• No results found

Hoofstuk 5: Bespreking, gevolgtrekking en aanbevelings

5.3 Bevindings van die studie

Die bevindings van my navorsing strook met literatuur en my eie ervaring van klas gee, en dit is duidelik uit sowel my eie waarnemings as die perspektief van studente dat doeltreffende leer ten opsigte van GenZ nie na behore plaasvind nie. Daar is aspekte wat volgens literatuur in die klaskamer ingesluit behoort te wees, maar wat afwesig is. Ná konsolidering van die data wat uit die vraelyste en waarnemings ingewin is en wat tot die opstel van die onderhoudsvrae gelei het, was ek reeds oortuig dat die leemtes of aspekte wat afwesig is nie noodwendig in die klaskamer gevind kan word nie, en dat daar waarskynlik na die breër universiteitsomgewing gekyk moet word.

Gevolglik het ek tydens my onderhoude hierdie aanname probeer ondersoek, en ná afloop van my studie is daar twee redes waarom ek hierdie aanname wel kan bevestig: Eerstens is dit duidelik uit die antwoorde van die dosente wat by die studie betrokke was dat hulle gretig is om te voldoen aan die behoeftes van GenZ; hulle geniet hulle dosentskap en probeer gereeld om aanpassings ter wille van studente te maak. Tweedens plaas die uitdagings wat dosente beskryf het, beperkinge op wat hulle in die klas kan doen.

Die enigste aspek wat dosente nie insien hoe dit in die klas toegepas kan word nie, is om studente ’n inset in die kurrikulum te gee. Ek lig hierdie aspek uit aangesien dit iets te kenne gee van die ingesteldheid van die dosente wat ingeburger is ongeag hulle ooglopende gretigheid om in die behoeftes van studente te voorsien. Onderrig vind steeds plaas op hulle vooropgestelde metodes en voorwaardes, of dié van die stelsel. Dosente het verdedigend gereageer teenoor hulle beroep en vakgebied en het nie hierin die geleentheid gesien om studente te betrek nie.

Volgens dosente se beskrywing stem hulle ervaring van die generasie ooreen met die uitdagings wat in literatuur geïdentifiseer word. Die opvallendste uitdagings sluit kommunikasie en ’n

108

konneksie met studente in – om op só ’n wyse met die studente te kommunikeer dat hulle verstaan, en om hulle aandag te behou.

Nog ’n uitdaging wat veroorsaak word deur die omgewing waarin GenZ funksioneer, is hulle gemak met tegnologie. Dosente wend tegnologie aan om ’n funksie te verrig, ’n doel te dien, terwyl studente tegnologie as vanselfsprekend en as alledaagse verskynsel aanvaar. Dit op sigself toon moontlik nie ’n opvallende uitdaging nie, maar oorweeg die volgende: ’n Dosent sien dat die manier waarop studente funksioneer meestal die gebruik van tegnologie insluit, onder meer elektroniese toestelle en sosiale media, en oorweeg gevolglik om dit self te gebruik. Aangesien die dosent uit gewoonte of tradisionele onderrig nie noodwendig die ingesteldheid het om studente by die ontwerp van onderrigmetodes te betrek nie, waag hy/sy ’n kans met die manier waarop tegnologie gebruik word. Die betrokke dosent gaan waarskynlik baie energie en tyd investeer om dit óf te maak werk óf om die tegnologiese platform te vestig maar hy/sy het geen manier om te bepaal of die studente positief daarop gaan reageer al dan nie. Indien die studente nie positief reageer nie sal dit ’n duur oefening wees en so ’n dosent kan moontlik daardeur ontmoedig word. Onthou hierdie studente sien nie tegnologie as ’n “stuk gereedskap” om ’n funksie te verrig nie, maar beskou dit eerder as deel van hulle alledaagse bestaan. Soos pen en papier, oorweeg hulle eenvoudig nie ’n wêreld daarsonder nie. Daardie wêreld sluit die klaskamer in.

Dosente het ook die afname van respek aangedui, weereens iets wat uit literatuur bevestig word. GenZ se benadering tot respek, dat dit verdien word en nie afhang van posisie nie, is anders as waaraan dosente tradisioneel gewoond is. GenZ beskou rolle as hiërargiese posisies en verwag dikwels dat hulle vinniger toegang tot die “hoogste” rol in die hiërargie moet kry. Hulle is oortuig hierdie toegang stel hulle in staat om hulle probleme makliker op te los. GenZ is dus nie daarop uit om enigiemand self te disrespekteer nie, maar dit kom wel so voor aangesien hulle optrede anders is.

Die resultate bevestig ook dat dosente op hierdie stadium dit nie oorweeg om deur hulle onderrig aan ’n globale gesprek deel te neem nie. Dit strook natuurlik nie met die ervaring of lewe van studente nie omdat hulle daagliks op sosiale media aan ’n globale gesprek deelneem. Hierdeur word hulle eintlik ’n onreg aangedoen aangesien die mentaliteit geskep word dat sosialisering globaal is maar opvoeding plaaslik.

