• No results found

2.7 Vervreemding en domestikering

2.8.1 House se dimensies vir taalgebruiker en taalgebruik

House (1997:36) is van mening dat die teksfunksie en die spesifieke konteks waarin die teks voorkom, nie geskei kan word nie. Sy gaan verder en sê dat indien die vertaling suksesvol wil wees, moet die funksie van die vertaling dieselfde as dié van die bronteks wees. House (1997:275) gebruik Crystal en Davy (1969:66) se skema as raamwerk om die volgende model daar te stel.

Dimensies van die taalgebruiker  Geografiese herkoms  Sosiale klas

 Tyd

Dimensies van die taalgebruik  Medium: eenvoudig/kompleks  Deelname: eenvoudig/kompleks  Sosiale rolverhouding

 Sosiale houding  Verwysingsgebied

In hierdie studie word bogenoemde onderskeid tussen die taalgebruik en die taalgebruiker in die bronteksanalise gebruik as kategorieë waarvolgens karakterbeskrywings gedoen word. Die brontaal gee vir die leser ʼn prentjie van die taalgebruiker en dit skets ook vir die situasie waarin die taal gebruik word Voorts gee ek ’n kort beskrywing van elke afdeling onder House se dimensies.

2.8.1.1 Dimensies van die taalgebruiker 2.8.1.1.1 Geografiese herkoms

Die gebruik van Kaaps ressorteer onder hierdie afdeling, omdat dit tot die uitbeelding van die karakters se herkoms bydra. Kaaps het ontstaan in die Kaap en dit kom meestal voor in die Wes-Kaap en spesifiek op die Kaapse Vlakte (sien afdeling 2.4.1.1.1) . Cupido se gebruik van

73

Kaaps dra by tot sy karakteruitbeelding as bruin Kaapssprekende afkomstig van die Kaapse Vlakte.

2.8.1.1.2 Sosiale klas

Dit is moeiliker om te bepaal of vloekwoorde en kodewisseling werklik die karakter se sosiale klas uitbeeld en of dit eerder verskillende registers voorstel. Die rede hiervoor is dat vloekwoorde en kodewisseling meestal deur Cupido én Griessel gebruik word wanneer hulle met mekaar in informele situasies kommunikeer. Dit kom deurgaans in albei karakters se dialoog voor en daarom kan dit ’n aanduiding van sosiale klas wees, maar ook van register, oftewel taalgebruik. Volgens my stel dit eerder verskillende registers voor, maar dit kan in sommige gevalle (maar nie altyd nie) die sosiale klas van die karakter uitwys . Kodewisseling (en soms vloek) word deur die meeste Afrikaanssprekendes gebruik (insluitend mense uit hoë sosio-ekonomiese groeperings ) en kan nie slegs ’n merker van sosiale klas wees nie.

Kodewisseling en vloek kom dus nie net onder die afdeling sosiale klas voor nie, maar ook onder sosiale rolverhouding wat taalgebruik uitbeeld.

2.8.1.1.3 Tyd

Die tydsaspek word by hierdie studie uitgesluit. 7 Dae en Kobra is deurgaans in kontemporêre Afrikaans geskryf en geen verouderde woorde kom voor nie.

2.8.1.2 Dimensies van die taalgebruik 2.8.1.2.1 Medium

Medium verwys na die oordrag van ’n boodskap asook die doel van die boodskap (House, 1997:40). Vertaling verwys na geskrewe tekste, alhoewel medium na verskeie vorme van geskrewe of gesproke kommunikasie kan verwys. Medium is die manier waarop die leser die teks ervaar. Die teks word geskryf asof daar met die leser gepraat word, of dit word geskryf asof die leser uitgesluit word en daar deur ’n derdepersoonsverteller met die leser gepraat word, ens (ibid.). Wanneer daar geskryf word asof daar met die leser gepraat word sal frases soos “sê Griessel” of “sê Cupido” gebruik word. Die frases dui daarop dat daar wel dialoog in die tekste voorkom en dit is wat vir die analises gebruik word. Dit kom daarop neer dat die medium vir hierdie studie die direkte rede is wat ondersoek word.

2.8.1.2.2 Deelname

Deelname verwys na die vorm van kommunikasie wat deelnemers in die teks gebruik, byvoorbeeld ’n monoloog of ’n dialoog wat gevoer word. Dit is die manier waarop die verteller

74

met die leser kommunikeer. ’n Kombinasie tussen dialoog en monoloog kan voorkom (House, 1997:40).

In 7 Dae en Kobra is daar gevalle waar ’n monoloog voorkom, maar dit word deur ’n derde “stem” vertel – ’n eksterne verteller. Soos vroeër genoem, fokus hierdie studie slegs op die vertaling van dialoog – alle teks wat ’n gesprek tussen Cupido en/of Griessel en/of met ander sprekers uitbeeld. Die gevalle waar ’n monoloog voorkom, word nie vir die analises gebruik nie. Die dialoog word gebruik om die interaksie van Griessel en Cupido met ander karakters voor te stel. Die leser voel asof hy of sy buite staan en kyk hoe die geselskap plaasvind. Die gebruik van die dialoog plaas die leser buite die narratief wat die interaksie tussen karakters waarneem. Vir die doeleindes van hierdie studie is die analise van die dialoog heel gepas, omdat die leser ’n beeld van die twee karakters op grond van die dialoog skep – in die bron- en doelteks.

