), ᴐpi (x oppie).

Palatalisasie

[ɦ] > [j]: jarra, jirre (x here) Assibilasie

[d] > [r]: dεra (x daddy), bǝiri (x bydie), nouri (x nou die). Klanktoevoeging

pampirǝ (x papiere), lakǝnt (x laken)

(ii) Leksikale variasies

Een van die hoofkenmerke van Kaaps is dat dit Afrikaanse en Engelse woorde bevat wat deurentyd vermeng word.

Die Engelse woorde wat in Kaaps voorkom kan volgens Hendricks (2012a:103) direkte ontlenings wees, byvoorbeeld cause jy weet wie sanction professional hits. Verder kan die Engelse woorde leksikale items wees wat klankmatig verafrikaans word, byvoorbeeld de lô < the law in Djy mut pasop vi die lô; kompliet x complete in Sy is ’n kompliet fool en kôs why > cause why in Ek gat dorp toe cause why ek moet kos kup. De Vries (2006) sluit aan en sê dat Kaaps “gerieflik terugval” op Engels, al word die Engelse klanke verafrikaans, byvoorbeeld bêd (bad), gwaan (go on) en aldou (although).

Hendricks (2012a:103) en Kleinhans (1988) meen dat Islamitiese leksikale items ook by Kaaps ingevleg word, byvoorbeeld oemi (moeder of ouma), madrasah (godsdienstige skool), sjukran

40

(dankie), boeja (vader), kanalla (asseblief), ens. Kaaps bevat selfs woorde wat afkomstig is uit flaaitaal, soos mahala (verniet), gwarra (spot), bra (vriend) (Hendricks, 2012a:103).

Verder dui Saal en Blignaut (2011: 352-353) en Hendricks (2012b: 8) aan dat daar ’n hele aantal leksikale items in Kaaps is wat ’n hoë gebruiksfrekwensie het, naamlik A-we, A-hoi, naghaan, skangaak (hallo), minute (nee man, wag: Minute vir djou), nai/nei man (dit dien as ontkennende vorm, maar ook as ’n stopwoord of uitroep, byvoorbeeld Nei, gat lekke man. Verder kry ’n mens my broe wat gebruik word as aanspreekvorm vir beide seuns of meisies, byvoorbeeld My dêrra is ’n ag, my broe. Nog uitdrukkings is entjies (sigarette), because why (want), likes (hou van) en djy’s versin (jy’s laf of verspot).

Kaaps word verder gekenmerk deur bestaande woorde waaraan ’n nuwe betekenis toegeken word (Saal & Blignaut, 2011:353). Voorbeelde hiervan is, yster, kwaai, gevaarlik, duidelik (wanneer iets of iemand goed of “cool” is), koppel (om te vry), spat, maats (verafrikaansing van die Engelse march) (loop), lyn (plan of saak), roep (noem), ytstiek (opdaag), getyg (praat). Nog uitdrukkings is kap ’n beat (maak musiek), dala die nomme (praat), toekoms in hulle tanne (goud in hulle tande), hy’s oppie down-low/D-O (homoseksueel), haai’s lyn (dis ’n plan), geroeste kind/dakskroef/daai kind is swak/smetterige kind (lelike meisie), bloubendelid (polisieman), professional professional (iemand wat alles kan doen), hy maki spyt (laat nie op hom wag nie).

Saal en Blignaut (2011:353) verwys ook na die invloed wat bendetaal op Kaaps het. Voorbeelde sluit in pakamisa (optel, weggaan, uitgaan, klaar maak), nommers (verwysing na die bendegroepe ses-en-twintig, sewe-en-twintig en ag-en-twintig) en ag (lidmaatskap van ’n tronkbende). Nog uitdrukkings wat kenmerkend is van Kaaps is Moenie soe gaseg vekoepi (Moenie gunsies soek nie), Djys ’n skets sône byskrifte (Jy’s ’n nikswerd), Djy wêk op my kerrie (Jy irriteer my)6

’n Verdere belangrike kenmerk van Kaaps is dat daar voortdurend nuwe woorde geskep word. Saal en Blignaut (2011:353) verwys na ’n nuutskepping soos dite (om te eet). Blignaut (2014:54) meen dat dit egter belangrik is om te onthou dat nuutskeppings nie altyd behoue bly nie en mettertyd kan verdwyn of minder gebruik word. Sien afdeling 2.4.1.1.1 nommer (v) hier onder vir Kaapse eie-skeppings wat hierby aansluit.

