• No results found

Hoofstuk 5: Bespreking, gevolgtrekking en aanbevelings

5.5 Leemtes van hierdie studie

Ná afloop van hierdie studie het ek sekere leemtes ontdek. Die primêre leemtes hou verband met die ontwerp van die studie en verwys meestal na inligting wat ek gevoel het ek nodig gehad het om beter aannames te kon maak, of insig wat ek vermoed my studie sou kon versterk. Ek bespreek hierdie leemtes aan die hand van die vier onderafdelings uit die literatuurstudie soos vroeër aangedui. Tydens hierdie bespreking verwys ek ook na aspekte wat moontlik tot ’n ander of opvolgstudie kan lei.

5.5.1 Generasie Z: Perspektiewe van die generasie en onderrig- en leerbehoeftes

Aanvanklik het ek gedink die vrae wat ek in hierdie studie ingesluit het, sal voldoende insig in die doeltreffendheid van die onderrig-en-leeromgewing verleen en sal ’n antwoord bied op hoeveel aanpassings, indien enige, gemaak moet word om GenZ doeltreffend te onderrig. Alhoewel ek antwoorde op die vrae bekom het, is dit ooglopend uit hierdie vrae dat die uitdaging wat opvoeders in die gesig staar, veel groter is.

Die eerste leemte wat ek in die studie geïdentifiseer het, is die verwagting dat daar in al die onderrig- en leerbehoeftes in die klaskamer voorsien moet word. Verskeie faktore (waarvan baie reeds bespreek is) dra by tot die beperking wat die klaskamer op dosente plaas sodat hulle nie in alle behoeftes kan voorsien nie. Ek sou in die studie dus ’n groter klem geplaas het op geïntegreerde leer, waar daar ook na ander aspekte (waarby dosente direk of indirek betrokke is) van die studente se leerervaring gekyk word.

119

Uit die navorsing is dit duidelik dat die globale beweging of invloed op die generasie wel eienskappe teweegbring wat in lyn met die literatuur is. Dit beteken dat literatuur wat op die onderrig van hierdie generasie gebaseer is ons wel steun in die soeke na doeltreffende onderrigpraktyke. Wat nié duidelik uit die navorsing is nie, is die ander invloede op studente se denke. Ek sou graag ’n komponent in die navorsing wou ingesluit het wat bepaal waar studente vandaan kom, moontlik met verwysing na herkoms en/of die skool waarin hulle was. Een dosent het verwys na die uitdaging in die voorbereiding van studente en dat daar ’n verskil is in hoe voorbereid studente by die universiteit opdaag. Ek neem dus aan dat daar ook ’n verskil in ingesteldheid en denke is en dat blootstelling aan tegnologie vanaf ’n vroeë ouderdom ’n impak het, sowel as die omgewing waarbinne studente grootgeword het.

Tydens die verwerking van die vraelyste het ek gevind dat studente nie noodwendig ’n begrip het van watter leeromgewing vir hulle ideaal kan wees nie (reeds bespreek by die aannames); gevolglik sou ek ’n beter verduideliking by elke vraag ingesluit het sodat hulle werklik oor die waarde van die betrokke aspek kan reflekteer.

5.5.2 Natuurwetenskappe: Aard van wetenskap en wetenskaponderrig

Ek het nie gekies om hierdie studie binne die wetenskapomgewing te doen omdat ek gedink het my bevindinge gaan net daarop van toepassing wees nie. Trouens, ek het aangeneem my studie gaan nie net op die formele leeromgewing van toepassing wees nie, maar dat dit insig sal verleen in énige omgewing waar ouer generasies doeltreffend met GenZ moet kommunikeer.

Die leemte in hierdie studie lê dus in die beperkte grootte van die navorsingspoel en dat ek dit doelbewus groter sal wil maak, en nie tot die wetenskapklaskamer of Fakulteit Natuurwetenskappe beperk nie.

5.5.3 Vierde Industriële Revolusie

My aanvanklike motivering om hierdie studie te begin, was omdat ek self ’n leemte gesien het in die manier hoe ek inligting oordra aan die generasie wat voor my sit. Ek wou my dus met vaardighede toerus om dit beter te kan doen. Deur my literatuurstudie en my betrokkenheid by die besigheidswêreld het ek besef daar is ’n groot leemte in die taakgeoriënteerde vaardighede wat studente geleer word, teenoor die sagter vaardighede wat die besigheidsmark soek. Die geheelbeeld is egter baie ingewikkelder. Om ’n manier te vind om sagte vaardighede aan studente oor te dra, kan wel as vertrekpunt dien, maar is nie genoeg om studente doeltreffend

120

voor te berei en hulle “aanstelbaar” (employable) te maak nie. Doeltreffende onderrig van hierdie generasie behels meer as om net die huidige kennis waaroor ons beskik doeltreffend aan hulle te kommunikeer.

