• No results found

2.7 Vervreemding en domestikering

2.7.1 Kritiek teen Venuti

Daar is reeds heelwat kritiek teen Venuti uitgespreek onder andere teen die onderskeid wat hy tref tussen die bronkultuur en die doelkultuur, naamlik dat die bronkultuur noodwendig heeltemal vreemd is vir die doeltekskultuur (Venuti, 1995:154). Dit kan wel geldig wees wanneer ’n Afrikaanse vertaling vir ’n internasionale Engelse leser bedoel word omdat Afrikaans as minderheidstaal in ’n universele Engelse doelteks sal voorkom (Kleyn, 2014:14-15). Afrikaans sal dan in ʼn gedomestikeerde vertaling heeltemal verdwyn binne die hegemonie van Engels.

Indien daar na die vertaling van Meyer se speurverhale gekyk word, kan die vraag gevra word of die kultuur van die Afrikaanse leser en die Engelse leser in Suid-Afrika werklik so drasties verskil. Indien die bronteks- en doelteksleser albei Suid-Afrikaans is, sal die Engelse leser heeltemal vertroud wees met die Afrikaanse kultuur. Verder behoort alle Afrikaanssprekende persone ook nie tot een kultuur nie; vergelyk byvoorbeeld die kultuurverskille tussen die bruin en wit Afrikaanssprekendes.

Tymoczko (2000:36) lewer weer kritiek op Venuti se definisie van vervreemding en domestikering en sê dat die definisie wat hy gee nie heeltemal deursigtig is nie. Volgens haar beskou hy die twee terme as “a kind of absolute or universal standard of evaluation, with a sort of on/off quality rather than a sliding scale” (2000:38). Dit veroorsaak dat hy dit nie heeltemal duidelik maak hoeveel vervreemding nodig is voordat ’n vertaling as vervreemdend beskou word nie. Aangesien ek saamstem met Tymoczko (2000:36) se siening van die gebruik van vervreemding en domestikering op ’n glyskaal, is dit nie noodwendig ’n probleem dat die definisie van domestikering en vervreemding nie heeltemal duidelik is nie. Ek stem wel saam

70

met Tymoczko (2000:39) wat sê dat dit problematies raak wanneer Venuti se onderskeid as ’n universele maatstaf vir die kwaliteit van vertalings gebruik word. Myskja (2013:8) meen “it becomes more difficult when we try to characterize translations of whole texts as being domesticating or foreignising overall”.

Baker (2010:115) beskou die onderskeid tussen vervreemding en domestikering as té eenvoudig om werklik te beskryf wat tydens die vertaalproses gebeur. Sy meen dat dit ’n hele spektrum van vertaaldenke dwing om in twee kategorieë geplaas te word. Volgens Baker (2010:115) verbloem Venuti se onderskeid die feit dat sekere tekste sowel domestikering as vervreemding bevat. Venuti sê wel die volgende: “The terms “domestication” and “foreignization” do not establish a neat binary opposition that can simply be superimposed on “fluent” and “resistant” discursive strategies […].” (Venuti, 2004:19). Indien hierdie terme in binêre opposisie gebruik word, is dit problematies wanneer ʼn karakter uitgebeeld moet word van iemand wat ʼn minderheidstaal gebruik en des te meer ʼn variëteit van ʼn minderheidstaal, soos by Cupido die geval is. Indien daar totaal gedomestikeer word in Engels, word niks van die karakter oorgedra nie. Indien daar totaal vervreem word, kan dit beteken dat die doeltaalleser belangstelling verloor omdat hy/sy te min van die inhoud volg.