Soos vroeër genoem, is ouer generasies ten gunste van die gebruik van tegnologie indien dit ’n doel dien. Derhalwe word sosiale media nie in hulle klaskamers gebruik nie aangesien

109

opvoeders nie noodwendig die doel daarvan insien nie, of dit word net gebruik wanneer dit ’n doel dien en almal daarby kan baat. Ons moet dus oorweeg om sosiale media as ’n steunpilaar vir ons opvoeding te sien. Dit bied opvoeders ’n geleentheid om ’n konneksie met leerders te vorm wat laasgenoemde as aanvaarbaar beskou. Opvoeders moet ook onthou dat daar ’n verskeidenheid platforms is en dat leerders verskeie van hierdie platforms gebruik, en nie almal dieselfde gebruik nie. Die uitdaging is om opvoeders te help om ’n ingesteldheid te ontwikkel waar sosiale media nie as ’n las beskou word nie maar as ’n bate wat albei partye tot voordeel kan strek. Dit gaan gepaard met vaardighede wat aangeleer kan word en wat die betrokke platform die beste benut sonder om ure daaraan te spandeer, of om te dink die leerders verwag van jou om al hulle plasings (posts) te sien.

Dosente dui aan dat dit nie hulle verantwoordelikheid/plek in hulle vakgebied is om studente te leer om betroubare inligting van onbetroubare inligting te onderskei nie. Ek is van mening dat om hierdie onderskeidingsvermoë as ’n vaardigheid te skep, moet dit so ver moontlik by elke vakgebied geïntegreer word, as faset ingewerk word sonder dat tyd spesifiek daaraan afgestaan word. Daar is wel ’n plek vir vakke soos Universiteitspraktyk en Wetenskapskommunikasievaardighede, maar om GenZ werklik te leer om verantwoordelik met inligting om te gaan, moet dit soveel moontlik herhaal word en so diep moontlik in ons praktyke ingeburger word. Dit sluit natuurlik die ingesteldheid van opvoeders in, wat ontwikkel moet word om te lei deur ’n voorbeeld hierin te stel.

Ek moet erken dat die besorgdheid oor waar spesialiskennis lê vir my ’n interessante resultaat was, maar weereens strook dit met die literatuur. By vorige generasies het dosente of onderwysers oor al die inligting beskik. Hulle is selde bevraagteken en het daarmee die nodige respek en gesag gehandhaaf. Daar was ’n begrip by leerders dat opvoeders jare spandeer het om die spesialis te raak wat hulle vandag is. Maar die internet – met geen eienaar of reguleerder nie en maklike toegang – het by leerders ’n ander ingesteldheid gekweek ten opsigte van die verkryging van inligting. Leerders neem vandag nie die tyd in ag wat dit opvoeders geneem het om inligting en kennis te bekom nie; hulle het geen begrip daarvan nie. Om inligting te bekom, kos volgens hulle ’n paar sekondes en ’n toestel wat aan die internet gekoppel is. Kennis en om ’n meester op ’n vakgebied te wees, behels egter baie meer as om net inligting op die internet na te spoor, maar hierdie generasie neem dit nie in ag nie. Hulle ken nie ’n wêreld waar dit moeite, tyd, energie en geld kos om inligting te bekom nie. Vir hulle kos dit net data.

110

Dosente toon ’n behoefte om wel die voorstelle van leerders in hulle onderrigpraktyke op te neem. Dit behels nie net enkele uitdagings nie, maar ook “gevare”. Indien leerders te lank aan die stelsel blootgestel word, dink hulle self nie meer innoverend oor die moontlikhede wat hulle in hulle eie klaskamer kan kry nie en raak die voorstelle al minder. Alhoewel dit buite die bestek van hierdie studie lê, sou dit interessant gewees het om te sien hoe die verskil in voorstelle oor onderrigmetodes ooreenstem met die skoolpraktyke waaraan ’n student voor hoër onderrig blootgestel was. Dosente dui ook aan dat alhoewel die universiteit praktyke het om wel evaluasies te voltooi, hierdie evaluasies min impak het.

Dosente speel oop kaarte oor hulle eie passie wat opsy geskuif word om standaarde binne die universiteit te handhaaf. Dosente kan met geen sekerheid sê dat hierdie standaarde wel ’n bydrae maak tot die doeltreffende onderrig van studente nie. Die eise daargestel deur die universiteit en omstandighede, byvoorbeeld groot klasse – saam met die behoeftes van die studente – veroorsaak dat dosente doen wat hulle moet doen, maar dikwels hulle eie passie vir onderrig verloor. Hulle reflekteer amper met heimwee oor die student se opmerking – “Om my kennis te verbreed en ’n opvoeding te ontvang, nie net ’n graad nie. Om te vind wat my belangstellings is en my inspireer om te help om die wêreld te verbeter” – asof dit bloot ’n droom is.