’n Groot leemte in hierdie studie en moontlike aansporing vir ’n opvolgstudie is om die toekoms by die “doeltreffende” leer en onderrig in te sluit. So ’n studie sal op twee komponente kan fokus:

1. Doeltreffende onderrig, soos in die huidige studie, met spesifieke verwysing na praktyke waarop studente positief reageer (alhoewel dit nie noodwendig besluite insluit wat studente bewustelik neem nie).

2. Om die generasie doeltreffend te onderrig met verwysing na die toekoms. Ek sou verder uitbrei oor hoe daardie toekoms lyk en ’n komponent insluit van wat vir die besigheidswêreld van belang is.

Die leemte lê vir my daarin dat al onderrig ons die generasie deur die regte metodes, is ons werk vergeefs indien ons nie aandag gee aan wat hulle vir die toekoms benodig nie. Die toekoms gaan drasties verskil van dit waaraan ons gewoond is en alhoewel opvoeders self nie daardie toekoms met sekerheid kan voorspel nie, is ons met die kennis tot ons beskikking die beste toegerus om leiding te bied. Ek sou hoop dat deur so ’n komponent in te sluit daar ’n dringendheid by opvoeders ontwikkel kan word om aanpassings vinniger te maak en hulle eie praktyke meer gereeld te evalueer.

5.5.4 Die toekoms en hoëronderriginstellings: Fokus op Universiteit Stellenbosch

Leemtes met spesifieke verwysing na Universiteit Stellenbosch sluit die onderskeid tussen groter en kleiner klasse in. Ek was voor my studie van mening dat die grootte van klasse ’n impak op onderrig het, maar het nie besef hoe groot hierdie impak is nie. Hiermee verwys ek spesifiek na die moeilike posisie waarin dosente geplaas word: Dit is of dosente se vermoë om in studente se behoeftes te voorsien direk aan die grootte van die klas verwant is. Ek dink dit is ’n onreg aan dosente wat wel moeite doen om in die behoeftes van hulle studente te voorsien, en sal graag wil sien wat die verskil in resultate is indien ’n soortgelyke studie net op groot klasse fokus.

Met verwysing na die bespreking hierbo, sou ek ’n komponent ingesluit het waar ek die geleentheid aan studente gee om te reflekteer oor die “ sagte vaardighede” (soft skills) wat hulle vir die arbeidswêreld benodig. Uit die aard van die saak is hierdie vaardighede moeilik

121

kwantifiseerbaar en kan dit nie noodwendig aanvaar word dat hulle ’n betrokke vaardigheid het bloot deur hulle te vra nie. Ek sou egter die vrae so formuleer dat hulle oorweeg of hulle besig is om hierdie vaardighede te bekom en wáár hulle hierdie vaardighede bekom om te bepaal of die holistiese ontwikkeling wel plaasvind.

Ek het by my aannames ingesluit dat die universiteit talle programme het wat tot die holistiese ontwikkeling van ’n student kan bydra – dat nie al die “sagte vaardighede” in die klaskamer geleer hoef te word nie en dat nie eers in al die behoeftes, byvoorbeeld mentorskap, voorsien hoef te word nie. Ek sou egter ’n omvattender komponent hieroor wou insluit, en so ver moontlik ’n volledige lys programme insluit wat reeds binne en buite die klaskamer by die universiteit beskikbaar is. Sowel studente as dosente moet dan geleentheid kry om daarop te reageer deur bloot aan te dui of hulle van hierdie programme kennis dra. Die doel hiermee sou wees om dosente bewus te maak dat die onus nie slegs op hulle rus nie, maar dat hulle studente doelbewus moet aanmoedig om by programme of inisiatiewe betrokke te raak.

Nog ’n leemte, en moontlik ruimte vir ’n studie op sigself is die kwessie oor evaluering en hoe doeltreffend evaluering binne die universiteit plaasvind. Hiermee verwys ek na die evaluering van studente en hulle vordering asook die evaluering van dosente en hulle onderrigpraktyke. Die doel van die ondersoek is om te bepaal of die evaluering werklik bydra om studente met kennis en vaardighede toe te rus, en word die evaluering van die dosent op so ’n manier verwerk dat dit hulle onderrigpraktyke versterk en verbeter?

Laastens, en dit sluit aan by die perspektiewe van die generasie, sou ek ’n komponent by my literatuurstudie insluit wat die konteks van hoër onderrig binne Suid-Afrika skets.