41

(iii) Sintaktiese variasies

Die volgende sintaktiese variasies kom volgens Hendricks (2012a:106-107) en Saal en Blignaut (2011:351-352) in Kaaps voor.

Hendricks (2012a:106) meen dat die onderwerp van ’n sin in die voornaamwoordelike vorm hervat word, byvoorbeeld Piet hy eet sy kos. Verder word die besitlike voornaamwoord in plaas van se gebruik, byvoorbeeld Pa sy stem.

Klopper (in Saal & Blignaut, 2011:351) sê dat dit kenmerkend van Kaaps is dat bysinne en hoofsinne met ’n medewerkwoord op die Engelse SVO-woordordepatroon gebaseer word. Voorbeelde hiervan is, Hulle het gesteel my sak, Giste sy vitel vi my, As djy nie djo hyswek doenie, djy kry pak. Volgens Blignaut (2014:55) kom daar heelwat variasies van die verledetydsvorm ten opsigte van werkwoordkonstruksies voor, byvoorbeeld het gevergeet en het geonthou.

Volgens Carstens (in Saal & Blignaut, 2011:351) het die gebruik van vir as persoonsobjekmerker wat uit Kaaps afkomstig is al so deel geword van Standaardafrikaans dat dit al aanvaarbaar is, byvoorbeeld Hy gooi vi djou ’n sign, Djy sê vi hom, Toe slat hulle vi my. Verder kom die redundante gebruik van die bepaalde lidwoord voor plek- en straatname voor (Hendricks, 1996:9). Voorbeelde hiervan sluit in, Innie Kaap, Vannie Kaap. Die herhaling van setsels kom ook hier voor, byvoorbeeld Toe het hy innie Kaap in gat bly, Hy klim yt die kar yt. Die redundante gebruik van die bepaalde lidwoord voor substantiewe, byvoorbeeld Hy’t die tiebie gehad. Die herhaling van die lidwoord ’n kom heelwat voor, byvoorbeeld Hy hardloop ’n nog ’n round.

Hendricks (2012a:107) dui ook op die gebruik van almal wat uitgespreek word as amal, in plaas van al, byvoorbeeld Amal die mense gan ko kuier, Ek it amal my kos geëet.

Die laaste twee kenmerke van Kaapse sinskonstruksie, is die vervanging van mos en eintlik met like (Saal & Blignaut, 2011:351). Voorbeelde hiervan sluit in, Disi like lekker nie of Djy is like die ien wat die baas is hie. Voorts is die saam+met-konstruksie ook bekend in Kaaps – met kom in ’n postposisie voor. Voorbeelde is, hoe gatit saam mit jou? of Wat sy gedoenit saam mit daai man.

Hendricks (2012b:4) dui egter daarop dat daar ʼn wisselwerking tussen die gebruik van tipies Kaapse en gestandaardiseerde variëteite is. Gevolglik sal ʼn spreker albei vorme afwisselend gebruik, byvoorbeeld vi (x vir), siep (x seep), varse blomme x (vars blomme). Kaaps word dus

42

deurgaans verskillend gepraat en die sprekers verander en pas dit aan soos hulle kommunikeer. Vergelyk Cupido se dialoog in 7 Dae en Kobra waar hy nie deurgaans Kaaps gebruik nie, maar slegs in sekere taalgebruiksituasies. Soos die taalgebruiksituasie verander, byvoorbeeld van formeel na informeel, verander die gebruik van Kaaps asook die hoeveelheid Kaaps wat Cupido praat. In ’n formele taalgebruiksituasie sal hy Standaardafrikaans praat, maar in ’n informele taalgebruiksituasie sal hy weer Kaaps gebruik.