2.8.1.2.3 Sosiale rolverhouding

Volgens House (1997:41) behels die sosiale rolverhouding die verhouding wat tussen die spreker en die aangesprokene in ’n teks bestaan. Dié verhouding word beskryf deur die teenwoordigheid of afwesigheid van outoriteit wat of asimmetries (een of ander vorm van outoriteit is teenwoordig) of simmetries (niehiërargies) is. Die outoriteit wat in die dialoog voorkom, of nie, is wat sosiale rolverhouding van die ander afdelings onder taalgebruik onderskei.

House (1997) sê die verhouding tussen die spreker en die aangesprokene bestaan slegs uit die verteller en die skrywer. Dit is nie so eenvoudig nie, omdat daar in ʼn literêre teks ’n sosiale rolverhouding tussen die karakters in die teks bestaan – hierdie verhouding beïnvloed die register wat in die teks gebruik word, omdat karakters op verskillende sosiale vlakke voorkom. Waar dialoog tussen die karakters in die twee werke voorkom, word daar meestal ’n informele toon gebruik wat gelykheid onder die deelnemers voorstel, byvoorbeeld Cupido en Griessel wat met kollegas of vriende gesels. Laasgenoemde word as ’n simmetriese verhouding beskryf. Daar is ook gevalle waar die verhouding asimmetries is, byvoorbeeld Cupido en Griessel wat met ’n verdagte praat (waar Cupido en Griessel in ’n magsposisie is) óf Cupido en Griessel wat met ’n hoër gesag praat en dan in ’n ondergeskikte posisie verkeer.

Kodewisseling, vloek en Kaaps ressorteer ook onder hierdie afdeling (sien 2.8.1.1.2). Soos die verhouding tussen die sprekers van simmetries na asimmetries verander, word kodewisseling

75

en vloek minder gebruik. Dit is ook die geval met Kaaps – Cupido praat eerder Standaardafrikaans of Suid-Afrikaanse Engels wanneer hy met ’n verdagte praat.

2.8.1.2.4 Sosiale houding

Sosiale houding sluit nou aan by die sosiale rolverhouding wat hier bo bespreek word, maar fokus eerder op die gespreksituasie wat formeel of informeel is as op die sosiale rol wat sprekers besit. Die sosiale houding fokus op die sosiale afstand wat tussen deelnemers van ’n gesprek voorkom (House, 1997:41). ’n Onderskeid kan weereens getref word tussen die sosiale houdings van die verteller, die skrywer en tussen die karakters in die teks – die fokus is op die sosiale houding tussen die karakters in die teks.

House (1997:41) verwys na Joos (1961) wat tussen vyf verskillende tipes formaliteit onderskei. Die tipes is vas, sonder enige afwykings (frozen) (meestal literêr ‒ dit is altyd net die leser en skrywer wat teenwoordig is), vir onderrig / opvoeding), formeel (formal) (goed gestruktureerd, omvattend met geen deelname van aangesprokene), konsulterend (consultative) (neutraal en word gewoonlik gebruik wanneer vreemdelinge met mekaar gesels), informeel (casual) (tussen vriende en familie), intiem (intimate) (intieme verhoudinge). In die betrokke tekste is die kommunikasie wat voorkom meestal informeel, met sommige gevalle waar konsulterende dialoog voorkom. ’n Intieme verhouding kan ook tussen Cupido en Griessel gevind word, maar vir die doeleindes van die studie word daar slegs op informeel en konsulterend gefokus. Die rede vir laasgenoemde is omdat daar meestal informele en konsulterende dialoog voorkom en omdat die verhouding tussen Cupido en Griessel eerder as oorwegend informeel beskou word. Konsulterende dialoog word gebruik wanneer Cupido en Griessel met ’n verdagte of vreemdeling praat – geen kodewisseling, Kaaps of vloekwoorde sal gebruik word nie, maar slegs Standaardafrikaans / neutraal Afrikaans word gepraat. Hierteenoor word daar gemaklik / informeel gekommunikeer wanneer hulle met mekaar of met vriende of familie gesels – informele Standaardafrikaans met kodewisseling en vloeke of Kaaps met kodewisseling en vloeke word gebruik. Die sosiale afstand tussen die deelnemers van die gesprek beïnvloed dus die dialoog.

Sosiale houding sluit tot ’n mate by sosiale rolverhouding aan, omdat die verhouding (en die situasie) tussen die deelnemers die dialoog beïnvloed, alhoewel die sosiale houding meer op formele en informele gespreksituasies fokus en die sosiale rol meer op die outoriteit van die sprekers fokus. Dit word weereens bewys dat die spesifieke situasie waarin die karakters hulle bevind ’n groot rol in hulle dialoog speel.

76

2.8.1.2.5 Verwysingsgebied

Verwysingsgebied verwys na die teksprodusent se professionele aktiwiteite asook die onderwerp van die teks (House, 1997:42). House gebruik die woord “field” wat terugverwys na Halliday (1978) se definisie van register. Halliday gebruik die woord “field” om te beskryf wat plaasvind in ’n gespreksituasie en hoe dit die spreker se woordkeuse beïnvloed. Dié afdeling omskryf ook die genre van die teks. Hierdie afdeling is nie vir hierdie studie ter sake nie en ek volstaan met sosiale klas en sosiale-rol verhouding om voorsiening te maak vir die analise van die tipe taalgebruik en hoe dit die dialoog beïnvloed.