Shamma (2009) lewer kritiek teen Venuti se voorkeur vir vervreemdende vertalings en sê dat alhoewel dit minderheidskulture wil ophef en aspekte soos rassisme wil teenstaan, kan dit ook die teenoorgestelde effek hê. Hy analiseer Arabiese vertalings in Engels met behulp van die domestikerende en vervreemdende strategieë. Sy resultate toon dat die vertalings wat vervreemdend vertaal word, moontlik Engelse vooroordeel teen die bronkultuur sal herinstel. Alhoewel die vertaler vervreemdend te werk gaan, voeg die vertaler té veel vreemde woorde by in die doelteks. Geweld en sekstonele word oorbeklemtoon deur ekstra voetnote en vreemde woorde in die Engelse teks by te voeg, wat bydra tot die vooroordeel teen die Arabiese kultuur wat in die Arabiese bronteks uitgebeeld word. Vergelyk Myskja (2013:14) vir verdere probleme wat ’n vervreemdende vertaling kan veroorsaak:

The overall effect of such a translation […] is in fact exoticising rather than foreignising. The translation method creates an image of the source culture which marks its differentness, but which is more likely to leave the readers with a complacent attitude of cultural superiority than make them question their own norms.

Die byvoeging van té veel vreemde brontekswoorde in die doelteks het dus soms ’n negatiewe effek op die doelteksleser se leeservaring, eerder as om slegs die bronkultuur aan die doelteksleser bekend te stel.

71

Die laaste punt van kritiek wat ek hier wil noem is dié van Cronin (2010:185). Hy sê Venuti werk slegs met vertaling van minderheidstale in wêreldtale. Wanneer die teenoorgestelde gebeur, kan vervreemdende vertaling gevaarlik wees wanneer ’n wêreldtaal soos Engels in Afrikaans vertaal word. ’n Vervreemdende strategie kan veroorsaak dat die minderheidstaal sy identiteit verloor wanneer leksikale en sintaktiese frases of woorde deurgaans by die wêreldtaal “geleen” word. Dit veroorsaak dan presies die teenoorgestelde van Venuti (1995) wat wil hê dat elemente van die minderheidstaal in die wêreldtaal gebruik moet word.16

Vervreemding en domestikering is wel heel nuttig vir die studie van dialoogvertaling wat hier gedoen word, omdat die vertalings uit ’n minderheidstaal in Suid-Afrikaanse Engels gedoen word. Die analises probeer vasstel of die dialoog oorwegend vervreemdend of domestikerend vertaal is en in watter mate dit die karakteruitbeelding in die doelteks beïnvloed.

House se AVG-model word gebruik om voorsiening te maak vir die onderskeid tussen die taalgebruiker en die taalgebruik om dialoog te verdeel en so te analiseer. Voorts word House se model vir AVG bespreek.

2.8 Assessering van Vertaalgehalte (AVG)

House se oorspronklike model (1977) word in (1997) aangepas om dit te vereenvoudig – die oorspronklike model word volledig in House (1997) bespreek. Die oorspronklike uiteensetting van die model word vir hierdie studie gebruik. Die model bestaan uit sowel ʼn beskrywende as vergelykende komponent en bestudeer nie net die vertaling nie, maar ook die bronteks. In hierdie studie word die model nie gebruik om die kwaliteit van die vertaling te assesseer nie, maar om die onderskeid tussen taalgebruiker (user) en taalgebruik (use) uiteen te sit. Hier volg ʼn kort opsomming van House se AVG-model.

House (2013) is van mening dat ekwivalensie een van die belangrikste aspekte is waaraan aandag gegee moet word tydens die vertaalproses. Verder moet die skakel wat tussen die bronteks en die doelteks voorkom ook in gedagte gehou word. Die kwessie van ekwivalensie word belangrik wanneer die beperkinge van die doelteks en die ontvanger se omstandighede en verwagtinge in ag geneem word. Verder moet daar heelwat linguistiese en kontekstuele faktore in ag geneem word, byvoorbeeld die strukturele beperkinge van die betrokke tale, verskillende

16 Die kritiek is slegs kortliks opgesom. Raadpleeg Tymoczko (2000), Baker (2010), Shamma (2009) en Cronin (2010) vir die volledige bespreking van die kritiek teen Venuti.

72

voorstellings van realiteit in die betrokke tale, die linguistiese en stilistiese norme van die vertaler en doeltaal, die verwagtinge van die ontvanger, vertaaltradisies asook die vertaler se begrip van die bronteks – saam met die vertaler se kreatiwiteit en teoretiese benadering (indien wel) wat hy of sy tydens die vertaalproses gebruik.