(iv) Morfologiese variasies

Die redundante gebruik van graadtrapmorfeme is ook ’n verskynsel van Kaaps. Voorbeelde hiervan is, As hy manet ’n bietjie kortere gewies het of My geduld word al minere (Hendricks, 2012a:106). Nie-emfatiese adjektiefverbuiging as nog ’n bekende verskynsel, byvoorbeeld mooie blomme, varse vis, die deur is oepe.

Verder word it en is by sinsaanvang gebruik, byvoorbeeld It gat reën (Hendricks, 2012a:107). Laasgenoemde kan ook reduksie wees met “d” wat weggelaat word. Die besitlike voornaamwoord, onse, in plaas van ons, word gebruik. ’n Voorbeeld hiervan is onse hys. Werkwoorde gaan uit op ʼn e of ʼn t, byvoorbeeld worre (word), skrywe (skryf) asook gaat (gaan) en siet (sien). Die selfstandige gebruik van daai in plaas van dit is ook ’n algemene kenmerk van Kaaps, byvoorbeeld Hoe wiet jy daai?, Daai is ons hys. Laasgenoemde sluit aan by die reduksie van leksikale items, byvoorbeeld som (sommige) en nodig (benodig). Die reduksie van leksikale items is ’n vorm van Kaaps wat deurgaans in 7 Dae en Kobra voorkom.

Afrikaans en Engelse woorde word vervleg om woorde in Kaaps te vorm. Engelse woorde word verafrikaans, byvoorbeeld sêdste. Hendricks (2012a:106) dui daarop dat daar morfologiese inbeddings van Engelse ontlenings in Kaaps voorkom. Die verledetydsvoorvoegsel ge- word by die woord gevoeg, byvoorbeeld ge-leave of ga-apologise. Daar is ook meervoudsvorme wat net so in Afrikaans (met die Engelse stam) gelaat word, byvoorbeeld wolle (walls) of bolle (balls).

(v) Eie Kaapse skeppings

De Vries (2006) meen dat die sprekers van Kaaps met die taal speel en uitdrukkings skep wat gepas is vir ’n sekere situasie waarin hulle is. Die volgende voorbeelde is Kaapse uitdrukkings wat deur die sprekers van Kaaps geskep word. Volgens De Vries (2006) kry ’n mens die volgende uitdrukkings:

43

• Daar word op jou aangeklop: Iemand lê by jou aan. • Jy word geboul: Jy word gevry.

• Jy wil nie jou kampie skuif nie: Jy wil nie padgee nie. • Jy is ’n sielkanker / jy werk op my kerrie: Jy irriteer my.

• ’n Straatengel, maar ’n huisduiwel: ’n Man wat sy vrou skelm mishandel. • Hulle is haaitie-taaitie: Hulle hou hulle wat hulle nie is nie.

• Kap aan: Maak nou klaar.

• Jy is my ma se trane: My boesemvriend. • Bollewange: Om kwaad te wees.

• My geld het gebad: Jy het geld verloor. • Njaps: om seks te hê (Meyer, 2011:154).

(vi) Vloekwoorde in Kaaps

Vloekwoorde word nie slegs as informele standaardtaal geklassifiseer nie (sien afdeling 2.4.2.1.1) maar is ook deel van Kaaps. Vloekwoorde word in Kaaps gebruik om die heterogene aard van die taal na voor te bring. Wessels (in De Vries, 2013), oor die kwessie van vloekwoorde in Kaaps, sê dat Kaaps ’n taal is met sy eie reëls en immers ’n praattaal is, waar vloekwoorde tog voorkom. De Vries (2013) verwys na Nathan Trantraal wat kru woorde in sy digbundel, Chokers en Survivors (2013), gebruik en sê dat dit ’n refleksie is van een van die vele maniere waarop Kaaps gebruik word. ’n Voorbeeld uit Trantraal (2013), dan realise ek wee dat ek fokkol van hom af wietie, wan ek voel kak low, Na dié vra jy my fokkol, jy lyste net. Kaaps is ’n kreatiewe taal wat deurgaans deur die sprekers hervorm word.

Dié variëteit word om een of ander rede in die dialoog van karakters gevoeg. Voorts ’n paar redes vir die gebruik van Kaaps in die dialoog van karakters.